Archive for June, 2014

LitNet-onderhoud: Jonathan Amid met Rudie van Rensburg

Posted on: June 24th, 2014 by admin No Comments

Rudie van Rensburg se tweede spanningsroman, Kopskoot, het onlangs verskyn. Hy vertel vir Jonathan Amid van sy skryfloopbaan, wat met ‘n groot knal afgeskop het.

Rudie, baie geluk met die publikasie van Kopskoot. Dis ’n fassinerende, naatlose riller wat geruisloos verskeie stemme, karakters en wêrelde bymekaarbring. Maar kom ons begin by die begin. Jy skryf dalk nou misdaadfiksie, maar jy was al werksaam by Sanlam, vir baie jare betrokke by die joernalistiek, en jy skilder ook. Wat het jou laat besluit om na al die jare te begin boeke skryf? Het jy toevallig in die riller-genre begin skryf, of was dit ’n doelbewuste en deurdagte besluit? Was daar ’n aha-oomblik toe jy oombliklik geweet het: ek is ’n skrywer, in murg en been?

Baie dankie vir die mooi woorde oor Kopskoot! Ek dink ek was maar altyd ’n closet-skrywer. As joernalis, en selfs in my tyd by Sanlam, het ek gereeld bydraes vir verskeie publikasies gelewer. Maar in my agterkop het ek altyd geweet ek gaan my hand nog aan ’n boek waag. Toe ek ’n toneelstuk (onder ’n skuilnaam) geskryf het en dié stuk behaal redelike sukses, het ek geweet ’n boek is die volgende stap. Omdat ek nog altyd versot was op misdaadfiksie, was dit ’n maklike besluit om iets in dié genre te skryf. Ek ken ook my beperkinge en sou beslis nie probeer het om ’n hoge letterkundige werk te pleeg nie, ondanks die feit dat ek ook nie genoeg kan kry van Etienne Leroux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se boeke nie. Ek bewonder hulle, maar sal hulle beslis nie probeer nadoen nie.

Rudie van Rensburg
Jonathan Amid
Kopskoot is ‘n spanningsroman wat ook die kunste betrek. (Bron: Gel brushstrokes)

Alhoewel Deon Meyer met reg beskou word as die vader van die (moderne) speurverhaal in Afrikaans, het skrywers soos C Louis Leipoldt al in die 1920’s ’n vorm van speurverhale geskryf. Het die klassieke meesters soos Poe en Christie, of die hard-boiled ysters soos Hammett en Chandler, jou sterk beïnvloed?

Ek het eers as student in die sewentigs ’n smaak vir misdaadfiksie ontwikkel toe ek my eerste Alistair MacLean gelees het. Daarna het Frederick Forsyth, Ed McBain (skuilnaam van Evan Hunter), David Morrell, Dick Francis en later Wilbur Smith gevolg. Forsyth was destyds my gunsteling-spanningskrywer, maar ek dink nie een het my regtig beïnvloed nie. Die genre as sodanig was my dryfveer.

Lees jy gereeld misdaadfiksie, en as dit wel die geval is, wie is jou gunstelingskrywers in die genre, en hoekom? Is daar enige tekste wat jy as “klassiek” beskou in die genre?

Ek is verslaaf aan die Skandinawiese skrywer Jo Nesbo, en verslind sy boeke sodra dit die rakke tref. Stieg Larsson se drie boeke het my geweldig beïndruk (en kan as klassieke misdaadromans beskou word), terwyl sommige van Henning Mankell se stories ook lekker lees. Ondanks die feit dat Skandinawië seker die wêrelddeel met van die laagste misdaadkoerse is, beskik hul skrywers oor die vermoë om misdaadfiksie op ’n unieke, geloofwaardige en besonderse manier op te dis. Die Engelse skrywer Robert Harris se verhale is ook fassinerend, hoewel nie almal in die kategorie van misdaadfiksie val nie. Deesdae lees ek moeilik aan Amerikaanse misdaadskrywers. Voor ek Slagyster geskryf het, het ek na baie jare weer verskeie Amerikaners beproef, maar die voorspelbare resepmatigheid van die meeste van dié kontinent se speurverhale het my teleurgestel. Dalk lees ek net die verkeerde Amerikaners se boeke!

Wanneer het jou voete begin jeuk om jou stempel op die genre af te druk? Lees jy plaaslike misdaadskrywers soos Meyer, Karin Brynard, Chris Karsten en so meer? Hoekom is die genre besig om by die dag in gewildheid toe te neem? Het dit iets met die “normalisering” (soos Deon Meyer dit noem) van ons kunste te doen?

Ek het al die boeke van Meyer, Karsten en Brynard gelees. Hulle staan nie ’n tree terug vir die beste internasionale misdaadskrywers nie. Trouens, ek dink al drie sou ’n plek onder my top tien misdaadskrywers losslaan. Veral Deon en Chris het as inspirasie vir my gedien om my eie stempeltjie te probeer afdruk. Wat die gewildheid van die genre betref, het ek ’n teorie: Afrikaanssprekendes lees nie skielik nou meer misdaadfiksie as in die verlede nie, maar hulle lees ook nou toenemend Afrikáánse misdaadfiksie. Voor Deon se eerste boeke verskyn het, was daar in die genre nie werklik iets wat Afrikaanssprekendes opgewonde gemaak het nie. Spanningliefhebbers het Engelse misdaadfiksie gelees. Maar sy boeke het lesers regop laat sit: hier was uiteindelik nou ’n Afrikaanse skrywer wat met die bestes kon meeding. In daardie opsig het Deon die land omgeploeg vir ander Afrikaanse misdaadskrywers om hul saad te saai. En om nou die vrugte daarvan te kan pluk.

Slagyster het veral indruk gemaak weens die ongelooflike tapisserie van stories wat stadig maar seker inmekaar gevleg word. Daarbenewens was daar oorgenoeg aksie, pittige dialoog, ’n besonder sterk aanvoeling vir ruimte en die fantastiese karakterisering van onder andere inspekteur Kassie Kasselman. Het die baie positiewe reaksie op Slagyster jou enigsins verbaas of onkant betrap? Wat was vir jou die lekkerste kompliment van ’n passievolle leser af?

As jy die soveelste keer jou eie skryfsels tydens die manuskripfase lees, begin jy naderhand erg te twyfel of die ding goed genoeg is. En as jy die finale proewe afteken, is jy doodseker dit gaan die flop van die jaar wees! Die positiewe terugvoer was dus vir my wonderlik. Ek dink nie lesers besef hoeveel dit vir ’n skrywer beteken om te hoor hulle het sy boek geniet nie. Dit helder jou dag absoluut op. En ek waardeer werklik elke kompliment van elke enkele mens. Al die komplimente was beslis ewe lekker.

Slagyster het met insig omgegaan met morele kwessies, soos korrupsie, en verskeie sosiopolitieke vraagstukke, soos die oliekrisis en ontvoerings in die Niger-delta. Hoe gepas is die genre om morele en politieke vraagstukke te bestudeer en te probeer beantwoord? Wat is die grootste struikelblokke om moontlik in die genre te oorkom, en watter moontlikhede bied die plaaslike weergawe in terme van storie en aktuele kwessies?

Die misdaadroman is sekerlik ook ’n geskikte platform om morele en politieke kwessies aan te spreek. Solank die stert net nie die hond begin swaai nie. Wanneer ’n morele of politieke kwessie te ver gevoer word, begin die storie daaronder ly. Dit bly immers populêre fiksie. Maar dit is ook so dat ’n misdaadroman soms die spieël is van hoe sake in ’n land daar uitsien, wat ek met Nigerië in Slagyster probeer doen het. Ek het dié land egter net as doek gebruik om my storie op te skilder. My plan was nooit om té veel van die doek onder die verf te laat uitsteek nie. Ek beskou die insluiting van sulke kwessies ook nie as ’n voorvereiste vir ’n suksesvolle misdaadroman nie.

Ek moet vra oor die inspirasie vir Kassie Kasselman. Hy is nie net ’n bepaalde tipe antiheld nie, maar hy word gereeld in Slagyster onderskat. Is dit nog in Kopskoot die geval? Wat was die grootste uitdaging en genot met die skryf van Kopskoot?

Ek wou wegbeweeg van die tradisionele macho held in speurromans. Dit is maar hoe die nerd-agtige Kassie gebore is. Ek het groot pret gehad om lyf aan sy karakter te gee. En, soos jy tereg opmerk, hy is ’n tipe antiheld wat onderskat word. Juis daarom bied hy my ander moontlikhede as wat ’n skrywer met ’n konvensionele held sou hê. In Kopskoot word sy vermoë ook onderskat, dié keer deur sy bevelvoerders in die polisiediens. Om Kassie as hoofkarakter te hê, het my in Kopskoot die grootste skryfgenot verskaf. Soms voel dit vir my asof Kassie homself skryf! Moontlik onderskat ék hom ook.

Wat is die grootste verskille tussen Slagyster en Kopskoot? Waarom het jy besluit om die verskillende wêrelde van die polisie, die kunste, die joernalistiek en die tragedie van die Grensoorlog met mekaar te vervleg?

Waar ek in Slagyster geweldig baie navorsing moes doen om geloofwaardig te kon skryf oor omgewings wat vir my aanvanklik ook onbekend was, was die wêrelde in Kopskoot goed bekend aan my. Ek het persoonlike ervaring as vertrekpunt geneem om oor die kunste, die maatskappy-omgewing, joernalistiek en die grens te skryf. Ek het ook navorsing gebruik wat ek deur die jare oor verskeie onderwerpe versamel het vir artikels in publikasies. Ek het besluit om hierdie bekende omgewings en gegewens in ’n sinvolle verhaal te vervleg. My inligting oor onder meer reeksmoordenaars het ek het by ’n gewese polisieman gekry wat destyds by die Moord en Roof-eenheid in Johannesburg gewerk het. Die skryfproses was, wat dit betref, dus makliker, hoewel die storielyne net soveel dinkwerk as Slagyster geverg het.

Jou skryfwerk is beslis visueel ingestel, alhoewel jy nooit met mooiskrywery besig is nie. Beskryf in soveel besonderhede moontlik vir ons die skryfproses? Is jy een van die gelukkiges wat elke dag voor die rekenaar kan inskuif en skryf? Of is dit ’n meer moeisame, langsamer proses? Het jou vrou baie geduld met jou?

Wat die visuele skryfwerk betref: my skilderwerk voed in daardie opsig my skryfwerk. Ek dink altyd visueel en probeer om die prentjie dan in woorde om te skakel. Ek beplan nie te veel voor ek ’n boek aanpak nie. Ek het wel ’n paar vae riglyne in my kop. Soos ’n mens skryf, slaan die boek soms sy eie, verrassende rigting in. Ek is gelukkig in die opsig dat my skryfwerk redelik moeiteloos geskied. Ek het ’n vaste roetine waar ek vroegoggend agter my rekenaar gaan sit en begin skryf. Soms gaan dit natuurlik moeiliker as ander tye, maar ek broei nie te lank nie. Ek skaaf eers aan elke hoofstuk voordat ek die volgende een aanpak. En omdat ek in ’n rumoerige redaksiekantoor leer dink het, hinder geluide my nie. Trouens, ek verkies dit om in die TV-kamer te sit met die TV-stel aan. ’n Doodstil omgewing sal my die piep gee. My vrou het beslis baie geduld met my rigiede roetine en ondersteun my geweldig baie. Ek toets ook soms dele in die verhaal by haar waaroor ek onseker is. Haar raad is gewoonlik in die kol.

Bepaal jou karakters jou storie, of werk dit andersom? In watter sin groei Kassie in Kopskoot, en waar is sy grootste uitdagings te vinde?

My storie bepaal gewoonlik die karakters. Ek skep eers die omgewing, dan die karakter. Kassie is dalk minder “verskonend” in Kopskoot as Slagyster. Hy toon beslis ’n wil van sy eie. In Kopskoot bevraagteken hy soms ook sy eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk en sy eie oordeel. Hy is ook nie daaraan gewoond dat sy saak oorgegee word aan iemand anders nie – veral omdat hy nie daarmee kan vorder nie. Boonop is sy gesondheidskwellinge ’n groot struikelblok in dié stresvolle tye. Om die Kassie-karakter interessant te hou, sal hy vorentoe met nog vreemde situasies gekonfronteer word, wat weer ander karaktertrekke sal openbaar.

Is daar enige aaklige clichés wat jy probeer om teen elke prys in jou skryfwerk te vermy? Geniet jy dit om lesers aan die raai te hou?

Ek het in Slagyster ’n paar aaklige clichés gebruik, maar dit in Kopskoot vermy nadat ek attent daarop gemaak is. Só leer mens maar algaande. Ek geniet dit om die leser aan die raai te hou. ’n Verrassing is tog ’n baie belangrike element in die genre. Jy mag die leser egter nooit mislei om daardie doel te bereik nie. Die verrassing moet altyd geloofwaardig wees.

Beide jou romans is uiters spanningsvol, alhoewel die ontknopings van albei ’n mens met vele stof tot nadenke laat. Dit lei tot die volgende vraag: Tot watter mate gaan jou romans oor die leeservaring self, en tot watter mate poog jy om lesers te kry om hulle wêreldbeskouing onder die loep te neem? Sir Philip Sidney sou jou dalk net so trakteer het: “Is it your purpose to inform or to delight?”

Dit gaan vir my beslis eerstens oor die leeservaring. As jy die leser nie geïnteresseerd hou in jou verhaal nie, gaan die ontknoping ook geen impak hê nie. My primêre doel is dus om eerder te “delight” as te “inform”. Die “vele stof tot nadenke” is ’n lekker bonus.

’n Laaste vraag: Hoe word daar op jou pakkende eenwoord-titels besluit? Het jy al ’n volgende titel in gedagte?

Slagyster was ’n maklike keuse waarop ek vooraf besluit het. Met Kopskoot het dit moeiliker gegaan. Die verhaal het eers twee ander titels gehad, maar dit was te na aan titels van bestaande boeke uit die verlede. Ek het letterlik deur ’n Woordelys en Spelreëls geworstel om Kopskoot raak te skiet. My derde manuskrip is reeds voltooi, hoewel dit nog skaafwerk nodig het. Die eenwoord-titel is reeds daar, maar ek sal dit nie graag nou al wil noem nie.

Weer eens baie dankie vir die gesels, Rudie. Ek is seker lesers kan nie wag om te sien wat volgende met die geliefde Kassie Kasselman gaan gebeur nie.

Baie dankie vir die geleentheid, Jonathan!

LitNet-resensie van Kopskoot deur Lien Botha

Posted on: June 24th, 2014 by admin No Comments

Laat ons begin by die kwas − daardie agbare instrument wat Suid-Afrikaanse kunsversamelaars laat kwyl en wat die sleutel is tot inspekteur Kassie Kasselman se deurbraak wanneer hy ’n reeks moorde op ses-en-vyftig-jarige wit mans ondersoek.

Hand aan hand met die elemente waarna ’n leser van hierdie genre soek, strek Rudie van Rensburg se kennis oor die onderwerpe ter sprake. Hy put heimlik uit die ervaringsveld van sy onderskeie werksomgewings, hetsy die grein van die finansiële wêreld (as sakejoernalis) of die tekstuur van skilderkuns (sy medium as kunstenaar).

Hoe vervals mens ’n skildery?

Vra vir Van Rensburg.

Humor as balans in die skaal van duisterhede word doeltreffend ingespan − grotendeels in die gedagtes van Kasselman, soos met sy siening van Irma Stern: “Hy weet net van Stern omdat sy in ’n seël vereer is saam met ander Suid-Afrikaanse kunstenaars” en “Hy stik amper in sy tee. Sewe en dertig miljoen! Is die vrou befok in haar kop om soveel vir een skildery te betaal?” (191). Die rol van ’n kunswêreld se bedrieglike waardesisteem is ’n kardinale parallel in die boek.

Daar is reeds in Slagyster met Kesselman kennis gemaak en hierdie karakter behoort misdadige meelesers heimlik te laat uitsien na volgende “episodes”. Die filatelis-speurder met sy slordige rooi windjekker se stokperdjie impliseer ’n fyn oog vir besonderhede. In jou geestesoog sien jy hom met ’n vergrootglas oor die grafiese besonderhede van ’n kunswerkie (die grootte van ’n vingerafdruk) tuur. Nader aan Peter Falk as aan Daniel Craig; hierdie verflenterde landskap aan die suidkus van Afrika. Craig in Parow? Aikona. Columbo wel.

Die skrywer maak gebruik van ’n pointillistiese sinkonstruksie wat die tempo van die vertelling doeltreffend ondersteun: “Vir die soveelste keer gaan haal hy die lêer uit die kluis. Die opgeskeurde foto’s van die drie vermoordes het hy in afsonderlike swart koeverte gesit. Hy glimlag” (157).

Dikwels ervaar die leser dié soort teks wat met sarsies tref: boef! boef! boef!

Soos met die tegniek van chiaroscuro word sekere fasette belig en ander in skadu gedompel.

Rocco, Bill, oom James en Katrien se pa het almal ’n geheimsinnige brief gemeen, en die behoefte om die inhoud daarvan te wete te kom, dryf die leser voort.

’n Rits uiteenlopende karakters beweeg deur die hoofstukke, amper nes rekwisiete op ’n verhoog: Katrien Steyn, Rocco Maashof (wat sy deurbraak as gevolg van die bemarking van gebottelde seewater gemaak het), Bossie Bosman (wat nog steeds spog met ’n vol vag (82)), Vlam Woltemade, Meisie Smit en mevrou Vos (die tantetjie met die pers hare).

Na die templaat van Middeleeuse voorbodes word die eerste drie lyke elke keer deur ’n vrou gevind.

Die omgewing is dikwels grinterig: verlate parkeerterreine of parke na skemer. Die geneul van ’n bandsaag (159) is verontrustend, selfs al is dit mooiweer en warm. Die skrywer het nie ’n saak met politieke korrektheid nie en takel alger en dese met dieselfde oortuiging wat in sy vernuftige popkuns te bespeur is.

Afwisseling in tipografie wanneer Roderick ter sprake is, suggereer dat iets nie pluis is nie en dra by tot die leser se vermoede dat die onraad moontlik juis hiér te te vinde is.

Soos ’n ongewenste karakter sluip die bosoorlog rond in die verhaal se ontwikkeling: “Dis ’n ou klipgebou wat lyk soos ’n gewese weermagvesting, met uitkyktorings op die dak en ‘n hoeveelheid vensters wat aandui dat minstens ’n peloton van vyftig daar sou kon bly” (167).

Daardie knap kinkel wat teen die einde kop uitsteek, het ek beslis nie sien kom nie en is klinkklare bewys dat Van Rensburg die strategie van ’n speurroman goed onder die knie het.

Hier ter plaatse hoef skrywers van dié genre nie grense te versit nie; ons misdaadsyfers doen dit reeds. Hulle hoef bloot, soos onder andere Meyer, Brynard, Orford, Hichens en Van Rensburg, agter daai rekenaars in te skuif sodat ons op mistroostige wintersaande van CSI kan vergeet.

Crime Beat: A new cop on the block – Jonathan Amid (Crimebeat)

Posted on: June 24th, 2014 by admin No Comments

Jonathan Amid reviews a new Afrikaans crime novel by Rudie van Rensburg.

Kopskoot, the second in the Inspector Kassie Kasselman crime thrillers is a confident, carefully plotted and entertaining effort that offers both a compelling antihero protagonist as detective figure and a sharply constructed narrative that keeps the tension levels high throughout. Rudie van Rensburg is a worthy successor to the likes of Deon Meyer, and readers will find to much to savour and enjoy in his intelligent and thoughtful approach to the genre.

Deon Meyer het die pad oopgeskryf vir ‘n groot verskeidenheid skrywers wat werk onder die vaandel van die misdaad- of spanningslektuur: Karin Brynard, Chris Karsten, Chanette Paul, Piet Steyn, Peet Venter, en vele meer. Ek het doelbewus een naam van hierdie lys weerhou: Rudie van Rensburg. Kyk, dis nie aldag die maklikste ding om tred te hou met nuwe skrywers wat in die genre te werk gaan nie, maar Van Rensburg het met sy uitstekende debuut, Slagyster, ‘n yslike impak op beide resensente en lesers gemaak.

Wat my deurgaans met die roman opgeval het, was die wenkombinasie van verwikkeldheid en kompleksiteit, so soepel met groot leesbaarheid vervleg: die geslaagde poging om ‘n aantal verskillende stemme, storielyne en vertellers in ‘n hegte leeservaring te smee, sonder om die lekker-lees ervaring prys te gee. So ook was Slagyster kenmerkend vir die bekendstelling van ‘n nuwe (dog ouderwetse) anti-held, die intuitiewe Inspekteur Kassie Kasselman, wat met sy gesondheidsprobleme, verslawing aan Lucky Strikes, voorliefde vir Crème Soda en filatelie sommer diep in die hart ingekruip het.

Van Rensburg het ook met opset sy speurder eers na ‘n hele ruk op die toneel in die roman laat verskyn om dinge so bietjie anders te doen. Met die vermaaklike Kopskoot sal lesers wat verwag dat Kassie in naby aan elke toneel of wending moet verskyn, eerder van hierdie wens moet afsien. Dit is weereens ‘n spanningsroman wat kan hardloop met die groot honde, maar die keer een wat wegbeweeg van die groot aantal sosio-politieke kwessies soos gewapende konflik en die geveg om olie-hulpbronne in Nigerie te vinde in Slagyster. Hier het ons hoofsaaklik te make met ‘n klaarblyklike reeksmoordenaar wat wit mans van ses-en-vyftigjarige ouderdom met mening afmaai. Of het ons? Kassie is glad nie so seker nie.

Soos die gepaste titel sinspeel is Kopskoot op die sentrale raaisel van hierdie moorde toegespits. Soos elke liefhebber van die genre alte goed weet is konflik die drywer van die aksie en spanning, en moet Kassie die keer saamwerk met die moeilike kalant Majoor Wim Venter, ‘n man met min ooghare vir Slaapstad en sy inwoners. Venter is van Gauteng, en hy glo dat sy op die man af manier van doen die knoop sal deurhaak. Of Kassie nou daarvan hou of nie.
Met Kassie se ma wat alewig steeds oor sy gewig bekommer, en die speurder wat net so effens in sy eie metodiek begin twyfel nadat sy bevelvoerders hom in die bek ruk, slaag Van Rensburg weer ‘n keer daarin om die leser se simpatie ten volle by die beleerde kassie te vestig. Daar is wel tye wat jy voel Kassie dalk net ‘n rapsie te lank van die toneel of “offstage” is, maar dis omdat ‘n mens so baie van die eiesinnige Kassie hou.

Van Rensburg probeer nooit om van sy anti-held ‘n Bennie Griessel of Lemmer of ‘n Beeslaar te maak nie. Dis dalk net hoekom die karakter van Kassie goed werk: hy staan sy man op sy eie manier, en herinner eerder aan oorsese slonskous-speurders, maar darem ook nie te veel nie. Daar is ook nog baie ruimte wat in Kopskoot gelaat word vir verdere intrige en karakter-ontwikkeling in die toekoms.

Kopskoot werk ook verskeie verdere narratiewe by sodat die roman die leser se aandag op verskeie ander elemente vestig: ‘n baie interessante kunsvervalsings-invalshoek, wat ‘n vervalste Irma Stern-werk teen R37 miljoen sien verkoop; die afpersing van die sakereus Duvenhage, wat ‘n voorliefde het vir peperduur prostitute; die lot van die speurder-dobbelaar Pelser; en die hardebaard joernalis Vorster, wat sy eie stel problem het om uit te stryk. Daarbenewens is daar die allerbelangrikste storie en geskiedenis van die geheimsinnige Roderick, wat moontlik vir Kassie die sleutel tot die raaiselagtige gegewens van die moordsake kan inhou.

Terwyl Kopskoot (met goeie rede) Roderick se bydra tot die narratief stadig maar trefseker tot die lig bring vir die leser, word die insae in die lot van die bogenoemde manlike karakters met mekaar afgewissel sodat daar baie effektief spanning en verwagtinge by die leser gekweek word. Van Rensburg smokkel hier tog te lekker met die leser se kop.

Dit is ook vir my belangrik om te vermeld dat die roman geensins wegskram van uiters intense oomblikke van geweld nie: die beskrywings van die moorde wat koelbloedig gepleeg word – dikwels dan ook uit die perspektief van die moordenaar – is brutale bliksemstrale wat verhoed dat die leser ooit in ‘n gemaksone verval.

Dit dui dan op een van die kenmerkende eienskappe van Kopskoot: daar word deurgaans nommerpas ‘n balans gehandhaaf tussen flink vertelling en meer moeisame, intense oomblikke; tussen fyn beskrywings van die Kaapstad wat lesers mee bekend is en die binne-werelde en gevoelens van oortuigende karakters wat die lesers stukkie vir stukkie leer ken. Ouderwetse humor en hardekoejawel-uitsprake deur manlike karakters wissel mekaar netjies af. Daar is genoeg diepte en dimensies aan die vroulike karakters in die roman dat daar nie te hard aan die stereotipe-deur geklop hoef te word nie.

Daar is keurige skryfwerk hier te bespeur. Die skrywer berus op jare se ondervinding in die korporatiewe wereld en die beeldende kunste om geloofwaardigheid enduit te bemeester. So ook is Van Rensburg nie iemand wat ooit van mooiskrywery beskuldig sal word nie. Hy ken sy medium, weet waarvan sy gehoor sal hou. Kopskoot tref eindelik die teiken kolskoot.

‘Meesterlike werke’ ding mee om prys

Posted on: June 4th, 2014 by admin No Comments

KAAPSTAD. – Uiteenlopende debuutwerke ding vanjaar mee om die Jan Rabie-Rapportprys.

Die prys is oop aan alle uitgewers en word vir ’n uitnemende debuut of vroeë Afrikaanse prosawerk uitgeloof.

Dit het ’n geldwaarde van R35 000 en die wenners word Vrydagaand saam met die ander Media24-pryse bekend gemaak.

Op dié kortlys is Carié Maas met Koljander, Rudie van Rensburg met Slagyster en Dominique ­Botha met Valsrivier. Botha is vanjaar die ontvanger van die Eugène Marais-prys vir Valsrivier en is op die kortlys vir die Sunday Times-fiksieprys.

Koljander is die prys as debuutwenner in die Groot Afrikaanse Roman-wedstryd van 2012 deur en deur werd, skryf Annemarie van der Walt in haar resensie op Boeke24.

Jonathan Amid skryf op LitNet wat hom as leser van die boek bybly, is die manier waarop Maas die “vinkel” en “koljander” in haar resep – die uiteenlopende kleure en geure van menswees, die lief en leed waarvan sy skryf waaraan ’n mens eenvoudig nie kan ontsnap nie – op so ’n manier vermeng dat dit iets nuuts en toegankliks vir die leser bied sonder om kompleksiteit prys te gee. “Anders gestel: Maas se kunstigheid hier is om tekens van kunsmatigheid uit die weg te ruim.”

Oor Slagyster skryf Deborah Steinmair op LitNet: “Die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wie­wassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate.”

Elzette Steenkamp meen in Rapport oor dié debuut: “Dit verras met ’n kompleksiteit wat ’n mens nie aldag van ’n debuut­roman verwag nie.

“Enige skrywer wat so ’n ingewikkelde storie aanpak, loop die gevaar dat hierdie bokspringe verwarrend vir lesers kan wees, maar soos die verhaal met die vernuf van ’n ervare storieverteller ontvou, besef jy: Dit wérk. En dit werk moeiteloos. Ek was lanklaas so beïndruk met ’n boek, laat staan nog ’n debuutroman.”

Oor Valsrivier skryf Joan Hambidge in haar resensie op Boeke24 dit is “ ’n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie” en sê: “Dis beeldskoon, hierdie ­debuut”.

Willie Burger skryf in sy bespreking van die boek in Vrouekeur wat ’n mens Valsrivier laat aanhou lees, is “die meesterlike manier waarop vertel word”.

Diue Burger

Sosiale Netwerke


css.php Top