Archive for September, 2019

Hou vlugsout reg vir Vloek – Rapport – 8 September 2019.

Posted on: September 12th, 2019 by admin No Comments

Carl Bester, die geslepe speurder wat lesers ses jaar gelede in Rudie van Rensburg se debuutroman, Slagyster, ontmoet het, keer terug in sy jongste rondomtalierit, Vloek, en bevestig dat Van Rensburg waaragtig ’n wêreldklas-misdaadfiksieskrywer is, meen Jonathan Amid.

Rudie van Rensburg se eerste Kassie Kasselman-roman, Slagyster (2013), is destyds uit verskeie oorde – en redelik onregverdig – met Deon Meyer se werk vergelyk. Die woord “krimi” was toe nog volksvreemd vir plaaslike lesers (en resensente) en talle was bra skepties oor die vlaag misdaadromans wat oor die volgende paar jare die rakke sou tref.

Selfs die uwe wat destyds ’n opbloei in dié genre voorspel het, het nie ’n idee gehad oor presies hoe gewild dit in ’n betreklike kort tyd sou word nie.

Hoewel Meyer en Van Rensburg albei oudwerknemers van Sanlam is wat albei geliefde speurfigure geskep het, was die vergelyking toe al verdag. Nou is die stand van sake van so ’n aard dat min dié twee se fiksie sou vergelyk of verwar.

Van Rensburg het daarin geslaag om sy eie slaafse gehoor op te bou. Soos ’n Lee Child, Ian Rankin, Jo Nesbo of Michael Connelly onder ons eie lesers groot aanklank vind, so is daar nou ’n Deon Meyer en ’n Rudie van Rensburg, albei met ’n reeks trefferboeke agter hulle naam.

Ons kon sedertdien die goed geoliede Rudie van Rensburg-masjien aandagtig bestudeer. Hy het ’n handelsmerk en oeuvre tot stand gebring wat met reëlmaat feitlik elke boekjaar ’n uitstekende misdaadroman oplewer. Dit is ’n “resep” wat werk, maar wat voortdurend aangepas, verfyn en verdiep word.

Waar Meyer die Suid-Afrikaanse Polisiediens die spilpunt van sy vertellings maak en die klem plaas op die ondersoek van misdaad as ’n spanpoging (met die polisieprosedures wat deurgaans onderstreep word), betrek Van Rensburg ook die polisie, maar laat meer van sy verhaalgegewe berus op die lot van die skurke en boosaards. Daar kan toenemend van Van Rensburg as ’n wêreldklasskrywer gepraat word.

Onvergeetlike booswigte en bedrewe baasbreine word geskep om aktuele en dikwels netelige en maatskaplike kwessies te anker, soos die misbruik van vroue en kinders, vorme van geweld, en wraak en vergelding in die konteks van regsprosesse wat misluk het.

Wat veral aandag trek, is die misdadigers wat in ’n mate simpatiek is en moeilik om uit die staanspoor te oordeel. Die skrywer word deur grys gebiede geboei en deurgaan sword diepgang oopgeskryf en duiselingwekkende intriges georkestreer sonder om kompleksiteit en nuanse prys te gee.

Elke karakter in ’n Rudie van Rensburg-rondomtalierit het sy of haar eie storie, een wat gewoonlik op opwindende, onvoorsiene maniere met die verhale van die ander karakters, goed of sleg, skakel.

Net soos die verhoudings tussen karakters ontwikkel en verras, en nodes en netwerke duidelik word, verdiep ook “verhoudings” tussen die misdaadfiksieresensent en die werk van die onderskeie skrywers. Die voortgesette gesprek tussen die romans van plaaslike skrywers in hierdie genre kom voortdurend onder die loep.

Die resensent moet dus gedurig op sy hoede wees, in der waarheid ’n speurder in die kleine, wat te alle tye bewus is van die “opgeloste sake” en “nuwe dossiere” wat so gereeld op die lessenaar verskyn.

Die grense tussen die populêre en die literêre val ook stadig maar seker weg. Dis is belangrik om tred te hou met die maniere waarop krimiskrywers en dié met ’n meer “letterkundige” benadering in gesprek tree. Is Etienne van Heerden, Rudie van Rensburg of Chris Karsten in 2019 regtig nog so ver verwyder van mekaar?

Slagyster – ’n titel wat betekenismoontlikhede aktiveer, gekoppel aan die stryd om oorlewing en om inhegtenisneming op tronkstraf vry te spring, maar in retrospek ook lees as ’n wonderlike kopknik na die gevare van voorspelbaarheid en ’n afgesaagde struktuur – was wel die roman wat die potsierlike filatelis en flinkdinker Kassie Kasselman aan die leserspubliek bekend gestel het. Tog het ’n ander meer geslepe kalant, Carl Bester, die voortou in dié krimidebuut geneem.

Slagyster was om verskeie redes opspraakwekkend: Eerstens het die Afrikaanse misdaadfiksielandskap heel anders daar uitgesien toe Van Rensburg se debuut verskyn het; Deon Meyer het nog loshande die etiket van “gunsteling” onder lesers geniet en mense soos Martin Steyn, Irma Venter, Dibi Breytenbach, Madelein Rust en ’n rits ander was nog geensins as krimikoppe gevestig nie.

Om te debuteer in ’n veel minder versadigde en mededingende mark is een ding, maar Slagyster was ook besonders omdat die skrywer nie ’n tradisionele speurverhaal van stapel gestuur het nie. Kassie Kasselman en Carl Bester se paaie het wel gekruis, maar die roman in sy geheel het die ondersoek van misdadigheid en korrupsie in die polisiediens op ambisieuse wyse met ’n transnasionale fokus versoen: die stryd in Nigerië en die Nigerdelta, gedryf teen die magstryd tussen ’n paar monopolieë om die olievelde te beheer.

Hoewel die Nigeriese misdadige kabaal en Kassie Kasselman onderskeidelik die bose en goeie teenpole gevorm het, het die skrywer in Carl Bester ’n karakter geskep wat iewers tussen dié pole nes skop. ’n Gevalle speurder wat sy hand lekker diep in die cookie jar druk. Maar wag ’n bietjie: As daar beslag gelê is op etlike miljoene in ’n reuse-dwelmsaak, en jy het jou lewe op die spel geplaas om die saak op te los, is dit nie dalk meer reg as verkeerd dat jy ook in die vreugdes van die vangs deel nie? Is korrupsie ooit meer geregverdig, ietwat “sagter”, minder skreiend?

In die konteks van grootskaalse staatskaping, waar die varke 24/7 ter trogge staan, word ’n feilbare figuur soos Carl Bester die beste soort antiheld: Hy is steeds een van die geregsdienaars wat die komplekse groter prentjie verstaan en die sisteem uitbuit ondanks die risiko’s. Die macho-held het ’n swak vir sexy vroue en ’n weelderige leefstyl, twee hebbelikhede wat hom vinnig in die sop kan laat beland.

’n Dekade later (in storietyd) en ses jaar ná die verskyning van Slagyster is Carl Bester terug. Hy word gevrywaar van vervolging mits hy meedoen aan ’n internasionale ondersoek waar moord en die stryd om mag onvoorspelbaar en gekompliseerd bly.

Min lesers sal met my stry dat jy dikwels in ’n Rudie van Rensburg-roman mooi moet kophou. Met Vloek is dit nie soseer die naatloos verweefde verhaallyne en die veelvlakkige intriges wat jou konsentrasievermoëns uitdaag nie, maar iets veel meer opwindends: Die skrywer onderneem met Vloek om die leser te trakteer op ’n verbysterende vlaag van feite wat netjies in die verhaal ingebed is en wat deurentyd interesseer, prikkel en jou kennis oor ’n sekere onderwerp uitdaag en verdiep.

Neem twee verhaallyne as voorbeeld: Die een behels die “minerale en moord”-verhaallyn, wat inzoem op die myn van kolumbiet-tantaliet (coltan), wat die metaal tantaal bevat. Die Griekse mitologie bevat die mitologiese figuur Tantalus, seun van Zeus, wat as straf in die doderyk gegooi is met takke vol vrugte wat net buite sy bereik hang en water wat hom skraps ontgaan sodra hy wil drink.

Die “vloek van Afrika” soos dit verduidelik word in die roman, word treffend met hierdie nimmereindigende, verwoeste soeke op letterlike en metaforiese vlak geskakel en ontgin.

Die tweede verhaallyn wat ontsaglik deeglike navorsing met ’n trefseker intrige en spanninglyn kombineer, is die “Nasionalisme en Neo-Nazi”-gegewe. Namate verregse bewegings anderkant die water én op eie bodem groei en aandag trek en die “middel” wegkwyn, probeer ons almal sin maak van beweegredes vir ekstremiste en politieke partye. Vloek, met die antagonis Guido aan die spits, delf met mening om te verduidelik presies hoe ’n aanhanger van verregse ideologie sou dink en optree om sy ideale wêreld te verwesenlik.

Hier word ’n na aan volmaakte balans tussen storie en karakter gevind. Sir Philip Sydney se idee dat misdaadfiksie die vermoë het om te “instruct” en “delight” word op bevredigende wyse versoen met die skrywer se onmiskenbare flair en vernuf.

Kry solank die vlugsout gereed, want Vloek is ’n krimi wat jou sal laat terugdeins én swets van die lekkerkry.

 

Vloek: Nes van misdadigheid oor grense oopgekrap – Die Burger/Volksblad/Beeld – 2 September 2019

Posted on: September 12th, 2019 by admin No Comments

Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie, is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt vir Rudie van Rensburg, skryf Francois Bekker.

Afrika is nie ’n plek vir sissies nie. Dat ongekende minerale rykdom en hongersnood in een sin genoem word, bevestig dié kontinent se paradoks.

Met Vloek werp Rudie van Rensburg ’n priemende blik op Afrika se oënskynlike onvermoë om die regte keuses te maak.

Twee storielyne vorm die onderbou van ’n verhaal oor gulsigheid, verraad en kranksinnige radikalisme wat kontak met die werklikheid verloor het. In Vloek word ’n nes van misdadigheid ontbloot wat oor landsgrense heen strek.

Die voortvlugtige oud-speurder Carl Bester se dienste is weer in aanvraag. So verleë is Wim O’Reilly, ook ’n voormalige speurder, oor Bester se speurvernuf dat die organisasie waarvoor hy nou werk nie alleen vir Bester in sy wegkruipplek in die Fillipyne uitsnuffel nie, maar hom selfs met ’n vrywaringsaanbod teruglok.

Die Mercurius-tak in Kaapstad waarvan Wim O’Reilly aan die hoof staan, is deur die organisasie se hoofkantoor in New York gevra om dringend die omstandighede rondom drie moorde in die Moederstad te ondersoek.

Die feit dat Mercurius belang stel in die moorde dui daarop dat georganiseerde misdaad op ’n internasionale vlak ter sprake is. Mercurius is ’n frontorganisasie wat geheel en al klandestien werk. Selfs nie eers die Suid-Afrikaanse ondersoekagentskappe, wat die SAPD insluit, weet waarmee hulle besig is nie.

Wanneer Bester hom by die firma aansluit, is hy skepties oor dié spannetjie se ondersoekvermoë. ’n Groentjie op die span is die politieke wetenskaplike doktor Sarah Greyling. Sy is teen Bester se reputasie as rokjagter gewaarsku. Met haar aantreklike voorkoms wonder of hy sy hormone in toom kan hou.

Die storie van Mutsinzi, ’n slagoffer van kinderarbeid, is ’n tipiese verhaal van ’n desperate poging om van ’n armoedige bestaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo te ontsnap. Intelligensie en vasberadenheid tel egter in sy guns. ’n Storie wat ’n blywende indruk op hom gemaak het, is die verhaal oor Wittand die olifantbul en die hiëna wat sy moeder aan hom vertel het. Want in Afrika is dit die sterkere wat oorleef. As sy pad kruis met dié van Richter en ’n man na wie almal as “die baas” verwys, verander sy omstandighede drasties.

Richter-hulle is die verpersoonliking van boosheid. Imani word ingesuig by die Afrika-manier van doen met sy Machiavelliaanse ondertone waar algehele mag die enigste opsie word om bo uit te kom.

Asof die ondersoek van die moorde in Kaapstad en hoe dit moontlik verband kan hou met georganiseerde misdaad elders op die kontinent nie genoeg is nie, gewaar iemand uit Bester se verlede hom eendag per toeval. Gudio Müeller, ’n regse ekstremis, is nie alleen die kluts wyt nie, hy het lank tronkstraf uitgedien dansy Bester. Die tyd om wraak te neem het aangebreek. Dié verwikkelinge kan die ondersoek waarmee Mercurius besig is in die wiele ry.

Wat komposisie en die stillistiese aspekte betref, is dit ’n werk van voortreflike gehalte. Die hoofstukindeling wat volgens dag en datum geskied, is ’n slim keuse. Met die heen en weer spring tussen die hede en die verlede word die aanloop oor baie jare tot die huidige situasie duidelik uiteengesit.

In 2002 is Imani, nie meer as 15 jaar oud nie, ’n slagoffer van ’n korrupte regering en gewetenlose sakemanne wat Afrika se ellende uitbuit. Sy dagloon om onder haglike omstandighede in ’n myn te werk is ’n skamele een dollar per dag. Die leser volg sy loopbaan en opgang geleidelik. Imani se lewensverhaal word afgewissel met die Mercurius-ondersoek na die moorde in die Kaap met internasionale tentakels. Bester-hulle moet vinnig speel om die baasbreine aan die kaak te stel. Met ’n bloedspoor en lyke wat ophoop, word die spanningslyn snaarstyf gespan.

As protagonis is Carl Bester iemand van wie die leser maklik hou. Hy probeer sy bes, maak foute en hoop ook op ’n bietjie geluk. Sy oordeel het hom destyds lelik in die steek gelaat toe hy in diens van die SAPD was. ’n Misstap waarvoor hy ’n hoë prys moes betaal. Nou moet hy die beste maak van die tweede kans wat die lewe hom bied. Ondervinding en pure speurinstink kom hom egter goed te staan. En wie weet, dalk is ware liefde hom hierdie keer beskore.

Die storie oor Guido Müeller is allermins ’n lig-in-die-broek-neweverhaal en bied ’n hoogs insiggewende blik op die mitologiese aspekte wat die wêreld van die verregse onderlê. Die makabere gegewens van ’n verdraaide kultuur laat ’n mens ril.

Die kwessie van showing en telling blyk ’n uitdaging vir die skrywer by tye te gewees het. Tog slaag hy daarin om die regte balans te handhaaf.

Rudie van Rensburg se bydrae tot die genre van krimi-literatuur is indrukwekkend. Sy vermoë om aksietonele oortuigend onder woorde te bring, getuig van virtuose vakmanskap. Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt.

Vloek is ’n spanningsverhaal van ambisieuse omvang wat getuig van deeglike navorsing. Een vraag bly oor – hoe vertaal ’n mens “page-turner” in Afrikaans? Gliplees? Want die leser glip moeiteloos deur hierdie vaartbelynde teks met ’n onstuitbare moementum.

Van Rensburg stel agste spanningsroman bekend – TygerBurger, 11 September 2019.

Posted on: September 12th, 2019 by admin No Comments

Carl Bester, die gevalle oud-speurder, wat lesers in Rudie van Rensburg van Welgemoed se debuutroman Slagyster ontmoet het, maak ná ’n dekade weer sy verskyning in Van Rensburg se nuutste spanningsroman, Vloek.

Slagyster eindig waar Bester op vlug slaan ná hy geld gesteel het waarop in ’n dwelmsaak beslag gelê is.

Francois Bekker skryf in sy resensie in Media24 se dagkoerante van dié agste spanningsroman van Van Rensburg: “Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie, is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt vir Rudie van Rensburg.”

In Vloek is Carl terug, sê Van Rensburg. Ná ’n dekade word hy skielik gevrywaar van vervolging. Hy kan terugkom na Suid-Afrika – sy bannelingstatus uitgewis, maar teen ’n prys.

“Ons vergeet van jou sondes in ruil vir ’n teenprestasie,” sê sy nuwe werkgewer. Hy moet ’n saak van internasionale belang help ontrafel – een wat met lyke besaai lê.

Carl was ’n dekade laas polisieman. Nou sal hy sy skadukant finaal moet afskud en weer soos ’n volbloedspeurder redeneer om die saak op te los.

Sal dié berugte rokjagter ook die versoeking weerstaan om betrokke te raak by ’n beeldskone kollega?

En gaan sy pad kruis met dié van Kassie Kasselman, die speurder wat sy diefstal destyds aan die Skerpioene blootgelê het?

Dan is daar die neo-Nazi uit Carl se verre verlede. Gevul met die “heilige krag van die Führer” is hy vasbeslote om wraak te neem op die man wat hom agter tralies laat beland het.

Van Rensburg sê dit is moontlik die mees ambisieuse projek wat hy nog aangepak het, want dit het geweldig baie navorsing geverg om ’n geloofwaardige omgewing en agtergrond vir die verhaal te skep.

Sosiale Netwerke


css.php Top