Kwêla-onderhoud met Rudie van Rensburg oor sy misdaadromans.
Kwêla-onderhoud met Rudie van Rensburg oor sy misdaadromans.
Judaskus van Rudie van Rensburg is die perfekte spanningsverhaal. Daar is interessante, uiteenlopende storielyne wat uiteindelik netjies saamloop en die leser kan – soos met sy twee vorige misdaadromans – uitsien na deeglike navorsing wat soomloos met die storielyn integreer.
Sedert Slagyster, sy sterk debuut in 2013, het Van Rensburg hom in my lys van top vyf nuwe Afrikaanse skrywers ingeskryf weens ʼn hele paar redes: geloofbare karakters (selfs die moordenaars), ʼn speurder wat (goddank!) nie met allerhande demone worstel wat die leser later heel bedroef stem/irriteer nie, en vernuftige, seepgladde skryfwerk, iets waarmee sy loopbaan in joernalistiek en korporatiewe kommunikasie beslis baie te doen het. Niks in Judaskus gebeur toevallig nie – selfs die mees onbenullige intrige dra by tot die groter verhaal, en met die lees daarvan is dit asof mens ʼn legkaart uitpak en rondskuif. Van Rensburg mors ook nie met woorde nie – elke woord word deeglik ingespan, op sigself ʼn rare gawe.
Misdaadfiksie is een van die snelgroeiendste genres in Afrikaans (en waarskynlik ook in wêreldliteratuur) en Van Rensburg se werk is ʼn besliste moet-lees as dit jou soort leesstof is. Elkeen van sy drie boeke tot dusver speel af teen agtergronde waarvan ek voor die lees van sy boeke maar min geweet het. Slagyster handel oor wapensmokkelary en speel gedeeltelik af op die olievelde van die Niger-delta. Dit ondersoek die wêreld van die Nigeriese sluikhandel, wapensmokkelary en korrupsie binne die SAPD wat sorg dat dinge seepglad verloop vir die skelms. Maar natuurlik net totdat speurder Kassie Kasselman van Kaapstad die spoor vat… Met dié debuut was dit al duidelik dat Kasselman (en Van Rensburg) nog diep spore in Afrikaanse lesersharte gaan trap.
Kopskoot (2014) speel af teen die agtergrond van kunsvervalsing, nog ʼn veld wat Van Rensburg – wat self skilder – deeglik nagevors het. In Judaskus leer ken ons ʼn misdaadkartel, Die Orde van Iskariot. Die Orde het oorspronklik as ʼn soort van helpmekaar-organisasie ontstaan onder ʼn paar Ossewabrandwaglede, maar gierigheid het veroorsaak dat dinge gruwelik verkeerd loop. Menselewens het min waarde vir die hoof van die orde, en Kasselman is die een wat al die uiteenlopende, oënskynlik niksseggende kolletjies moet verbind om al die raaisels op te los.
Kasselman het my van die eerste boek af laat glimlag. In Afrikaanse literatuur was daar nog altyd ʼn oormaat beswaarde, komplekse karakters, en wroegende speurders was daar ook volop. Kasselman is nie een nie. Hy is eksentriek, ja, en boonop ʼn buitestander, maar hy is ook ʼn harde werker wat leef vir sy werk. Hy is ook ʼn bietjie van ʼn nerd, en sy uitgebreide posseëlversameling en boeremusiek is sy groot liefdes. Hy drink nie, en rook ook nie meer so straf soos aan die begin van die reeks nie. Trouens, hy het so groot geskrik vir sy cholesteroltelling dat hy selfs probeer afskaal op sy gunstelingdrankie, Creme Soda. As jy hom in die straat raakloop, sou jy dalk dink die vaal man met die rooi windjekker is ʼn goedige omie, maar pasop: onder die vaal uiterlike skuil ʼn vlymskerp brein en ʼn instink waarmee hy selfs die slimste misdadiger kan uitoorlê. Maar Van Rensburg is slim genoeg om te keer dat Kassie net nóg ʼn cliché word. In Judaskus raak Kassie, ʼn geswore alleenloper, teen al sy instinkte in verlief, iets wat veroorsaak dat hy tydelik sy oog van die misdaadbal afhaal… Met byna rampspoedige gevolge.
As ʼn mens Van Rensburg eers ontdek het, kan jy byna nie wag vir sy volgende boek nie. Die goeie nuus is dat die vierde roman reeds klaar is. Die slegte nuus is egter dat hierdie skrywer se werk nog nie in Engels vertaal is nie, iets wat die uitgewers beslis moet oorweeg. Die res van die wêreld behoort ook te weet van Kassie Kasselman en die unieke misdaadraaisels wat hy en sy span moet oplos. ʼn Mens wens noodwendig dat die regte SAPD oor meer speurders van Kassie Kasselman se kaliber beskik.
Rudie van Rensburg se Judaskus is ‘n boek wat rondloop. Die leser word herwaarts en derwaarts vervoer. Nie net tussen plekke soos Bloemfontein, diverse buurte in die Kaapse Skiereiland, Sasolburg en Hermanus nie, maar ook tussen die hedendaagse tydgreep en verskeie invloede uit die verlede wat daarin opklink. Ou moorde kom weer ter sprake, en veel ouer ideologieë wanneer die Ossewa-Brandwag bygehaal word. Voeg daarby ‘n verskeidenheid karakters van wie ‘n hele paar skurke is wat skurk genoeg is om ‘n mens onrustig oor jou medemens te maak, en dis ‘n boek wat genot aan liefhebbers van die genre sal verskaf.
Daar is ‘n goeie balans tussen die hardwerkende en min of meer deugdelike geregsdienaars en daardie onrusbarende skurke sodat ‘n mens nie verswelg voel deur vlae skunnigheid nie. Om die waarheid te sê, Kaptein Kassie Kasselman het vir my ‘n aangename verrassing ingehou toe hy as ‘n nogal beskeie man wat drie weke se verlof aan sy seëlversameling bestee het, te voorskyn tree. Ek verkies ‘n meer ingetoë hoofkarakter bo die brekers. Dis my eerste Van Rensburg en sy speurder lyk na ‘n welkome toevoeging tot wat nou reeds ‘n reeks speurders in Afrikaanse misdaadfiksie is.
Judaskus is in ‘n sin ‘n boeke-boek. Dit word onderstreep wanneer Kasselman Hemingway’s Bookshop in Hermanus besoek. Kasselman se medeseëlversamelaar, prof Kotze, het die plek só beskryf: “Dis die hawe van ‘n onweerstaanbare versameling boeke.” Wanneer Kasselman “behaaglik aan die weergalose reuk van ou boeke” snuif, is die leser dit met hom eens dat ‘n mens “volgende maand maar moet sny op kruideniersware en sigarette” ter wille van ‘n paar kosbare stukke leesmateriaal. Dit is in hierdie sensitiwiteit vir geestesprodukte (ook die hoofkarakter se belangstelling in seëls) en vir ‘n meer gesofistikeerde lewensingesteldheid dat die verhaal vir my ‘n hoogtepunt bereik. Die waardige mevrou Knobel verpersoonlik eintlik daardie ingesteldheid en sy is ook die band met die Ossewa-Brandwag waaraan haar vermoorde man behoort het. Dis ‘n deel van die geskiedenis wat vandag nog vir baie Afrikaanssprekendes iets byna gloeiend in beduidenis daaraan het.
Die skurke is losbandig, vloekerig, ontevrede, geldgierig, gevaarlik, en daarby uitgelewer aan hulle omstandighede en eie onbesonnenheid. Hulle kom noodwendig uit ‘n laer vlak van die samelewing. TJ byvoorbeeld “het by die weeshuis weggeloop. Hy’t Jo’burg toe gehike, in parke geslaap en los joppies gedoen om aan die lewe te bly.” Daarna het hy by die weermag aangesluit en spiere begin bou. Hierop het sy toetrede tot die misdaadwêreld gevolg. Victor weer het, by sy bedenklike seksuele voorkeure, sy selmaat vermoor. Daisy het ‘n gevoel vir ‘n man, blykbaar ‘n menigte mans. Natuurlik hou ‘n mens nie van hulle nie, en natuurlik móét jy as leser van ‘n misdaadverhaal nie. Ek wil my herinner dat een of ander Amerikaanse misdaadskrywer iewers gesê het dat misdaad sonder uitsondering ‘n halfbekookte affêre met halfbekookte uitvoerders is en dit is hier beslis van toepassing. Skepsels soos Victor en Snake laat ‘n mens se nekhare regopstaan, so gemaklik is hulle in hulle eie gemeenheid. En tog staan daardie gemeenheid eintlik net in diens van ‘n groter, meer orkestrerende gemeenheid.
Die boek is baie visueel sonder om in beskrywing vas te val. Dis duidelik dat Van Rensburg die plekke ken waaroor hy skryf en dat hy weet van dinge soos filatelie en polisieoptrede. Die aksietonele is goed en oortuig ‘n mens dat die geweldenaars mense is om mee rekening te hou. Die onderliggende komplot is ook intrigerend en ontvou op sy tyd terwyl die pas in sy geheel danksy die baie gebeure en gereelde toneelwisseling terselfdertyd goed volgehou word. Dis ‘n werk waarin geesdriftiges hulle sal verlustig.
Sosiale Netwerke