Archive for May, 2014

Onwaarskynlike held vs. gewetenlose skurke – Landbouweekblad – 18.10.2013

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

SLAGYSTER
SKRYWER: Rudie van Rensburg
UITGEWER: Queillerie. Die boek kos R190 en is by goeie boekwinkels oor die land heen te koop.
Daar is ’n moorddossier op inspekteur Kassie Kasselman se lessenaar . . . In die woude van die Niger-delta word Ryan Deetlefs, ’n Suid-Afrikaanse werknemer van die geldgierige Star Petro, deur ’n moorddadige rebellegroep gevange gehou. Haarhof, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad is ’n baie suksesvolle onderneming en eersdaags sal die drie kollegas nóg dieper in die geld rol. Hulle het ’n uiters lonende byverdienste danksy SAPD-hoëlui en die Nigeriese sluikhandel. Maar hoe gemaak met Brink van Dyk en sy Taliban-kwellinge? Carl het op sy olyfplaas in die Karoo afgetree. Hy’s klaar met polisiemol-dwelmhandel en die skadulewe tot sy voormalige bevelvoerder kom met ’n versoek wat Carl nie kan weier nie – een wat hom in kontak gaan bring met Afrika se mees gewetenlose skurke. 

Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg het  sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad begin. In 1982 word hy medestigter en uitgewer van Bloemnuus en later redakteur van die saketydskrif Die Ekonoom. In 1987 verhuis hy Kaap toe en sluit hom by Sanlam se reklame-afdeling aan. In 2008 is sy komedie, Die Begrafnis, by die KKNK met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater (beste dramaturg) bekroon. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie vir kleuters, Die Doempies van Tafelberg. Hy skilder die afgelope 25 jaar en van sy werk is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, Amerika, Duitsland, Brittanje en Australië.

So se Rudie

Dis die eerste keer dat jy jou hand aan ’n spanningsverhaal waag. Hoe het die idee agter Slagyster  ontstaan?
Ek wou nog altyd ’n spanningsverhaal skryf juis omdat ek so lief is vir boeke in dié genre. Toe ek die eerste hoofstuk van Slagyster klaar geskryf het, het ek nog geen idee gehad waarheen die verhaal op pad is nie. Die storie het so met die skryfproses vorm aangeneem en ’n paar draaie gemaak wat ek nie voorsien het nie. Soos die karakters ontwikkel het, het die verhaal amper sy eie koers ingeslaan. 
Inspekteur Kassie Kasselman is ’n buitestander soos baie hoofkarakters in dié genre. Het sy persona raakpunte met ’n ware persoon?
Ek het besluit om weg te beweeg van die tradisionele buitestander-macho-speurder. Kassie is die onwaarskynlike held – sosiaal onbeholpe, ietwat van ’n introvert, slordig, ’n laaste waarskuwing op sy polisierekord, oorbehep met sy posseëlversameling en versot op boeremusiek. Sy voordeel is dat mense hom hopeloos onderskat. En, nee, Kassie het nie raakpunte met ’n spesifieke persoon nie, maar het tog eienskappe van ’n paar minder opwindende mense met wie ek paaie gekruis het – en ek heeltemal onderskat het! 
Wat was jou grootste probleem met die skryf van Slagyster?
Sekere dele in die verhaal het deeglike navorsing vereis. Die boek maak onder meer ’n draai in die olievelde van Nigerië. Ek moes baie daaroor oplees om geloofwaardigheid te verseker. Verder het ek deurentyd my verhaal deur die oë van ’n leser beoordeel en myself afgevra of ek daarvan sou gehou het as iemand anders dit geskryf het. My grootste probleem was om myself tevrede te hou.

‘Melkkoerant’ dra vrug – Bloemnuus – 6.09.2013

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

 Deur Rudie van Rensburg, ‘n stigtersredakteur van Bloemnuus

DIT was ’n sprong in die donker. Ons het nie geweet wat vir ons voorlê nie, nie hoe diep die afgrond is nie en ook nie hoe steil die bult gaan wees om weer bo uit te kom nie. Bloemnuus was die eerste gratis koerant in die Vrystaat –  ’n onbekende en gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding.

Maar ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het oë toegeknyp, onbevange gespring en gehoop vir die beste –  dat daardie sprong die moeite werd was, word vandeesmaand bevestig met Bloemnuus se een-en-dertigste verjaardag.

Mense sluk swaar daaraan wanneer ons vertel dat ons die koerant destyds met net R60 begin het. Maar dit is die heilige waarheid. Die advertensie-inkomste moes die drukker betaal en aan ons ’n salaris verskaf. Dit was iets wat ons elke maand net-net vermag het (al het my salaris nie altyd my huisverband gedek nie). Ons het nooit skuld gemaak nie, maar baie selde iets anders as brood geëet.

Ons het 10000 koerante by huise deur ’n melkverspreider op Vrydae saam met ’n bottel melk laat aflewer (in ruil vir ’n R75-advertensietjie van die melkverspreider op die voorblad). Gou sou ons as die “melkkoerant” bekend staan. Die oorblywende 2000 koerante van die destydse 12000-oplaag het ons self by kafees en sakeondernemings gaan aflewer.

Ons het Bloemnuus uit ’n nederige vertrek in ’n woonhuis in die stad bedryf. ’n Bedompige buitekamertjie was die donkerkamer vir die ontwikkeling van foto’s. Ons het die verantwoordelikheid van die redaksionele inhoud, die taalversorging van mekaar se berigte, die bladuitleg, die proefleeswerk, die werwing en uitlê van advertensies (dit was ’n pyniging), die neem van foto’s en ontwikkeling daarvan, die skakelbordverpligtinge en die finansiële administrasie van die koerant alles self behartig. Hier en daar het ons vrouens darem gehelp, maar ons was sewe dae van die week minstens twaalf uur van elke dag besig. Om vir onsself te werk het skielik ’n nuwe, minder opwindende betekenis gekry.

Ons passie het by die redaksionele kant van die koerant gelê. As gewese joernaliste van Volksblad het ons geweet al die stad se nuus het nie die dagblad gehaal nie. Daar was ’n yslike gaping vir plaaslike Bloemfonteinse nuus. Maar ons wou ook ’n bietjie skop aan ons koerant gee –  dit moes nie sommer net ’n doodgewone plaaslike koerantjie wees nie.

Ons het die heilige koeie in die stad aangevat. Kom ons noem dit nou maar by die naam: Soms was ons op die rand van ware sensasie-joernalistiek. Sommer in ons eerste uitgawe het ons hoofstorie die Vrystaatse rugbybase van destyds so die josie in gehad dat ons die persbank in die Vrystaat-stadion en die unie se rugbykantore verbied is.

Ná die eerste paar uitgawes het ’n hele paar vooraanstaande stadsvaders rooi gesien oor dié “vermetele skinderkoerant”.

Toe een van die rykste sakemanne in die stad oor die foon vir een van ons gil: “Ek sleep julle hof toe as julle een woord daaroor skryf”, het ons dáárdie spesifieke woorde as inlei-sin gebruik vir dié onthullende berig. Ons het deurentyd op die voorstoep van die hof geboer (my prokureursbroer het sy hande soms vol gehad om ons uit die moeilikheid te kry), maar die koerant het Bloemfonteiners minstens aan die praat gehou.

Soms het ons gasskrywers gekry om mee te werk (natuurlik sonder betaling). Drie wat onder meer in die begindae geesdriftig gehelp het, was Nico Luwes, nou professor en hoof van die departement drama van die Kovsies, Hanlie Retief, bekende skrywer en joernalis van Rapport wat toe nog ’n kommunikasiekundestudent was en wyle David van der Merwe, later ’n bekende Bloemfonteinse neurochirurg.

Advertensies het begin instroom en ons finansiële sake het rigting kry –  in so ’n mate dat die Perskor-groep ’n jaar later ’n 76%-aandeel van Bloemnuus by ons gekoop het. Skielik het ons die luukse van kantore in die stad gehad, kon ons advertensiewerwers aanstel en het ons tien uur per dag pleks van twaalf begin werk. Ons kon selfs bekostig om nou en dan ’n vleisie te braai en het soos multi-miljoenêrs gevoel.

Dat Bloemnuus een-en-dertig jaar later steeds die stad met nuus be-dien, is vir ons ’n wonderlike getuigskrif dat ons bloedsweet van destyds nie tevergeefs was nie.

Geluk, Bloemnuus!

Bleeksiel en bloed in debuutboek – TygerBurger – 21.08.2013

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Marana Brand van Hulsteyn


Kassie Kasselman is werklik ’n onindrukwekkende man. Hy’s nie iemand wat enige vertroue inboesem nie, beslis nie ’n speurder aan wie jy ’n hoëvlak-moordsaak sou toevertrou nie.
“Hy’s eintlik maar ’n bleeksiel. Nêrens sal hy soveel as ’n rimpeling op die Richterskaal veroorsaak nie; daarom word Kasselman heeltemal onderskat,” vertel dié speurder se skepper, Rudie van Rensburg van Welgemoed, oor die hoofkarakter van sy debuut-spanningsverhaal, Slagyster.


En die moordsaak wat Kasselman moet oplos, is swaargewig. Dit loop draaie in die onstuimigheid van die Nigeriese olievelde, Suid-Afrikaners wat bydra om dié onstabiliteit aan te vuur, tot by korrupte polisiehoës, ’n verleidelike, maar gevaarlike joernalis, en ’n Adonis van ’n polisiemol. Boonop is bykans niemand se hande skoon nie. 
VingerEn mense word met die klap van ’n vinger afgemaai. 


Daar is wreedheid, gevoelloosheid en gewetenloosheid in dié boek. Dis beslis nie leesstof vir mense wat oor hul oggendkoffie deur spuitende bloed van stryk gebring word nie. 
Maar, sê Rudie, dis hoe dit in die rebelle-oorlog in Nigerië gegaan het: geen respek vir menselewens nie. “Ek het die gewelds-tonele beskrywend gehou, want ek wil hê die leser moet duidelik in sy kop kan sien hoe gewelddadig daardie tyd was,” verduidelik hy.


Sy besluit om ’n deel van die storie rondom Nigerië te bou, is tweeledig. “Ek weet nie van baie Afrikaanse skrywers wat al met hul stories dieper in Afrika inbeweeg het nie. Ek het Nigerië gekies, want dis werklik donker. Die geweld, korrupsie, wapensmokkelary en oliediefstal rondom die rebellestryd bied heerlike stof vir ’n spanningsverhaal.”
NagevorsHy sê hy het dié land en die situasie voor 2010 baie deeglik nagevors. “Ek kon later ’n mini-verhandeling daaroor skryf, maar ek wou nie die lesers met al daardie inligting verveel nie. My doel was om die agtergrond van die storie en die Nigeriërs geloofwaardig voor te stel.”


En hy’t gekies om ’n spanningsverhaal te skryf, omdat dit is wat hy self graag lees. “Ek het eintlik vir myself ’n boek geskryf en hoop ander sal ook daarvan hou!” 
Slagyster is Rudie se eerste boek, maar ’n paar jaar gelede het hy ook ’n drama – Die begrafnis – “sommer oor ’n naweek” onder die alias Phil Janse geskryf nadat iemand hom uitgedaag het. Dié komedie het baie goed gedoen op kunstefeeste én boonop die Sanlam-prys vir Afrikaanse Drama onder die neuse van groot name weggeraap. Hy’t destyds die prysgeld van R20 000 anoniem aan die Vrystaatse Universiteit geskenk.
Rudie is gebore en getoë in Bloemfontein en is nou sowat 25 jaar in die Kaap, maar sy Vrystaat-wortels lê nog diep. Hy’s byvoorbeeld steeds ’n stoere Cheetah-ondersteuner. 
GelukkigsteEn sy gelukkigste jare was as joernalis by Die Volksblad en Bloemnuus in Bloemfontein. 


Hy bly maar ’n joernalis in murg en been, al het hy die grootste deel van sy loopbaan in korporatiewe kommunikasie deurgebring, mymer Rudie.
“As ek my lewe kon oorhê, sou ek ’n joernalis gebly het. Dis my passie. Ek sou dalk ook vroeër begin skryf het.” 


Dit lyk of Kassie Kasselman nou weer Rudie se joernalistieke snare raakgetokkel het. “As ek skryf, skryf ek heeltyd. Ek staan net op om te eet en selfs dan is die storie my hele kop vol. Ek dink aan niks anders nie!”
Deesdae skryf Rudie basies voltyds – sy opvolg op Slagyster is volgende jaar op die rakke met die vaalseun Kasselman weer in die hoofrol. Die derde boek is ook byna klaar. Hy skilder baie ernstig en doen vryskutwerk in die joernalistiek, onder meer vir TygerBurger.

 

Fantasie, eenvoud en pret deel van sy kuns – TygerBurger- 07.07.2010

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Marita Meyer
RUDIE VAN RENSBURG vermaak nie alleen TygerBurger se lesers weekliks met sy humortekeninge nie, maar hy is ook ’n skilder wie se kunswerke wêreldwyd in versamelings pryk. 
’n Solo-tentoonstelling van sy werke vind vandeesmaand in Welgemoed, Bellville, plaas. Dié uitstalling val saam met ’n fokus-artikel oor sy kuns in die nuutste uitgawe van die glanstydskrif Habitat. 
Rudie skilder al die afgelope 23 jaar en het in sy loopbaan aan talle uitstallings meegedoen. Sy skilderye hang aan mure in Suid-Afrika, Brittanje, Duitsland, Australië en die VSA.
Rudie, wat deesdae voltyds kunstenaar is, sê hy sal sy kuns beskryf as “’n mengsel van fantasie, pret en eenvoud”. 
“Ek druk my uit deur die distorsie van lyn en kleur in my werk. Ek is beslis nie ’n realistiese kunstenaar nie en raak soms aan kubisme en ekspressionisme. Ek skilder nie van prente of natuurtonele af nie, maar gee die beelde in my kop weer,” verduidelik hy. 
Rudie sê hy eksperimenteer ook graag met verskillende style, tegnieke en teksture.
“Kuns is vir my baie meer as die blote duplisering van die werklikheid. Daarvoor kan jy net sowel ’n kamera inspan. Dit moet iets van jou innerlike weergee. Die doel van my kuns is om ’n bepaalde vorm te bereik wat nie noodwendig elegant is nie, maar ’n innerlike impuls bevredig. Mense moet my kuns interessant vind, ook prettig of selfs vreemd, maar net nie alledaags nie!” sê hy.
Drie-en-dertig van Rudie se skilderye kan by die Welgemoed-winkelsentrum in die winkel langs die poskantoor in Bakkerstraat tot einde Julie besigtig word. Hy sal daar aan nuwe skilderye werk en mense is welkom om hom te besoek. Weeksdae is hy tussen 10:00 en 18:00 en Saterdae tussen 09:00 en 13:00 daar. 

‘Misdaadskildery’ aan Nqakula gegee – 07.03.2007

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Marita Meyer
“IN die apartheidsjare het versetkuns ’n belangrike rol gespeel om die onregte teen die mensdom in die kollig te plaas. Die tyd is nou ryp dat visuele kunstenaars saamstaan en hulle weer verset – dié keer teen misdaad.”
Só sê mnr. Rudie van Rensburg, ’n Wes-Kaapse kunstenaar wat ’n reuse-skildery – wat misdaad in die land uitbeeld – as “geskenk” aan mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, gaan gee.
Volgens Van Rensburg is dié skildery sy “beskeie bydrae tot die kreet teen veral geweldsmisdaad”. 
Van Rensburg sê hy wil hê die skildery moet Nqakula gereeld daaraan herinner dat Suid-Afrika onder ’n vlaag van misdaad en geweld deurloop. Dit sal moeilik vir Nqakula wees om die skildery, getiteld Cry of the Rainbow Nation te ignoreer – dit is ’n allemintige 1,7 meter hoog en 3,3 meter wyd. 
“Ondanks die onlangse teenmisdaadplanne wat die regering aangekondig het, is dit duidelik dat die dringendheid nog ontbreek om die vlaag van misdaad hok te slaan. Die onaanvaarbare vlak van geweldsmisdaad in die land regverdig onmiddellike en drastiese optrede van die regering. Dit is onaanvaarbaar om in vrees en bewing in jou eie land te leef,” het hy gesê. 
Volgens Van Rensburg het hy reeds die ministerskantoor ingelig van die “geskenkie” wat op pad is. Hy wag nog om te hoor wanneer dit ’n geskikte tyd sal wees om die skildery persoonlik aan Nqakula te oorhandig.
Voordat die skildery aan Nqakula oorhandig word, sal dit egter eers ’n maand of twee lank in Kaapse kunsgalerye hang sodat die publiek die geleentheid kry om ’n persoonlike boodskap aan Nqakula te skryf in ’n boek wat saam met die skildery aan hom oorhandig sal word.
Op die skildery, wat tot 9 Maart by art.b, die galery van die Kunsvereniging van Bellville, in die biblioteeksentrum gesien kan word, verskyn die name van 30 Suid-Afrikaners wat die afgelope jaar vermoor is. Die skildery sal ook later by ander galerye gesien kan word.

Kovsies maak skoonskip met Die Begrafnis – 2.04.2008

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Die dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat is vandag (28 Maart) by die Absa KKNK op Oudtshoorn met die 2008-Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (SPAT) bekroon. Hul produksie van Die Begrafnis het skoonskip gemaak met die belangrikste pryse en is vanaand nog ‘n keer op die planke. Dit is die derde keer dat Vrystaat dié prys wen. Hulle steek daarmee ‘n stewige R100 000 in die sak op voorwaarde dat die wenproduksie deur die loop van die jaar by twee ander kunstefeeste ook opgevoer word. Die wenstuk, ‘n komedie uit die pen van Phil Janse (skuilnaam), is onder spelleiding van Nico Luwes opgevoer. Die poppe begin dans omdat Ant Vossie se man nie na haar vermanings wou luister nie. Sy’t hom hoeveel keer gewaarsku dat sy gewig hom gaan doodmaak. En nou’s dit Vierman se begrafnis en dis ‘n krisis want die man was groot! En die ys raak min en die deur is maar smal. Die individuele pryse wat elkeen R20 000 werd is, is toegeken aan Ilne Fourie as Ant Vossie in Die Begrafnis (goue toekenning vir beste akteur), Phil Janse (beste dramaturg), en Nico Luwes (beste regisseur). Annalize Nortier (Konyntjie) en Carel Nel (eienaar van Swanesang-Lykbesorgers) in Die Begrafnis deel die silwer- akteurstoekenning van R10 000. (Ander spelers in die wenstuk is Misha Daniëls, Christopher Mey en Anel Kotze.) Die beoordelaars, Jeanne GoosenIlse van HemertElize CawoodHennie van Greunen en Mike van Graan, het ‘n voortreflikheidsertifikaat aan die Universiteit van Stellenbosch se Mymering toegeken. Afgesien van Die Begrafnis, was die finaliste wat om die pryse ter waarde van altesame R270 000 meegeding het Mymering (Produksie: Universiteit Stellenbosch; Teks: Hans Oosthuizen; Regie: Johan Esterhuizen) Sara (Produksie: Universiteit Stellenbosch; Teks: Richard Bertelsmann; Regie: Francois Toerien) SPAT was vir die vyfde keer op die spel. Die Vrystaters het ook in 2005 en 2007 koning gekraai, terwyl Stellenbosch die toekenning in 2004 en 2006 gewen het.

Verwikkelde debuut beindruk – Rapport – 3.11.2013

Posted on: May 1st, 2014 by admin 2 Comments

Slagyster deur Rudie van Rensburg. Uitgewer: Queillerie. Kalahari: R190. Resensent: Elzette Steenkamp

Rudie van Rensburg se spanningsverhaal Slagyster verras met ’n kompleksiteit wat ’n mens nie aldag van ’n debuut­roman verwag nie. 

Die bloedige burgeroorlog wat in 2009 in Nigerië tussen die wankelrige regering en talle rebelle-groepe gewoed het, dien as agtergrond vir hierdie ambisieuse verhaal.

Gewigtige kwessies soos onwettige wapenhandel in Afrika, korrupsie in die SAPD, en die grootskaalse uitbuiting van die omgewing en die inheemse bevolking deur die groot interna­sionale oliemaatskappye wat in die Niger-delta doenig is, word aangedurf. Dit is ’n ingewikkelde storielyn dié. Daar is baie spelers op die bord en ’n mens moet maar kophou om by te bly met hoe sake inmekaar steek. Die verhaal word uit die oogpunt van talle karakters vertel en flits kort-kort van die een perspektief na die ander. Hier is die hooftrekke – ek hoop jy kan byhou!

Ryan Deetlefs, ’n Suid-Afrikaanse werknemer van die Amerikaanse Star Petro-oliemaatskappy, word iewers in die woude van die Niger-delta deur ’n bloeddorstige rebelle-groep as gyselaar gehou. 

Carl Bester, ’n afgetrede polisieman, word deur sy voormalige bevelvoerder, direkteur Piet Wessels, as polisie-mol by onwettige wapentransaksies betrek. Eintlik het Carl nie veel van ’n keuse nie, want Wessels dreig om ’n geheim te verklap wat Carl in die tronk kan laat beland as hy nie saamspeel nie.

Danksy ’n lonende ooreenkoms met een van Nigerië se grootste spelers in onwettige wapenhandel, kan die base van Haarhoff, Van Dyk en Malan Transport in Kaapstad bekostig om hul vroue se plastiese sjirurgie-rekeninge, luukse motors en Irma Steins af te betaal. Maar dit lyk of een van die vennote, Brink van Dyk, koue voete begin kry oor die maatskappy se betrokkenheid by die Taliban.

Dan is daar ook nog die bekroonde joernalis Amelia Smit wat Ryan Deetlefs se ontvoering in Nigerië en Star Petro se verdagte hantering van die saak ondersoek.

Die ster van die verhaal is ongetwyfeld inspekteur Kassie Kasselman, wat al die drade van hierdie storie bymekaar moet bring. 

Kasselman is ’n onwaarskynlike held. Hy dra ’n onaansienlike rooi windjakker, versamel seëls, luister net na boeremusiek, is sosiaal wanaangepas en hou ’n botteltjie Rescue Remedy in sy lessenaar se laai. 

So op sy beskeie manier kom Kassie stadig maar seker agter die kap van die byl en sy skerp waarnemings laat die skuldiges gou-gou in hul Gucci-loafers ­bewe.

Enige skrywer wat so ’n ingewikkelde storie aanpak, loop die gevaar dat hierdie bokspringe verwarrend vir lesers kan wees, maar soos die verhaal met die vernuf van ’n ervare storieverteller ontvou, besef jy: Dit wérk. En dit werk moeiteloos.

Ek was lanklaas so beïndruk met ’n boek, laat staan nog ’n debuutroman.
Dr. Elzette Steenkamp is betrokke by LitNet.

Slagyster-resensie (LitNet) – 28.10.2013

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments
Slagyster deur Rudie van Rensburg

Dis moeilik om die daaglikse nuus te troef as dit kom by onvoorspelbare, lukrake geweld en vermetele onderduimsheid. In die oerwoud is alles chaos en gaan dit om die oorlewing van die gewetenlose. En spanningsverhale skiet soos paddastoele op, want lesers smag toenemend na ’n stywe storielyn wat jou voete onder jou uitslaan en jou meusleur tot jy uitasem en lyfseer in die vlakwater lê en hyg. Maar, anders as in die werklikheid, moet al die raaisels uitgepluis en al die rafels netjies afgeknip word en die boewe verpletterend op hul herrie kry.

Daar is ’n nuwe stem in Afrikaanse misdaadfiksie: Rudie van Rensburg. Hy skryf met die gesag en woordekonomie van ’n oudjoernalis. Hy het as verslaggewer by Die Volksblad begin en was redakteur van Die Ekonoom voordat hy hom in reklame begewe het. Hy is ook ‘n skilder en sy storie is visueel: die geweld, hebsug en passie grafies, met sterk-getekende karakters. Sy intrige is diggeweef, hy is vertroud met polisieprosedure, die politiek en die ekonomie. Slagyster is ’n hutspot van korrupsie, gierigheid en geweld op ons eie vasteland. Wat het internasionale oliemaatskappye, die Nigeriese regering en sy entrepreneurs en rebelle, Afrikaanse sakelui en die Suid-Afrikaanse polisiediens gemeen? Geldjagsheid natuurlik. Ryan Deetlefs het arm grootgeword en wil nog ’n paar jaar as ingenieur in Nigerië werk om ’n blink en materiële toekoms vir sy vrou en tweelingdogters te verseker. Nou word hy as gyselaar aangehou deur ’n moorddadige, hooggerookte rebellegroep in die Niger-delta. Drie Afrikaanse sakemanne van Kaapstad gebruik hul vervoermaatskappy as ’n front om wapens na Afrika en ander vastelande te smokkel. Hulle voorsien selfs die Taliban van doodmaakgoed. Maar een van die drie se gewete begin pla. Hul tussenganger is Henry Odaka, wat soos Idi Amin lyk, in ’n kasteel woon, pers japonne dra en hom vergryp aan brandewyn, melk en ’n eindelose prosessie soepel vroue. “Ware mans kry nie vigs nie. Kondome is vir die banges,” reken hy. Die dodelik aantreklike alleenloper Carl Bester het die gevaarlike lewe van dwelmmol vir die polisie vaarwel geroep om op ’n Karooplaas af te tree, maar ’n impulsiewe vergryp in sy verlede haal hom in en hy word gedwing om nog een maal ondergronds te gaan om die wapensluikhandelaars aan die pen te laat ry. En trap dan net in nog ’n dodelike slagyster. In skrille kontras met die skurkagtige inpalmers staan inspekteur Kassie Kasselman: ’n arm polisieman wat die laaste muwwe broodkorsie in sy woonstel met margarien en Bovril afwurg. Hy het lankal die laaste blikkie meatballs verorber. Hy is geen Bond nie: sy drankie is groen Creme Soda, hy is middeljarig en maksimaal uncool in sy verslete rooi windjekker, met hoogwaterbroeke wat vier-en-twintig jaar oud is; vetterige hare, tingerige lyf met boepmagie; sy passie is vir seëlversameling en boeremusiek. Maar Kasselman is onkreukbaar beginselvas en as hy eers sy tande in iets slaan, laat hy nie los nie. Wees baie bang, boosdoeners. Daar is darem ’n sterk vrou ook: Amelia Smit, ‘n ondersoekende vryskutjoernalis wat selfs vir Time skryf. Sy is toevallig ook enkellopend, lank, slank, bruingebrand en beeldskoon. Sy beland ook in die kleurvolle chaos van Lagos vir ’n storie, waar haar paaie met die komkommerkoel Carl Bester kruis, wat tot verskietende vuurwerke lei. Hierdie misdaadriller galop teen ’n stywe pas. Daar is heelwat toneelwisselings, uiteenlopende karakters, polsende hartstog en volop bloed en binnegoed wat spat. In pas met die eise van die genre spring die taalgebruik nie na vore nie: dis dienlik, oortuigend, onopvallend soos ’n voetganger sonder reflektors. Na my smaak is daar soms net ’n bietjie te veel verduideliking, amper soos ’n liefdesverhaal waarin alles mooi netjies uitgelê en wegverduidelik word, byvoorbeeld op bl 292: “Hy het die afgelope dekade genoeg geld weggesit om ’n plaas te kan bekostig. As hy sy huis hier vir ’n redelike prys kan verkoop, sal hy vir minstens nog drie jaar ’n inkomste hê as die plaas nie onmiddellik geld genereer nie. Buitendien is Lea deesdae ’n gesogte kunstenaar en kan sy hoër pryse vir haar skilderye vra. Die Kaapse kunsmark was nog altyd lewendig.”

Maar die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wiewassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate. En hopelik steek die vasbyter-filatelis Kassie Kasselman in nog heelparty opvolgboeke kop uit.

 

Sosiale Netwerke


css.php Top