Hans van Kraaienburg is mos nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, en hy ken geldsake. Hý sal hom nie met ’n paramideskema laat vang nie . . . of hoe? Toe Huis Madeliefie se mense onder ’n gladdebek-skelm deurloop en hul kosbare geldjies soos mis voor die son sien verdwyn, trek Hans sy kuite styf. Dié swendelaar se akker gaan nie ongekraak bly nie, besluit hy. Toe die polisie ’n beloning uitloof aan enigeen wat hulle na die skurk kan lei, neem Hans die handskoen met mening op. Met behulp van ’n mankolieke bussie en karavaan, mannemoed en vrouedaadkrag gaan Hans en trawante op die oorlogspad, Weskus toe. Javel Davel ,sál hul geld teruggee, of Hans los Nella en haar magtige bloomers op hom . . . Maar twee geslepe broers, Hans se paranoïese dogter en ’n venynige Valke-kaptein belemmer Hans se Sherlock-speurtog telkens.
Monster Rudie van Rensburg NB-Uitgewers ISBN: 9780795802485
Op 2 Oktober 2018 is Jamal Khashoggi, ’n joernalis, in die Saoediese konsulaat in Istanbul vermoor. Khashoggi se liggaam is aan stukke gekap en gerugte dat hy in opdrag van die kroonprins van Saoedi-Arabië, Mohammed bin Salman, vermoor is weens sy uitgesproke kritiek teen sy land en regeerders, is in November 2018 deur die CIA bevestig. Klankopnames van Khashoggi se moord is openbaar gemaak en daar is wyd in internasionale media berig dat die Saoedi-regering ’n grootskaalse toesmeerveldtog, wat die vernietiging van bewysstukke en die verdwyning van getuies insluit, van stapel gestuur het. Groot wêreldmoondhede, insluitend die VSA, was traag in hul reaksie om die voorval te veroordeel, grootliks as gevolg van die ekonomiese implikasies, en The Times of Israel het selfs op 20 September 2020 ’n stemopname, opgeneem deur die ondersoekende joernalis Bob Woodward, gepubliseer waarin president Donald Trump spog dat hy MBS (soos wat die kroonprins algemeen bekend staan) “se bas gered het”.
Tot sover die feite.
Van Rensburg het bovermelde feite geneem en bykomende fiktiewe karakters en gevolge geskep, en hierdie heerlike misdaadroman is die gevolg. In Monster was ’n Suid-Afrikaans-gebore joernalis ’n onwillige en toevallige getuie van die grusame moord – en hy is boonop in besit van beeld- en klankmateriaal om die bewering te staaf dat MBS die opdraggewer was. Na ’n ondeurdagte en naïewe poging om die Saoedi-regering daarmee af te pers vir geldelike gewin, is die joernalis op die vlug. Carl Bester, wat werksaam is by die Kaapstad-tak van Mercurius, ’n klandestiene arm van die CIA onder die dekmantel van ’n menseregte-organisasie, kry opdrag van die CIA om die getuie en die bewyse te beveilig. Maar hy is natuurlik by verre nie die enigste persoon wat die getuie ten alle koste wil opspoor nie. Die eerste vroulike agent in die Saoediese veiligheidsdienste wil haarself bewys deur die getuie op te spoor; ’n dubbelagent met die kodenaam Bahir is gereed om haar by te staan, en hy het op sy beurt weer die dienste van ’n koelbloedige mesmoordenaar tot sy beskikking. Die gevolg is ’n kat-en muis-speletjie tussen al die karakters waar die rolle van jagter en prooi vinnig en dikwels wissel. Kele word afgesny, beide letterlik en figuurlik, en ’n menigte lyke word in vlak grafte begrawe.
Carl Bester se karakter is die eerste keer aan lesers voorgestel in Van Rensburg se debuutroman, Slagyster, in 2013. In 2019 was hy die hoofkarakter in Vloek, en in Monster is hy terug. In die proloog bevind hy hom as ’n gevangene met gedeeltelike geheueverlies in ’n onbekende vertrek. Die toneel verskuif dan na Khashoggi se moord in Istanbul en storm daarna teen ’n verbysterende tempo voort totdat dit die leser op die ou end weer terugneem na die openingstoneel. Bester is in ’n groot mate die stereotipiese aksieheld wat skurke met ’n vel papier kan onthoof terwyl sy een hand agter sy rug vasgebind is. Sy fikiese voorkoms sluit daarby aan – hy is ’n fors, aantreklike man oor wie vrouens swymel. Die swak plek in sy heldemondering is egter, anders as die hedendaagse aksiehelde se voorliefde vir die bottel, die sogenaamde Bester-vloek, naamlik ’n obsessiewe behoefte aan seks. En dis juis hierdie Achilles-hiel wat hom telkens in die pekel laat beland.
Die jong, vroulike, Saoediese agent se persoonlike agtergrond word in besonderhede aan die leser verskaf. Alhoewel die leser deurentyd deeglik bewus is van die feit dat sy vir die verkeerde span speel, is daar tog ’n onwillekeurige empatie met haar situasie. Ek het myself telkens betrap dat ek heimlik hoop op ’n gelukkige einde vir haar.
My gunstelingkarakter was ongetwyfeld die mesmoordenaar. Hy is uiteraard ’n skurk, maar ’n genotvolle een. Nie net word hy baie oortuigend as koelbloedig en gewetenloos beskryf nie, sy agtergrondverhaal was op sigself fassinerend en ryk aan ironie. Hy is ’n groot man, met massiewe hande en ’n indrukwekkende versameling Japannese messe wat hy nie slegs in sy werk as blokman by ’n slaghuis gebruik nie, maar hy is terselfdertyd eintlik doodbang vir sy suster, Poppie. Die feit dat hy bekend is vir sy pryswennerboerewors het aan my dieselfde binnepret verskaf as wanneer daar ’n braairestaurant oorkant ’n begrafnisondernemer is. Mens wonder mos maar …
Bahir se ware identiteit bly vir beide die leser en die karakters ’n tergende geheim tot by die slottonele en dien as addisionele bron van intrige, wat op sy beurt sterk bydra tot die spanningslyn. Die ontmaskering van sy ware identiteit is ’n hoogtepunt in die roman en verteenwoordig ’n verdere kinkel in die kabel, naamlik Suid-Afrikaanse magte wat, soos die destydse Amerikaanse president, ten alle koste nie die Saoedi’s wou affronteer nie, uit vrees vir weerwraak op ekonomiese gebied.
………..
Monster word, soos die meerderheid van Van Rensburg se vorige publikasies, as misdaadfiksie geklassifiseer. Die aard van die feite waarop die verhaal gebaseer is, regverdig ook die addisionele etiket van ’n politieke riller.
………….
Monster word, soos die meerderheid van Van Rensburg se vorige publikasies, as misdaadfiksie geklassifiseer. Die aard van die feite waarop die verhaal gebaseer is, regverdig ook die addisionele etiket van ’n politieke riller. Anders as die meerderheid romans in hierdie genre is die dialoog, en oorheersende woordeskat in die algemeen, meestal formeel, bykans objektief: ’n Woedende redakteur is “hewig ontsteld” (23); ’n martelaar “drapeer” nat materiaal tydens ’n martelsessie (63); ’n spioen klink nie “geneë” nie, maar sal “mildelik vergoed word” (101); ’n agent kan nie “die luuksheid van die hotel” waardeer nie (175); die Waterfront het ’haar asem weggeslaan” (179) en sy “kon haar tong afbyt” (205). Dit het twee gevolge: Eerstens word andersins grieselrige situasies feitelik en klinies beskryf – daar is geen oordrewe skok-effek nie; en tweedens skep dit figuurlik afstand tussen die leser en die gebeure – die leser is eerder ’n onbetrokke toeskouer as ’n teensinnige deelnemer aan gruwelhede. Dit maak Monster by uitstek geskik vir sensitiewer lesers wat normaalweg sou wegskram van misdaadfiksie en bevestig opnuut dat selfs spanningsfiksie ontspanningsliteratuur kan wees. Die roman is baie meer toeganklik en vereis minder inspanning en konsentrasie van die leser as wat gebruiklik in die genre is.
…………
Die lys van navorsingsbronne aan die einde van die roman is ontsagwekkend en getuig van deeglike navorsing. Die resultaat is ’n roman wat net sowel ’n niefiksiewerk kon gewees het; skrikwekkend realisties en onrusbarend na aan die werklikheid. Van Rensburg se gereelde lesers sal ’n verwysing na die eksentrieke Kassie Kasselman geniet, maar lesers wat nog nie voorheen werk uit sy pen gelees het nie, sal hierdie roman gemaklik alleenstaande kan geniet.
………….
Die lys van navorsingsbronne aan die einde van die roman is ontsagwekkend en getuig van deeglike navorsing. Die resultaat is ’n roman wat net sowel ’n niefiksiewerk kon gewees het; skrikwekkend realisties en onrusbarend na aan die werklikheid. Van Rensburg se gereelde lesers sal ’n verwysing na die eksentrieke Kassie Kasselman geniet, maar lesers wat nog nie voorheen werk uit sy pen gelees het nie, sal hierdie roman gemaklik alleenstaande kan geniet.
Sosiale Netwerke