Archive for May, 2015

Tien vrae: Rudie van Rensburg oor Judaskus: Onderhoud met LitNet

Posted on: May 29th, 2015 by admin No Comments

judaskus600

Skrywers oor hul nuwe boeke: Rudie van Rensburg oor Judaskus

 

Baie geluk met Judaskus, Rudie. Waarom het jy hierdie boek geskryf? Het iets jou geïnspireer, of het jy gedissiplineerd gesit en begin werk sonder om vir inspirasie te wag?

Baie dankie, Naomi! Gewoonlik gaan soek ek na inspirasie deur wyd te lees oor verskillende onderwerpe en omgewings. Ek het onder meer die gewoonte om elke dag se koerant te versnipper en dan die interessante berigte/artikels te liasseer. Die ongekende toename in georganiseerde misdaad in die land het my opgeval, en veral die bedrywighede van groot sindikate. Dit het uiteindelik die vonk vir my verhaal verskaf.

Is hier ‘n voortsetting van enige van jou vorige twee boeke? Of ‘n splinternuwe konsep?

Elkeen van my boeke is afsonderlike verhale, maar ek hou natuurlik by my misdaadfiksieresep en my speurder, kaptein Kassie Kasselman. Wat wel uitdagend in Judaskus was, was dat Kassie, ’n gebore alleenloper en allermins jou tradisionele romantiese held, aan die swymel begin raak oor ’n aantreklike nuwe buurvrou. Dit was ’n splinternuwe kinkel wat ek nie voorsien het toe ek aan die manuskrip begin skryf het nie! Maar stories het soms mos die gewoonte om soos ’n wilde perd hul eie rigting in te slaan. En dan moet die skrywer maar vasklou en saamgalop.

Skryf jy met die bedoeling om sosiale kommentaar te lewer, of omdat jy iets in die media raakgesien het en ‘n storie daarvan wil maak – of suiwer fiksie?

Nee, ek skryf hoegenaamd nie om sosiale kommentaar te lewer nie. Dit is ’n bonus as die storie hom daartoe leen, maar dan moet jy versigtig wees dat die stert nie die hond swaai nie. Die sosiale kommentaar mag nooit die storie versmoor nie. In Judaskus was dit suiwer fiksie, maar in my volgende boek, wat reeds ver gevorder is, pak ek ’n baie netelige en aktuele kwessie aan. Dit pas egter soomloos in by die verhaallyn.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek vir jou?

Anders as tradisionele speurromans, waar die speurder gewoonlik deurlopend die sentrale karakter is, hou ek van baie karakters in my verhale. Dis vir my byvoorbeeld belangrik om ook in die koppe van die misdadigers te kom en hulle stories te vertel. Dit pla my nie om in (digbevolkte) boeke wat ek lees, terug te blaai om myself weer te vergewis van wie ’n spesifieke karakter nou eintlik is nie. Nie alle lesers voel egter dieselfde daaroor nie. Om ’n goeie balans te handhaaf het ek uiteindelik ’n hele paar randkarakters in die oorspronklike manuskrip gesny, wat toe nogal dinkwerk vereis het om die verhaalvloei nie te versteur nie.

Jou boeke lees moeiteloos, asof jy eintlik al die jare nog skryf. Is dit so?

Dit is lekker om dit te hoor! My benadering is nie soseer om letterkunde te probeer pleeg nie, maar om gewone stories te skryf. En ek skryf bloot soos ek in my vroeë loopbaan as joernalis leer skryf het, waar die leser darem nie woordeboeke nodig het om te ontsyfer wat ek neerpen nie. Sedert my koerantdae in die laat sewentigs en vroeë tagtigs het ek eintlik nooit ophou skryf nie. Ek was onder meer twintig jaar lank werksaam by ’n finansiëledienste-instelling, maar het in dié tyd nog gereeld vir koerante bydraes gelewer en onder skuilname rubrieke vir ’n hele paar plaaslike koerante en maatskappypublikasies geskryf. Ek het my hand ook gewaag aan ’n drama wat goed ontvang is by al die groot kunstefeeste in die land – iets wat ek baie geniet het om te skryf. Skryf was dus altyd maar deel van my lewe.

Daar was geen groter verraad as toe die Judaskus gekus is nie. Het jy van die begin af geweet wie gaan verraai en wie verraai gaan word, of het dit na jou gekom soos die storie ontwikkel het?

Die idee vir ’n verraaier was van die begin af daar. Die uitdaging was om dit nie onmiddellik vir die leser duidelik te maak wie die verraad gaan pleeg of wat die verraad presies behels nie. Dit het soms fyn voetwerk vereis.

Jy het ook ‘n groot belangstelling in die kunste, soos wat in Kopskoot geblyk het. Het jy nog ander geheime belangstellings?

Ek is baie lief vir skilder, maar deesdae is my tyd as gevolg van die skrywery redelik beperk daarvoor. Ek bly versot op biografieë van kunstenaars. Oor Picasso, my gunstelingkunstenaar, het ek al vyf gelees. En soos baie Suid-Afrikaners stel ek belang in sport en hou daarvan om na rugby, krieket en gholf op die TV te kyk. Andersins is ek ’n aand-leesvraat. Ek twyfel of ek oud genoeg gaan word om alles te lees wat ek in die vooruitsig stel!

As jy skryf en besig is met jou boek, word jou aandag nie afgetrek deur die sosiale media nie?

Facebook is nogal ’n boggher! Voordat ek vroegoggend begin skryf, maak ek eers ’n Facebook-draai en is dan soms kwaad vir myself as ek te lank daarop boer. Maar gewoonlik probeer ek die sosiale media in my skryftyd vermy en loer ek eers later in die middag weer op FB en Twitter. Ongelukkig is ek as oudjoernalis maar van nature nuuskierig – dus is die versoeking altyd daar!

Bereik jy ooit ‘n dooie punt in ‘n manuskrip, of ‘n plek waar die karakters hulle nou vasgedraai het en nie weet hoe om daar uit te kom nie – en wat maak jy dan?

Ek bereik selde ’n dooie punt, maar soms moet jy hard dink om jouself op ’n geloofwaardige manier los te wikkel uit ’n knyptangsituasie. Maar dit bly die lekker deel van misdaadfiksie – om verskillende scenario’s te oorweeg om ’n struikelblok te oorkom. Ek hanteer dit as ’n uitdaging eerder as ’n probleem. Soms dien sulke situasies juis as ’n katalisator vir verrassende nuwe storiewendings.

Wat lees jy op die oomblik?

Ek het in redelik vinnige opeenvolging The Son van Jo Nesbo en Ikarus van Deon Meyer klaar gelees (albei skitterende boeke) en het pas begin met Robert Harris se An officer and a spy.

Elke leidraad lewer hier ’n koue lyk op

Posted on: May 29th, 2015 by admin 2 Comments

Kaptein Kassie Kasselman is aan die swymel oor ’n aantreklike nuwe buurvrou, terwyl sy volle aandag eintlik toegespits moet wees op ’n reeks moorde wat vinnig opmekaar volg.

Dít nadat iemand se beendere op ’n stortingsterrein aangetref is, wat Kassie noodsaak om nuut te dink oor moordsake van jare gelede. Is dit alles dalk nié doodgewone bende-oorlog, soos Kassie se kollegas glo nie? En wie kan die verraaier in hul midde wees – die een met die vlymskerp broodmes?

Dit is maar ’n paar van die kinkels in Rudie van Rensburg van Welgemoed se nuwe spanningsroman, Judaskus, wat pas by Queillerie-uitgewers verskyn het.

Van Rensburg, wie se debuutroman, Slagyster (2013), op die kortlyste was van die Jan Rabie-Rapport-boekprys en die ATKV-woordveertjies vir spanningslektuur, en sy tweede roman, Kopskoot (2014), vier drukke beleef het, wil nie veel verklap oor Judaskus nie. “Kassie het dié keer baie moeilikheid, want elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op. En met dié aantreklike vrou op sy drumpel dink hy nie altyd helder nie. As Kassie die slag die spinnerakke van sy stofsuier afklap om sy woonstel inderhaas skoon te suig voordat sy kom kuier, moet jy weet hy het die skoot hoog deur,” sê Van Rensburg.

Om meer van dié veteraanspeurder se spanningsvolle wedervaringe in dié nuwe verhaal te hoor, word TygerBurger se lesers uitgenooi na die bekendstelling van Judaskus op Dinsdag 26 Mei om 18:00 by die Dros-restaurant in Willowbridge-Noord, Bellville, waar Kerneels Breytenbach met die skrywer sal gesels.

Judaskus

Posted on: May 10th, 2015 by admin No Comments

Beskrywing:

Skielik moet kaptein Kassie Kasselman nuut dink oor moordsake van jare gelede, en die moorde kom vinnig opmekaar. Tussendeur die aantreklike nuwe buurvrou wat Kassie aan die swymel het, en sy enorme posseël-meevaller weens nóg ’n sterfte, moet hy uitwerk waarom ’n geheimsinnige witboordjie-bende van binne uitgeroei word. Is dit dalk nie doodgewone bende-oorlog soos Kassie se kollegas glo nie? Wie kan die verraaier in hul midde wees – die een met die vlymskerp broodmes? Elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op, en Kassie en Rooi kan nie voorbly nie . . .

“Dis grinterig, gelaai en snaarstyf gespan – ’n meesterlik geweefde leeservaring.” – Deborah Steinmair (Rapport)

“…’n vaartbelynde draaiboek geskryf wat smeek om verfilm te word.” – Schalk Schoombie (Media24-dagkoerante)

“Judaskus van Rudie van Rensburg is die perfekte spanningsverhaal.” – Ilse Salzwedel (Maroela Media)

Sosiale Netwerke


css.php Top