Archive for June, 2016

OOP KAARTE: Murray La Vita gesels met Rudie van Rensburg – ’n ‘Gewone ou’ wat skryf – Die Burger

Posted on: June 19th, 2016 by admin No Comments

Die Kaapse skrywer Rudie van Rensburg praat oor sy vierde misdaadroman wat pas die lig gesien het in ’n taal wat hy meen gevaar loop om weg te kwyn.

Rudie van Rensburg tydens ’n onderhoud in Kaapstad oor sy jongste misdaadroman, Pirana. Foto: Jaco Marais

foto: Jaco Marais

Hy is ’n lang, waardige man met ’n grys baard en ’n ryk, diep stem. Maar as kind wou Rudie van Rensburg nie uitstaan of raakgesien word nie.

“My pa [MC van Rensburg] is op 50 oorlede toe ek 19 was. Hy was ’n politikus en ek as seun het so ’n bietjie van ’n kompleks gehad daaroor – die minister-se-seun-etiket. Die gevolg was dat ek eintlik op skool uiters swak gevaar het. Ek wou deel van die gepeupel wees, ek wou nie uitstaan as die minister se seun nie, wat eintlik nou as ’n mens daarop terugkyk half tragies was,” sê hy laggend. “Ek het byvoorbeeld geweier dat my pa my met daai lang, slap motors by die koshuis aflaai. Ek het nie kans gesien daarvoor nie. Almal het natuurlik nou geweet wie ek was en my bynaam was Premier. Dit het my verskríklik gepla; ek wou net een van die ouens wees. Ek wou nie uitgestaan het of ánders behandel word nie.

“Ek het my bes gedoen om nie goed te doen op skool nie en ek het maar matriek ook deurgeskraap, jy weet, en eers toe ek op universiteit kom, het ek besef: oukei, nou . . . my pa was toe oorlede en dit was so half . . . nou hoef ek nie meer daai etiket te dra nie en ek moet nou léér as ek iewers in die lewe wil kom.”

Rudie se ouers het by hom ’n liefde vir boeke aangekweek.

“My pa was ontséttend lief vir boeke en hy het vir my uit Langenhoven gelees en my ma was net so ’n groot leser. Nou nog, op 92, lees sy ’n paar boeke per maand deur. En sy is net so verslaaf soos ek aan haar papierkoerant.

“Omdat my pa baie besig was, het ons maar min tye saam gehad. Van my beste tye was om hier in Langstraat rond te snuffel in boekwinkels en op die parade toe daar nou nog baie boeke daar was. Dit was ’n wonderlike tyd vir my gewees en hy het my liefde vir boeke wakker gemaak. Ek het altyd my eie boeke ook gesoek terwyl hy nou sy meer ernstige boeke soek. Dit sal ek nooit vergeet nie.”

Sy gunstelingskrywer is Etienne Leroux. Hy vertel van ’n ontmoeting met hom.

“Ek was ’n seuntjie in standerd ­sewe en ek het by ’n vriend gaan oorslaap vir die naweek. En dié mense, De Beer was hulle van, was goeie vriende met Stephen [sy regte naam] Leroux.

“Die middagete by hulle in Bloemfontein kan ek so goed onthou. En die índruk wat die ou toe op my gemaak het toe hy inkom . . . Hy het hééltemal anders gelyk. In die sestigs het mense daar nie so gelyk nie: lekker lang hare en ’n baard en daai donker brille, en hy pak sy drie pakkies verskillende sigarette daar neer op die eet­kamertafel. En hierdie ou het my absoluut gefassineer; ek kon nie genoeg vir hom kyk nie.

“Ek het toe van sy boeke probeer lees, maar dit was natuurlik heeltemal bo my vuurmaakplek. Op universiteit het ek dit begin geniet en waardeer. Ek lees elke dekade al sy boeke weer deur. Sy humor is vir my nog altyd die beste van alles. My vrou kla altyd as ek ’n Etienne Leroux-boek lees, lag ek haar wakker in die bed. Dis nou al ou wat my rêrig hardop laat lag.”

Hy meen Afrikaans kom stadig maar seker “onder groot druk”.

“Jy wil niemand uitsluit of te na kom nie, maar my behoefte is net dat Afrikaans bly voortbestaan as taal, want sodra taal sy hoër funksies verloor, is hy by die intensiewe eenheid ingeboek.

“So ek is ’n sterk voorstander daarvan dat ons Afrikaans darem hier en daar nog op universiteite moet behou.”

Waarom is misdaadfiksie so gewild?

“Al die elemente van ’n lekker spannende fliek is byvoorbeeld in ’n misdaadfiksieboek. Daar’s goed soos spánning en daar’s onheil en daar’s aksie . . . en daar’s kinkels. En ek dink natuurlik veral in die Suid-Afrikaanse konteks is dit belangrik om ook te sê die leser wil darem altyd ook sien dat die bose oorwin word; al is dit nou net in die konteks van ’n boek, dink ek is dit ook bevredigend vir ’n leser.”

Ons praat oor sy speurder-karakter kapt. Kassie Kasselman.

“Ek het doelbewus so ’n speurder probeer skep en ek het baie pret in die proses gehad om sy karakter te ontwikkel. Ek wou juis nie die tradisionele speurheld navolg nie; daar was net al te veel van hulle.

“Ek het probeer om Kassie heeltemal die antiheld te maak. Hy’s nie aantreklik vir vroue nie; hy trek slordig aan . . . Hy’s half ’n verpotte karaktertjie. Dit was seker ’n berekende kans van my kant af aanvanklik om so ’n speurheld te hê, maar die reaksie was só goed dat ek toe nou besluit het om vol te hou.”

Die vertrekpunt vir Pirana, sy nuwe roman, was ’n beriggie in Die Burger oor die jongste stand van renosterstroping in die Krugerwildtuin.

“Die hele kwessie van renosterstroping is baie interessant en ek het gedink die wildtuin gaan ’n lekker omgewing wees om een van die verhaallyne in te laat afspeel. Dan doen ’n ou nou baie navorsing. Ek het onder meer Julian Rademeyer se Killing for Profit gelees wat ’n uitstékende boek is en dit het my finaal geïnspireer om nog meer navorsing te doen.

“Ek was baie gelukkig om op ’n klomp ander goed af te kom wat ’n ou nie normaalweg op afkom nie, maar ook báie teleurgesteld in Sanparke. Ek het vir hulle ’n hele lýs van vrae gestuur om te beantwoord, wat vir my nódig was in my navorsing, want daar was baie vraagtekens.”

Hy het nooit enige antwoord gekry nie.

“Dit het my laat dink óf die vrae is te ongemaklik om te beantwoord óf hulle neem renosterstroping nou maar rêrig nie ernstig op nie en het die vrae van my net afgelag. Ondanks die enórme hoeveelhede geld wat die mense al deur die jare gekry het, sien ’n mens geen noemenswaardige ver­bétering in die situasie in die Krugerwildtuin nie . . . ”

Ons gesels oor die bose karakter Montgomery Smith in Pirana, en oor psigopate.

“Kyk, as ’n ou misdaadfiksie skryf, moet jy na sulke ouens kyk en soveel as moontlik van hulle uitvind. In my volgende boek, waarvan ek die manuskrip reeds ingelewer het, werk ek met ’n ou wat van onheil aanmekaargesit is. Hy is nou die ergste karakter wat ek nóg geskep het. Hy oorskry alle perke wat ek tot dusver met psigopatiese karakters probeer uitbeeld het.”

Die titel Pirana verwys onder meer na die piranas wat op ’n besonder grieselrige wyse in die verhaal aan­wesig is.

“Ek het die laaste deel van ’n program oor piranas gesien en besluit dis ’n lekker naam vir ’n boek, want dit sinspeel ook op die mens se gulsigheid en se . . . al die elemente wat ’n mis­dadiger moontlik het, sal ’n ou by ’n pirana ook aantref.

“Toe ek begin skryf, het ek gedink ek wil nie net sinspeel op hierdie vreesaanjaende teenwoordigheid nie, ek wil werklike piranas in ’n dam hê.”

Hy besluit nie vooraf hoe sy storie gaan eindig nie.

“Dít vind ek baie vervullend; dat ek ander paaie kan vat. Die gangster van Mitchells Plain, Jackal Williams, sou aanvanklik ’n baie mindere rol gespeel het in die boek. In my kop was hy een van die ouens wat nie die boek sou oorleef het nie. Toe groei dié ou so op my en ek raak so half verknog aan hom dat ek toe besluit: nee, jis, ’n ou kan nie hierdie ou wil doodmaak nie.” Hy lag. “En sy karakter het ontwikkel in die proses. Ek het nie aanvanklik gedink hy gaan so ’n groot rol speel nie.”

Hy vorm dus ’n verhouding met sy karakters, voel empatie vir hulle.

“Vir die wréédste misdadiger begin jy ’n empatie ontwikkel, want jy probeer ook vir die leser sy agtergrond gee en waarvandaan hy kom en hoekom het hy afgedwaal van die smal weg. In Judaskus het ek ’n karakter geskep wat ook daai . . . jy weet, uiteindelik het hy meer simpatie by lesers ontlok as dat daar lesers was wat nie van hom gehou het nie. Partymaal betrap dit jou onverhoeds, want jy laat jouself oorreed dat hierdie ou nie so sleg is nie.”

Kassie is nie deurentyd die sentrale karakter in sy romans nie.

“Die feit dat ek nie heeltyd dinge uit sy perspektief skryf nie, veroorsaak amper dat sy ‘rakleeftyd’ langer is; dat hy langer ’n interessante karakter kan bly. Indien ek ál vier boeke net heeltyd uit sy perspektief geskryf het, was ek moontlik al uitgeskryf aan Kassie. Hy leef ’n bietjie langer omdat ek wegbeweeg van hom en ook ander karakters belig.”

Kassie is ’n seëlversamelaar en ’n boeremusiekliefhebber.

“Ja, sy buitemuurse bedrywighede bestaan uit die Wes-Kaapse filatelievereniging en die Boeremusiekgilde van Kaapstad. Dit is die enigste dinge wat eintlik vir hom belangrik is buite sy werk. ’n Ou assosieer dit nie met ’n formidabele speurder nie. Ek probeer hom in daai mould hou.”

Benewens skrywer is Rudie ’n skilder, maar hy spits hom die afgelope jare heeltyds op skryf toe.

“Die skryfding is vir my só bevredigend dat ek nie rêrig terughunker nie. Ek is een van daai ouens wat op een ding wil fokus.

“In dié stadium geniet ek die skryfproses só dat ek nie ’n behoefte het aan skilder nie.”

Dit is vir Rudie, wat sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad begin het, moeilik om gewoond te raak aan die openbare aandag wat hy as hoogs gewilde misdaadskrywer geniet.

“Ek hou nie van die idee van ’n heldeverering nie. Dit voel vir my heeltemal . . . Man, ek is net ’n gewone ou wat stories skryf; ek is nie een of ander wese soos Etienne Leroux nie.”

Skink gerus ’n crème soda – Deborah Steinmair (Rapport) 05 Junie 2016

Posted on: June 8th, 2016 by admin No Comments

Dié boek is tonekrullekker, skryf Deborah Steinmair.

Rudie van Rensburg se jaarlikse misdaadroman is ’n hoogtepunt in die spanningslektuurlandskap. ’n Mens verslind dit in ’n paar gulsige happe, gryp na byvoeglike naamwoorde en kry ’n handvol beskrywings aan die stert beet: woorde waarop die skrywer van ’n kerkbasaarbiljet trots sou wees: naelbyter, snaarstyf, adrenalienfees, tonekrullekker.

Van Rensburg kombineer ondraaglike spanning en gruwelike boosheid met menslikheid en droë humor. Dis ’n uitklopkombinasie. Die skobbejakke is deurtrap en ontdaan van de laaste druppel goedheid; die protagonis, kaptein Kassie Kasselman, drink net crème soda en Rescue-medisyne en stres oor sy seëlversameling. Die siek rampokker wat die kitaar slaan, hou piranas in ’n plaasdam in Wellington aan, honger hulle uit en voer sy vyande vir hulle terwyl hy in ’n onderwater-beheerkamer toekyk – net om jou ’n idee te gee van die tipe psigopatiese sadisme wat hier ter sprake is.

Kasselman was ’n besonder geslaagde waagstuk in die Afrikaanse spanningsgenre: ’n verpotte, onooglike ventjie sonder machismo, koel of sjarme, die slegste skut in die eenheid. Hy skoffel op die maat van “Tant Jakoba se Tolbospolka” terwyl hy ’n blikkie tuna of mielies oopsny. Hy het ’n kalfslekkuif, dra alewig ’n verslete rooi windjakker, two-tone-hemp en hoogwaterbroek waaronder wit kouse uitsteek, maar hy het ’n verbete deursettingsvermoë, ’n vinnige brein en ’n paar Tarzan-moves wat niemand sien aankom nie.

In Pirana ontmoet die leser nou ook ’n karakter wat die skaal êrens tussen skurk en held trek: Jackal Williams van Mitchells Plain. Sy pa was ’n fortuinverteller wat op die voorblad van die Son en agter tralies beland het nadat hy ’n cop se eensame vrou in sy woonwa gespyker het. Jackal “is happy oor waar hy nou in sy ­lewe is: watchdog oor die drug runners van die grootste drug ring innie Kaap”. Maar dan beland hy tot oor sy ore in die moeilikheid wanneer hy by ’n ontvoering betrek word. Van Rensburg het by die bekendstelling in Pretoria bely dat Jackal net veronderstel was om ’n mindere rolletjie te speel, maar hy het eenvoudig so op die skrywer gegroei dat dié hom nie kon afmaai nie.

Van die storielyn durf ek niks verklap nie: dit handel oor bewaring, stropery, sluikhandel in renoster- en olifanthorings, Kaapse bendes, Oosterse diplomate, ontvoering en teregstelling. Daar is selfs ’n onwaarskynlike liefdesverhaal waarop Tryna du Toit trots sou wees en ’n stokou geskiedenis van onreg en wraak. Laasgenoemde storie word ver gaan haal, in Uganda, waar twee van die karakters grootgeword het. In dagboekagtige inskrywings leer ons die dryfvere en letsels van een van die twee ken. Dis op sigself ’n aangrypende verhaal. Maar wie is aan die woord?

Daar is veel op die spel. Vandat ons kleintyd cowboyflieks gekyk het, was dit nog altyd die lyding en dood van diere wat die seerste maak en die grootste verontwaardiging ontketen. So vervul die meedoënlose afmaai van renosters vir geldelike gewin die leser hier met ’n ongekende dors na vergelding. Die kierangbraaifees aan die einde stel ook nie teleur nie. Daar is boonop ’n totaal onvoorsienbare kinkel in die stert.

Van Rensburg laat dit so maklik lyk. Hy en Kasselman het hul ritme gevind en ­elke boek oortref die vorige – elke skrywer se droom. Van Rensburg het by die bekendstelling vertel die volgende manuskrip is reeds by die uitgewers. Skink die crème soda!

Tien vrae: Rudie van Rensburg oor Pirana – Litnet – Naomi Meyer, skrywersonderhoude. (2016-05-27)

Posted on: June 2nd, 2016 by admin 2 Comments

Skrywers oor hul nuwe boeke: Rudie van Rensburg gesels oor Pirana

Hallo Rudie, Kassie Kasselman is terug. Was hy ooit weg? Het jy reg van die begin af geweet Kassie Kasselman gaan terugkeer om verskillende misdaadkwessies op te los? Anders gestel: Skryf jy ’n soort reeks waarvan die boeke nie op mekaar volg nie?

Ek wou van meet af ’n speurder skep wat in al my boeke gaan voorkom. Elke boek is egter ’n afsonderlike verhaal wat nie op ‘n ander een volg nie. Die boeke kan dus in enige volgorde gelees word. En omdat ek hoofsaaklik misdaadfiksie en nie tradisionele speurverhale skryf nie, is Kassie nie deurlopend die sentrale karakter in my boeke soos wat mens gewoonlik in speurverhale aantref nie. Ek hou daarvan om die misdadigers ’n meer aktiewe rol in die narratief te laat speel, wat ek glo ook die “rakleeftyd” van Kassie as ’n interessante karakter langer sal uitrek.

Vir enigiemand wat nog nie vir Kassie ontmoet het nie, wie is hy?

Kassie is ’n fanatiese filatelis wat floreer op boeremusiek, Creme Soda en Lucky Strikes, maar ’n alleenloper-introvert wat nie op sy onaansienlike en verslonste voorkoms takseer moet word nie. Hy’t die vermoë om misdaad op plekke uit te snuffel waar ander speurders nie eers vir ’n klankie sou gaan soek nie.

Wat was Pirana se inspirasie, of die verskillende snellers vir die storie?

Ek vind my inspirasie soms uit die kleinste van  koerantberiggies. In Pirana se geval het ek ’n vullertjie in Die Burger raakgesien oor die jongste stand van renosterstroping in die Krugerwildtuin. Ek het gedink dit sal as lekker agtergrond kan dien vir een van my verhaallyne – en só het die boek ontstaan. Die ander verhaallyne het so met die skryfproses lyf gekry.

Ek wou jou vra oor ’n pirana en het toe besef ek weet net ’n pirana het tande en is ’n verraderlike soort vis, want hy kan ander visse én mense beseer. Wat het jou van hierdie vis interesseer toe jy die titel bedink het? Of wat het jy daarvan uitgevind terwyl jy die boek geskryf het?

Terwyl ek nog aan my vorige boek geskryf het, het ek heel toevallig die laaste gedeelte van ’n TV-program oor piranas gesien en dadelik gedink Pirana kan ’n lekker titel vir ’n toekomstige boek wees. Ek het besluit die verhaal moet nie nét sinspeel op die vreesaanjaende eienskappe van piranas nie, maar hulle moet ook hier in ’n Suid-Afrikaanse plaasdam teenwoordig wees. Omdat ek alles geloofwaardig wou hou, was my grootste uitdaging om te bepaal of die visse wel in so ’n dam sou kon oorleef. Ná ’n lang soektog op die internet het ek afgekom op ’n kêrel wat gelyk het of hy ’n kundige op dié gebied is. Ek het met hom kontak gemaak en hy het my navrae ook verwys na ander lede van die “Amerikaanse Piranaklub” (nie ’n amptelike naam nie, maar die naam wat ’n Noord-Amerikaanse groepie wat piranas in groot vistenks aanhou, hulself toegeëien het). Dié mense was baie behulpsaam en het my in die fynste besonderhede verduidelik hoe die visse hier sou kon aanpas.

Jy betrek wyd-uiteenlopende temas in jou boeke: politiek in Afrika, kuns, dwelms. Skryf jy ’n boek omdat jy ’n emosionele reaksie op ’n sosiale kwessie ervaar, of omdat ’n onderwerp jou interesseer, of ontspring jou temas op ’n ander plek?

Ek probeer nie om doelbewus oor byvoorbeeld sosiale kwessies te skryf nie, omdat ek glo dis die verkeerde benadering om ’n sosiale kwessie die rede vir ’n fiksieboek te maak. Vir my is ’n goeie storie altyd die belangrikste – die sosiale kwessie of watter onderwerp my ook al mag interesseer, moet bloot as geskikte agtergrond kan dien. Die enigste toets bly of dié omgewing my gaan toelaat om ’n lekker storie daaroor te weef.

Ek sien jy lees Die Son vir dialoog. Maar hoe skryf jy as wit man oor ’n bruin karakter? Kán jy, kan enigeen van ons van ons verskillende kultuurgroepe in hierdie land, oor mekaar skryf?

Ek kan aan baie geslaagde karakters dink wat geskep is deur skrywers wat nie aan dieselfde kultuurgroep as daardie karakters behoort nie, maar ek glo ook dít was die resultaat van deeglike navorsing. Kaapse Afrikaans het my van kindsbeen af gefassineer. As tjokkertjie het ek saam met my pa by die Parade (in die dae toe daar nog van ou boeke, vrugte en groente tot ou gereedskap op sekere dae verkoop is) my altyd verkneukel aan die stalletjiehouers se wonderlike en vindingryke reklameboodskappe. Deur die loop van die jare het die kostelike Kaapse Afrikaanse gesegdes wat ek op straat gehoor het, ’n blywende indruk gemaak en het ek heelparty in my boek ingespan. Ek het ook deur bykans vyftig Son-koerante gewerk, waar ek veral gekonsentreer het op lesers se SMS’e, briewe en ander boodskappe om hedendaagse taalgebruik te dokumenteer. Ek het ook wyd gelees oor die bendes in die Kaapse Vlakte om die psige van dié mense te probeer verstaan. Ek glo dit het my gehelp om redelik geloofwaardig te kon skryf oor my gangster-karakter en sy trawante in die boek.

Hoe het jou werk in die versekeringsbedryf destyds jou voorberei om verbeeldingryke romans te skryf? (Of maak ek aannames?)

Skeppende skryfwerk en versekeringsmaatskappye is seker nogal onversoenbaar! Ek was gelukkig om by ’n baie skeppende afdeling, die destydse reklame-afdeling, in te val, waar ons soos ’n interne reklame-agentskap gefunksioneer het. Ek glo dat daardie omgewing ook aan sommige van my oudkollegas daar – soos Deon Meyer, Zirk van den Berg, Francois Bloemhof en die kinderboekillustreerder Piet Grobler – se skeppende vermoëns help skaaf het.

As jy ooit iets anders as ’n spanningsroman sou skryf, in watter genre sou jy dit verkies?

Ek beskou myself nie as ’n hogere letterkundige nie – so ek sal nie daardie roete probeer inslaan nie. Synde ’n oudjoernalis wat hou van navorsing, sou niefiksie moontlik my tweede keuse wees. Ek dink dit moet baie bevredigend wees om biografieë oor interessante mense te skryf.

Hoekom klink jou boeke of jy eintlik jou hele lewe lank al skryf? Dalk is my vraag eerder: Doen jy lank navorsing voordat jy begin, of herskryf jy baie? Of kom jou gestroopte en gemaklike styl sommer maar net vanself?

Ek het as joernalis by Volksblad in Bloemfontein in die laat sewentigs leer skryf. My mentors daar het die belangrikste skryfboustene vir my gelê. In my tyd in die korporatiewe omgewing het ek maar altyd skryffiks probeer bly deur rubrieke vir verskeie plaaslike koerante en maatskappypublikasies en ’n redelik suksesvolle toneelstuk te skryf. Om romans te skryf vereis weer ander reëls wat jy nie noodwendig alles as joernalis geleer het nie. Maar met ’n uitstekende uitgewer en redigeerder leer jy vinnig.

Watter boek of skrywer lees jy op die oomblik? Of watter fliek, teaterstuk of kunsuitstalling het jy onlangs gesien wat jou inspireer (het)?

Ek is besig om ’n fassinerende niefiksieboek, Future Crime deur Marc Goodman, te lees, wat handel  oor hoe die kuberonderwêreld die grootste misdaadbedreiging vir die mensdom in die toekoms gaan inhou en dit in sekere opsigte al klaar doen. Of hierdie onderwerp as inspirasie vir ’n toekomstige boek gaan dien, is nie heeltemal uitgesluit nie.

Rudie van Rensburg (1951–) – Litnet, Erika Theron (Skrywersprofiel) (2016-05-27)

Posted on: June 2nd, 2016 by admin No Comments

Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein in die Vrystaat gebore. Hy is die oudste van twee seuns – sy broer Carl is deesdae ’n prokureur in Bloemfontein. Sy pa, MC (Basie), en sy ma, Christa, is albei in die Vrystaatse platteland gebore. Sy pa, wat oorlede is toe Rudie 19 jaar oud was, was van beroep in die politiek en was vanaf 33-jarige ouderdom ’n Volksraadslid. Hy het later minister van pos- en telegraafwese geword en was 50 toe hy oorlede is. Sy ma het kinders grootgemaak en was huisvrou. Sy is ten tye van die skryf van hierdie stuk 92 jaar oud.

Rudie was maar twee jaar oud toe sy pa tot die Volksraad verkies is en hy het, totdat hy in standerd 5 (graad 7) op skool was, ses maande in Kaapstad en ses maande in Bloemfontein skoolgegaan. In Kaapstad was hy in die laerskole Akasiapark en Jan van Riebeeck en in Bloemfontein in Willem Postma-laerskool. Hy het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer.

Rudie het in ’n huis met boeke grootgeword en het sy liefde vir boeke en lees by albei sy ouers gekry. Sy pa het ’n baie groot boekversameling gehad, vertel Rudie aan LitNet: “Ek het gereeld as seun saam met hom in veral die destydse string ou boekwinkeltjies in Langstraat, Kaapstad rondgesnuffel. ’n Groot deel van sy boekversameling is aan die destydse Instituut vir Eietydse Geskiedenis van die Vrystaatse Universiteit geskenk.

“My ma was haar lewe lank ’n ywerige leser, wat vandag nog haar oggendkoerant van hoek tot kant deurlees en ‘nie sonder ’n boek bed toe kan gaan nie’. Ek het dus van kleintyd af tussen boeke en lesers grootgeword. My pa het gereeld uit Langenhoven se werke vir my voorgelees, met Brolloks en Bittergal my gunsteling-karakters.

“Soos enige ywerige leser van my tyd het ek my leestande geslyp op Trompie, Jasper, die Uile en Fritz Deelman. Op hoërskool het ek Ian Fleming se Bond-boeke verslind.

“Later op universiteit het ek alles gelees waarop ek my hande kon lê – van Etienne Leroux tot Alistair Maclean. Leroux is steeds my gunsteling-skrywer van alle tye en ek lees minstens elke dekade al sy boeke deur.”

Verdere studie en werk

Ná skool is Rudie na die (destyds genoemde) Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal sy BA (HOD) met die vaste voorneme om ’n onderwyser te word. Maar dit was ongeveer die tyd van die Watergate-skandaal in Amerika en nadat hy die rolprent All the president’s men (wat gebaseer was op die skandaal en die joernaliste van dieWashington Post wat die skandaal ondersoek het) gesien het, het hy besluit om van loopbaankeuse te verander. Hy het dus, ná hy sy onderwysdiploma behaal het, ’n joernalis by  Volksblad geword. Hy het ook sy BA-graad in kommunikasiekunde deeltyds aan die UV behaal en het later sy honneursgraad in dieselfde rigting aan Unisa verwerf. “So, ’n fliek was letterlik die enigste rede waarom ek ’n joernalis geword het – iets waarvoor ek die vervaardigers vanAll the president’s men ewig dankbaar voor is,” vertel Rudie aan LitNet.

In 1982 is Rudie een van die stigters, asook uitgewer, van die eerste gratis weeklikse koerant in die Vrystaat, Bloemnuus, en later is hy ook redakteur van Die Ekonoom, ’n landwye saketydskrif.

Ná tien jaar in die koerantwese as joernalis verlaat hy die beroep om by die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo te gaan werk. Oor sy tyd in die joernalistiek skryf Rudie aan LitNet: “My tien jaar in die joernalistiek was seker die vervullendste jare van my lewe. Die Volksblad (waar ek amper ses jaar gewerk het) het my skryfliefde laat posvat en my ook ’n sterk skryfdissipline gegee. Destyds was dit ’n middagkoerant – jy het seweuur begin en was teen tweeuur/drieuur klaar met jou dagtaak op kantoor. Vandag is dit as voltydse skrywer steeds my ‘kantoorure’.

“Die band wat ek met my kollegas daar gesluit het, was vir my baie kosbaar. Ons is tans ’n dosynstuks oudjoernaliste van Die Volksblad wat in die Kaap woon en kom minstens kwartaalliks bymekaar om te kuier. My koerantkollegas was nie net skeppende mense nie (onder andere later gepubliseerde skrywers soos Chris Karsten, Deon Meyer, Chris Moolman, Johan van Wyk en Hennie van Deventer), maar ook nuusmanne van formaat (soos onder andere Tom Ferreira, Mike van Rooyen en ’n string ander). Almal het in ’n mindere of meerdere mate ’n invloed op my joernalistieke loopbaan gehad, wat later ook neerslag in my skrywersloopbaan gevind het. Vir die grootste deel van my tyd was ek in die sportredaksie. Sport was maar altyd een van my groot belangstellingsvelde.”

Rudie het aan Marana Brand van Hulsteyn (Die Burger, 21 Augustus 2013) vertel dat hy ’n joernalis sou gebly het as hy sy lewe kon oorhê, “as dit ’n beter betalende beroep was. Geen ander werk kom daarby nie, maar die voordele van die korporatiewe omgewing was net te aanloklik vir my. Iets wat ek nie sou gedoen het as ek my lewe oor kon kry nie. Sou maar as koerantman afgetree het.”

Rudie is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke. Toe hy sy vrou in Bloemfontein ontmoet het, het sy by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum gewerk. Ná hulle troue het sy die rol van ma en huisvrou vervul en vandag werk sy by ’n speelskool in Welgemoed.

In 1987 verhuis Rudie en sy gesin na Kaapstad, waar hy by Sanlam begin werk. In die 20 jaar wat hy daar werk, is hy onder andere senior  bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrifSanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

Rudie vertel dat sy tyd by Sanlam, veral by die reklameafdeling, “weer ’n andersoortige skeppende grondslag gelê het waaruit ek later jare ook as skrywer kon put. In my tyd in die finansiëledienstebedryf het ek gereeld onder skuilname rubrieke vir verskeie plaaslike koerante en interne maatskappypublikasies geskryf, wat my darem nog soos ’n ‘semi-joernalis’ laat voel het.”

In 2007 het Rudie ’n reuseskildery wat misdaad in Suid-Afrika uitbeeld, geskilder en het hy beplan om dit aan die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, te skenk. Rudie het aan Marita Meyer (Die Burger, 7 Maart 2007) meer oor die doel van hierdie skildery vertel: “In die apartheidsjare het versetkuns ’n belangrike rol gespeel om die onregte teen die mensdom in die kollig te plaas. Die tyd is nou ryp dat visuele kunstenaars saamstaan en hulle weer verset – dié keer teen misdaad. Hierdie skildery is my beskeie bydrae tot die kreet teen veral geweldsmisdaad.

“Ek wil hê die skildery moet Nqakula gereeld daaraan herinner dat Suid-Afrika onder ’n vlaag van misdaad en geweld deurloop. Dit sal moeilik vir Nqakula wees om die skildery, getiteld Cry of the Rainbow Nation te ignoreer – dit is ’n allemintige 1,7 meter hoog en 3,3 meter wyd. Ondanks die onlangse teenmisdaadplanne wat die regering aangekondig het, is dit duidelik dat die dringendheid nog ontbreek om die vlaag van misdaad hok te slaan. Die onaanvaarbare vlak van geweldsmisdaad in die land regverdig onmiddellike en drastiese optrede van die regering. Dit is onaanvaarbaar om in vrees en bewing in jou eie land te leef.”

Die misdaadskildery is ’n ruk lank by die Bellville-biblioteek se galery uitgestal, maar die Minister se kantoor het toe vir Rudie laat weet dat hy nie die skildery in ontvangs wil neem nie, maar dat hy kennis neem van sy bekommernis oor misdaad.

Rudie tree in 2009 uit die “formele werksomgewing” en het hom aanvanklik voltyds op sy skilderwerk toegespits. Hy skilder al vir byna 30 jaar en het aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika deel gehad. Sy werke is opgeneem in versamelings, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Oor sy skilderwerk het Rudie aan Marita Meyer van die Kaapse streekkoerant TygerBurger (7 Julie 2010) vertel dat hy self sy kuns sou beskryf as “’n mengsel van fantasie, pret en eenvoud. Ek druk my uit deur die distorsie van lyn en kleur in my werk. Ek is beslis nie ’n realistiese kunstenaar nie en raak soms aan die kubisme en ekspressionisme. Ek skilder nie van prente of natuurtonele af nie, maar gee die beelde in my kop weer.

“Ek eksperimenteer ook graag met verskillende style, tegnieke en teksture. Kuns is vir my baie meer as die blote duplisering van die werklikheid. Daarvoor kan jy net sowel ’n kamera inspan. Dit moet iets van jou innerlike weergee. Die doel van my kuns is om ’n bepaalde vorm te bereik wat nie noodwendig elegant is nie, maar ’n innerlike impuls bevredig. Mense moet my kuns interessant vind, ook prettig of selfs vreemd, maar net nie alledaags nie.”

Toe begin hy skryf aan sy eerste manuskrip, wat later Slagyster sou word, en vandat die manuskrip aanvaar is, kry hy amper nie meer tyd om te skilder nie.

Hy is ook die afgelope ses jaar Maandae en Dinsdae as Afrikaanse taalversorger by dieTygerBurger werksaam.

Rudie se eerste tree op die skrywerspad is in 2008 gegee toe hy ’n toneelstuk, Die begrafnis, onder die skuilnaam Phil Janse geskryf het. Hierdie stuk was redelik suksesvol en is by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater met Rudie as die beste dramaturg en die stuk as die beste drama. Dit is in boekvorm by Genugtig! Uitgewers gepubliseer.

Oor hoekom hy nog net die een drama geskryf het, verduidelik Rudie aan LitNet: “Ek beskou myself  nie as hierdie wonderlike dramaturg nie – kan nou nog eintlik nie die sukses van Die begrafnis glo nie. Ek het dit so vinnig afgerammel en het geen hoop gehad dat dit ooit op die planke sal kom nie. Dit was sommer ’n op-die-ingewing-van-die-oomblik-ding. Het gewonder hoe ’n mens die lyk van ’n baie gesette ou uit die huis gaan kry as die deure en vensters te klein is, en toe het die toneelstuk spontaan ‘gebeur’ – het presies een naweek daaraan geskryf. Dalk sal ek in die toekoms weer so ’n bevlieging kry.”

Sy tweede tree op die skrywerspad was ’n kinderboek onder die titel Die Doempies van Tafelberg, wat hy self uitgegee het. Hy het vir sy kinders, en ook wanneer daar maatjies kom oorslaap het, slaaptydstories vertel oor die Doempies, klein mensies wat op Tafelberg woon. Dit was sy vrou se voorstel dat hy dit in ’n boekie moet laat verskyn. Hy het toe self die boekie geïllustreer en uitgegee. Dit is onder speel-, kleuter- en laerskole in die Wes-Kaap verkoop, “maar ek voorsien nie dat ek weer my hand aan kinderboeke sal waag nie. My verhaalfonteintjie het opgedroog by die Doempies.”

Rudie vertel aan Jonathan Amid op LitNet dat hy maar eintlik nog altyd ’n “closet-skrywer” was. En selfs toe hy die bydraes vir ander publikasies geskryf het, het hy geweet dat hy nog eendag ’n boek gaan skryf. Omdat hy self baie daarvan hou om misdaadfiksie te lees, was dit amper half logies dat hy sy hand aan daardie genre sou waag.

Hy verduidelik verder aan Amid: “Ek ken ook my beperkings en sou beslis nie probeer het om ’n hoge letterkundige werk te pleeg nie, ondanks die feit dat ek ook nie genoeg kan kry van Etienne Leroux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se boeke nie. Ek bewonder hulle, maar sal hulle beslis nie probeer nadoen nie.”

Rudie het reeds as student in die 1970’s begin om misdaadfiksie te lees. Alistair Maclean was een van die skrywers wie se boeke hy verslind het. Daarna was Frederick Forsyth, Ed McBain, David Morrell, Dick Francis en later Wilbur Smith logiese leeskeuses, maar, sê hy aan Amid, hy dink nie dat enigeen van hierdie skrywers werklik ’n invloed op sy latere skryfwerk gehad het nie: “Die genre as sodanig was my dryfveer.”

En toe tref Slagyster die Afrikaanse misdaadfiksietoneel met Kassie Kasselman as die inspekteur. Die ontvangs van hierdie nuwe skrywer se debuut was baie positief, wat vir Rudie ’n riem onder die hart was. Hy verduidelik aan Amid: “As jy die soveelste keer jou eie skryfsels tydens die manuskripfase lees, begin jy naderhand erg twyfel of die ding goed genoeg is. En as jy die finale proewe afteken, is jy doodseker dit gaan die flop van die jaar wees! Die positiewe terugvoer was dus vir my wonderlik. Ek dink nie lesers besef hoeveel dit vir ’n skrywer beteken om te hoor hulle het sy boek geniet nie. Dit helder jou dag absoluut op. Ek waardeer werklik elke kompliment van elke mens. Al die komplimente was beslis ewe lekker.”

Oor sy skepping Kassie Kasselman wat die hoofkarakter is, vertel Rudie aan Amid dat hy nie, soos in so baie ander speurverhale, ’n machoheld as speurder wou hê nie: “Dit is maar hoe dienerd-agtige Kassie Kasselman gebore is. Ek het groot pret gehad om lyf aan sy karakter te gee. En hy is ’n tipe antiheld wat onderskat word. Juis daarom bied hy vir my ander moontlikhede as wat ’n skrywer met ’n konvensionele held sou hê.”

Vir Slagyster moes Rudie intensiewe navorsing doen, aangesien die verhaal in Afrika (en nie net in Suid-Afrika nie) afspeel. Rudie vertel aan Elmari Rautenbach in Die Burger van 21 Maart 2014 dat hy nooit self die olievelde in Nigerië, waar geweld hoogty vier, besoek het nie, dus moes hy baie navorsing doen. Uiteindelik het net ongeveer 5% van die navorsing in die boek neerslag gevind, “maar die breër agtergrond het my gehelp om geloofwaardig oor die omstandighede te skryf. In die gyselaarsdrama het ek myself net in die skoene van die gyselaar geplaas en hom laat reageer soos ek sou gedoen het. Navorsing help my om ander moontlikhede raak te sien en verskaf soms onverwags ’n saadjie vir ’n nuwe wending in my verhaal.”

Riette Rust skryf in haar resensie (Beeld, 2 September 2013) dat Kassie, die speurder met die rooi windjekker, klere wat ongestryk lyk en hare wat met Brylcreem gekam is, in Slagyster agter die kap van die byl van drie gebeure moet kom: Ryan Deetlefs, ’n ingenieur vir ’n oliemaatskappy, word in die Nigerdelta gevange gehou; Carl Bester, ’n polisiemol, moet van Afrika se mees gewetenlose skurke gaan aandurf as hy sy werk wil behou; en die  vennote van die vervoermaatskappy Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad, wat reeds skatryk is, verryk hulle verder deur wapentransaksies, waarby hoë amptenare van die SAPD en die Nigeriese sluikhandel betrokke is.

Rust sluit haar bespreking as volg af: “Die roman lewer sosiale kommentaar op die soeke na welvaart en die effek daarvan op verhoudings. Die einde verras, maar is ’n naskrif oor wat van die karakters  word, nodig? ’n Opvolgroman sou dié antwoorde kon gee. Van inspekteur Kassie Kasselman wil ek beslis weer hoor!”

Op LitNet skryf Deborah Steinmair dat die “misdaadriller” teen ’n “stywe pas galop”. Tonele wissel mekaar gereeld af, die karakters se persoonlikhede is uiteenlopend, daar is oorgenoeg passie en baie binnegoed en bloed wat spat. “In pas met die eise van die genre spring die taalgebruik nie na vore nie: dis dienlik, oortuigend, onopvallend soos ’n voetganger sonder reflektors. Na my smaak is daar soms net ’n bietjie te veel verduideliking (…). Maar die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wiewassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate. En hopelik steek die vasbyter-filatelis Kassie Kasselman in nog heelparty opvolgboeke kop uit.”

Slagyster was op die kortlys van drie vir 2013/2014 se Jan Rabie-Rapport-prys vir fiksie, asook een van die drie finaliste vir die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur.

In 2014 verskyn Rudie se volgende misdaadriller, Kolskoot, en verdryf hy die “tweede-boek-spook” totaal, want weer eens is dit ’n “fassinerende, naatlose riller wat geruisloos verskeie stemme, karakters en wêrelde bymekaarbring”, soos Jonathan Amid in ’n onderhoud met Rudie op LitNet dit noem.

Vir Rudie was een van die dinge wat hom met die skryf van Kolskoot groot genot verskaf het, om Kassie weer as sy hoofkarakter te hê. Kassie se base in die SAPD onderskat hierdie keer sy speurvermoëns. Rudie verduidelik aan Amid dat dit vir hom soms voel of “Kassie homself skryf” en dat ook hy dalk vir Kassie onderskat.

Van die verskille by die skryf van Kolskoot teenoor Slagyster wasdat dit nie vir hom nodig was om soveel navorsing te doen vir die tweede boek nie, omdat hy die wêrelde waaroor hy in Kopskootskryf, baie goed ken. “Ek het persoonlike ervaring as vertrekpunt geneem om oor die kunste, die maatskappy-omgewing, joernalistiek en die grens te skryf. Ek het ook navorsing gebruik wat ek deur die jare oor verskeie onderwerpe versamel het vir artikels in publikasies. Ek het besluit om hierdie bekende omgewings en gegewens in ’n sinvolle verhaal te vervleg. My inligting oor onder meer reeksmoordenaars het ek by ’n gewese polisieman gekry wat destyds by die Moord en Roof-eenheid in Johannesburg gewerk het. Die skryfproses was, wat dit betref, dus makliker, hoewel die storielyne net soveel dinkwerk as Slagyster geverg het.”

In Kopskoot is Kassie ook nie so apologeties soos in Slagyster nie. Volgens Rudie het hy vir seker ’n sterker wil van sy eie. “In Kopskoot bevraagteken hy soms ook sy eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk en sy eie oordeel. Hy is ook nie daaraan gewoond dat sy saak oorgegee word aan iemand anders nie – veral omdat hy nie daarmee kan vorder nie. Boonop is sy gesondheidskwellinge ’n groot struikelblok in dié stresvolle tye. Om die Kassie-karakter interessant te hou, sal hy vorentoe met nog vreemde situasies gekonfronteer word, wat weer ander karaktertrekke sal openbaar.”

Kassie se ondersoeke in Kopskoot is heelwat anders as in Slagyster. Hierdie keer loop daar oënskynlik ’n reeksmoordenaar los in Kaapstad wat middeljarige mans voor die voet vermoor en sy “werkswyse” is met elke moord dieselfde. Maar Kassie is nie oortuig dat dit wel die werk van ’n reeksmoordenaar is nie. Dan is daar ook nog ’n vervalsing van ’n skildery, ’n sakeman wat ’n voorliefde het vir prostitute en ’n afpersery.

Toe Kassie se aanvanklike ondersoek nie veel oplewer nie, word majoor Wim Jonker uit Johannesburg “ingevoer” om die sake op te los. Dit geval Kassie glad nie en hy en Jonker se ondersoekmetodes is ook totaal verskillend. Dit alles, tesame met sy nuwe gesondheidsdieet, lei tot konflik tussen die twee speurders.

In Rapport van 11 Mei 2014 skryf Deborah Steinmair: “Daar is heelwat bloed en sweterige seks. Daar is ook ’n ander, veel ouer verhaal wat tussen die bladsye ontvou: Die voorval in die verlede waaroor ’n groepie mans ’n bloedeed van swye gesweer het. (…) ’n Fassinerende newetema is dié van kunsvervalsing. (…)

“Die skrywer vervleg met gemak perspektiewe. Die leser bevind haar soms in die kop van die moordenaar en sien deur sy kil oë hoe die loodpunt die vel tussen die slagoffer se wenkbroue breek en die skedelbeen met ’n dowwe kraakgeluid deurklief, hoe die bloedsproei ’n rooi spikkelpatroon teen die wit muur maak. (…)

“Dit is asof hierdie naelbyt-misdaadriller homself lees, sommer in die loop van ’n enkele nag. Die taalgebruik is soepel en ekonomies, sonder ’n sweem van mooiskrywery, en die pas is flink.  Die dialoog oortuig klinkklaar. Van Rensburg het ’n gemaklike greep op humor en ironie. Die leser vlieg veilig, in bekwame hande. (…)

“Netjies, naatloos en onvermydelik ontmoet die storielyne uiteindelik. Daar is ’n verlossende skeppie metafisika: Intuïsie en toeval speel ’n beduidende rol, soos in die regte lewe. Oor die beste ontdekkings struikel ’n mens terloops. Kopskoot is ’n koningsmaal vir misdaadvrate.”

Naomi Meyer van LitNet het met Rudie gesels oor sy derde Kassie Kasselman-boek, Judaskus. Hy vertel aan haar dat hy gewoonlik sy inspirasie kry deur redelik wyd te lees oor ’n verskeidenheid onderwerpe en omgewings. Een van sy gewoontes is om sy daaglikse koerant deur te lees en dan die interessantste berigte en artikels uit te knip en te liasseer. Wat eintlik die impetus agter die skryf van Judaskus was, was die groot groei in georganiseerde misdaad in Suid-Afrika, en wat hom veral opgeval het, is die aktiwiteite van die groot sindikate.

Kassie slaan in Judaskus ’n heel ander pad in as in die eerste twee verhale – hierdie keer raak Kassie, wat glad nie gesien kan word as die tradisionele romantiese held nie, smoorverlief op sy aantreklike nuwe buurvrou. “Dit was ’n splinternuwe kinkel wat ek nie voorsien het toe ek aan die manuskrip begin skryf het nie!” vertel Rudie aan Meyer. “Maar stories het soms mos die gewoonte om soos ’n wilde perd hul eie rigting in te slaan. En dan moet die skrywer maar vasklou en saamgalop.”

In Judaskus probeer Kassie agter ’n reeks moorde kom wat daarop dui dat die Orde, wat ’n tipe Boeremafia is, al vir langer as vyftig jaar oor die hele land heen ’n hand het aan etlike baie goedbeplande misdade, asook aan dwelmsmokkelary.

Daar is ook die baas en intellektuele leier van hierdie Orde wat as Iskariot bekend staan. In sy instruksies aan sy onderdane haal hierdie leier aan uit die werke van intellektuele en denkers soos Adam Small, Langenhoven en François-René de Chateaubriand, asook uit Ruy Lopéz de Segura, ’n Spanjaard wat ’n skaakmeester is: “God duld selfs die swakste speler. Maar nie vir lank nie.”

Die leser is al van redelik vroeg in die boek bewus van die identiteit van hierdie aartsskelm, skryf Schalk Schoombee (Die Burger, 30 Mei 2015), maar “’n groot deel van die leesplesier (behels) juis om die gewetenlose superskurk se strategie te ontrafel.

“Uit die staanspoor word die spanningslyne styf getrek; in elke hoofstuk word verskeie verhaallyne geweef en karakterperspektiewe van die misdadigers (TJ en die hakkelende Snake) en die speurders in snelle sarsies afgewissel. Die roman wil nie ’n whodunit wees nie – daarvoor word die motiewe van die meesterbrein te gou blootgelê. Die tergende vraag vir die leser is eerder: Hoe gaan al die booswigte vasgetrek word? Wie gaan wie uitoorlê? (…)

“Die soen van verraad duik oral op – in Isakriot se giftige afskeidsgroet aan medewerkers en vyande, in Anna se sagte soene wat mans laat smelt, in diepgewortelde haat vir volksverraaiers wat oor generasies strek.

“Die taal is manlik: hardebaard, gestroop, sonder nonsens. In die sappige spreekwyse van sy karakters, van bergies wat deur rommel grawe tot allerlei randfigure, het Van Rensburg ’n vaartbelynde draaiboek geskryf wat smeek om verfilm te word.”

In Rapport (31 Mei 2015) beskryf Deborah Steinmair Judaskus as “Grinterig, gelaai en snaarstyf gespan – ’n meesterlik geweefde leeservaring”, terwyl Jaco Fouché (LitNet) praat van Judaskusas ’n boek wat “rondloop”, met die leser wat “herwaarts en derwaarts vervoer” word.

“Nie net tussen plekke soos Bloemfontein, diverse buurte in die Kaapse Skiereiland, Sasolburg en Hermanus nie, maar ook tussen die hedendaagse tydgreep en verskeie invloede uit die verlede wat opklink. Ou moorde kom weer ter sprake, en veel ouer ideologieë wanneer die Ossewa-Brandwag bygehaal word. Voeg daarby ’n verskeidenheid karakters van wie ’n hele paar skurke is wat skurk genoeg is om ’n mens onrustig oor jou medemens te maak, en dis ’n boek wat genot aan liefhebbers van die genre sal verskaf.”

Oor die redelik baie karakters in veral Judaskus verduidelik Rudie aan Naomi Meyer op LitNet dat sy werk in daardie opsig anders as tradisionele speurromans is. Daar is die hoofspeurder gewoonlik dwarsdeur die storie die sentrale karakter, terwyl hy wat Rudie is, van baie karakters in sy romans hou. “Dis vir my byvoorbeeld belangrik om ook in die koppe van die misdadigers te kom en hulle stories te vertel. Dit pla my nie om in (digbevolkte) boeke wat ek lees, terug te blaai om myself weer te vergewis van wie ’n spesifieke karakter nou eintlik is nie. Nie alle lesers voel egter dieselfde daaroor nie. Om ’n goeie balans te handhaaf het ek uiteindelik ’n hele paar randkarakters in die oorspronklike manuskrip (van Judaskus) gesny, wat toe nogal dinkwerk vereis het om die verhaalvloei nie te versteur nie.”

Rudie se roman Pirana is pas (Mei 2016) bekendgestel en weer moet Kassie bontstaan om ‘n saak op te los. Die uitgewers skryf as volg oor Pirana: “Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met die twee ander sake – ’n ontvoering en ’n moord – op sy lessenaar? Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselrige visdam en die glans-en-skanswêreld van die diplomasie moet Kassie sy pad voel-voel vind – of Rooi Els se vrou is visvoer.”

Almal stem saam dat Rudie se boeke lekker lees. Op ’n vraag van Naomi Meyer sê hy dat hy nog nooit bedoel het om letterkundige werk te lewer nie, maar net om gewone stories te skryf. “En ek skryf bloot soos ek in my vroeë loopbaan as joernalis leer skryf het, waar die leser darem nie woordeboeke nodig het om te ontsyfer wat ek neerpen nie. Sedert my koerantdae in die laat sewentigs en vroeë tagtigs het ek eintlik nooit ophou skryf nie.”

Jonathan Amid wou van Rudie weet hoe hy op sy “pakkende eenwoord-titels” besluit. Vir Rudie was Slagyster ’n maklike titel om te kies. Kopskoot as titel was ietwat moeiliker. “Die verhaal het eers twee ander titels gehad, maar dit was te na aan titels van bestaande boeke uit die verlede. Ek het letterlik deur ’n Woordelys en spelreëls geworstel om Kopskoot raak te skiet. En metJudaskus was die titel ook al klaar daar voordat die boek heeltemal persklaar was.”

Wanneer wraak sy tande geduldig slyp – Jo Prins (Media24-koerante)

Posted on: June 2nd, 2016 by admin No Comments

Rudie van Rensburg is op die oog af ’n onwaarskynlike skrywer van misdaadfiksie. Ontmoet jy dié lang, maer man, is sy beleefdheid iets wat opval. Hy is amper té ordentlik.

Maar moenie dat dít jou flous nie. Pirana, sy jongste Kassie Kasselman-boek, begin sommer met die intrapslag met dié woorde: “Dit het alles begin by ’n strepie wit poeier op die handspieëltjie van ’n hoer in Hanoi.”

 En skaars ’n paragraaf of wat in die proloog in, val die eerste f-bom al!

Die lang, maer man laat nie gras onder sy voete groei nie en dit sluit mooi aan by ’n beskrywing van die pirana in die boek: “ ’n Pirana is ’n relatief klein vissoort wat nie juis gevaarlik in die water lyk nie. Dis eers wanneer hy aan jou hap dat jy besef jy’t hom gruwelik onderskat.”

Hou laasgenoemde ook maar in gedagte vir sowel speurder as skurk . . .

Vir lesers wat nog nie vroeër met kapt. Kasselman kennis gemaak het nie (in Van Rensburg se vorige boeke soos Judaskus en Kopskoot): Hy is ’n lieflike eenvoudige, komplekse karakter. Baie soos Columbo, daardie verslonste speurder gespeel deur Peter Falk wat, as ek reg onthou, in die 1980’s op Suid-Afrikaanse TV was.

Maar waar Columbo altyd sy ­reënjas oor sy pak aangehad het en sy hare wild en woes was, is Kasselman meestal in sy rooi windjekker te sien. Ook met sy trademark nerfaf skoene en wit sokkies wat onder sy hoogwater broek uitsteek.

En wanneer Kasselman sy eerste Creme Soda knak, gaan jou reaksie waarskynlik wees: ’ncop wat nie drink nie? Gaan ons dié demoon­lose goody two shoes kan vertrou?

Maar Kasselman was van meet af nie ’n drinker nie en Van Rensburg het besluit om sy verslawings te beperk tot Lucky Strikes en Creme Soda.

Hy is nie maar net nóg ’n Bennie Griessel nie, inteendeel, hy’s ver verwyderd van die tradisionele ­macho-held.

Pirana volg ná die sukses van onder meer Judaskus en Kopskoot.Die storie, kortliks, soos beskryf op die flapteks:

Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met die twee ander sake – ’n ontvoering en ’n moord – op sy lessenaar?

Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonste ­Bolandse hoewe met ’n grieselrige visdam en die glans-en-skans­wêreld van die diplomasie, moet Kassie sy pad voel-voel vind, of Rooi Els se vrou is visvoer.

Die Bolandse hoewe waar dié grieselrige visdam (met die piranas in . . .) is, en waar ’n deel van die ­aksie in die ontknoping afspeel, kry, terloops, ’n bykomende eeryteks­tuur in ag genome die onlangse opspraakwekkende nuus van die moord op die bejaarde skrywer, Winnie Rust. ’n Mens kyk met ­ander oë na Wellington . . .

Hierby, en so saam met die nuus, is Pirana heerlike betrokke letterkunde wat die wat en hoe van die slagting onder ons renosters in bloederige besonderhede beskryf. Ook hoe dié sluikmark se netwerk inmekaarsteek en wie dikwels aan die stuur staan van dié onderduimse operasies.

Vir dié navorsing oor die renosters gee Van Rensburg agterin die boek erkenning aan onder meer Julian Rademeyer en dié se boek Killing for Profit: Exposing the Illegal Rhino Horn Trade (Zebra, 2012).

Ook in die “erkennings”, en vir ingeval jy soos ek hieroor gaan wonder, gee Van Rensburg spesiale vermelding aan die Amerikaanse Pirana-klublede wat hom oortuig het “dié spesie kan ook onder sekere omstandighede in ’n Suid-Afrikaanse plaasdam aangehou word”.

The devil is in the detail . . .

Vir van die skurke se dialoog bieg Van Rensburg ook dat hy die koerant Son as “stylgids” ingespan het.

Maar dié juweel, vermoed ek, kom uit die skrywer se eie pen: “Jackal sug. Nog nie eers ’n dag saam met Dampies nie en dié holborsel krap al klaar sy gathare deurmekaar.”

Hier en daar voel dit tog of die lang, maer man se goeie maniere (maar dalk is dit maar net ’n ouwêreldsheid) deurslaan: Die een ­karakter verwys na die “seksdaad” en ’n verhouding wat nie kan “blom” nie; die een senior polisieman vloek met “donnerwetter!” (nou kyk, as jy cops ken . . .) Maar dié jakkalsies wat pla is enkeles en verwater geensins die intrige nie.

Van Rensurg se vrouekarakters, Carina Vosloo en Natasha van der Merwe, wat met die groot skurk se seun in die bed spring, is – soos Kasselman – ook glad nie die stereotipe-whodunnit-karakters nie. Dié twee, allesbehalwe damsels in distress, is jagters in hul eie reg. Sterk vroue wat gatskop.

Die finale ontknoping (sonder om die storie weg te gee . . .) het my geweldig baie herinner aan die 1995-rolprent The Usual Suspects (met onder meer Gabriel Byrne en ­Kevin Spacey). Al wat ek kan sê is: Pasop vir Keyser Söze!

Pirana is ’n heerlike boek wat my saans tot lank ná my huismense bed toe is, voor die vuur aan die lees gehad het.

* Jo Prins is die redakteur van Boeke24.

‘Pirana’ gaan lesers weer laat naels kou – Marita Meyer (TygerBurger)

Posted on: June 2nd, 2016 by admin No Comments

Van die Kaapse gang lands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselrige visdam en die glans-en-skanswêreld van diplomasie, vind kaptein Kassie Kasselman sy pad voel-voel in Rudie van Rensburg se nuwe misdaadroman, Pirana.

Dié vierde boek van Van Rensburg word Donderdag 26 Mei by die Dros-restaurant in Willowbridge, Bellville, bekendgestel, waar Elna van der Merwe, boekeredakteur vanHuisgenoot, met hom sal gesels.

“Kassie en sy kollega, sersant Rooi Els, se speurvernuf word weer ernstig in Pirana beproef – dit terwyl iemand op die agtergrond sy tande geduldig met wraakgedagtes slyp,” sê Van Rensburg, ’n inwoner van Welgemoed.

 “Ek het lekker aan die boek geskryf, maar moes heelwat navorsing doen om die agtergrond vir baie van die verhaallyne geloofwaardig te hou. Ek het onder meer ook kontak gemaak met lede van die Amerikaanse Pirana-klub om uit te vind hoe dié gevreesde visse in Suid-Afrikaanse omstandighede sou kan oorleef.”

Van Rensburg sê sy navorsing het hom ook opnuut bewus gemaak van die ernstige stroperkrisis in veral die Krugerwildtuin, “waar letterlik honderde stroperbendes ons wilderfenis vernietig”.

Een van sy verhaallyne wat in die wildtuin afspeel, is ’n getroue weergawe van die wrede werklikheid daar, sê hy.

Hy beloof dat die boek genoeg verrassende kinkels en wendings het om die liefhebbers van misdaadfiksie op die punte van hul stoele te hou.

“Omdat Kassie allesbehalwe jou tradisionele macho-held so eie aan speurverhale is, onderskat die misdadigers hom gewoonlik gruwelik. Dit skep vir my allerlei moontlikhede wat ander skrywers van misdaadfiksie dalk nie altyd kan benut nie,” sê hy.

Dat dít ’n suksesresep is, word weerspieël deur die feit dat Van Rensburg se tweede boek, Kopskoot, reeds vyf keer herdruk is, sy debuutroman, Slagyster, onlangs herdruk is, en dat sy derde boek, Judaskus, een van verlede jaar se topverkopers was. V AsTygerBurger se lesers meer oor Pirana wil uitvind, is hulle welkom om aanstaande Donderdag die bekendstelling by die Dros by te woon. Dit begin om 18:00 vir 18:30 en toegang is gratis. Bargain Books sal boeke by die lokaal beskikbaar hê. Antwoord voor of op Maandag 23 Mei by RSVP@nb.co.za of 021 406 3477.

Sosiale Netwerke


css.php Top