Archive for June, 2018

Ys – Resensie deur Elzette Steenkamp – Litnet 2018-06-20

Posted on: June 27th, 2018 by admin No Comments

Plaaslike boekwinkels se rakke staan deesdae vol van Afrikaanse spanningsverhale met kragtige een-woord titels. Vir diegene wat op soek is na ’n lekkerlees-boek om die stil Sondag-middagure, voor die Carte Blanche-deuntjie begin speel, mee te verwyl, is een grilller seker net so goed soos die ander.

Maar verkies jy ’n intelligente, donker spanningsroman wat jou lank na die laaste bladsy nog effe ongemaklik laat, is Rudie van Rensburg jou man.

Kaptein Kassie Kasselman en sy kollega Rooi Els is terug in Ys, Van Rensburg se jongste spanningsverhaal. Hierdie keer bevind die paar hulle in die Spesiale Spookeenheid (SGU) – die SAPD se nuwe elite-speureenheid. Ondanks die fênsie naam en die belofte aan hoëprofielsake sonder administratiewe rompslomp, bied die SGU (nooit die SS nie, asseblief) nie veel opwinding vir Kassie en sy regterhandman nie.

Met net twee moordsake tussen drie speurspanne, lees hulle intussen maar deur stapels en stapels opleidingsmateriaal. Boonop het Kassie se nuwe bevelvoerder nie veel vertroue in twee oud-stasiespeurders se vaardighede nie.

Wanneer ’n vooraanstaande Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit die ideale geleentheid vir die tweemanskap om hulle speurvernuf te bewys. Op die oog af lyk dit soos ’n rooftog wat skeef geloop het, maar daar is dalk meer as een kinkel in hierdie kabel.

So word Kassie in ’n ingewikkelde komplot gedompel. Hoe steek ’n moord in die Noordpool, ’n politiese gekonkel in Washington, en die geval van ’n voortvlugtige oud-Pollsmoor-gevangene inmekaar? En dan is daar ook nog die geheimsinnige man met Die Drang wat snags deur die Kaap se strate rondsluip. Die intriges loop diep, maar Kaptein Kassie Kasselman laat hom mos nie so maklik afskrik nie.

Ys bevat al die kenmerke van ’n goeie spanningsverhaal. Soos dit die genre betaam, is dit ’n boeiende, aksie-belaaide roman met genoeg onverwagte draaie in die knoop om die leser se aandag tot die einde te behou.

Wat van Ys ’n uitstekende speurverhaal maak, is egter Van Rensburg se vermoë om fyn verwikkelde verhaallyne, komplekse karakters en vlymskerp sosiale kommentaar te verweef in ’n roman wat bloot net lekker is om te lees.

Ys deins nie terug vir groot vraagstukke nie. Die roman ondersoek die interseksie tussen politiese- en omgewingskwessies op ’n manier wat, veral in ’n nuwe, onsekere Trump-era, na genoeg aan die werklikheid voel om die leser onrustig te stem oor die lot van ons wêreld. So ook word die kwessie van huishoudelike geweld met sensitiwiteit en vernuf hanteer.

Boonop wend Van Rensburg ’n prysenswaardige poging aan om in sy moorddadige antagoniste se psiges rond te delf en hulle motiverings en snellers op ’n geloofwaarlike manier uit te beeld – iets wat bitter selde in blitsverkopers te vinde is en dui op diep insig in die kriminele gemoed (of dalk net goeie navorsing).

Kassie Kasselman is een van die mees innemende hoofkarakters wat ek nog in ’n speurverhaal teëgekom het. Met sy onooglik rooi windjekker, hare wat lyk of dit elke oggend deur ’n koei natgelek word en ongesonde Creme Soda en Lucky Strike gewoonte, herinner hy aan Peter Falk se Columbo – oënskynlik onbekwaamd en lomp, maar as’t ware ’n skerpsinnige bobaasspeurder.

Indien jy nog nie met Kassie Kasselman kennis gemaak het nie, wag daar ’n groot bederf op jou. Hy is ook te vinde in Van Rensburg se vyf vroëere spanningsverhale: Slagyster (2013), Kopskoot (2014), Judaskus (2015), Pirana (2016) en Kamikaze (2017). Jy kan hulle almal sommer binge-lees.

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Rudie van Rensburg, Lien Botha en Karel Schoeman – Litnet

Posted on: June 15th, 2018 by admin No Comments

Na afloop van die Mei 2018-sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sal die volgende drie vertalings befonds word:

Slagyster, Rudie van Rensburg se debuut as spanningsverhaalskrywer, sal by Uitgeverij Conserve verskyn. Uitgeverij Conserve het oor hul 35 bestaansjare veral bekend geword vir die literêr-historiese werke wat hul publiseer, maar brei hier hul lys misdaadromans uit deur die toevoeging van die eerste boek in Van Rensburg se topverkoper-reeks met Inspekteur Kassie Kasselman aan die stuur. Volgens uitgewer Kees de Bakker is Van Rensburg se werk “even spannend en prikkelend als dat van Deon Meyer”. Jente Rhebergen sal die roman in Nederlands vertaal. Slagyster het oorspronklik in 2013 by Queillerie, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskyn.

Zirimiri Press, ’n onafhanklike uitgewery wat sedert hul ontstaan in 2009 fokus op die vertaling van literatuur uit ander tale, veral kleiner en minder-vertaalde tale, sal Lien Botha se bekroonde debuut Wonderboom in Nederlands uitgee. Wonderboom het in 2014 by Queillerie verskyn en is nie net aangewys as die Huisgenoot Tempo Boek van die Jaar vir 2016 nie, maar het ook aan Botha die Jan Rabie-Rapportprys 2016 en Eugene Marais-prys 2017 besorg. Robert Dorsman, ’n vooraanstaande vertaler van beide poësie en prosa, sal die Nederlandse vertaling behartig. Hy het voorheen werk van onder meer Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Olive Schreiner, Achmat Dangor, K. Sello Duiker en Etienne van Heerden vertaal.

Uitgeverij Aldo Manuzio voeg Die hemeltuin deur Karel Schoeman by hul groeiende lys Nederlandse vertalings van Afrikaanse romans. Die hemeltuin het oorspronklik in 1979 by Human & Rousseau verskyn. In ’n resensie beskryf JP Smuts die roman as “’n werk wat die skrywer se krag toon . . . Binne sy oeuvre is dit een van sy beste werke.”

Rob van der Veer sal die Nederlandse vertaling behartig. Bestaande vertalings deur Van der Veer sluit in: Hierdie leweDie uur van die engel en Verliesfontein deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M Louw en Buys deur Willem Anker. Laasgenoemde is in samewerking met Karina van Santen vertaal.

Aldo Manuzio is die uitgewer van verskeie van Schoeman se werke, onder meer die Stemme-drieluik, en publiseer ook eersdaags Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström en Fees van die ongenooides deur PG du Plessis in Nederlandse vertaling. Laasgenoemde twee vertalings is ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Dit is verblydend om te sien dat vertalings van so ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke uit hierdie suksesvolle befondsingsaansoeke sal voortvloei.

Groen noir in skakerings van euwel bemeester – Jonathan Amid – Media 24-dagkoerante – 23 April 2018

Posted on: June 15th, 2018 by admin No Comments

Ys – Queillerie

 

Elke Kassie Kasselman-boek ontwikkel ’n duidelike skrywerstalent en kondig luidkeels aan: Hier lewe ’n liefde vir Afrikaans en vir misdaadfiksie as ’n genre, skryf Jonathan Amid.

 

Rudie van Rensburg het duidelik geen erg aan voorskriftelike reëls nie. Reeds met sy debuut, Slagyster, het hy gewaag deur sy (nou) geliefde speurder, kapt. Kassie Kasselman, die systrate van die narratief te laat bewandel.

Van Slagyster tot Kamikaze het Kasselman as lesersgunsteling nooit die soort hardgebakte, gefolterde sentrale hoofkarakter geword wat ons in die moderne speurverhaal vind nie. Hierdie besluit – om minder op die speurder self en veel meer op die misdadiger(s) te fokus – het Van Rensburg die nodige ruimte gegun om ’n nuwe, grensverskuiwende soort misdaadroman die lig te laat sien: dinamiese, eksperimentele dossiere in reeksformaat, iewers tussen speurverhaal, avontuur en noir. Snydende sosiopolitieke kommentaar, vervlegte verhaallyne, afwisseling in perspektief en vertelling, eksplisiete fokus op misdadigers se motiverings en aksies, en volgehoue spel met taal is kenmerkend.

Hoewel voorsiening gemaak word vir romanse, Kassie se verskeie hebbelikhede, ’n teater van die absurde en humor wat brand soos droeë ys, neem die reeks toenemend ’n veel donkerder, grieselige ondertoon aan soos skakerings van boosheid chirurgies gedissekteer word. Ys, die skrywer se sesde misdaadroman, vervolmaak hierdie broeiende aanslag tot in die fynste detail. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer is ek oortuig Van Rensburg se misdaadromans – tegelyk komies as tragies – is die plaaslike Afrikaanse ekwivalent van die FX-misdaadreeks Fargo.

Van Rensburg moet dalk ook geplaas word langs internasionale bondgenote wat neig na die eksperimentele roman noir – soos Roberto Bolano met The Savage Detectives en 2666 en David Peace se Red Riding Quartet. Ys is hoogs relevant wat tematiek betref, maar vorm ook deel van die jongste gety van populêre misdaadromans wat “eko-noir” heet. Hier word misdaad metafisies beliggaam; om verdagtes, skuldiges en onskuldiges van mekaar te skei raak moeiliker as om ’n blokkiesraaisel in die donker te voltooi.

Enige maaifoedie-resensent wat durf spoilers weggee, sal hulself ’n ysingwekkende toesnouery op die hals haal, Daar is boosdoeners, geregsdienaars en gewone burgers wat paaie kruis op ongewone dog geloofwaardige wyses.

Die kil en berekende teen die passievolle en die banale. Ons beweeg blitsvinnig heen en weer tussen Amerika en die skone Kaap. Kort hoofstukke verwissel van ruimte en perspektief, van toonaard en stemming. Om telkemale binne ’n enkele paragraaf lokbokkoms te kan strooi, die leser se bloeddruk op te jaag en jou te laat skaterlag, sit nie in elke skrywer se broek nie.

Waar toeval te prominent was in die opbou en ontknopings van Kopskoot, byvoorbeeld, is dit duidelik nie meer deel van die mondering wat skaaf makeer nie. Ek het in my Kamikaze-resensie kritiek uitgespreek oor die lot van vroue in Van Rensburg se ouvre. Ys lewer ’n klinkklare respons op hierdie problematiek. Myns insiens staan geweld teen vroue hier sentraal; ’n belangrike hoofkarakter word op ontstellende wyse geskakeer as ’n sterk vrou wat steeds onder geweldige mishandeling gebuk gaan. So word twee ander belangrike vrouekarakters ook die slagoffers van fisieke geweld en manipulasie.

Die grootste skok-oomblik van Ys wentel juis rondom iemand se ware kleure, een wat deurgaans die grense van ons simpatie toets. Met groot risiko kom uiteraard groter beloning.

Van Rensburg, soos met die aanwend van derdepersoonvertelling in Kopskoot en die gebruik van e-posse van Iskariot in Judaskus, vind in Ys ’n sleutel om die leser in te trek by ’n groter gesprek rondom klimaatsverandering, die wêreldwye Groenbeweging, partypolitiek en diplomatieke sameswerings/nasionale veiligheid.

Verraad, gekonkel, hebsug, moord, polities of persoonlik, of albei vervleg – Van Rensburg doen deurgaans moeite om die leser aan die raai te hou oor die ware kleure van sy sleutelspelers. Onvergeetlike karakters – Carl Bester, Victor, Iskariot, Jackal Williams, Die Pion, die lys gaan net aan en aan – verskyn klokslag van Slagyster tot Kamikaze. Lesers sal beslis uiteenlopende menings hê oor die karakters in Ys. Karakters soos MacArthur, Frankie Kriel, Shaheena en Elton Fortuin, Viking en Tinkie Haasbroek laat nie sommer maklik van hul vergeet nie.

Twee van Ys se hoofbooswigte, Hasie en Pastoor, is van eenderse stoffasie gemaak as een van Chris Karsten se fiktiewe families. El sal nie verder uit te wei as om te sê dat “Die Drang” ’n paar lesers na hul moeders sal laat verlang nie.

Elke boek in hierdie reeks ontwikkel ’n duidelike skrywersidentiteit in die teks en kondig luidkeels aan: Hier lewe ’n liefde vir taal, vir Afrikaans, ywer en vir die misdaadverhaal as medium. Ys vermag dit om die komplekse eenvoudig te laat lyk; om sowel te instruct as te delight, om sir Philip Sidney se “defense of poetry” te verwring.

Wat Van Rensburg dalk tans beter as enige ander populêre skrywer plaaslik regkry, is om vir die lesers ver meer te gee as dit wat hulle verwag. Vermaaklikheid, spanning, intrige en keurige taalgebruik is daar. Maar om male sonder tal ’n magdom nuwe feite en interessanthede te leer sonder dat dit ooit soos leer voel, dit wil gedoen word.

Min sal stry dat hierdie skrywer homself met elke pas verskene roman oortref. Die spreekwoordelike see-uitsig word net mooier. Dis niks anders as ’n skreiende skande dat Van Rensburg nog nie internasionaal uitgegee en sy romans nie eens plaaslik in Engels vertaal is nie. Dit terwyl debuutkrimi-skrywers reeds vertaal word.

 

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

Nuwe Van Rensburg sal grootste skurke beïndruk – Jaco Fouche – Rapport – 22 April 2018

Posted on: June 15th, 2018 by admin No Comments

Ys- Queillerie

 

Met die aktuele gegewe, vinnige tempo en skurke met implemente en ondernemingsgees in sy sesde misdaadroman, wys Rudie van Rensburg hy hoef vir geen ander krimi-skrywer terug te staan nie, skryf Jaco Fouche.

 

Dié boek het een van die kortste en treffendste titels wat ek nog gesien het. Dit dui op die Noordpoolsirkel as moontlike bron van olie en aardgas vir ’n energiehonger wêreld. Verskeie internasionale rolspelers stel belang.

Net op avontuurwaarde is die Noordpool ’n groot spil vir intrige. Dit hou ook ’n ekologiese tema in, aangesien dit volgens ’n karakter in die boek “die aarde se yskas” is. Die verwarming wat daar plaasvind, beïnvloed die res van die planeet. Daar word byvoorbeeld bespiegel die Kaapstadse woonbuurte Tamboerskloof en Oranjezight kan weens die verhoogde seevlak oor 80 jaar reg teen die kus lê.

Die ysige titel verwys ook na die ongenaakbaarheid van heelparty van die karakters. Die boek is nie die soort omgewing waar jy kan verwag om vriende te maak nie. Pleks daarvan het jy genote, associates, die soort mense wat jy dalk sal raakdrink, as jy so ingestel is, wat jou dalk saaklik kan help om ’n misdaad op te los of jou kan dwing om daardie misdaad te help pleeg.

Dis nie mense wat jy huis toe gaan nooi nie. In een geval is so ’n genoot van so ’n kaliber dat hy sy geliefde aan ’n stoel vasmaak en slaan. Nie heeltemal genadeloos nie – hy het later bietjie berou omdat dit so hard was.

Van Rensburg draai nie doekies om in die gewelddadige tonele nie. Hy staan nie terug vir wat ’n mens seker “elemente” kan noem nie; die bevolkers van die onderwêreld, lede van klasse ver verwyder van jou eie.

Wanneer die leser die oud-Pollsmoor-gevangene Kriel ontmoet, voel jy dadelik simpatiek teenoor hom in die geselskap van sy teenppol en nemesis, die mislike paroolbeampte Ludick. En dan het hy, die veroordeelde moordenaar wie se misdaad hom dalk verskoon kan word, boonop ’n droom om ’n tweedehandse boekwinkel te begin. Watter leser sal nie dadelik versot wees op so ’n man nie? ’n Man met ’n verlede, maar ook hoop op ’n toekoms. En dan glo hy boonop “’n mens is die spieël van die boeke wat jy lees”. Miskien is daar tog ’n genoot wat jy, die speurverhaalleser, sal bevriend.

Dan is daar natuurlik Van Rensburg se polisiemanne, Kassie Kasselman en Rooi Els. Hulle word geniehalter deur regulasies, base en roetine. Hul baas, Shaheena, is ’n aangrypende figuur en nog iemand wat baie simpatie afdwing.

Verder gooi die storie in die Amerikaanse staatsdepartemente. Die FBI staan ook hier pa vir burokratiese tekortkominge, maar versinnebeeld terselfdertyd wetstoepassende doeltreffenheid, soos in vele rolprente, televisiereekse en ander storieboeke. Nog ’n Amerikaanse instelling wat ’n rol in die boek speel, of ten minste ’n beduidende skadu werp, is pres. Donald Trump.

Die skurke het implemente en ondernemingsgees. Wanneer die skrywer die booswigte se perde op galop laat gaan, is dit die slae van kreatiwiteit en vryheid wat opklink. Jy weet, of hoop, egter ook dat hulle weer gestal sal word, sê lewenslank, of selfs ’n genadeskoot kan verwag. Jy vereis niks minder nie, veral in die here Hasie en Elton se geval nie.

Die tempo is vinnig, soos dit hoort in misdaadfiksie. Van Rensburg staan nie terug vir ander krimi-skrywers nie, hoewel hy my ook aan Jan Scholtz en sy TV-reekse laat dink. Soos Scholtz skakel Van Rensburg in by die Suid-Afrika van sy tyd en maak hy sy verhaal aktueel, hoewel hy verder gaan en meer internasionaal dink.

Miskien is die inligting in die internetera nou meer geredelik beskikbaar.

Miskien is Suid-Afrika nie so geïsoleer nie, en streef almal wat ambisieus is – van Afrikaanse skrywers tot die meer obskure burgers van die land – daarna om hul talente oorsee aan te wend.

Anders (of daarby) is dit Van Rensburg se joernalistieke ervaring wat hom tot voordeel strek. Die erkenningsblaaie dui in elk geval op navorsing en nie blote leeswerk nie.

Ek onthou ook die spanningsvolle episodes van Scholtz se televisiereekse wanneer die storie goed op dreef is en die polisie net so vuur en vlam is soos die skurke om hul doelwit te bereik. Dis die soort atmosfeer waarin elke gebaar later van dringendheid en betekenis spreek.

Soos in vele ander Suid-Afrikaanse boeke figureer Kaapstad weer hier. Die stad het die eienskap dat dit nooit soos ’n deurtrapte verhoog lyk nie en eerder soos ’n klankverhoog in ’n Hollywood-ateljee funksioneer. Afhangende van wat die storie verlang, kan dit opgebou, ingekleur en aangepas word om die agtergrond vir enige denkbare situasie te vorm. Dit bly egter ook lekker om die strate en bakens van die Moederstad te herken.

Hier en daar het ek gewens ’n toneel was langer sodat ’n mens by ’n karakter kon vertoef eerder as om so gou weer die aflosstok te moet oorgee.

Om te vergoed is daar ’n paar interessante persoonlike geskiedenisse wat die boek verryk en begrip vir motiewe verskaf. Dis asof jy die karakters se geite sal verduur, selfs wanneer dit gevaarlik blyk te wees, ter wille van die opwindende kennismaking.

Dit is presies wat Ys vir nuwe Rudie van Rensburg-lesers sal wees: ’n opwindende kennismaking. Maar gesoute aanhangers sal eweneens in die wolke wees – nie net oor die toevoeging tot Van Rensburg se eie werk nie, maar ook vir ’n goeie bydrae tot ’n genre wat buite sy eie grense help bou aan die geloofwaardigheid en heil van Afrikaanse literatuur. Dis genoeg om die mees ambisieuse skrurk te beïndruk.

 

Jaco Fouche is ’n skrywer van Hermanus.

Arktiese sirkel vonk vir spanningsroman – 23 Mei 2018 – Netwerk24

Posted on: June 10th, 2018 by admin No Comments

Die bekende misdaadfiksieskrywer Rudie van Rensburg het verlede week sy sesde spanningsroman, Ys, bekendgestel.
Aanhangers van sy boeke het die konferensiesaal by Tygervalleisentrum vol gesit om ’n voorsmakie te kry van wat op hulle wag in dié boek.
Die joernalis Maryke Roberts het met Van Rensburg gesels oor verskeie aspekte van sy skryfwerk, navorsing en die karakters in die boek.
Soos in die meeste van sy boeke, was ’n werklike omgewings- of wêreldkwessie die vonk vir die skryf van Ys – dié keer die kontroversiële brandpunt oor olieboordery in die Arktiese sirkel.
“Die Noordpool is nie net die wêreld se grootste yskas nie, maar huisves ook 13% van die wêreld se olie- en 30% van die wêreld se natuurlike gasreserwes. Die verwagte toestroming na dié gebied in die toekoms, kan die destydse goudstormloop na ’n vulletjie laat lyk,” sê Van Rensburg oor die kwessie, wat grotendeels as die agtergrond vir sy verhaal dien.
Sy geliefde hoofkarakter, Kassie Kasselman, is terug, maar is nou in die Spesiale Spookeenheid, ’n elite-polisie-eenheid, om die moord op ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel te ondersoek.
’n Gekonkel in Washington, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet en duisterhede in die bevelvoerder se persoonlike lewe, dra als by tot die spanning in die verhaal.
En dan is daar ook die bloeddorstige man met die kettingsaag …
Hoewel Van Rensburg noukeurige navorsing doen, meen hy dat navorsing nooit die storie moet oorheers nie. Hy streef na ’n “balans tussen fiksie en werklikheid”.
En as dit by die grieselrige moordtonele kom, meen Van Rensburg dat die “ergste misdaad wat jy jouself kan indink, reeds in die werklike lewe gepleeg is”.
Ys is landwyd by boekwinkels beskikbaar.

Sosiale Netwerke


css.php Top