Archive for March, 2019

’n Onderhoud met Rudie van Rensburg oor Medusa – Litnet – Maart 2019

Posted on: March 11th, 2019 by admin No Comments

Rudie van Rensburg vertel vir Naomi Meyer van sy jongste boek, Medusa, wat ook vanjaar by die US Woordfees in ’n boekgesprek bespreek word.

Rudie, baie geluk met die verskyning van Medusa. Ek moet jou sê: hierdie boek van jou het my geraak en plek-plek my hart gebreek. Hoeveel van hierdie storie is waar?

Baie dankie, Naomi! Ongelukkig is die boek grootliks op die waarheid geskoei.

Aspekte hiervan moet eenvoudig waar wees; dit klink onheilspellend moontlik dat hierdie soort dinge bestaan. Ek sien in die bedankingsgedeeltes hiervan dit was ook vir jou donker om hieroor te skryf. Hoe het die verhaal jou pad gekruis?

Verskeie koerantberigte oor kindermolestering het my op die verhaal laat besluit. Ek het egter nie toe besef waarvoor ek my inlaat nie. Toe ek navorsing oor pedofilie begin doen, het dit my onkant betrap en my omtrent uit my gemaksone geruk. Buiten vir die ontstellende navorsingsgegewens, was ek ook bang dat ek die grense van fatsoenlikheid met so ’n verhaal gaan oorskry. Ek het dit selfs in ’n stadium ernstig oorweeg om nie voort te gaan met hierdie onderwerp as tema nie. Maar  persoonlike gesprekke met Stella Potgieter, een van die land se voorste kenners op die gebied van pedofilie, en Celeste de Vaal, wat ’n kenner van mensehandel en “rape homicides” (kinderverkragting) is, het my finaal aangespoor om voort te gaan. Uit my gesprekke met hulle het ek ook tot die gevolgtrekking gekom dat die omvang van die misdryf in Suid-Afrika baie onderskat word. So ook die gevare waaraan kinders blootgestel word op die internet (onder meer op Facebook). Met letterlik miljoene mense wat onder vals Facebook-profiele opereer, is kinders sagte teikens vir pedofiele, allerlei soorte molesteerders en mensehandelaars. En ja, ’n groot deel van die storie is gegrond op ware gevallestudies wat ek onder meer in doktor Potgieter se doktorale proefskrif oor pedofilie raakgeloop het en toe gebruik het om ’n sekere karakter in die boek se gedrags- en denkpatrone geloofwaardig te beskryf.

Hoe gemaak as mens so betrokke raak by die karakters wat mens skep? Wat het jou laat aanhou (al weet jy almal se uitkoms is nie ewe gunstig nie)?

Dit is nogal ’n “intieme” proses. Jy leef elke dag saam met die karakters in jou kop. Dit is veral moeilik as jy effe verknog raak aan sekeres, maar weet daar wag ’n ongelukkige einde op hulle. In Pirana het een karakter so diep in my hart gekruip dat ek sy lewe in die boek “‘gespaar”‘ het, wat aanvanklik nie die plan was nie. Maar ongelukkkig is dit soms in belang van ’n misdaadverhaal dat jy “wrede besluite” moet neem. Die lesers sal maar self moet lees om te sien of dit in Medusa die geval is.

Fynkam jy die koerante vir stories en storielyne of hoe vind jy van alles uit?

Ek is ’n fanatiese koerantleser, wat in elke brokkie ’n moontlike storie soek. Talle van my boeke het juis ontstaan as gevolg van koerantberigte of tydskrifartikels (SlagysterJudaskusPiranaYs en nou Medusa). Die storielyne kry gewoonlik eers gestalte wanneer ek begin skryf.

’n Boek per jaar, sien ek. Dis darem ’n kragtoer! Was dit ’n doelbewuste doelstelling toe jy begin het om ernstig misdaadromans te skryf?

Ja, ek wou altyd minstens een boek ’n jaar skryf. Ek handhaaf daagliks ’n gedissiplineerde skryfroetine en die afgelope twee jaar het ek harder as ooit gewerk  om vanjaar ’n tweede boek (in September) te laat verskyn. Dit is ook ’n spanningsroman, maar dié keer is Kassie Kasselman nie die hoofkarakter nie. ’n Sekere karakter in my debuutboek, Slagyster, spook al jare lank by my. Van die begin af het ek geweet hy het die potensiaal om ’n sterk hoofkarakter te maak en die September-boek handel oor hom. Daar sal egter volgende jaar weer ’n Kassie-boek verskyn.

En dit lees so vloeiend, jy word wyd bekroon. Word dit vir jou makliker?

Die skryfproses word beslis makliker. Dit help natuurlik ook dat ek ’n joernalistieke agtergrond het. Die basiese skryfboustene is in daardie omgewing gelê. En ek weet darem teen die tyd hoe om die slaggate te vermy waarin ek as debuutskrywer getrap het. Terselfdertyd moet ek ook erkenning gee aan my vaardige redigeerder, Suzette Kotzé-Myburgh, vir haar bydrae.

En kom die idees so vinnig by jou op? Maak jy gedurig aantekeninge oor nuwe stories al is jy nog besig met die een verhaal? Skryf jy sommer die volgende dag al, nadat die manuskrip weggestuur is, aan ’n nuwe verhaal?

Ek dink stories kom vinnig by my op omdat ek heeltyd op die uitkyk daarvoor is.  As ek dit nie in koerante of niefiksie-boeke kry nie, delf ek maar diep in my eie kop vir idees. Laasgenoemde gebeur gewoonlik as ek saans in die bed klim. Ek maak nie regtig aantekeninge nie. Wanneer ek aan ’n manuskrip begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verhaal gaan verloop. Buiten vir die navorsing wat klaar gedoen is, is my voorafbeplanning gering. Ek vermy fyn beplande raamwerke, want ek glo dit beperk my denkproses. Gedurende die skryfproses loop elke storielyn maar sy eie verrassende draaie, wat ’n mens in die beginstadium nooit voorsien het nie. As ek halfpad met ’n manuskrip is, het ek gewoonlik nie ’n idee hoe die verhaal gaan eindig nie. Vir my is dit juis die lekkerste deel van skryf om na daardie eindpunt toe te werk. Wanneer ek klaar is met ’n manuskrip, is dit vir my baie moeilik om stil te sit. Teen daardie tyd het ek al ’n groot deel van die navorsing vir ’n volgende boek afgehandel, wat ek saans doen om nie met my oggendskryfwerk in te meng nie. Ek vat gewoonlik ’n breek van ’n week of twee voordat ek ’n nuwe manuskrip aanpak, maar in Desembermaande gun ek myself ’n effe langer rustyd.

Was die Griekse mite van Medusa ’n inspirasie? Op watter wyses, indien wel?

Ek sou nie sê daardie mite het as ’n inspirasie gedien nie. Maar die beeld uit my jeugjare van die lelike en onheilspellende vrou met die spul krioelende slange op haar kop, het perfek ingepas by die verhaal en veral die antagonis wat ek geskep het.

Is dit vir jou lekkerder om boeke te skryf as om koerantman te wees, of versekeringsman? Het jy toe ook maar geskryf, destyds, of het jy nie teruggekeer na ou manuskripte in die laai nie, maar vars en nuut begin skryf toe jy klaar is by die verskeringsmaatskappy?

Ek kan onteenseglik sê dat om boeke te skryf verreweg die lekkerste werk is wat ek nog gedoen het. Trouens, dit voel glad nie soos werk nie omdat ek die proses so geweldig geniet. Ek het ná my tyd as joernalis bly skryf en het vir verskeie koerante en ander publikasies rubrieke onder skuilname geskryf. In die tyd het ek ook die drama, Die begrafnis, geskryf. Ek het wel eenkeer ’n halfhartige poging aangewend om ’n boek te skryf, maar my tyd was eenvoudig te beperk om my volle aandag daaraan te gee. Ná my versekeringsdae het ek vars begin met my debuutboek se manuskrip.

Wat doen jy as jy tyd kry vir iets anders as skryf? Vertel ons van jou seëlversameling (as ek Kassie se stokperdjie as voorbeeld kan gebruik)?

Ek was in ’n stadium ’n ywerige gholfspeler, maar my onkonvensionele swaai was nie bevorderlik vir my lang rug nie. Ek en my vrou, Líze, hou baie van die teater. Ons ander groot bederf is om in Desember in Hermanus uit te span, waar ek van skryf en stories vergeet en nie eens my skootrekenaar heen saamneem nie. Ek is ook ’n groot sportliefhebber en kyk gereeld krieket, rugby en gholf op TV. En vanjaar het ek besluit om meer tyd in te ruim om te skilder, ’n passie wat ek die afgelope ses, sewe jaar gruwelik afgeskeep het.

Medusa boor ’n donker aar oop – TygerBurger – 6 Maart 2019

Posted on: March 11th, 2019 by admin No Comments

In Medusa boor Rudie van Rensburg ’n donkerder nuwe aar oop vir speurder Kassie Kasselman, sê Queillerie-uitgewers oor Van Rensburg se sewende spanningsroman wat pas verskyn het.

Daar is mensehandel en psigopatie om mee handgemeen te raak – en kinderlewens op die spel.

Van Rensburg, wat in Welgemoed woon, sê dat hierdie tema hom uit sy gemaksone gehaal het. “Die vrees was altyd daar dat ek die grense van fatsoenlikheid kon oorskry, wat meegebring het dat ek sekere dele verskeie kere herskryf het. In ’n stadium het ek dit selfs oorweeg om ’n ander roete met die boek in te slaan, omdat die onderwerp my begin onderkry het. Maar gesprekke met sekere kenners op hierdie gebied was ’n keerpunt, en het die enorme omvang van dié probleem in Suid-Afrika my aangespoor om deur te druk.”

In Medusa is dit duidelik dat Kassie en sy kollega Rooi Els nog nooit so ’n saak hanteer het nie. Kassie ervaar sterk emosies. Dit besoedel sy denke en krioel in sy binneste soos ’n bondel giftige slange. Die saak seil onder hom en Rooi uit. Hulle kan die glibberige spoor net-net in die verte sien kronkel. En die slagoffers gil desperaat om hulp …

In sy resensie van Medusa onder die opskrif “Nagmerries uit die newels hier opgejaag” in Die Burger, Beeld en Volksblad skryf Schalk Scoombie: “Van Rensburg kén sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem.”

 

Lesers sal gelawe moet word – Jonathan Amid – Rapport – 10 Maart 2019

Posted on: March 11th, 2019 by admin No Comments

“Met Medusa dien Rudie van Rensburg die gif stadig toe – en daar is geen teken van ’n teenmiddel nie.”

 

’n Nuwe Kassie Kasselman-dossier is iets waarna spanningsvrate jaarliks uitsien – en die goeie nuus is dat daar in 2019 sommer twéé verskyn,

Rudie van Rensburg benader sy ambag met ’n duidelike wedstrydplan waar aanskoulikheid nooit bo die basiese pligte gestel word nie. Die klem is allereers op deurdagte struktuur, karakters wat lewensgetrou dog kleurvol geskets word, en ’n behendige ontplooing van leidrade, inligting en insigte, vernaam deur middel van vlymskerp dialoog en flinke vertelling.

Verder het Van Rensburg duidelik geen erg aan gemaksones nie, en is hy altyd bereid om in die donkerste put van ellende rond te dolwe. Soos in verlede jaar se kragtoer Ys is Medusa se intrige geskoei op aktuele kwessies wat geeneen onaangeraak sal laat nie: kindermishandeling, pedofilie, mensehandel en aanlyn gevare.

Ná ’n ysingwekkende proloog, wat uitloop op ’n toneel wat ’n mens laat smag na ’n koue stort, word deel een ingewy aan die traumatiese kinderdae van die vrou wat die Medusa van die titel sal word. ’n Pretbederwer wil ek nie wees nie, maar in sowat 30 bladsye slaag die skrywer daarin om ’n antagonis se beweegredes en transformasie met oortuiging en deernis te vertolk.

Die antagonis se boosheid word onbeskaamd gekarteer, maar die ietwat ongewone besluit om die leser eers bloot te stel aan die karakter se lyding en stelselmatige metamorfose (as’t ware die slang wat vervel om ’n meer gesaghebbende vorm aan te neem) anker die verhaal in ’n tragiese mineurtoon.

Medusa is deurgaans die ringkop wat die toutjies agter ’n enorme mensehandelsindikaat trek en dit moontlik maak vir individue op die hoogste vlak van die sakewêreld om kinders se lewens te verwoes. Die mitiese Medusa, een van drie susters, het in die Griekse vertelling sleg deurgeloop onder ’n onaansienlike huid en ’n kop vol malende slange, en enigeen wat dit durf waag het om in haar rigting te kyk, sou dadelik versteen. Lees self hoe die chronologiese uitspeel in Suid-Afrika voor en ná die koms van demokrasie.

Lelike Lila Liebenberg se hand in die gruwels wat hier opgeteken word, is nooit te betwyfel nie, maar dit is dalk eerder een van haar voetsoldate, die walglike gespuis Festus, wat die grootste weersin by lesers wek. As brutale verkragter en sadis is hy goeie kompetisie vir Hasie Haasbroek, die wreedaardige orgaanslagter van die Tuine wat met menseharte gesmous het.

Eweneens is dit belangrik om melding te maak van die roman se insluiting van ander, oënskynlik minder groteske deelnemers in hierdie orgie van uitbuiting. Van Rensburg lei ’n mens aan die hand eerder as aan die neus tot in die psigiese binnekamers van die “gewone”, welgestelde misdadiger.

Lesers sal verskeie van die tonele uiters ontstellend vind, maar geen vinger kan na die skrywer gewys word wat betref onfatsoenlike impulse of die uitbuiting van slagoffers se pyn nie. Die vraagstukke van emosionele en fisieke geweld word uiters oordeelkundig benader.

Lesers sal ook broodkrummels raaklees wat verwys na vorige werke in die skrywer se oevre asook ander titels waarin kwessies van geweld teen vroue en kinders, veiligheid en die wêreldwye web ondersoek word, soos Naomi Meyer se Web (2017), Moestas (2015) deur Deborah Steinmaier, Deon Meyer se Infanta (2014), Peet Venter se Bloed-reeks en al vier Martin Steyn se romans. Moestas, wat dalk te aweregs en uitdagend was vir die gemiddelde leser, is ’n direkte voorganger van Medusa wat betref die kombinasie van kindermishandeling, die oopskryf van die Donker Web en aanbieding van ’n ongewone speurfiguur.

Johnny January, Boon Boonzaaier en Lelike Lila Liebenberg is voorbeelde van Van Rensburg se slag met loslitlekker naamgewing, maar al drie is steeds eg menslike karakters met duidelike ingekleurde feilbaarhede wat ’n sleutelrol speel in die geheel.

January, ’n man wat diep in jou hart kruip, se stryd in dié roman as ’n soort morele kompas of gewete word ook jóú stryd as leser en toeskouer van onreg en onreëlmatighede.

January se teenvoeter word raakgelees in die gewaad van Boon Boonzaaier, een van Van Rensburg se mees geslaagde karakters tot op datum.

Die Boonzaaier-draad word meesterlik gemanipuleer en beheer tot op die laaste bladsy.

Medusa bied ook die baboesjka-agtige raaisel rondom die verdwyding van ene Simon Eckhardt aan, ’n raaisel wat daarin slaag om die roman se spanningsvlakke hemelhoog te hou.

Gepraat van spanning: Weens die kompleksiteit van die saak en die media wat hulle planne kan beduiwel word kapt. Kassie Kasselman en sy vennoot Rooi Els van die Spesiale Spookeenheid in hierdie aflewering genoop om die grootste hoeveelheid speurwerk tot nog toe te doen.

Verder heers daar spanning en botsing tussen die verskeie vertakkings van die eenheid, tussen verskillende maniere van dink en doen, tussen diegene wat die wette gehoorsaam en oortree. Kassie twyel naderhand oor sy roeping wat van hom verwag om die boosheid self vierkant in die oë te kyk.

Op teksvlak is daar natuurlik die immer plesierige speurtog van die leser self soos daar ’n ondersoek begin word na die maniere waarop die skrywer elemente van die polisieroman (police procedural) vermeng met dié van noir en die hardboiled om ’n unieke soort spanning in die senings van die teks self in te bou.

Van Rensburg skep spanning deur voortdurend te speel met leserverwagtinge, met die vervaging van die skeidslyne tussen goed en kwaad en skyn en illusie, en met die belang van duidelik afgebakende lyne wat die teks as genrefiksie onderskei van letterkunde. Hy maak ’n bespotting van hierdie grense en daag lesers uit met ragfyn taalgebruik en strukturele vernuf.

Hoewel die skrywer wegskram van sedelessies en preke in sy fiksie, is daar immer ’n goue draad van “verkenning” wat die leser beter daaraan toe laat rakende ’n spesifieke vraagstuk.

Te midde van die ondersoek na die foutlyne tussen dit wat verskans en dit wat onthul word in ’n snelveranderde wêreld, stuur Medusa inderwaarheid ’n noodkreet na lesers uit: om te probeer verstaan wat dit beteken om te lewe in ’n grootliks digitale samelewing waar byna elke beweging, besluit en gedagte iewers aangeteken en moontlik teen jou gebruik kan word.

Medusa lewer ook ’n pleidooi dat ons bewus moet wees van moderne vorms van slawerny oral om ons: die 30 miljoen mense wêreldwyd wat vasgevang is in die kettings van mensehandel, en ons eie, meer subtiele, selfopgelegde oorgawe aan die tirannie van die skerm.

Eerder as om spreekwoordelik te versteen en in ons dop te kruip uit vrees, daag Medusa ons uit om meer ingeligte, opbouende omgang met ons eie skadukant en dié van ander te hê.

Interessant genoeg word Medusa uitgegee deur dieselfde uitgewer wat ’n ander noemenswaardige krimi met ’n slangtitel – Deon Meyer se Kobra – gepubliseer het. Waar Kobra ’n spesifieke wending in die slot gebruik om die lesers met n tevrede huppel in die stap te laat, is daar hoegenaamd geen teken van Van Rensburg om sy leser gerus te stel nie. Inteendeel.

Met stadige gif – en geen teken van ’n teenmiddel nie – is Medusa gerat om selfs die mees geharde krimislawe tot oorgawe te dwing.

 

 

 

Nagmerries uit die newels hier opgejaag – Schalk Schoombie – Media24 – 25 Februarie 2019

Posted on: March 11th, 2019 by admin No Comments

“Van Rensburg kén sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem.”

 

Medusa

 

Rudie van Rensburg, skrywer van ses misdaadromans met eenwoord-titels (Kamikaze, Ys) en een komiese roman (Hans steek die Rubicon oor), steek ’n donker grens oor met sy agste roman, Medusa.

Die gegewe in die boek is ontstemmend, skrikwekkend, grieselig. Van Rensburg erken dat die temas van mensehandel en pedofilie hom uit sy gemaksone gehaal het – wat as vermaning (én lokaas) dien.

Geharde verbruikers van die genre verwag die ergste, maar sagmoediges kan dink dat hulle met Medusa in ’n uitgesoekte hoekie van die hel verdwaal het. Aldus die skrywer: “Die vrees was altyd daar dat ek die grense van fatsoenlikheid gaan oorskry, wat meegebring het dat ek sekere dele verskeie kere herskryf het.”

In ’n tyd van hiper-hype, slim bemarking en Trumpiaanse oordrywing, is daar haas geen onderwerp of taboe wat nie uitgeskryf of deurgetrap is nie. Vir die oorversadigde leser van misdaadlektuur is dit weliswaar ’n kwessie van graad: hoe erg is erg?

Dié keer sny die uitgeslape kat. Kassie Kasselman en sy kollega Rooi Els die spoor van ongenaakbare boosdoeners wat jong kinders en hul ma’s laat verdwyn. Aanvanklik is daar meer doodloopstrate en gekruisde lyne as leidrade, totdat die naakte, opgekerfde lyke van drie blonde vroue opgediep word.

Kassie se beklemming oor die saak is aansteeklik. Dis veral die lot van die verdwene kinders wat hom slapelose nagte besorg en dryf tot ongesonde gewoontes (drank is gelukkig nie een daarvan nie). Struikelblokke ontspoor hom byna, maar ’n gedugte bloedhond byt vas.

Van Rensburg ken sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem. Met diaboliese presisie knoop hy verskeie karakterperspektiewe en storielyne saam. Op dié kronkelpad is daar genoeg haarnaalddraaie om jou ’n naar kol op die maag te gee. Eers reg teen die einde word een randfiguur se gekonkel uiters bevredigend by die groter legkaart ingepas.

Navorsing word kundig verweef met die karakters se handelinge: hoe pedofiele hul jong slagoffers mak maak (groom), hoe Facebook ingespan word om slagoffers van enige ouderdom te lok, die siklus van ’n reeksmoordenaar se perversiteit, al die slaggate wat ’n taakmag moet navigeer.

Die titel wek verwagting. Kassie verwys na die Griekse oorspronge van die onheilsnaam; die drie lelike susters met slymerige skubbe, lang geel tande en sissende slange op die kop. “Die afstootlikste van drie was Medusa. Enigiemand wat haar aankyk, het dadelik in klip verander.”

In die openingshoofstukke ontvou ’n beknopte geskiedenis van “Lelike Lila Liebenberg”, soos sy deur haar skoolmaats gespot is, ’n ontluikende psigopaat wat koelbloedig afreken met iedereen wat in haar pad staan en munt slaan uit die lyding en afwykings van haar medemens.

Lila het “die perfekte moord” gepleeg vir ’n ruim erfporsie en dobbel haar dae om, tot sy die ingewing kry om nog groter te waag. Mettertyd bedryf sy ’n klub vir molesteerders.

Dis net jammer dat die haatlike manipuleerder word nie verder ontwikkel nie. Die kollig verskuif al te gou na ’n ewe geslepe skadufiguur, ’n pedofiel in ’n magsposisie, terwyl Medusa enduit agter die skerms verdwyn.

Dis ’n leemte omdat die ander vroue taamlik ondergeskikte kameerolle vertolk; hulle verskyn sporadies en kortliks.

Kassie se simpatieke bevelvoerder, brig. Fortuin, wat die ondersoek help en soms hinder; en Oumie, ’n bejaarde vrou wat oortuig raak sy het haar lank verlore kleinkind teruggekry, word funksioneel maar eensydig ingespan.

Ander vlietende vrouefigure en die bloedjong meisies wat aan die voorkeurprofiel van die ontvoerders voldoen, is generiese slagoffers wat nie lank genoeg vertoef om simpatie te wek nie. Weliswaar is daar tans nie ’n vrou in Kassie se lewe nie, behalwe sy ma; hy is ’n geswore alleenloper wat afleidings in sy seëlversameling vind.

Die verhouding tussen die twee jong ontvoerders, Zach en Festus, broers in misdaad, is gebou op vrees en waansin. Festus, nog pure melkbaard, is reeds ’n volrype seksuele sadis wat sy ouboet afdreig om vroue vir hom op die internet te soek. (Dis reg, nog ’n psigopaat!)

Een van die karakters wat wel simpatie lok, is Johnny, ’n taai straatkind wat al geruime tyd in die greep van Medusa en haar handlanger planne beraam om te ontsnap. Intussen is hy die ander jong slagoffers se vertrooster, wat geen illusies het wat op hulle wag nie. Tipies die kind wat sy onskuld te vroeg verloor het.

Johnny se avontuur word in sappige straatdialek oorgedra. Hy kan die polisie reguit na die helhool lei, as hy net nie weer in sy ou gewoontes verval nie.

Medusa is ’n newelboek wat nagmerries opjaag. Wanneer die spanning ondraaglik wil raak, herstel die ontknoping die ewewig en laat die leser met ’n ligstraal van hoop; dat euwels soos dié hokgeslaan kan word.

Solank Kassie se fut net nie uit is nie . . .

Sosiale Netwerke


css.php Top