Ná vier konsekwent goeie misdaadromans is Rudie van Rensburg terug met Kamikaze. Soos elk van die vorige eenwoordtitels die verbeelding aangegryp het –Slagyster, Kopskoot, Judaskus en Pirana – is Kamikaze die skrywer se ambisieusste en donkerste wêreldbeskouing tot nog toe.
Kamikaze ondersoek eietydse kwessies soos terrorisme en spioenasie (en die opgang van die terreurgroep Isis), wapenhandelsindikate en die verspreiding van “grys” of vervalste medisyne.
Die vraag van veiligheid oor landsgrense heen, en die rol van agentskappe soos die Staatsveiligheidsagentskap, figureer sterk. Hier knipoog Kamikaze en Mike Nicol se Staatsrotte vir mekaar.
Een van Van Rensburg sy sterkste punte, prominent uitgestal in Judaskus en Pirana, is sy meesterlike uitbeelding van dít aan die verkeerde kant van die gereg. Chris Karsten, byvoorbeeld, het ’n eiesoortige fassinasie met die donker kant van die menslike psige. Daarteenoor is Van Rensburg se swernote en skarminkels banaler, komieser in hul absolute alledaagsheid. Hulle is immer herkenbaar in hul onversadigbare ambisie, blinde kolle, hebbelikhede en morele gebreke.
Kamikaze het ’n yslike dramatis personae, maar vir hierdie leser het die logge skobbejak Claus Prins (lieflike benaming!) die kroon gespan. Verder is daar ook bobaastoneelspelers met mag en aansien wat dreig om die kollig van die besadigder geregsdienaars te steel.
Wees ook gerus bedag op die kostelike Moos Uys, die groentjie-staatsveiligheidsagent wat homself in die personae van geskiedkundige spioene soos Richard Sorge verbeel. Met die werk se gehawende Golf, sy kanniedoodhouding en sy swakheid vir ’n mooi vrou is Uys dalk net my gunsteling van Van Rensburg se karakters sedert Judaskus se Jackal Williams.
Wat veral opval in hierdie Kasselman-dossier is die kaalvuisondersoek na die aard van misdaad onder die apartheidsbedeling, en die kontrasterende soorte misdaad kenmerkend van die postapartheidsamelewing. Waar die polisie onder apartheid die groter orde in stand moes hou, duidelik deel was van die staatsmasjinerie as “mag” eerder as “diens”, en veel minder op individuele misdade gefokus het, het die situasie nou grootliks verander.
Wat blyk uit Kamikaze – weergegee in sekuur dialoog asook in die handeling van karakters – is dat behalwe vir die “bestuur” van protesoptrede, die meeste polisielede steeds nie opgelei is om basiese take uit te voer nie. Van Rensburg se ondersoek na die bevoegdheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), grootskaalse korrupsie en ’n beduidende gebrek aan leierskap binne die organisasie, is ver verwyderd van die simpatieker blik in Deon Meyer se 13 uur, 7 dae en Kobra.
So gepraat van geregsdienaars: Kamikaze se titel dui nie slegs op die verskillende vorms van roekelose/wettelose gedrag in die roman, tesame met enige raakpunte met die Japannese vegvlieëniers en moderne selfmoordbommers nie. Lees eerder die titel as kode vir die etiese keuse(s) wat die speurder konfronteer. Van meet af aan is Kassie emosioneel afgerem en gekwel oor sy toekoms – hy oorweeg bedanking uit die SAPD.
Uiteindelik sal Kassie tussen twee uitdagende opsies moet kies.
Kassie as kamikaze, as buiteperd, as verteenwoordiger daarvan wat binne, maar ook veral buite die gereg staan, verpersoonlik die stryd tussen die goeie en die bose – die stryd van speurder teenoor moordenaar, die aartsbooswig Die Pion, Meester van die Dood. Hierdie kliniese moordenaar is die soort wreedaard wat nog nie vantevore in Van Rensburg se oeuvre kop uitgesteek het nie. Die skrywer gaan delf diep en ontstellend in die randeier se verlede en kinderdae; hier kom die psigopaat letterlik tot verhaal, op elke denkbare wyse.
FYNPROEWERS SAL LET OP DIE ‘GESPREK’ TUSSEN VAN RENSBURG EN KARSTEN SE HUURMOOR-DENAAR, LOOD.
Fynproewers sal let op die “gesprek” tussen Van Rensburg en Karsten se huurmoordenaar, Lood. Van Rensburg het onlangs verklap dat hy ook in sy karakterisering van Die Pion by niemand anders as Wladimir Poetin “geleen” het nie. Die spel tussen die berekende Pion en die begaafde takhaarspeurder herinner sterk aan die intellektuele raaiselwaarde en spel tussen Holmes en Moriarty, wat so bekoor (het) in Arthur Conan Doyle.
Kamikaze se slotwending beloof om lesers aan die gons te hê. Meer durf ek nie verklap nie. Ook nie meer as ’n proesel oor die “kamikaze” wat op sy oudag met Kassie se ma wil trou nie, en oor die rituele wat Die Pion daagliks beoefen nie.
Kamikaze is by tye skreeusnaaks, vanweë Van Rensburg se vernuftige omgang met taal en sy karakters se onbeholpenheid. Tog is Van Rensburg g’n roekelose kamikaze nie; sy verhaallyne ontwikkel sorgvuldig en organies. Die oog vir detail en historiese inkleding het my aan Jo Nesbø herinner. Elke deeltjie van die legkaart word in die verhaal ingebed, met die momentum eenvoudig onstuitbaar. My enigste kritiek is dat daar nie genoeg vroulike karakters is wat met veel eer uit hierdie stryd tree nie.
Wat egter lank ná hierdie roman – ’n fiktiewe skaakspel met die leser se emosies en intellek – sal bybly, is die bereidwilligheid om te vernuwe aan sy resep, om grootskaalse ontnugtering te boekstaaf. Om morele verval op te teken. Om die temperatuur te neem van ’n samelewing waar die spreekwoordelike paddas lankal in die pot oorgekook het.
Kamikaze, op sy beste, is ’n klinkklaar aanklag teen enigeen wat durf waag opper dat fiksie tweede viool teenoor nuus of niefiksie moet speel.
Sosiale Netwerke