Archive for June, 2017

Kamikaze-momentum eenvoudig onstuitbaar – Jonathan Amid – Die Burger/Volksblad/Beeld – 5 Junie 2017

Posted on: June 8th, 2017 by admin No Comments

Ná vier konsekwent goeie misdaadromans is Rudie van Rensburg terug met Kamikaze. Soos elk van die vorige eenwoordtitels die verbeelding aangegryp het –Slagyster, Kopskoot, Judaskus en Pirana – is Kamikaze die skrywer se ambisieusste en donkerste wêreldbeskouing tot nog toe.

Kamikaze ondersoek eietydse kwessies soos terrorisme en spioenasie (en die opgang van die terreurgroep Isis), wapenhandelsindikate en die verspreiding van “grys” of vervalste medisyne.

Die vraag van veiligheid oor landsgrense heen, en die rol van agentskappe soos die Staatsveiligheidsagentskap, figureer sterk. Hier knipoog Kamikaze en Mike Nicol se Staatsrotte vir mekaar.

Een van Van Rensburg sy sterkste punte, prominent uitgestal in Judaskus en Pirana, is sy meesterlike uitbeelding van dít aan die verkeerde kant van die gereg. Chris Karsten, byvoorbeeld, het ’n eiesoortige fassinasie met die donker kant van die menslike psige. Daarteenoor is Van Rensburg se swernote en skarminkels banaler, komieser in hul absolute alledaagsheid. Hulle is immer herkenbaar in hul onversadigbare ambisie, blinde kolle, hebbelikhede en morele gebreke.

Kamikaze het ’n yslike dramatis personae, maar vir hierdie leser het die logge skobbejak Claus Prins (lieflike benaming!) die kroon gespan. Verder is daar ook bobaastoneelspelers met mag en aansien wat dreig om die kollig van die besadigder geregsdienaars te steel.

Wees ook gerus bedag op die kostelike Moos Uys, die groentjie-staatsveiligheidsagent wat homself in die personae van geskiedkundige spioene soos Richard Sorge verbeel. Met die werk se gehawende Golf, sy kanniedoodhouding en sy swakheid vir ’n mooi vrou is Uys dalk net my gunsteling van Van Rensburg se karakters sedert Judaskus se Jackal Williams.

Wat veral opval in hierdie Kasselman-dossier is die kaalvuisondersoek na die aard van misdaad onder die apartheidsbedeling, en die kontrasterende soorte misdaad kenmerkend van die postapartheidsamelewing. Waar die polisie onder apartheid die groter orde in stand moes hou, duidelik deel was van die staatsmasjinerie as “mag” eerder as “diens”, en veel minder op individuele misdade gefokus het, het die situasie nou grootliks verander.

Wat blyk uit Kamikaze – weergegee in sekuur dialoog asook in die handeling van karakters – is dat behalwe vir die “bestuur” van protesoptrede, die meeste polisielede steeds nie opgelei is om basiese take uit te voer nie. Van Rensburg se ondersoek na die bevoegdheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), grootskaalse korrupsie en ’n beduidende gebrek aan leierskap binne die organisasie, is ver verwyderd van die simpatieker blik in Deon Meyer se 13 uur, 7 dae en Kobra.

So gepraat van geregsdienaars: Kamikaze se titel dui nie slegs op die verskillende vorms van roeke­lose/wettelose gedrag in die roman, tesame met enige raakpunte met die Japannese vegvlieëniers en moderne selfmoordbommers nie. Lees eerder die titel as kode vir die etiese keuse(s) wat die speurder konfronteer. Van meet af aan is Kassie emosioneel afgerem en gekwel oor sy toekoms – hy oorweeg bedanking uit die SAPD.

Uiteindelik sal Kassie tussen twee uitdagende opsies moet kies.

Kassie as kamikaze, as buiteperd, as verteenwoordiger daarvan wat binne, maar ook veral buite die gereg staan, verpersoonlik die stryd tussen die goeie en die bose – die stryd van speurder teenoor moordenaar, die aartsbooswig Die Pion, Meester van die Dood. Hierdie kliniese moordenaar is die soort wreedaard wat nog nie vantevore in Van Rensburg se oeuvre kop uitgesteek het nie. Die skrywer gaan delf diep en ontstellend in die randeier se verlede en kinderdae; hier kom die psigopaat letterlik tot verhaal, op elke denkbare wyse.

FYNPROEWERS SAL LET OP DIE ‘GESPREK’ TUSSEN VAN RENSBURG EN KARSTEN SE HUURMOOR-DENAAR, LOOD.
Fynproewers sal let op die “gesprek” tussen Van Rensburg en Karsten se huurmoordenaar, Lood. Van Rensburg het onlangs verklap dat hy ook in sy karakterisering van Die Pion by niemand anders as Wladimir Poetin “geleen” het nie. Die spel tussen die berekende Pion en die begaafde takhaarspeurder herinner sterk aan die intellektuele raaiselwaarde en spel tussen Holmes en Moriarty, wat so bekoor (het) in ­Arthur Conan Doyle.

Kamikaze se slotwending beloof om lesers aan die gons te hê. Meer durf ek nie verklap nie. Ook nie meer as ’n proesel oor die “kamikaze” wat op sy oudag met Kassie se ma wil trou nie, en oor die rituele wat Die Pion daagliks beoefen nie.

Kamikaze is by tye skreeusnaaks, vanweë Van Rensburg se vernuftige omgang met taal en sy karakters se onbeholpenheid. Tog is Van Rensburg g’n roekelose kamikaze nie; sy verhaallyne ontwikkel sorgvuldig en organies. Die oog vir detail en historiese inkleding het my aan Jo Nesbø herinner. Elke deeltjie van die legkaart word in die verhaal ingebed, met die momentum eenvoudig onstuitbaar. My enigste kritiek is dat daar nie genoeg vroulike karakters is wat met veel eer uit hierdie stryd tree nie.

Wat egter lank ná hierdie roman – ’n fiktiewe skaakspel met die leser se emosies en intellek – sal bybly, is die bereidwilligheid om te vernuwe aan sy resep, om grootskaalse ontnugtering te boekstaaf. Om morele verval op te teken. Om die temperatuur te neem van ’n samelewing waar die spreekwoordelike paddas lankal in die pot oorgekook het.

Kamikaze, op sy beste, is ’n klinkklaar aanklag teen enigeen wat durf waag opper dat fiksie tweede viool teenoor nuus of niefiksie moet speel.

Baasspeurder Kasselman weer op sy stukke – Deborah Steinmair – Rapport – 4 Junie 2017

Posted on: June 8th, 2017 by admin No Comments

Krimi-lesers is gek na Nordiese noir, maar Mzansi-misdadigheid hoef nie ’n tree terug te staan nie. In Afrikaans het misdaadlesers ‘n smorgasbord of dan ’n braaibuffet van wêreldklas-aanbiedings om uit te kies.

Een van die voorste spanningwewers ter plaatse is Rudie van Rensburg. ’n Nuwe Van Rensburg-riller is net die doepa vir ’n lang wintersnag. Wees gereed om gewetenloos tot rooidag uit die slaap gehou te word deur eksentrieke, konkelende, skurkagtige karakters, asook Israeliete sonder bedrog en haarfyn storielyne.

 Die verleidelikheid is in die detail: ’n Jasser Arafat-serpie, gevlerkte springbokboud, ingelegde frikkadelle, Johnnie Walker, ’n seëlversameling, ’n vastrappolka van Taffy Kikillus, Lucky Strikes.

Benewens naelbyt-spanning is daar droë humor en menslikheid. Dis ’n resep wat Van Rensburg vervolmaak het in hierdie vyfde Kassie Kasselman-roman.

In en om Kaapstad raak die wêreld te warm vir ’n hele paar skurke. Claus Prins alias Herklaas Prinsloo is een van dié wat begin sweet soos ’n vark. Dan is hy boonop ’n stres-eter en ernstig oorgewig, hy dra serpe omdat sy vriendin daarvan hou, skink negeuur in die oggend al whiskey en steek een sigaret met die ander een aan.

Hy is die eienaar van Prins Pharmaceuticals, ’n maatskappy wie se aansienlike winste nie uit wettige medisyneverkope kom nie. Sy vriendin Macy bied ook rede tot kommer. Sy is wulps en verleidelik en sy vennote, Ivan die Rus en Brian Beukes, loer na haar – en meer. Macy kan nie eens water kook nie en hang verkieslik heeldag in die winkelsentrums uit met sy kredietkaarte. Maar dis die minste van sy bekommernisse: ’n Ondersoekende joernalis steek sy neus in Prins Pharmaceuticals se sake. Fred Smuts moet stilgemaak word.

Op aanbeveling van een van Macy se pelle uit haar paaldansloopbaan kontak Claus die opdraggewer van Die Pion, ’n gesiene huurmoordenaar.

Smuts is ’n vryskutverslaggewer op ’n sending: om korrupsie te ontbloot. ’n Man met ’n missie. Hy het sy eie geld en reis deur Afrika op die spoor van die vervaardigers en verspreiders van vervalste medikasie en pille verby hul vervaldatum wat miljoene mense se lewe eis. Prins Pharmaceuticals en hul grysmedisyne is in sy visier. Maar dan word hy in sy suster se huis oorval deur ’n skralerige man met dooie oë.

Moos Uys is ’n junior veldagentjie by die SSA, ’n staatsveiligheidsagentskap. Hy word verteer deur die brandende ambisie om baasspioen te word. Hy het ’n ensiklopediese kennis van meesterspioene in die geskiedenis; sy rolmodelle. Hy is fors en bebrild en sit dae lank roerloos in sy Golf met biltongbroodjies en fleskoffie om Suleiman Khan se huis dop te hou. Imran Hafeez, ’n Pakistani wat in Sirië woon en noue bande met die Islamitiese Broederskap het, het daar besoek afgelê toe hy in Suid-Afrika was – en Moos moet uitvind waarom.

Moos is gefokus en geduldig en vat met groot geesdrif die spoor, op sy eentjie. Ongelukkig waardeer die owerhede nie individualiteit, inisiatief, voortvarendheid en ambisie nie; dit kan net met die soustrein inmeng.

Van Rensburg se minlike anti-held, baasspeurder Kassie Kasselman word nog steeds oral onderskat en op die oog af te lig bevind – niemand sien hom aankom nie. Hy dra steeds ’n rooi windjekker, hoogwaterbroek en wit sokkies en lek sy hare met haarroom plat.

Hy rook Luckys (hy stel sy wekker by die werk om rooktyd aan te dui sodat hy nie meer as 15 per dag rook nie) en drink Cream Soda. Sy passies is filatelie, Boeremusiek en die SAPD. Maar oor laasgenoemde is hy nie meer so seker nie, veral ná ’n oproep van ’n oudkollega wat hom ’n aanloklike pos aanbied.

Hierdie oproep en die ooglopende onbevoegdheid en gekonkel in die polisiediens spook by hom. Sy lessenaar is min of meer tot teen die plafon vol dossiere. Hy en sy vennoot, Rooi Els, word onder meer getaak met die ondersoek na Fred Smuts se dood. Soos gewoonlik skop hulle in die proses verskeie perdebyneste oop.

Van Rensburg het weer ’n kopskoot afgevuur. Reeds op die voorblad pryk pille, ’n paaldanser, ’n galgtou en ’n putboel-terriër. Die inhoud stel nie teleur nie. Die karakters is volrond, menslik, skurkagtig of opreg, maar met swakhede en obsessies wat die leser vasvang. Die booswig, Die Pion, is optimaal grieselrig en veral vreesaanjaend omdat hy met sy eie demone stoei. Hy is meer as ? huurmoordenaar; hy het sy eie grillerige rituele.

Langs die pad rol ’n hele paar koppe, soms tot hierdie leser se ontsteltenis, want dis nie net boewe wat indirekte skade word nie. Die pas is blitsig en die einde besonder bevredigend. Van Rensburg kom sy kontrak met mening na en weef misdaad uit die boonste rak.

Kamikaze deur Rudie van Rensburg: ’n resensie – Maryke Roberts – Litnet

Posted on: June 8th, 2017 by admin No Comments

Kamikaze is Van Rensburg se vyfde roman, na PiranaSlagysterKopskoot en Judas. Die speurder, kaptein Kassie Kasselman, en sy kollega, Rooi, is weer terug met nog ’n gruwelike moordenaar om te vang.

Maar in hierdie boek is Kassie nie sy toegeeflike, gelukkige werknemer-self nie; hy is kriewelrig. Hy is al sy hele lewe lank ’n polisieman, wat ontmoedig voel met alles wat hy in die media oor sy geliefde SAPD lees, hoor en met sy eie oë sien en ervaar in kolonel Daniels se kantoor by die Nuweland-stasie.

Hy is in die middel van ’n loopbaankrisis toe die oproep met ’n werksaanbod kom, en terwyl hy met al hierdie innerlike woelinge worstel, kom hy teen die grieseligste moordenaar nóg te staan.

Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medikasie, wat ook Kassie se aandag verg. Voeg hierby spioenasie, huurmoord, parlementêre wapenhandelkorrupsie, die skemerwêreld van die ontkleeklub en ’n koue, berekenende reeksmoordenaar en jy gaan beslis wil lees tot die skuldiges aan die pen ry.

Van Rensburg se debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.

Dis duidelik dat die skrywer gemaklik in sy genre is. Hy ken die fyner nuanses van spanning en sy bekwaamheid as boeiende storieverteller, en vermoë om net genoeg te verklap om jou aandag gevange te hou, maak van hom ’n lekkerlees-outeur.

Hy is ook geen vreemdeling vir behendige taalvaardigheid nie: met ’n joernalistieke loopbaan, skakelwese en ’n bekroonde toneelstuk op sy kerfstok is dit geen wonder nie.

Die joernalis in sy bloed sien klein goedjies soos die fabrikate van motors, sigarette, koeldranke en drank, die kleur van hare en klere en die kilheid in ’n moordenaar se oë raak. Daar is soveel klein besonderhede verweef wat regtig bydra tot die gehalte van die inhoud, sonder dat jy dit agterkom.

Ek het geweldige waardering vir goeie taalgebruik, vir ’n selfvertroue oor goeie sinskonstruksie en woordkeuses, en beslis vir navorsing en feitelik korrekte inligting, selfs in fiksie. Daar skuil geweldig baie navorsing agter hierdie boek, maar baie lesers sal dit nie noodwendig opmerk nie. Die boek se pas is vinnig en opwindend en elke hoofstuk bied meer insigte in die karakters en hoekom hulle op sekere maniere optree en sekere besluite neem.

Die karakters is ook nie jou alledaagses nie. Waar kry jy ’n polisiekaptein wat só vaal is dat hy meestal deur sy kollegas én misdadigers onderskat word en as stokperdjies aan ’n boeremusiekgilde behoort en seëls versamel? Of ’n jong spioen wat ’n verbysterende kennis van die spioene van weleer het en elke nuwe taak aanpak met ’n vergelyking van hoe dit jare gelede deur ’n bekende spioen aangepak sou word?

Die ontvouing van die huurmoordenaar se tragiese lewensverhaal wil jou amper simpatie met hom laat kry – maar net tot hy sy volgende onskuldige slagoffer vermoor.

Van Rensburg het ’n vermoë om die karakters voor jou oë lewe te gee. Jy is jammer as een van hulle uit die storie geskryf word.

Ek hoop daar is nog ’n lang loopbaan voor vir kaptein Kassie Kasselman. Maar sluit maar jou voordeur en sit die alarm aan voor jy die boek begin lees. Daar is ’n paar oomblikke waar jy al die vensters se knippe wil nagaan en jou hart wild in jou borskas bons.

Kamikaze: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg – Naomi Meyer – Litnet

Posted on: June 8th, 2017 by admin No Comments

’n Telefoonoproep het Kassie Kasselman nuut laat dink oor sy loopbaan. Maar jou lesers is bly hy’s terug – as speurder in Kamikaze, jou jongste roman. Is hy terug om te bly, Rudie?

 Kassie is hier om te bly –- al gaan hy moontlik vorentoe ’n loopbaanskuif maak. Met elke nuwe roman probeer ek hard om nog ’n dimensie by my Kassie-karakter te voeg – gewoonlik deur ’n nuwe persoonlike probleem voor sy deur te lê. Omdat my boeke nooit net uit Kassie se perspektief vertel word nie, gee dit hom ’n langer “rakleeftyd”. Dalk sou ek al uitgeskryf gewees het aan Kassie as hy heeltyd die sentrale karakter was.

Ek vra jou oor Kassie, want ek weet hy is een van die redes waarom lesers terugkom. Hy raak nog net so opgewonde oor sy seëlversameling soos altyd en hy snuffel altyd ’n misdadiger uit wat hom fassineer – dalk weens dié se ooreenstemmende passie vir seëls. Maar hy is net een van die redes. Jou skryfstyl en stories is natuurlik ander baie belangrike redes. Jou stories het ook baie meer sentrale karakters as net Kassie, soos jy pas gesê het, en ook hulle is interessant om te leer ken. Vertel my van sommige van die ander karakters in Kamikaze en hoe hulle jou pad gekruis het.

Die Pion, die moordenaar in die verhaal, is heel moontlik die interessantste ander karakter. Om aan sy karakter te slyp, moes ek diep delf in pakke opleidingsmateriaal wat vir die polisie se destydse speurakademie voorgeskryf is en handel oor die psige van moordenaars. Ek wou nie net bloot ’n moordenaar uit ’n mens se nagmerries skep nie, maar een met ’n geloofwaardige geskiedenis eie aan hierdie spesifieke soort moordenaars in die opleidingsmateriaal –  ’n erg versteurde en donker mens wat reeds as kind die pad byster geraak het oor ’n teleurstelling in sy persoonlike lewe. Van sy ander eienskappe het ek by Rusland se Vladimir Poetin “geleen”, wat self ’n eienaardige skepsel is. ’n Ander interessante karakter is Moos Uys, die ywerige groentjie-agent by die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap, wat sy eie handelinge  vergelyk met dié van baasspioene uit die verre verlede wanneer hy ’n komplot van ’n radikale Islamitiese groep ondersoek. Sy onderduimse en korrupte baas, Abdul Koopman, steek egter ’n stokkie voor sy ondersoek, wat arme Moos duur te staan kom, maar aan Kassie deurslaggewende leidrade verskaf. Dan is daar ook Claus Prins, baas van ’n sindikaat wat vals medisyne smokkel, sy ontroue meisie, Macy, ’n gewese paaldanser, en Ivan, die sindikaat se gewetenlose spiertier en voorheen ’n uitsmyter by ’n nagklub.

 Wil jy dalk in ’n sin of twee opsom waaroor Kamikaze handel? Waaroor gaan die storie?

Soos in my ander boeke is daar ook in Kamikaze verskeie verhaallyne wat aanvanklik onafhanklik staan, maar waarvan die grense algaande vervaag en teen die einde by mekaar uitkom. Die boek handel oor spioenasie en wapenhandelkorrupsie, vervalste medikasie en ’n moordenaar met ’n moordloopbaan wat na die apartheidsera terugstrek en Kassie se speurvermoëns tot die uiterste beproef en hom dwing om onkonvensioneel op te tree.

Het hierdie storie ’n spesifieke sneller gehad, of het jy dit geskryf omdat jy baie koerantberigte lees en ook ander navorsing gedoen het, soos jou bronnelys verklap?

Die verhaal het veral twee snellers gehad. Eerstens glo ek dat misdaadfiksie betrokke literatuur is wat die werklikheid moet weerspieël van wat in ’n land aangaan. In te veel Suid-Afrikaanse speurromans word die polisie voorgehou as ’n goedgeoliede organisasie, wat allermins die geval is – net die feit dat gemiddeld 50 mense per dag in ons land vermoor word, dui op die SAPD se onvermoë om hul burgers na behore te beskerm. Daarom het ek die kernvraagstukke in die polisiediens bevraagteken deur die oë van Kassie, wat ’n ernstige loopbaankrisis beleef. Die tweede sneller vir een van die verhaallyne was ’n groot toevalligheid. Ek het in ’n boekwinkel se niefiksie-afdeling Roger Bate se Phake – The deadly world of falsified and substandard medicines opgemerk. Terwyl ek deur die lywige boek geblaai het, het my oog ’n paragrafie gevang waarin Bate sy verbasing uitspreek dat geen misdaadfiksieskrywer nog die wêreld van vervalste medisyne as ’n tema vir ’n boek gebruik het nie. Ek het die boek dadelik aangeskaf.

Het jy hierdie storie voor die tyd beplan of reeds geweet wat teen die einde (moes) gebeur toe jy dit begin skryf het? Praat bietjie met my oor beplanning voor ’n misdaadroman, asseblief.

Ek soek eerstens na geskikte temas om as agtergrond vir ’n spanningsverhaal te dien, wat gewoonlik baie navorsing verg. Dan skep ek karakters vir hierdie omgewings. Wanneer ek begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verskillende verhaallyne inmekaar gaan skakel, sonder enige formele struktuur waarbinne ek probeer werk. Gewoonlik het ek teen die helfte van ’n manuskrip nog geen idee hoe die verhaal gaan eindig nie, maar ek verkies dit so. Dit is soos om ’n groot avontuur aan te pak. Ek wil die reis nie vir myself bederf deur al te vroeg aan die einde te dink nie. Die storie moet natuurlik soontoe lei.

Kamikaze handel, soos jy gesê het, oor misdade uit die apartheidsera én misdade van vandag. Mens kan maklik sê apartheidsmisdade het te doen gehad met kleur en vandag s’n met korrupsie. Is dit ‘n oorvereenvoudiging? Wat het jy opgemerk terwyl jy navorsing gedoen het – dinge wat ooreenstem, dinge wat verskil? Of maak dit nie juis saak as mens fiksie skryf nie?

Die polisiediens van die apartheidsdae was goed-georganiseerd met verskeie spesialiseenhede. Maar terselfdertyd is hulle nooit gekonfronteer met die hoë misdaadvlakke van vandag nie. Hulle oë was ook nie heeltyd op die misdaadbal gerig nie, maar veel eerder daarop om die apartheidstelsel in stand te hou en politieke opstande te onderdruk. In die proses is onskuldige mense onder andere oor hulle politieke oortuigings vermoor. Deesdae se polisie is nie naastenby so goed opgelei soos hulle voorgangers nie en hul topstruktuur (eers Jackie Selebi en toe Cele en Phiyega) het ’n era van korrupsie en onbevoegdheid gehandhaaf. Hierdie verrotting het deurgesyfer na die polisie op grondvlak. Basiese vaardighede, soos om ’n dossier in te vul sodat oortreders in ’n hof kan verskyn, ontbreek in baie gevalle. Jaarliks is daar miljarde rande se siviele eise teen die polisie weens onwettige inhegtenisnemings en aanhoudings, aanrandings en skietvoorvalle. Dit terwyl die polisiediens onderbeman is en ’n Suid-Afrikaanse speurder gemiddeld drie keer meer dossiere op sy lessenaar het as sy oorsese eweknie. Daarmee beweer ek nie dat ons nie meer funksionele polisiekantore of bekwame polisieamptenare het nie. Trouens, daar is wel nog, maar hulle is ongelukkig dun gesaai. Wat wel ’n feit is, is dat ons huidige polisiediens onder beleg is, en dat veel dringender ingryping van regeringskant nodig is as die “skietplanne” van ons nuwe, breedsprakige minister van polisie.

Vertel my van die Japanse vlieënier wat in ’n selfmoordaanval sy vliegtuig op ’n vyandelike skip laat neerstort het. Waarom het jou boek sy titel aan hom te danke en wie was hy?

Die titel Kamikaze sinspeel eerder op die woord se uitgebreide betekenis van roekelose gedrag met potensieel rampspoedige gevolge.

Het jy ’n skryfroetine of enige spesifieke rituele ten opsigte van skryf?

Ek probeer om ’n baie gedissiplineerde skryfroetine te handhaaf en is soggens van sewe-uur af agter my rekenaar en werk gewoonlik tot drie-uur die middag. Soms doen ek in die aande navorsing vir ’n volgende boek. Ek het geen spesifieke rituele nie, behalwe dat ek my oggendkoerant (in papierformaat) móét lees voordat ek begin werk.

Ek wil vra of jy aan ’n volgende manuskrip werk, maar dalk moet ek eerder vra hoe ver is jou volgende manuskrip …?

Volgende jaar se Kassie-manuskrip is reeds klaar en by die uitgewer. In Oktober vanjaar verskyn daar egter ’n boek van my in ’n ander genre. Dis ’n “asemskepboek” tussen die misdaadfiksie deur, wat lig en humoristies van aard is en nie een reël se navorsing vereis het nie. Hans steek die Rubicon oor handel oor ’n 90-jarige oom wat weier om ouetehuis toe te gaan, maar wanneer hy uiteindelik daar land, maak hy behoorlik amok.

Kassie is, soos ons weet, ‘n kranige seëlversamelaar en sekerlik het jy al baie navorsing hieromtrent gedoen – deel asseblief inligting wat vir jou interessant is oor seëlversameling?

Ek doen heelwat navorsing oor posseëls en span die internet mildelik daarvoor in. Wanneer ek op enige seëlinteressantheid in koerante of tydskrifte afkom, knip ek dit uit en liasseer dit in my “Kassie-seëllêer”. Ek het ook al ’n paar keer met seëlversamelaars kontak gemaak om van feite seker te maak.

‘Misdaadfiksie moet werklikheid weerspieël’ – Willemien Brümmer – Die Burger 27 Mei 2017

Posted on: June 8th, 2017 by admin No Comments

Sy vyfde misdaadfiksieroman, Kamikaze, is pas op die rakke, maar Rudie van Rensburg is reeds besig met sy sewende Kassie Kasselman-roman. Willemien Brümmer het oor middagete met hom gepraat oor vervalste medisyne, die verrotting in die polisie en sy beginjare by Volksblad.

Hy staan by ’n boekwinkel met die boek Phake oor die die dodelike wêreld van vals medisyne in sy hande toe Rudie van Rensburg se oog toevallig op ’n paragraaf val.

Vir dié midaadfiksieskrywer is dit soos ’n rob in die visier van ’n grootwithaai. Die uiteinde is sy vyfde misdaadroman, Kamikaze, wat pas die rakke getref het.

Waar ons in die Arugula Bistro in Welgemoed sit, waar Rudie se seun Neil as ’n sjef werk, lê die roman, vars van die drukkers, tussen ons op die tafel. Geklee in ’n navy hemp en grys jeans is hy ’n uiters galante en beskaafde man.

Nie jou tipiese skop-skiet-en-double clutch machoskrywer nie.

Hy bestel die ontbeende lamsrib sonder om eens na die spyskaart te kyk. Net soos sy beroemde antiheld, die topspeurder kaptein Kassie Kasselman, drink hy geen alkohol nie.

Op 65 is hy egter ’n baie vietser figuur as Kassie met sy kenmerkende rooi windjekker en sy trademark nerfaf skoene en wit sokkies wat onder sy hoogwaterbroek uitsteek.

Hy vee oor sy netjies gesnyde wit baard. “Omdat die boek (Phake) verskriklik dik was en R500 gekos het, het ek nie geweet of ek gaan belangstel nie, maar toevallig val my oog toe op ’n paragrafie van die skrywer, ’n dokter (Roger Bate), dat daar nog nie ’n misdaadfiksiekskrywer is wat hierdie onderwerp as tema gebruik nie, en onmiddellik besluit ek toe ek gaan hierdie boek koop.”

Uit die boek blyk dit toe 700 000 mense gaan jaarliks direk en indirek dood weens vals medisyne in hoofsaaklik Derdewêreldse lande. “Die groot probleem in Afrika is, mense koop nie by geregistreerde apteke nie. Dit word op straathoeke verkoop en op busse en in treine. Dis waar die smouse rondloop en hulle smous met ’n klomp vals goed. Die grootste meerderheid van die medisyne het geen medisinale waarde nie en dit het sekere bakterieë en allerhande slegte goed in omdat dit op ’n vuil manier aanmekaar gesit word.”

Hy lig ’n wenkbrou. “So dis vir my amper snaaks dat niemand nog hierdie ding belig het nie. Voordat ek daai boek in die hande gehad het, het ek ook nie daarvan geweet nie.”

Betrokke literatuur

Vervalste medikasie is egter net een tema in hierdie roman met sy baie systrome wat uiteindelik meesterlik saamgesnoer word. Nog ’n tema is die verrotting in die topstrukture van die polisie en die Staatsveiligheidsagentskap.

Rudie neem ’n sluk van sy lemoensap waar ons by ’n wye venster sit met sy uitsig oor die Laerskool Welgemoed se sportterrein en ’n winkelsentrum. Om ons is die restaurant stampvol met onder meer ’n knieserige baba en ’n ou oom wat in ’n rolstoel aan tafel sit.

“Die een ding wat my pla van spanningslektuur in Suid-Afrika is, ek glo veral misdaadfiksie is amper iets soos betrokke literatuur, met ander woorde dit moet die werklikheid weerspieël van dit wat in die land aangaan. As jy deur die meeste speurverhale en dinge lees, dan lyk dit asof die Suid-Afrikaanse polisie ongelooflik is. Dit het my gepla en dis hoekom Kassie in hierdie boek ’n loopbaankrisis beleef.”

DAAR IS NIE GENOEGSAME BEWYSE IN DIE POLISIEDOSSIERE NIE.
Hy skep asem. “Die groot probleem is dat die meeste polisiemanne op grondvlak nie behoorlik opgelei is om werklik sy burgers te beskerm nie. Die skreiendste ding daarvan is dat twee jaar terug, toe ek begin het met navorsing oor die polisie, het ek op ’n ding afgekom, en dis dat 500 bendeverwante moorde in daai jaar in die Kaapse Skiereiland plaasgevind het. Net 8% daarvan het in die hof geëindig. En die groot rede daarvoor, wat regters, landdroste en staatsaanklaers sê, is dat daar nie genoegsame bewyse in die polisiedossiere is nie.

“Hulle kan nie die saak hof toe vat nie, want die dossiere is onvolledig ingevul. Vandat die spesialiseenhede in die polisie ontbind is, bestaan daar nie meer daai kundigheid om ’n basiese ding soos ’n dossier saam te stel nie, wat skrikwekkend is.”

En nee, dis nie ’n “wit-swart-ding” nie, beklemtoon dié seun van die eertydse minister MC van Rensburg. “Dis ’n vrot polisieding. Dit gaan nie oor daar’s nou swartes in die topstruktuur en daarom gaan dit sleg nie. Die topstruktuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is onbevoeg om hul job te doen. En ek meen, ons almal weet van ons laaste vier polisiehoofde wat korrup was en onbevoeg was om hul werk te doen. Ek het nou onlangs gelees daar’s siviele eise van R14,6 miljard teen die polisie. As hulle moet betaal, sal hulle meer as 3 000 polisiebeamptes moet afdank om by hul begroting te bly in ’n land wat juis onderbeman is deur die polisie. So ons het ’n enorme krisis daar, en nou spog ons nog met ’n breedsprakerige minister (Fikile Mbalula) wat left, rightand centre wil skiet, jy weet.”

Huurmoordenaar én reeksmoordenaar

Te midde van sy loopbaankrisis kom Kassie teen die mees grieselrige booswig tot nóg toe te staan. Hy’s ’n huurmoordenaar bekend as die Pion met ’n moordloopbaan wat terugstrek na die apartheidsera. Wat hom uniek maak, is dat hy ’n huurmoordenaar sowel as ’n reeksmoordenaar is.

Rudie is in sy noppies. “Kerneels Breytenbach, wat altyd my boeke keur, het eenmaal vir my geskryf sodra ’n antagonis amper meer dimensies bykry as die speurder, dan weet jy jy het iets goeds beet. Ek het toe baie hard daaraan gewerk om die Pion ’n unieke karakter te maak, maar ek wou hom ook ’n geloofwaardige karakter maak.”

Hy stoot sy swartraambril agtertoe oor sy neus. “En kyk, ’n huurmoordenaar verskil nie veel van ’n reeksmoordenaar nie, behalwe dat hy dit nou bloot net vir geld doen, waar ’n reeksmoordenaar meer op sy drange en innerlike struwelinge fokus. Ek was baie tevrede uiteindelik met die Pion, want ek het hard gewerk aan hom.”

Sy geurige skaaprib word voor hom neergesit, spesiaal bestel op aanbeveling van sy seun.

In ’n sekere sin is Kassie se loopbaankrisis en karakters soos die Pion nou al vir Rudie ou nuus. Hy het reeds ’n volgende misdaadroman voltooi, met Kassie in sy nuwe loopbaan, en soggens smee hy al aan sy sewende Kassie-boek. Saans doen hy soos altyd navorsing vir ’n nuwe roman.

EK WAG NIE VIR INSPIRASIE NIE, DIT WERK NIE VIR MY NIE.
Boonop het hy nóg ’n roman geskryf wat vir ’n slag niks met misdaad te make het nie. Dis in Oktober op die rakke.

“Dis ’n ander genre, kom ons noem dit onverdunde slapstick. Ek wil nie nou te veel daaroor sê nie. Die uitgewer moet seker die voortou daarmee neem. Al wat ek wil sê, is daar is nog ’n boek en ek het hom in ’n rekordtyd geskryf: twee en ’n half maande.”

Soos sy goeie vriend Deon Meyer, saam met wie hy destyds by Die Volksblad, die Universiteit van die Vrystaat en Sanlam se reklame-afdeling gewerk het, handhaaf hy ’n streng skryfroetine.

“Dis ’n nalatenskap van my koerantdae af. Die Volksblad was ’n middagkoerant en ons het in die oggende sewe-uur begin werk en smiddae drie-uur klaargemaak. Dis nog steeds my werkure basies. So ek probeer om te gaan sit voor my rekenaar en te skrywe. Ek wag nie vir inspirasie nie, dit werk nie vir my nie. Dis nooit vir my moeilik om te begin skrywe nie. Die ander boek wat ek tussendeur geskryf het vir Oktober het ek in die aande sit en skrywe, want ek het nie in die oggende tyd daarvoor gehad nie.”

Rudie, wat sedert sy eerste roman, Slagyster, in 2012 deur die uitgewers aanvaar is, elke jaar ’n misdaadroman skryf, is benewens skrywer ook nog ’n bekende skilder. Hy’t al in die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland uitgestal.

“Ek het geweldig aktief geskilder tot my eerste manuskrip aanvaar is en toe het ek ondervind ek kan nie albei op so ’n vlak doen nie. Ek kan nie elke jaar ’n boek probeer skryf én skilderye maak wat ek aan die mark gaan verkoop nie. ’n Mens moet half committed wees tot een ding.”

’n Arm koerantman

Vir Rudie was sy grootste leerskool as skrywer sy sewe jaar by Die Volksblad, waar hy sy loopbaan in 1977 begin het. “ ’n Joernalis word geleer hoe om te skryf, veral ’n dagkoerantjoernalis. In my dae by Die Volksblad was die ouens ook nie eens ordentlik met jou nie. As jy swak geskryf het, het hulle dit in geen onduidelike taal vir jou gesê. Jy’t baie vinnig geleer rég skryf.”

Hy vee sy mond af met ’n gestyfde wit servet. “Ons nuusredakteur het partymaal jou storie opgeskeur, want jy’t nog op papier gewerk. Ons het nog op die loodproses ook gewerk. Jy neem ’n foto en dit gaan blokmaker toe. Zola Budd se pa was nog destyds die blokmaker.”

Sy oë vonkel agter die brilglase. “Ons is so ’n dosyn stuks ouens van Die Volksblad wat in die Kaap bly en ons kom nog gereeld, kwartaalliks, bymekaar. En ’n klein groepie van ons wat in die omgewing bly, kom nog gereeld sommer hierso by Arugula bymekaar gou vir ontbyt. Ons het so ’n band opgebou wat ek regtig nie met my ander kollegas opgebou het by ander werke nie.”

DIE WOORD AFTREDE WAS VIR MY ’N DOODSTRAF.
Al het hy ná Die Volksblad talle ander loopbane gevolg, sal hy baie gou vir jou sê: “As ek my lewe kon oorhê, dan sou ek eerder ’n arm koerantman gebly het.”

Sy huidige loopbaan as misdaadfiksieskrywer sou hy egter vir niks anders verruil nie. Hy het begin skryf nadat hy by Sanlam ’n pakket aanvaar het. Binne ses maande het sy lewe so vol geraak dat hy nie eens teruggedink het nie. “Die woord aftrede was vir my ’n doodstraf en ek het nou ’n tweede loopbaan wat ek baie meer geniet as enige van my vorige loopbane.”

Die lang man met die diep stem knik kattevrede. “Ek wil skryf vir so lank my verstand nog hou. Ek hoop net ek het my ma se gene geërf, want op 93 lees sy nog al my boeke en sy lees nog ander boeke ook. Sy’s nog skerp, so ek hoop ek kan darem nog ’n rukkie helderheid van verstand hê.”

‘Moordenaar uit jou nagmerries’ in dié boek – TygerBurger 24 Mei 2017

Posted on: June 8th, 2017 by admin No Comments

Spioenasie en wapenhandel-korrupsie, vervalste medikasie, die skemerwêreld van ontkleeklubs en ’n grieselrige moordenaar uit jou nagmerries …

Dís waarmee Kassie Kasselman gekonfronteer word in Kamikaze, die jongste spanningsroman van Rudie van Rensburg, bekende skrywer van Welgemoed en ook Afrikaans-subredakteur by TygerBurger.

Maar dis nie al nie. Kassie, die hoofkarakter, staan ook midde-in ’n loopbaankrisis en oorweeg dit om die polisiediens te verlaat.

Dié boek van Van Rensburg word op Dinsdag 30 Mei by die Durbanville-gholfklub in Sportweg, Durbanville bekendgestel.

Die joernalis Maryke Roberts gaan met hom oor sy boek gesels.

Kassie se loopbaankrisis word veroorsaak deurdat hy kernvraagstukke in die polisiediens skerp en krities begin bevraagteken. Oor Kassie se kritiese blik op sy werkgewer, sê Van Rensburg hy “glo dat misdaadfiksie betrokke literatuur is en die werklikheid van wat in ’n land gebeur, moet weerspieël.

“Daarom is dit nie geloofwaardig om ’n goed-geoliede polisiediens voor te hou nie, want dit is allermins die geval – daar word gemiddeld 50 moorde per dag in Suid-Afrika gepleeg, wat opsigself dui op groot tekortkominge in ’n diens wat veronderstel is om sy land se burgers te beskerm,” sê hy.

Oor die moordenaarkarakter in sy boek, sê Van Rensburg: “Hy staan bekend as die Pion, ’n onheilige en erg versteurde karakter, wie se storie verweef is tussen die verskillende verhaallyne.

“Ek moes baie navorsing doen om in die kop van dié soort moordenaar te kom en het onder meer deur pakke materiaal geworstel wat in ’n stadium vir die polisie se speurakademie voorgeskryf is, om geloofbaarheid aan die Pion se moorddrange te gee. Dis ’n moordenaar uit jou ergste nagmerries.”

Die boek belig ook die wêreld van vervalste medikasie, wat jaarliks 700 000 sterftes in veral Derdewêreldlande veroorsaak en onder meer deur ’n SA sindikaat bedryf word.

Die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap kom ook onder die loep wanneer ’n korrupte amptenaar ’n spioenasie-skandaal onder die mat wil invee. “Hoewel ware feite altyd belangrik in my boeke is, mag dit nooit die verhaal belemmer nie. Dit dien bloot as agtergrond vir verskillende spanningsvolle en menslike storielyne,” sê Van Rensburg. Dit is Van Rensburg se vyfde spanningsroman ná Slagyster, Kopskoot, Judaskus en Pirana. Die boek word uitgegee deur Queillerie-uitgewers. Die boekbekendstelling begin om 18:00 vir 18:30 en toegang is gratis. Bargain Books sal boeke verkoop.

Sosiale Netwerke


css.php Top