Archive for November, 2017

‘Hans’ is ’n hupse hoogtepunt van die jaar – Annelize van der Ryst – Rapport – 26 November 2017

Posted on: November 30th, 2017 by admin No Comments

Die spanningsverhaalskrywer Rudie van Rensburgse se eerste komiese roman behoort vanjaar tot in vele Kerskouse te huppel, skryf Annelize van der Ryst.

 

Reeds ná die eerste paragraaf van Hans steek die Rubicon oor weet die leser: Hier kom ’n ding: moeilikheid, ja, maar van die verkneukellékker soort! Die hoofkarakter in die spanningsverhaalskrywer Rudie van Rensburg se eerste komiese roman is 90 jaar oud en vat nie nonsens van kabouters – laat staan nog sy kinders of die stereotipiese bejaardesorgsentrum – nie.

Tog voel dit vir Hans soos die oordeelsdag met sy tas gepak om teen wil en dank van sy geliefde huis “oorgeplaas” te word na Huis Madeliefie. In sy tas is sy tandeborsel en skeergoed in ’n Checkerssak en sy bloeddrukpille in ’n houertjie gemerk “Viagra” wat hy op ’n oggendstappie opgetel het. Hans hoop die ontdekking van die houertjie sal gou-gou tot sy skorsing lei …

Heel voorspelbaar vind die “oorplasing” plaas op aandrang van sy moppe besorgde kinders wat oorsee bly, maar niemand hou rekening met Hans se individuele manier van dink en doen nie. Kinders kla soms hul ouers verstaan hulle nie regtig nie, maar dié verhaal wys ons die omgekeerde is ook waar. Redelik gesonde bejaarde ouers het soms geen sê nie of word nie geraadpleeg oor hul behoeftes nie, maar deur die verloop van hierdie roman buig Hans soos ’n wafferse Julius Ceaser Huis Madeliefie se reëls ver agteroor, en hy en die ander inwoners steek die Rubicon van konvensionele bejaardesorg nie net oor nie, maar gooi dit totaal en al oorboord.

Rudie van Rensburg is ’n woordraakvatter wat met woorde toor sonder om ooit oordadig te raak. Hy noem ’n ding by die naam sonder om aanstoot te gee, en ek het telkens geskaterlag vir sy fyn waarnemingsvermoë en die beskrywings van die matrone en die versorgers, die ander inwoners en veral Hans se kinders. Dit is ’n groot versoeking om nie méér staaltjies en situasies uit dié hupse boek met sy huppelende pas aan te haal nie.

Die tema van die boek word nie net deur die komiese aanslag van die skrywer gesteun nie. “Oudword op eie voorwaardes” beteken ook ’n bewusmaking van die bemagtiging waarop ouer mense geregtig is in die samelewing – hulle mag nooit onderskat of afgeskryf word nie.

Hans se storie is ook ontroerend ironies wanneer sy raasbekdogter Carla, selfaangestelde woordvoerder van sy kinders, tot die slotsom kom dat hul pa weens sy en sy maters se gedrag maar eerder in ’n meenthuis gaan woon. Hans kan dan met oorgawe vir haar sê: “Dis in elk geval nou te laat, Carla. Ek het die Rubicon oorgesteek.”

Die lesers lag en juig saam met dié bevrydende antwoord en namens al die mense van Huis Madeliefie wat saamgestaan het en hul stem teruggekry het ná die sielsverwoesting wat die ou matrone en haar generaals gesaai het.

Van Rensburg se roman hoort vanjaar in vele Kerskouse: die van mense in aftreeoorde en sorgsentrums, natuurlik, maar ook in boeties en sussies s’n wat na elders op die planeet uitgewyk het en van daar af nie die versoeking kan weerstaan om hul bejaarde ouers sonder enige raadpleging te regeer nie.

Vir my was Hans steek die Rubicon oor die plesierigste leeservaring van die jaar en ook perfek om omskep te word in ’n rolprent – solank ek net nie die matrone hoef te speel nie!

 

Ouetehuis op horings geneem – Schalk Schoombie – Die Burger/Volksblad/Beeld – 27 November 2017

Posted on: November 30th, 2017 by admin No Comments

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg

 

Rudie van Rensburg steek die brug van spanningsverhale tot komiese roman skynbaar moeiteloos oor.

Humor bly ’n taai kalant, kultuurgebonde en glibberig, en dit verg kennis van klugtige konvensie om die leser se lagspiere deurgaans te prikkel. Dié skrywer besef dat komiese karakters in diens van intrige en situasie staan, soos in TV-situasiekomedie. Die karakters is gewoonlik bont, bekkig en wroeg of ontwikkel nie te veel nie. Hulle raak hoogstens tydelik verontrief deur katastrofe, en bons kordaat terug.

Op 90 is Hans van Kraaienburg effe stadiger as vantevore, maar steeds onverskrokke. Wanneer hy deur sy orige kinders, wat almal oorsee woon, gevonnis word tot aftrede in Huis Madeliefie, ’n tronk van ’n tehuis wat deur matrone Van Dussen met ’n ysterhand regeer word, beraam hy saam met ander verdruktes sy groot ontsnapping.

Uitkomkans is skraal en die wa ontspoor herhaaldelik. Maar Hans bly vernugtig en verrassend energiek vir sy jare. Hy beraam plannetjies om struikelblokke seepglad te omseil; en nes ’n politikus kan hy ’n bende eksentrieke bejaardes agter sy rebellie skaar. Die omkering van verwagtinge wat aan ouetehuise as rusoorde gekoppel word, is gewaarborg. Hans neem Huis Madeliefie volkome op horings.

Van Rensburg ontgin dié prettige konsep van alle kante, dit lei tot volstoom stuitigheid, skandale, tugverhore en terugslae. Voeg hierby daggakoekies, poepgrappe en ’n besoek aan Teazers, en jy het onverdunde pandemonium.

In sy bitter snaakse kortverhaal “Wolf wolf, hoe laat is dit?”, met seniele mense wat soos kleuters in simboliese doodspeletjies dans, herinner Hennie Aucamp sy lesers aan die naderende donker.

In Van Rensburg se lighartige ekskursie word die donker afgeweer, uitgestel. Dié guitige seniors is veels te hiperaktief vir hunkeringe na die goeie ou dae, en van hul pre-aftrede-lewe (met die uitsondering van Hans) word weinig onthul.

Plek vir morbiede praatjies oor agteruitgang is daar nie. Niemand skop die emmer nie, trouens die vlam word verlaas hoog en helder geblaas.

Een van die vreugdes van dié lekkerleesboek is ’n klein skatkis van vergete idiome wat herwin word, soos P.G. du Plessis by monde van sy beswaarde Genis in Koöperasiestories vermag het.

Elke “oumensie” se wens word ten slotte vervul, volkome in beheer van eie lotgevalle.

Jy lag saam en hoop heimlik: Só wil ons almal eendag oud word.

 

Anargis in ouetehuis sorg vir loslithumor – Netwerk24 – 8 November 2017

Posted on: November 9th, 2017 by admin No Comments

“’n Anargis in ’n outehuis. Loslit-humor op sy heel beste – Rudie van Rensburg bewys met hierdie skreeusnaakse roman dat die lewe lekker kan skeefloop vir hulle wat oumensies vlak kyk,” skryf Kerneels Breytenbach op die voorblad van Van Rensburg se nuwe roman, Hans steek die Rubicon oor.

Van Rensburg van Welgemoed, Bellville, wat hom die afgelope klompie jare as misdaadfiksieskrywer gevestig het, sê die roman, wat van 10 November by boekwinkels beskikbaar sal wees, is “’n asemskepboek tussen die misdaadfiksie deur”.

Sy jongste spanningsroman, Kamikaze, het vroeër vanjaar verskyn en ’n nuwe een word in April volgende jaar, ook deur Queillerie, uitgegee.

Maar hoekom nou ’n komiese roman?

“In my wildste drome sou ek nie kon dink ek gaan my hand aan dié genre waag nie, maar my kortverhaal oor Hans in die US se 2017-Woordfeesbundel, het by my bly spook. Dit het ‘gesmeek’ om ’n boek te word,” sê hy.

Oor Hans se verhaal wil hy nie veel verklap nie, maar volstaan by die boek se agterbladteks, wat as volg lees: “Op 90 is Hans nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder . . . Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.”

Hy sê dit was groot pret om iets komies te skrywe. “Maar terselfdertyd was dit vir my belangrik om te toon dat jy senior burgers se ervaring en wysheid nooit mag onderskat nie. Hulle mag oud wees, maar is beslis nog nie koud nie.”

Hans steek die Rubicon oor word op 23 November by die Dros-restaurant by Willowbridge saam met Deon Meyer, Martelize Brink en Erns Grundling se nuwe boeke bekendgestel. Die kaartjies kos R120 en sluit wyn, peuselhappies en ’n geskenkpak in. Kaartjies is aanlyn te koop by https://tickets.tixsa.co.za/event/gesprekmet4skrywers. TygerBurger is die mediaborg en die geleentheid word in samewerking met NB-uitgewers en Bargain Books aangebied.

Hans steek die Rubicon oor

Posted on: November 9th, 2017 by admin No Comments

Op 90 is Hans nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder . . .
Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.

Sosiale Netwerke


css.php Top