Suid-Afrika is nie net ’n wêreldleier wanneer dit by misdaad, egskeiding, verkragting, gesinsmoord, huurmoord en korrupsie kom nie. Ons speurverhaalskrywers trek toenemend aandag. En Deon Meyer is nie meer so eensaam op die toringspits van internasionaal gerekende Suid-Afrikaanse misdaadfiksie nie. Trouens, hy moet maar oor sy skouer kyk.
Rudie van Rensburg se derde misdaadroman, Judaskus, is louter genot, soos sy vorige boeke Slagyster en Kopskoot. Dit verduister ongesiens ’n dag uit jou lewe, want neersit is min. Van Rensburg het ’n oënskynlik moeitelose greep op die genre. Hy tower ’n onweerstaanbare konkoksie met al die gewenste bestanddele in al die regte verhoudings op.
Die leser raak weer ten nouste by kaptein Kassie Kasselman betrokke, die bleeksielspeurder wat jy nie op sy lospassende rooi windjekker moet takseer nie. Hy is ’n deurwinterde alleenloper, ’n fanatiese filatelis wat floreer op boeremusiek en crème soda. Hy smeer sy hare plat soos ’n kalfslek, koop duisende rande se seëlboeke en eet muwwe brood met Floro en Marmite.
Maar in hierdie boek ondergaan Kassie ’n gedaanteverwisseling: hy verruil sy windjekker; eers vir ’n nuwer rooi ene, dan vir ’n noupassende grys baadjie en hy versaak die potjie Brylcreem. Die rede? Verliefdheid het hom onverwags in sy middeljare oorrompel, want nimmer kan ’n man sê, “fonteintjie, van jou drink ek nie weer nie”.
Verraderlik is die hart en die lendene en Kasselman sukkel om op sy saak te fokus. Maar kan dit waar wees dat ’n beeldskone, verleidelike, heelwat jonger vrou saans in Kassie se stowwerige woonstel wil kuier? En dat sy aangetrokke is tot sy ernstige volwassenheid en nuwe toevoeging tot sy seëlversameling wat hy van ’n moordslagoffer geërf het?
Die saak waarmee Kassie doenig is, is raaiselagtig en veelkoppig. Rommelsnuffelaars ontdek menslike oorskot in ’n vullissak en ʼn byenes word oopgeskop. Soos die voorblad dit so onweerstaanbaar stel: “Elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op.”
Een van die slagoffers se weduwee bring Kassie en Kie. op die spoor van ’n geheime orde wat destyds uit die Ossewabrandwag voortgespruit het met tentakels in verskeie regeringsorganisasies. Hul doelstellings was aanvanklik redelik suiwer, hoewel eksklusief: om hul “eie mense” te help en op die been te kry. Met verloop van tyd en onder leiding van ’n nuwe geslag leiers het die organisasie se doelstellings egter gekorrupteer tot wettelose gierigheid – waar nie eens moord ontsien word nie.
Die leser leer van die Orde se effens onbeholpe kontrakwerkers ken. Daar is TJ met sy hopelose verliefdheid en sy kop vol nagmerriebeelde van sy “Dad” wat hom en sy ma verrinneweer het en die hakkelende Snake wat nie sy eie krag ken nie. Hulle is maar wieletjies in die ratwerk, onbewus van die geheime organisasie se onderbou. En vervangbaar.
Ons leer ook vir Iskariot, leier van die Orde ken: ’n deurtrapte psigopaat. Dan is daar die beeldskone Vera/Daisy, ’n belle dame sans merci. Sy is ’n totaal gewetenlose en amorele femme fatale op wie Ian Fleming trots sou wees. Victor is ’n figuur wat aan Frankenstein se monster herinner: die alleenloper-reus met ’n agenda wat duidelik ’n geskiedenis met die Orde het, wat jare in die tronk was en nou vryheid en vergelding binnestrompel met ’n skerpgemaakte broodmes. Die kuikens het grootgeword en huis toe gekom om te kom nesskop.
Die immer groeiende getal leidrade is verwikkeld en verbluffend, veral met Kasselman se kop vol muisneste. Is daar boonop ’n verraaier in die polisiediens? Hoe steek die vurk in die hef?
’n Taakspan word onder leiding van kapt. Kasselman op die been gebring. Hulle werk dag en nag soos raaisels verdiep en die pas versnel. ’n Arrogante jong speurder wat dink hy’s James Bond, ene Monty met sy selfoon, sy windmakerigheid, sy opinies en die klein Beretta in sy broekspyp, steek ook kop uit.
Daar is heelwat verwisseling van toneel wat die lesers op die puntjie van hul stoel hou. Net wanneer ’n mens dink jy het alles mooi uitgewerk, tuimel nog ’n verrassing uit die hangkas.
Die leser word nie net vermaak, laat gril en skrikgemaak nie, maar dink ook na oor die aard van mag, geheime organisasies en korrupsie. Dit was maar altyd in ons midde – dis maklik om ’n mens nou in die oopskop van konkelsindikate in die regering te verlekker, maar wie se hande is per slot van sake skoon?
Die karakters bly die leser by en die dialoog oortuig. Skurke praat soos skurke, geleerdes soos geleerdes en maaifoedies soos maaifoedies. Mensig, dis netjies, wil ’n mens deur jou tande fluit. Dit tref die teiken en kom die kontrak met die leser ten volle na. Daar is selfs skeute skerp humor om die ontsetting en geweld te louter. Dis grinterig, gelaai en snaarstyf gespan – ’n meesterlik geweefde leeservaring.
Deborah Steinmair, Rapport.
Sosiale Netwerke