Archive for March, 2018

Hans steek die Rubicon oor: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg – Naomi Meyer – LitNet

Posted on: March 23rd, 2018 by admin No Comments

2018-01-03

Skrywers oor hulle nuwe boeke: Naomi Meyer vra vir Rudie van Rensburg oor sy boek Hans steek die Rubicon oor.

Rudie, met Hans steek die Rubicon oor steek jy self ’n persoonlike Rubicon oor: dis nie ’n spanningsverhaal hierdie nie. Hoekom nie? En voel jy as skrywer dat jy binne enige genre wil kan skryf en nie ingeperk wil word nie, sonder dat iemand hierdie soort vraag vra?

Ek noem dié boek ’n “asemskepboek” tussen die spanningsfiksie deur. Dit is beslis nie ’n nuwe rigting wat ek inslaan nie. Maar soos jy tereg opmerk, wil ek ook nie ingeperk voel as ek die behoefte het om ’n ander genre aan te pak nie. En ek wil ook nie die moontlikheid uitsluit dat ek dit weer in die toekoms gaan doen nie – hoewel spanningsfiksie maar altyd my eerste liefde sal bly.

Jou karakter Hans steek ’n Rubicon oor. Vertel asseblief waaroor die storie gaan?

Die storie handel oor ’n 90-jarige man (Hans) wat deur sy verloopte kinders (wat almal in die buiteland bly) gedwing word om ouetehuis toe te gaan. Hy is nie lus of gereed daarvoor nie. Sodra hy met die drakoniese bestuur van die plek te make kry, word hy ’n rebel en aktivis, ’n oom wat niks het om te verloor deur in opstand te kom nie. Hy word die matrone se grootste nagmerrie: ’n ou man wat vir homself kan dink en tot aksie oorgaan. En uiteindelik is Hans ook die katalisator vir die ander senior burgers se verset.

Oudword en hoe dit uitgebeeld word – nóg ’n Rubicon. Humor en oudword is nie maats nie, of hoe? Of dink jy dis hoe dit (dikwels) met humor werk: hoe erger en hoe meer skreiend, des te snaakser?

Ek dink nie humor het ’n ouderdomsperk nie. Die eiesoortige en soms ouwêreldse woordeskat van die bejaardes het as die basis vir die humor in die boek gedien. En teen die agtergrond van hulle ouderdomsbeperkings en soms -gebreke is hulle manewales juis snaakser as wat dit met ’n jonger geslag karakters die geval sou wees.

Wat het hierdie storie geïnspireer?

Die boek het ’n lang aanloop. Dit het “ontkiem” toe Kassie Kasselman, die speurder in my spanningsromans, se bejaarde ma in Kamikaze deurmekaar raak met ’n oom wat nie sy goedkeuring wegdra nie. Dit het vir lekker humor gesorg en het my geïnspireer om ’n kortverhaal oor ’n senior burger (Hans) te skryf vir die US se Woordfeesbundel van 2017. Dié kortverhaal het bly spook by my en “gesoebat” om ’n boek te word. En só het Hans se storie lyf gekry.

Die volwasse kinders wat oorsee bly, die bejaarde ouers wat in die aftreeoord ingeboender word. Dis iets waarmee baie Suid-Afrikaners kan identifiseer. Was jou boek dalk nie net ’n satire nie, maar ook ’n vorm van protes? Dalk kan jy hierop uitbrei.

Dit was beslis ook ’n vorm van protes. Eerstens het ek ’n weersin daarin as jonger mense wat mag het oor oueres, op ’n neerbuigende manier met hulle praat deur onder meer verkleinwoorde te gebruik asof hulle kinders is. “Oumensies” se wysheid en ervaring mag nooit onderskat word nie – iets wat juis in die boek sleg boemerang vir hulle wat bejaardes vlak kyk. En ja, tweedens wou ek die groot Suid-Afrikaanse tragedie belig dat soveel bejaarde ouers vereensaam in inrigtings omdat hulle kinders en kleinkinders in die buiteland is én dat hulle soms teen hulle wil in daardie inrigtings geboender word.

Wat is eenders en wat is anders om spanningsfiksie te skryf versus ’n humoristiese verhaal?

Anders as in my spanningsromans het ek dié verhaal deurgaans lig en speels gehou, maar soos in spanningsfiksie het ek die leser probeer nuuskierig hou om te sien of Hans die stryd gaan wen teen die “onmenslike” gesaghebbers van die ouetehuis. In ’n groot mate gebruik ’n mens maar dieselfde spanningsromanresep om die lesers geïnteresseerd en in afwagting te hou.

’n Jeugdige wêreld vol van millennials, voel dit soms. Dink jy daar is ’n mark vir boeke oor ouer lesers vir ouer lesers?

Hans se storie sal seker meer aanklank vind by ’n ouer geslag lesers, maar ek was nogal verras oor die positiewe terugvoer wat ek van jong lesers gekry het. Wat dalk daarop dui dat ’n boek oor bejaardes ook leesbaar is vir ’n breër mark.

’n TV-reeks van verlede jaar, Stranger things, het my aandag gevestig op hoe die leefwêreld van kinders van die tagtigerjare in ’n verhaal aangewend kan word: landlyntelefone, outydse TV’s, modes en die rekenaarspeletjies van daardie tyd. In ’n boek wat toegespits is op ouer lesers, watter navorsing moes jy doen om toegang te verkry tot die leefwêreld van jou teikenmark?

Ek het gelukkig self in ’n tyd grootgeword sonder TV’s en rekenaars, en mét safaripakke, kruisbande, landlynfone, tikmasjiene, die Skim en Tarzan, Borgwards, langspeelplate en Chamberlain se hoesmedisyne. So dit was darem nie te moeilik vir my om daardie leefwêreld te skep nie, omdat ek volgens alle definisies self op die rand van bejaardheid staan! (Iets wat ek in die openbaar natuurlik ten sterkste ontken.) My grootste uitdaging was wel om argaïese uitdrukkings te soek wat by Hans en sy pelle se taalgebruik sou pas. Daarvoor het ek Afrikaanse spreekwoorde en uitdrukkings uit die vyftigs, sestigs en sewentigs gaan opdiep wat nie meer vandag algemeen voorkom nie.

Waaraan skryf jy op die oomblik?

Ek is besig om aan twee manuskripte (albei spanningsfiksie) te werk vir 2019. My nuwe spanningsroman, Ys, is klaar en verskyn vanjaar in April.

Wat lees jy – en kry jy tyd daarvoor? Watter boeke/films/teaterwerk/TV-reeks het jou onlangs getref?

Waar ek altyd ’n ywerige fiksieleser was, kry ek tot my groot spyt deesdae nie tyd om meer as drie, vier fiksieboeke in ’n jaar te lees nie (gewoonlik net beperk tot die werk van my gunstelingskrywers). Ek lees egter wyd en deurlopend aan niefiksieboeke as deel van navorsing vir my eie boeke. Naas Jacques Pauw se opspraakwekkende onthullings het die Britse ondersoekende joernalis Tom Burgis se The looting machine: warlords, tycoons, smugglers and the systematic theft of Africa’s wealth ’n groot indruk op my gemaak. En ek moet meld dat kykNET se TV-reeks Waterfront my voete onder my uitgeslaan het. Dit vergelyk uitstekend met enige bekroonde internasionale reeks.

Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg – Maryke Roberts – LitNet

Posted on: March 23rd, 2018 by admin No Comments

2018-03-19

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders – wat hy die Verenigde Nasies noem omdat hulle die hele aardbol vol woon – maneuvreer hom vanuit hul oorsese huise in Huis Madeliefie in. Hy wil nie gaan nie; die inbraak by sy huis ’n maand gelede het minder indruk op hom gemaak, want hy het dwarsdeur die gedoente geslaap. Hy verstaan nie hoekom hulle so oorreageer nie.

In sy kop is hy nie oud genoeg om sy huis prys te gee en in ’n klein kamertjie te gaan woon nie. Sy planne om die ouetehuistrek uit te stel en dan, wanneer hy nie meer kan weghardloop nie, ander huisvesting te soek, word kort-kort in die wiele gery deur die drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers, Namibiese reise wat sy spaargeld opvreet en vet sports soos Hans kliphard teen die prikkels skop.

Hy maak tog – teen sy sin – vriende in die ouetehuis en saam beplan hulle ’n ouetehuisopstand teen die matrone en haar skoothondjie. Die vrou was voorheen by ’n tronk en haar reëls herinner aan haar vorige pos en die oumensies is nie meer daarvoor te vinde nie.

Die omslag beskryf die boek as ’n “hoogs komiese roman oor oudword op eie terme”. Kerneels Breytenbach skryf op die voorblad dis “loslit-humor op sy heel beste”.

Rudie van Rensburg kan met woorde werk; sy opleiding as joernalis en skrywer met verskeie boeke op sy kerfstok verseker dit en ek glo hierdie boek was vir ’n proefleser ’n vreugde – nie alleen is die taal keurig nie, maar hy gebruik spreekwoorde en uitdrukkings wat so lekker op ’n uitgehongerde Afrikaanse oor val. Hy verval nie soos baie ander Afrikaanse skrywers in die slaggat om die taal hip te wil maak en sêgoed te wil indwing wat in elk geval nie by oumense pas nie.

Die karakters praat soos my 88-jarige pa. Ja, daardie sêgoed wat jy soms hoor en twee treë terugstap en vra: “Hoe nou?” want jy kan nie glo wat hy nou kwytgeraak het in ou Afrikaans nie. Dis Afrikaans waarvoor ek so lief geword het en wat vandag só min gehoor word.

Die vergelykings van Hans se rugbydae vir die Hamiltons en hoe sy planne dekades later net so haarfyn soos hul destydse wedstrydplanne uitgewerk word – dié keer met vroue in looprame as spanspelers – het my aan die lag gehou en daar was ook ’n paar hardoplag-oomblikke wanneer sy hardkoppigheid en deursettingsvermoë tot ’n spits gedryf word.

Die boek begin effe ernstig: met oordenke en mymeringe oor ’n lewe én ’n lyf wat was. Aanvanklik dink jy die boek gaan hartseer wees, amper soos die internasionale wegholsukses The secret diary of Hendrik Groen, 83¼ years old, waar Hendrik se vriende geheuesiektes opdoen, ledemate verloor weens suikersiekte of selfs doodgaan; waar die verganklikheid só teer, maar só werklik beskryf word.

Maar dan neem Rudie én Hans ’n wending en die boek herinner meer aan die amper absurde The 100-year-old man who climbed out the window and disappeared, waar een ongelooflike ding op die ander met die hoofkarakter en sy nuwe vriende gebeur.

Soms is die gebeure vir my heeltemal te onwerklik en kan ek my nie indink dat my bejaarde pa so iets sou aanvang nie, en soms het hierdie absurdheid my effe gepla, maar meestal het ek net agteroorgesit en die storie geniet.

Dis nie ’n boek vol lewenslesse en -waarhede nie. Dis inderdáád loslit humor op sy beste – lees dit in daardie gees. Genade, ons het nodig om oor lawwighede te kan lag.

FMR-resensie: Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg – Danie Botha – LitNet

Posted on: March 23rd, 2018 by admin No Comments

2018-03-19

Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg is die komiese én lewensgetroue roman oor die bejaarde Hans van Kraaienburg. Hy is 90 jaar oud. Dit begin by wewenaar Hans se afskeid van sy huis. Sy kinders is oor verskillende vastelande en eilande versprei. Die driftige Carla se mense is in Vancouver, Ben en syne in Christchurch. Willem in Melbourne en Mara met geopereerde heup in Tokio. Hans is nogal wel ter tale. Hy vernoem mense en dinge ook dikwels na historiese gebeure. Carla en Ben wat ’n paar maal Hans se ontsnappingspogings uit die ouetehuis stopsit, noem hy die Goebbels-tweeling. Die veiligheidsmuur om die tehuis is die Berlynse Muur. Die Rubicon-gedagte van die boektitel sluit ook aan by sy geskiedeniskennis, hoewel ek wonder of so ’n onhumoristiese titel genoeg lesers sal aanlok.

Hans noem sy kinders die Verenigde Nasies, want ’n ruk gelede het hulle samesprekinge gevoer en saam besluit dat hulle ou vader “na ’n plek van veiligheid” moet verhuis. Talle plekke is besoek en toe besluit hulle op Huis Madeliefie.

Die laaste aand in sy huis beskou hy hom in die spieël. Wat hy sien word beskryf as “verdor, verlep en verskrompel, met ’n stroewe gelaat; hangborste, uitgesakte maag; plankdun beentjies. Die praalhuis van sy eertydse sportmanjare is nou ’n murasie (bl 5).”

Maar hy beskou hom nie as ouetehuismateriaal nie. Madeliefie is nie ’n aftreeoord waar jy in jou eie huis kan bly nie; dis ’n tehuis vir bejaardes. En onder Matrone Van Dussen is daar reëls en regulasies wat darem glo nie by ’n deursnee ouetehuis sal voorkom nie. Sy was voorheen kolonel by Korrektiewe Dienste. Hans het nog nooit sulke klein kloutjies aan ’n volwassene gesien nie. Grou ogies. Ene krimpvarkie. Hier in die ouetehuis weergalm die sirene vir etenstyd en stiltetyd. Ligte uit om nege. Net enkellopendes mag hier bly; geen getroudes, want getroudes se saamslapery sal smerige gedagtes by enkellopendes laat ontstaan. Professor is reeds so vatterig. Matrone word militaristies bygestaan deur Esmeraldus Hanekom; Hans doop hom Boerbok.

Sommer gou kom Hans in opstand. Hier wil hy weg. Hy verdwyn eenvoudig net op vakansie na Namibië. Hier kry hy by ’n Amerikanertjie ekstra-sterk daggakoekies.

Daarmee is ons by een van die voortreflikhede van  die boek. ’n  Deeglike intrige word geskep. Daar is nie losstaande humorsituasies nie; hulle skakel aaneen. Hans en drie ander inwoners span saam om dinge in Madeliefie te verander en in die proses ontstaan een avontuur uit ’n vorige en gaan oor in ’n ander.

Sy saamstaanvriende is: Vasie Knoetze; hy kyk skeel; soos Hans se ma altyd gesê het, een oog in die pot en die ander een in die skoorsteen. Vasie skryf sy naam  met ’n “V”.  Het in sy kleintyd ses van sy ma se Oosterse vase gebreek.

Tweede lid: Baby van Wyk wat so hie-hie-hie kan lag en wat effens hakkel. Sy is ’n groot vrou. Die aand toe sy met Hans en Vasie daggakoekies geniet het, het dit hulle ’n halfuur geneem om haar in paaiemente op die bed te kry. Die skrywer sê sy het trippelkenne. Naar van hom.

En dan is daar Liesbet. ’n Rietskraal vrou wat bietjie soos ’n Kersboom kyk. Pers tint in die hare, bloedrooi lippe en witgepoeierde gesig. Behalwe haar duime het elke vinger ’n knoetsige ring. En sy praat nog Transvaals. “Dorsy! Finish en klor!”

Saam met enkele ander stig hulle ’n organisasie om die winde van veranderinge deur Huis Madeliefie te stuur: Progressiewe Organisasie vir die Emansipasie van Patriotte.

Afgekort lui dit:  P O E P.  Ja, jy het reg gelees. P O E P.

Jy kan dié dinge in Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor leesUitgegee deur Queillerie, ’n druknaam by NB-Uitgewers, Kaapstad. Ou Vasie Knoetze sou vir Rudie lof toegeswaai het: “Jou ou biesiepol!”

Ys

Posted on: March 23rd, 2018 by admin No Comments

Kassie Kasselman en Rooi Els bevind hulle in die Spesiale Spookeenheid – ’n elite groep van die SAPD. Maar as oud-stasiespeurders word hul vaardighede ernstig bevraagteken deur hul nuwe bevelvoerder. Wanneer ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit ’n gulde geleentheid om hul staal te wys, tussendeur ’n Washington-gekonkel, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet in Kaapstad en duisterhede in hul bevelvoerder se persoonlike lewe. En dan is daar die man met Die Drang … en sy kettingsaag. Ysingwekkende oomblikke wag op Kassie en Rooi.

Sosiale Netwerke


css.php Top