Archive for May, 2014

Varsgedruk-insetsel op kykNET: Kopskoot

Posted on: May 25th, 2014 by admin No Comments

Reeksmoordenaar, of wraak?

Toe iemand Kaapstad se ses-en-vyftigjarige mans begin afmaai, is dít kaptein Kassie Kasselman se dilemma. Dit wil darem baie na ‘n reeksmoordenaar lyk — almal dieselfde modus operandi, almal dieselfde ouderdom − maar Kassie is net nie oortuig nie . . .

FEESMAAL VIR MISDAADVRATE – TygerBurger – 26.05.2014

Posted on: May 25th, 2014 by admin No Comments

Rudie van Rensburg se jongste misdaadroman, Kopskoot, word volgende week bekend gestel

Kort op die hakke van sy suksesvolle debuutroman Slagyster, het Rudie van Rensburg se tweede misdaadroman, Kopskoot, pas die winkelrakke getref.

Rudie, wat in Welgemoed bly, het enige potensiële kritikus se mond gesnoer met sy eerste boek deur tussen ysterskrywers as een van drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-boekprys aangewys te word. Dié prys word toegeken aan die beste debuut- of vroeë werk van Afrikaanse fiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het.

Dr. Elzette Steenkamp het verlede jaar byvoorbeeld in ’n Slagyster-resensie in Rapport geskryf: “Ek was lanklaas so beïndruk met ’n boek, laat staan nog ’n debuutroman.”

En ook Kopskoot se lof word reeds besing: “Kopskoot is ’n feesmaal vir misdaadvrate,” sê Deborah Steinmair in haar onlangse resensie oor dié boek in Rapport.

Waar Slagyster se storie hoofsaaklik oor wapensmokkelary en die destydse krisis rondom oliediefstal in onder meer Nigerië gehandel het , gaan Kopskoot steeds oor die donker misdaadwêreld, maar is die storielyn heeltemal anders. Wat egter dieselfde is, is dat kaptein Kassie Kasselman wéér die man is wat alles moet ontrafel en die skelms aan die pen moet laat ry. Hierdie keer begin iemand in Kaapstad 56-jarige mans afmaai. Dit wil baie na ’n reeksmoordenaar lyk –  almal dieselfde modus operandi, almal dieselfde ouderdom –  maar Kasselman is net nie oortuig nie.

En soos ons die beteuterde Kasselman in Slagyster leer ken het, weet ons dis net ’n dekmantel. Hy mag onbehendig wees, maar hy’s moontlik ook die mees onderskatte speurder in die diens.

Daarom gee Rudie vir Kasselman sommer heelwat meer probleme om op te los. Tussendeur ’n skouspelagtige skilderyvervalsing, ’n sakeman met ’n voorliefde vir prostitute, en ’n afpersery, word Kassie boonop gedwing om ’n nuwe gesondheidsdieet te oorleef wat sy frustrasievlakke nuwe hoogtes laat bereik.

Maar dié antiheld-speurder se probleme eindig nie hier nie. In Kopskoot loop sy speurtogte aanvanklik op niks uit nie en sy nemesis word ingeroep om die saak te help oplos: Majoor Wim Jonker, ’n verwaande pronker uit Gauteng. Jonker se ondersoekmetodes bots lynreg met Kassie se intuïtiewe benadering tot speurwerk en dié konflik lei tot vuurwerke.

“Ek het heerlik geskryf aan Kopskoot,” vertel Rudie. “Dit was grotendeels te danke aan die feit dat sommige van die verhaallyne in omgewings afspeel wat bekend is aan my, soos byvoorbeeld die groot finansiële maatskappy, die kunsomgewing en die koerantwêreld.” Rudie is ’n stoere joernalis, toegewyde skilder en het lank in Sanlam se bemarkingsafdeling gewerk.

Bekendstelling

Die bekendstelling van Kopskoot is op 5 Junie by die Dros in Willowbridge, Bellville. Elmari Rautenbach gesels met Rudie by dié geleentheid.

Lesers wat belangstel om die bekendstelling by te woon, kan op Rudie se webtuiste (www.rudievanrensburg.co.za) die uitnodigingbesonderhede kry, asook op sy Facebookblad, Rudie van Rensburg Boeke.

– TygerBurger

 

Kaapse bekendstelling van Kopskoot

Posted on: May 19th, 2014 by admin No Comments

Die Kaapse bekendstelling van Rudie van Rensburg se nuwe boek, Kopskoot, vind op 5 Junie in Bellville plaas. Elmari Rautenbach sal met die skrywer gesels.

Kopskoot-invite

Intrige word hiér knap verweef – Rapport – 11.05.14

Posted on: May 11th, 2014 by admin No Comments

Deborah Steinmair

Kopskoot deur Rudie van ­Rensburg. Uitgewer: Queillerie. Prys: R199. 

Misdaad is lonend as jy dit reg doen, maar daar is maar ‘n handjievol Afrikaanse misdaadskrywers wat lag oor hul bankstate – die skeppers van die Bennie Griessels en die Beeslaers. 

Nou is daar ‘n nuwe kind in die buurt wat wiewassit-vrate snags uit die slaap hou: kaptein Kassie Kasselman, ‘n onbeholpe antiheld met ‘n eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk. Hy is tingerig en dra konstant ‘n rooi windjekker, goedkoop hoogwater-broeke en wit kouse soos ‘n fieta. Hy rook te veel Lucky Strikes, maar hy drink net Creme Soda en sy passie is seëlversameling. 

Hy het lesers laat regop sit in Rudie van Rensburg se eerste roman, Slagyster. 

Van Rensburg is ’n joernalis, skilder en bekroonde dramaturg. In sy tweede spanningsroman het die Kaapse polisie te doen met wat na ‘n reeksmoordenaar lyk, maar kaptein Kassie het ‘n ander teorie: Hy vermoed ‘n verband tussen die slagoffers en ruik wraak oor ‘n voorval in die verre verlede. 

Sy speurtogte loop egter op niks uit nie en sy nemesis word ingeroep om die saak te help oplos: Majoor Wim Jonker, ‘n verwaande pronker uit Gauteng, met trillende snor en melodieuse stem. Jonker glo in Slaapstad is almal maar ‘n bietjie agter die klip en gevrek. Hy sal hulle kom wys waar Dawid die wortel gegrawe het. Soos in Meyer en Brynard se misdaadfiksie, speel Kaapstad ‘n polsende rol, van spoggerige voorstede tot taai agterstrate. 

Kasselman is ‘n beleërde man. Hy is skraal, maar sy dokter is nogtans ontevrede met sy bloeddruk, cholesterol en dies meer. Hy is op ‘n streng dieet van rou wortels en sousbone, die enigste items op die dokter se lys wat hy kan bekostig. Hy het die filters van sy sigarette ophou afbreek en probeer ook om minder te rook, te midde van vele frustrasies en doodloopstrate in sy beroepslewe.

Soos dit V misdaadriller betaam, wemel die boek van oortuigend getekende, testosteroongedrewe stereotipes, elk met sy swak, soos Spike Vorster, die suiplap-joernalis op pad na nêrens; die dobbelverslaafde private speurder Petrus Pelser; die hoerverslaafde sakereus Mike Duvenage. Daar is die gebruiklike magspeletjies in die polisiediens, met bevelvoerders wat V briljante, onkonvensionele speurder aan bande lê met ’n lastige klem op papierwerk. 

Daar is heelwat bloed en sweterige seks. Daar is ook ‘n ander, veel ouer verhaal wat tussen die bladsye ontvou: Die voorval in die verlede waaroor ‘n groepie mans ‘n bloedeed van swye gesweer het. Die onnoembare, sielsvernietigende wreedheid waaraan seuns tydens diensplig blootgestel is en die wyse waarop dit dekades later steeds lewens verwring, is ‘n onderwerp waaroor daar nog lank geskryf gaan word.

‘n Fassinerende newetema is dié van kunsvervalsing. ‘n Vars geverfde Irma Stern, nogal in akriel, haal op ‘n veiling ‘n rekordprys van R37 miljoen. Kassie Kasselman reken hy sou nie so iets aangekoop het nie, al was die prys net R100.

Die skrywer vervleg met gemak perspektiewe. Die leser bevind haar soms in die kop van die moordenaar en sien deur sy kil oë hoe die loodpunt die vel tussen die slagoffer se wenkbroue breek en die skedelbeen met ‘n dowwe kraakgeluid deurklief, hoe die bloedsproei ‘n rooi spikkelpatroon teen die wit muur maak. 

Dan weer in die lyf van (‘n volgende) slagoffer, met ‘n dowwe knal wat in jou ore weerklink, ‘n steekpyn wat in jou bors brand, warm vloeistof wat in jou keel opstoot terwyl jy vorentoe tuimel en die grond met ‘n slag tref. Onmiddelliker en meer grafies kan jy kwalik kry. 

Dit is asof hierdie naelbyt-misdaadriller homself lees, sommer in die loop van ? enkele nag. Die taalgebruik is soepel en ekonomies, sonder ‘n sweem van kosbare mooiskrywery, en die pas is flink. Die dialoog oortuig klinkklaar. Van Rensburg het ‘n gemaklike greep op humor en ironie. 

Die leser vlieg veilig, in bekwame hande. Die ontknoping verras en bevredig: Die verwaandes kry op hul baadjie en kaptein Kassie verorber vir ‘n slag weer ‘n paar hamburgers en pizzas in stede van die windmakerige sousbone waaraan hy langtand gesluk het. 

Eie aan die genre van James Bond, is hierdie ‘n “mansboek”. Onvermydelik makeer die vrouekarakters substansie en word hulle in geykte terme beskryf, soos die manne daarvan hou: “Haar borste is ferm, die tepels erek en rosig. Die haardriehoekie tussen haar bene skitter soos goud.” Maar aanhangers van onverdunde misdaadfiksie verwag immers niks minder nie.

Netjies, naatloos en onvermydelik ontmoet die storielyne uiteindelik. Daar is ‘n verlossende skeppie metafisika: Intuïsie en toeval speel ‘n beduidende rol, soos in die regte lewe. Oor die beste ontdekkings struikel ‘n mens terloops. Kopskoot is ‘n koningsmaal vir misdaadvrate.

Deborah Steinmair is ’n vryskutskrywer.

By Vryfees in Bloemfontein

Posted on: May 8th, 2014 by admin No Comments

Nuwe talent in spanningsgenre

Van Rensburg Patoloë Boekefees
Prys: Gratis
Tydsduur: 50min
Ouderdom en taal: Geen
Plek: Van Rensburg Patoloë-Diakonale Lokaal 1 (Van der Merwe-Scholtz-saal)
Misdaadromans skiet soos paddastoele op, maar resensente is dit eens: Min skrywers kan by die nuwelinge Rudie van Rensburg en Irma Venter kers vashou. Kom luister wanneer dié twee met Charles Smith gesels oor spanningsromans, die uitdagings wat die genre bied, en die oorgang van joernalistiek na romanskryf. Oud-Bloemfonteiner Rudie se tweede roman, Kopskoot, verskyn in Mei vanjaar, en Irma se derde spanningsroman, Sondebok, is in September op die rak.
In samewerking met NB-uitgewers.  Saterdag 19 Julie 2014 om 11:30

Finaliste vir pryse bekend gemaak – Rapport – 27.04.2014

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Die finaliste vir die Media24-boekpryse, onder meer die Jan Rabie-Rapport-boekprys, is pas ­bekend gemaak.

Die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse fiksie is Koljander van Carié Maas (Human & Rousseau), Slagyster van Rudie van Rensburg (Queillerie) en Valsrivier van Dominique Botha (Umuzi, Ran-dom House Struik).

Die prys word aan die beste debuut- of vroeë werk van ’n Afrikaanse fiksieskrywer toegeken wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het.

Die res van die pryse word toegeken slegs aan boeke wat deur Media24­uitgewers gepubliseer is. Die drie titels op die kortlys van die W.A. Hofmeyr-prys wat vir Afrikaanse fiksie toegeken word, is Donkerland van Kerneels Breytenbach en Deon Opperman (Tafelberg), Klimtol van Etienne van Heerden (Tafelberg) en Wolf, wolf van Eben Venter (Tafelberg).

Sister-Sister deur Rachel Zadok, Shadows deur Novuyo Tshuma (albei Kwela) en Water Music deur Margie Orford (Jonathan Ball) is die drie finaliste vir die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie.

Die drie aanspraakmakers op die Elisabeth Eybers-prys wat aan Afrikaanse en Engelse digkuns toegeken word, is Chokers en Survivors van Nathan Trantraal (Kwela), Hierdie mens van Wilma Stockenström en Kaar van Marlene van Niekerk (albei Human & Rousseau).

Op die kortlys vir die Recht Malan-prys vir Afrikaanse en Engelse niefiksie is Into the River of Life: A Biography of Ian Player deur Graham Linscott (Jonathan Ball), Irina Filatova and Apollon Davidson se The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era (Jonathan Ball) en The War at Home/Die oorlog kom huis toe, waarvan Albert Grundlingh en Bill Nasson die redakteurs was. Laasgenoemde is uitgegee deur Tafelberg. Die pryswenners word op 6 Junie aangekondig.

Die speurder is geen macho-held – Die Burger – 21.03.2014

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Al slaan Afrikaanse speurverhale deesdae soos padda­stoele op, is een debuut deurgaans aangeprys as “ ’n verrassing”, “verwikkeld” en “indrukwekkend”. Boonop is die oud-joernalis Rudie van Rensburg se Slagyster ’n deksels lekker leeservaring. Elmari Rautenbach vra hom uit.

ER: Ongetwyfeld die hoogtepunt van jou debuut-speurroman Slag­yster is jou speurder. Deborah Steinmair beskryf hom in haar LitNet-resensie as: “Hy is geen Bond nie – sy drankie is groen Crème Soda; hy is middeljarig en maksimaal uncool.” Self skryf jy: “ ’n Skelrooi windjekker met ’n oliekol op die linkerbors hang sakkerig aan sy maer gestalte, die gestreepte blou dassie is kort ­geknoop, ’n stuk harige maag loer by die gekreukelde hemp uit waar een knoop ontbreek en wit sokkies steek uit onder ’n te kort swart langbroek.” Waar, o waar kom ­Inspekteur Kassie Kasselman ­vandaan?

RvR: Ek wou wegbeweeg van die tradisionele macho-speurder. Kassie is die onwaar­skynlike held: sosiaal on­beholpe, ietwat van ’n introvert, slordig, oorbehep met sy posseëlversameling en versot op boeremusiek. Sy groot ­voordeel is dat mense hom ­hopeloos onderskat, wat weer aan my ander moontlikhede bied as wat ’n skrywer sou hê met ’n konvensionele held.

ER: En het jy dit so bedoel dat ­Kassie dikwels die draer van humor is? In een toneel daag Kassie by die ondervraging van twee hovaardige Kaapse sakemanne op sonder ’n pen. Ná die tyd voel die man in sy baadjie se binnesak. “Kan jy glo die klein doos het my goue Parker ­gevat?!”

RvR: Ek probeer nie doelbewus humoristies skryf nie, maar Kassie se unieke persoonlikheid en gepaardgaande ­verstrooidheid help om dit soms natuurlik te laat gebeur!

ER: In die sogenaamde Goue Era, aan die einde van die 1920’s, het die Oxford-misdaadskrywer Monsignor Ronald Knox sy nou bekende ver­eistes vir die misdaadroman neer­gepen. Hierin sê hy onder meer die boef moet vroeg in die storie genoem word, maar daar mag nie gesê word wat in sy kop aangaan nie. Deon Meyer sê altyd daar moet ’n moord binne die eerste paar blaaie wees. Jy het sommer met die ­intrapslag ’n paar boewe en ’n paar dooies en daarvandaan gaan dit net rowwer. Het jy ooit bewustelik ­volgens die klassieke formaat van ’n speurroman geskryf?

RvR: Nee, ek wou een skryf wat verskil van enigiets wat ek nog in daardie genre gelees het. Die resepmatigheid van veral ­sommige Amerikaanse speurverhale het my juis dié besluit laat neem. Daarom dat ek ­Kassie ook relatief laat in die boek aan die leser voorstel.

ER: Knox se finale vereiste is geen tweelinge of dubbelgangers nie, en geen Chinees . . . Jy het geen Chi­nese in jou boek nie, maar daar is ’n verwysing na die Taliban, heelparty Nige­riërs, gyselaars, ’n oud-recce, smokkelaars, ’n polisiemol, ’n blonde joernalis en dan onse Kassie. Hoe het jy tred gehou met al die ver­skillende karakters en hul stories?

RvR: Die verskillende karakters het maar ontstaan soos wat ek met die verhaal gevorder het. Baie van hulle was nie in my oorspronklike storieplan nie. Ek het wel soms ’n paar ­aan­tekeninge in ’n notaboek ­gemaak om kop te hou.

ER: Dink jy jou agtergrond as joernalis – aanvanklik by Volksblad en later as redakteur van die destydse tydskrif Die Ekonoom – het jou ’n goed ontwikkelde nuusneus gegee?

RvR: Beslis. My tyd as veral dagbladjoernalis was die ­wonderlikste in my lewe. Daar is my nuussin gevorm en ­ontwikkel, wat uiteindelik ook ’n groot bate was by die skryf van in die besonder dié roman.

ER: Jou kort hoofstukke, vinnige pas en die manier waarop ’n netwerk bykarakters in elke “nuwe” storielyn teen ’n ander agtergrond uitgebou word – net om uiteindelik ineen te strengel is in die pas met die ­internetgenerasie se behoefte aan korter en meer visuele skryfwerk. Jy skilder nie ver

niet die afgelope 23 jaar nie!

RvR: Ek is versot op boeke met verskillende verhaallyne wat aanvanklik nie inmekaar “pas” nie en dit is seker die grootste rede waarom ek so ’n struktuur aangedurf het. My skilderwerk het ’n invloed op my skryfwerk. Ek dink altyd in terme van prentjies. My uit­daging is om dit dan in woorde om te skakel.

ER: Jou storie raak aan heelparty warm kwessies in vandag se nuus: olie in Nigerië, wapensmokkelary in Somalië, witboordjiemisdaad in Kaapstad, maar die situasies word só sappig en só spannend beskryf dit klink of jy self al aangehou is in ‘n bar riethok! Waar en hoe het jy oral navorsing gedoen?

RvR: Omdat ek nooit self in die geweldgeteisterde olievelde van Nigerië was nie, waar een van die storielyne afspeel, moes ek uiteraard baie navorsing doen. Uiteindelik het ek net 5% van die navorsing in die boek ­gebruik, maar die breër agtergrond het my gehelp om geloofwaardig oor die omstandighede te skryf. In die gyselaarsdrama het ek myself net in die skoene van die gyselaar geplaas en hom laat reageer soos ek sou gedoen het. Navorsing help my om ander moontlikhede raak te sien en verskaf soms onverwags ’n saadjie vir ’n nuwe wending in my verhaal.

ER: Jou tweede boek, Kopskoot, verskyn in Mei, ook met Kassie ­Kasselman. Beplan, of toevallig?

RvR: Ek het nie regtig aan ’n reeks beplan nie, maar het dit só geniet om Kassie te skep dat ek hom nou nie weer wil los nie.

Speurverhale meer as net sosiale kommentaar – Die Burger – 7.01.2014

Posted on: May 1st, 2014 by admin No Comments

Deur Willem de Vries

KAAPSTAD. – Die Skotse ­skrywer Ian ­Rankin sê hy lees graag ­speur­spanningsfiksie om ’n gevoel te kry van hoe ­sake in ’n land daaruit sien.

Dit laat ’n mens wonder oor die mate waarin dit vir ­Afrikaanse speurspannings­­ver­hale geld, en meer nog: ­Herken lesers Suid-Afrika in die sosiale kommentaar in ­misdaad­romans? Is dit ­betrokke ­lite­ratuur?

“Ek dink ’n mens moet ­versigtig wees wat jy eintlik hier met ‘betrokke’ bedoel,” sê Willie Burger, hoof van die ­departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

“Eintlik is populêre fiksie by uitstek nog altyd ‘betrokke’ by die eietydse sosiale probleme. Dit word juis daarin geplaas.”

Die speurspanningsverhale in Afrikaans wat die laaste klompie jare verskyn het, is ­beslis as ’n soort betrokke ­litera­tuur te begryp, meen ­Kerneels Breytenbach, ’n skrywer en ouduitgewer. Hy wys daarop dat onder andere Deon Meyer se verhale ook in die ­sosiaal-politieke problematiek van ons land ingegrawe is.

Burger sê sosiale kommentaar as sulks is nog nie ­betrokke skryfwerk nie.

“Sosiale kommentaar is ­natuurlik nog nie ‘betrokke’ in die eksistensiële sin wat die woord spesifiek in die 1950’s ­gekry het nie,” sê hy. (Sartre se pleidooi in sy essay “Wat is ­literatuur?” vir betrokkenheid deur die skrywer het in 1947 verskyn.)

“Daardie betrokkenheid ­behels meer as bloot sosiale kommentaar – dit is die soort werk wat ’n appèl op die leser maak om ‘betrokke’ te raak, om besluite te neem en jou eie lewe in ’n rigting te stuur.

“Ek dink wel dat baie van die huidige speurrillers sosiale kommentaar gee, selfs vrae vra oor moraliteit in die same­lewing: Dink maar aan Infanta van Deon Meyer wat op ’n ­interessante manier eintlik ­ondersoek waar die reg van die individu lê om misdaad te straf  – spesifiek in omstandighede waarin dit voorkom asof die regstelsel nie daarin slaag om boewe aan die pen te laat ry nie.

“Maar ’n mens moet ook ­onthou dat alle ontspannings­literatuur eintlik altyd ‘betrokke’ is in die sin dat sekere ­samelewingswaardes meestal daardeur bevestig word: Die liefdesroman bevestig dat die ware liefde alles oorwin, die speurverhaal dat boosheid ­uiteindelik hokgeslaan word, en so meer. So in die sin dat spesifieke samelewingswaardes tegelyk deur populêre fiksie ondersteun word en dit ook uitdruk, maak dit betrokke.”

Vir Breytenbach is die opmerklik hoe “naatloos sosiale kommentaar en sosiale bewussyn ingeïntegreer word by ­verhale wat eintlik effens wars van die gebruiklike patrone van misdaad- en spannings­verhale staan”.

“Drie daarvan moet genoem word: Die twee lewens van ­Dieter Ondracek [André ­Krüger], Moord in die beloofde land [Francois Bloemhof] en Die slagyster [Rudie van Rensburg].”

Wat populêre fiksie ­dikwels doen, is om ver­anderings wat in die gemeenskap plaasvind te ondersteun, volgens Burger.

“Jy lees dalk ’n lekker liefdesroman en jy ken die formule en hou daarvan en voel dus ­gemaklik daarmee, maar nou is die hoofkarakters van verskillende rasse of dalk van dieselfde geslag en sodoende word die leser, binne die bekende raamwerk van die soort fiksie waarvan hy/sy hou en waarin die leser veilig voel, gewoond aan veranderings in die same­lewing. In hierdie sin was populêre fiksie – en die speurverhaal ook – nog altyd ‘betrokke’.”

As voorbeeld noem hy Chris Karsten se ’n Man van min ­belang, “wat ’n soort misdaadrillerformule volg, maar ook die veranderings in die land, spesifiek rondom waarheid en versoening ten opsigte van ­vergrype van die verlede aan bod stel op ’n manier wat die ­leser betrokke maak”.

Wat in die speurspanninsgenre gebeur, is ’n soort ver­halelaboratorium waar beskouings oor hoog en laag in die letterkunde omskep word.

Die groot gaping tussen so­genaamd hoog en laag is in ’n sekere mate te wyte aan die hoogbloei van die Modernisme, verduidelik Burger. “Die eksperimentering en die ondermyning van so baie van die konvensies van die 19de-eeuse realistiese romans het bygedra tot die vervreemding van talle ‘gewone’ lesers wat hierdie boeke ‘moeilik’ vind.

Boonop is die nie-eksperimentele en populêre fiksie dan deur sommiges as ‘minderwaardig’ beskou, of ten minste nie as ‘bestuderenswaardig’ aan universiteite nie.

Al die kultuurprodukte, of dit nou as letterkunde of as literatuur bekend staan, kan ­bestudeer word. Die om­standighede waarin dit ontstaan en die funksies wat dit vervul, asook die vorm en temas daarvan, bevestig hy. “In hierdie omstandighede het die gemaklike grense tussen hoog en laag toenemend verdwyn.”

Vir iemand soos Rankin bied ’n Suid-Afrikaanse skrywer soos Meyer ’n interessante blik op dinamieke en kwessies in Suid-Afrika. Vir ’n Suid-Afrikaanse leser kom ’n kritiese ­ingesteldheid oor jou plek in die land met die lees van só ’n boek by.

Wat Rankin en ’n Suid-Afrikaanse leser in, arguments­onthalwe, ’n Meyer-roman as feit of as fiksie belewe, is stof vir ’n ander speurtog.

Sosiale Netwerke


css.php Top