Rudie van Rensburg (1951–) – Litnet, Erika Theron (Skrywersprofiel) (2016-05-27)

By admin  | 

 June 2nd, 2016 | 


Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein in die Vrystaat gebore. Hy is die oudste van twee seuns – sy broer Carl is deesdae ’n prokureur in Bloemfontein. Sy pa, MC (Basie), en sy ma, Christa, is albei in die Vrystaatse platteland gebore. Sy pa, wat oorlede is toe Rudie 19 jaar oud was, was van beroep in die politiek en was vanaf 33-jarige ouderdom ’n Volksraadslid. Hy het later minister van pos- en telegraafwese geword en was 50 toe hy oorlede is. Sy ma het kinders grootgemaak en was huisvrou. Sy is ten tye van die skryf van hierdie stuk 92 jaar oud.

Rudie was maar twee jaar oud toe sy pa tot die Volksraad verkies is en hy het, totdat hy in standerd 5 (graad 7) op skool was, ses maande in Kaapstad en ses maande in Bloemfontein skoolgegaan. In Kaapstad was hy in die laerskole Akasiapark en Jan van Riebeeck en in Bloemfontein in Willem Postma-laerskool. Hy het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer.

Rudie het in ’n huis met boeke grootgeword en het sy liefde vir boeke en lees by albei sy ouers gekry. Sy pa het ’n baie groot boekversameling gehad, vertel Rudie aan LitNet: “Ek het gereeld as seun saam met hom in veral die destydse string ou boekwinkeltjies in Langstraat, Kaapstad rondgesnuffel. ’n Groot deel van sy boekversameling is aan die destydse Instituut vir Eietydse Geskiedenis van die Vrystaatse Universiteit geskenk.

“My ma was haar lewe lank ’n ywerige leser, wat vandag nog haar oggendkoerant van hoek tot kant deurlees en ‘nie sonder ’n boek bed toe kan gaan nie’. Ek het dus van kleintyd af tussen boeke en lesers grootgeword. My pa het gereeld uit Langenhoven se werke vir my voorgelees, met Brolloks en Bittergal my gunsteling-karakters.

“Soos enige ywerige leser van my tyd het ek my leestande geslyp op Trompie, Jasper, die Uile en Fritz Deelman. Op hoërskool het ek Ian Fleming se Bond-boeke verslind.

“Later op universiteit het ek alles gelees waarop ek my hande kon lê – van Etienne Leroux tot Alistair Maclean. Leroux is steeds my gunsteling-skrywer van alle tye en ek lees minstens elke dekade al sy boeke deur.”

Verdere studie en werk

Ná skool is Rudie na die (destyds genoemde) Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal sy BA (HOD) met die vaste voorneme om ’n onderwyser te word. Maar dit was ongeveer die tyd van die Watergate-skandaal in Amerika en nadat hy die rolprent All the president’s men (wat gebaseer was op die skandaal en die joernaliste van dieWashington Post wat die skandaal ondersoek het) gesien het, het hy besluit om van loopbaankeuse te verander. Hy het dus, ná hy sy onderwysdiploma behaal het, ’n joernalis by  Volksblad geword. Hy het ook sy BA-graad in kommunikasiekunde deeltyds aan die UV behaal en het later sy honneursgraad in dieselfde rigting aan Unisa verwerf. “So, ’n fliek was letterlik die enigste rede waarom ek ’n joernalis geword het – iets waarvoor ek die vervaardigers vanAll the president’s men ewig dankbaar voor is,” vertel Rudie aan LitNet.

In 1982 is Rudie een van die stigters, asook uitgewer, van die eerste gratis weeklikse koerant in die Vrystaat, Bloemnuus, en later is hy ook redakteur van Die Ekonoom, ’n landwye saketydskrif.

Ná tien jaar in die koerantwese as joernalis verlaat hy die beroep om by die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo te gaan werk. Oor sy tyd in die joernalistiek skryf Rudie aan LitNet: “My tien jaar in die joernalistiek was seker die vervullendste jare van my lewe. Die Volksblad (waar ek amper ses jaar gewerk het) het my skryfliefde laat posvat en my ook ’n sterk skryfdissipline gegee. Destyds was dit ’n middagkoerant – jy het seweuur begin en was teen tweeuur/drieuur klaar met jou dagtaak op kantoor. Vandag is dit as voltydse skrywer steeds my ‘kantoorure’.

“Die band wat ek met my kollegas daar gesluit het, was vir my baie kosbaar. Ons is tans ’n dosynstuks oudjoernaliste van Die Volksblad wat in die Kaap woon en kom minstens kwartaalliks bymekaar om te kuier. My koerantkollegas was nie net skeppende mense nie (onder andere later gepubliseerde skrywers soos Chris Karsten, Deon Meyer, Chris Moolman, Johan van Wyk en Hennie van Deventer), maar ook nuusmanne van formaat (soos onder andere Tom Ferreira, Mike van Rooyen en ’n string ander). Almal het in ’n mindere of meerdere mate ’n invloed op my joernalistieke loopbaan gehad, wat later ook neerslag in my skrywersloopbaan gevind het. Vir die grootste deel van my tyd was ek in die sportredaksie. Sport was maar altyd een van my groot belangstellingsvelde.”

Rudie het aan Marana Brand van Hulsteyn (Die Burger, 21 Augustus 2013) vertel dat hy ’n joernalis sou gebly het as hy sy lewe kon oorhê, “as dit ’n beter betalende beroep was. Geen ander werk kom daarby nie, maar die voordele van die korporatiewe omgewing was net te aanloklik vir my. Iets wat ek nie sou gedoen het as ek my lewe oor kon kry nie. Sou maar as koerantman afgetree het.”

Rudie is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke. Toe hy sy vrou in Bloemfontein ontmoet het, het sy by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum gewerk. Ná hulle troue het sy die rol van ma en huisvrou vervul en vandag werk sy by ’n speelskool in Welgemoed.

In 1987 verhuis Rudie en sy gesin na Kaapstad, waar hy by Sanlam begin werk. In die 20 jaar wat hy daar werk, is hy onder andere senior  bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrifSanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

Rudie vertel dat sy tyd by Sanlam, veral by die reklameafdeling, “weer ’n andersoortige skeppende grondslag gelê het waaruit ek later jare ook as skrywer kon put. In my tyd in die finansiëledienstebedryf het ek gereeld onder skuilname rubrieke vir verskeie plaaslike koerante en interne maatskappypublikasies geskryf, wat my darem nog soos ’n ‘semi-joernalis’ laat voel het.”

In 2007 het Rudie ’n reuseskildery wat misdaad in Suid-Afrika uitbeeld, geskilder en het hy beplan om dit aan die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, te skenk. Rudie het aan Marita Meyer (Die Burger, 7 Maart 2007) meer oor die doel van hierdie skildery vertel: “In die apartheidsjare het versetkuns ’n belangrike rol gespeel om die onregte teen die mensdom in die kollig te plaas. Die tyd is nou ryp dat visuele kunstenaars saamstaan en hulle weer verset – dié keer teen misdaad. Hierdie skildery is my beskeie bydrae tot die kreet teen veral geweldsmisdaad.

“Ek wil hê die skildery moet Nqakula gereeld daaraan herinner dat Suid-Afrika onder ’n vlaag van misdaad en geweld deurloop. Dit sal moeilik vir Nqakula wees om die skildery, getiteld Cry of the Rainbow Nation te ignoreer – dit is ’n allemintige 1,7 meter hoog en 3,3 meter wyd. Ondanks die onlangse teenmisdaadplanne wat die regering aangekondig het, is dit duidelik dat die dringendheid nog ontbreek om die vlaag van misdaad hok te slaan. Die onaanvaarbare vlak van geweldsmisdaad in die land regverdig onmiddellike en drastiese optrede van die regering. Dit is onaanvaarbaar om in vrees en bewing in jou eie land te leef.”

Die misdaadskildery is ’n ruk lank by die Bellville-biblioteek se galery uitgestal, maar die Minister se kantoor het toe vir Rudie laat weet dat hy nie die skildery in ontvangs wil neem nie, maar dat hy kennis neem van sy bekommernis oor misdaad.

Rudie tree in 2009 uit die “formele werksomgewing” en het hom aanvanklik voltyds op sy skilderwerk toegespits. Hy skilder al vir byna 30 jaar en het aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika deel gehad. Sy werke is opgeneem in versamelings, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Oor sy skilderwerk het Rudie aan Marita Meyer van die Kaapse streekkoerant TygerBurger (7 Julie 2010) vertel dat hy self sy kuns sou beskryf as “’n mengsel van fantasie, pret en eenvoud. Ek druk my uit deur die distorsie van lyn en kleur in my werk. Ek is beslis nie ’n realistiese kunstenaar nie en raak soms aan die kubisme en ekspressionisme. Ek skilder nie van prente of natuurtonele af nie, maar gee die beelde in my kop weer.

“Ek eksperimenteer ook graag met verskillende style, tegnieke en teksture. Kuns is vir my baie meer as die blote duplisering van die werklikheid. Daarvoor kan jy net sowel ’n kamera inspan. Dit moet iets van jou innerlike weergee. Die doel van my kuns is om ’n bepaalde vorm te bereik wat nie noodwendig elegant is nie, maar ’n innerlike impuls bevredig. Mense moet my kuns interessant vind, ook prettig of selfs vreemd, maar net nie alledaags nie.”

Toe begin hy skryf aan sy eerste manuskrip, wat later Slagyster sou word, en vandat die manuskrip aanvaar is, kry hy amper nie meer tyd om te skilder nie.

Hy is ook die afgelope ses jaar Maandae en Dinsdae as Afrikaanse taalversorger by dieTygerBurger werksaam.

Rudie se eerste tree op die skrywerspad is in 2008 gegee toe hy ’n toneelstuk, Die begrafnis, onder die skuilnaam Phil Janse geskryf het. Hierdie stuk was redelik suksesvol en is by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater met Rudie as die beste dramaturg en die stuk as die beste drama. Dit is in boekvorm by Genugtig! Uitgewers gepubliseer.

Oor hoekom hy nog net die een drama geskryf het, verduidelik Rudie aan LitNet: “Ek beskou myself  nie as hierdie wonderlike dramaturg nie – kan nou nog eintlik nie die sukses van Die begrafnis glo nie. Ek het dit so vinnig afgerammel en het geen hoop gehad dat dit ooit op die planke sal kom nie. Dit was sommer ’n op-die-ingewing-van-die-oomblik-ding. Het gewonder hoe ’n mens die lyk van ’n baie gesette ou uit die huis gaan kry as die deure en vensters te klein is, en toe het die toneelstuk spontaan ‘gebeur’ – het presies een naweek daaraan geskryf. Dalk sal ek in die toekoms weer so ’n bevlieging kry.”

Sy tweede tree op die skrywerspad was ’n kinderboek onder die titel Die Doempies van Tafelberg, wat hy self uitgegee het. Hy het vir sy kinders, en ook wanneer daar maatjies kom oorslaap het, slaaptydstories vertel oor die Doempies, klein mensies wat op Tafelberg woon. Dit was sy vrou se voorstel dat hy dit in ’n boekie moet laat verskyn. Hy het toe self die boekie geïllustreer en uitgegee. Dit is onder speel-, kleuter- en laerskole in die Wes-Kaap verkoop, “maar ek voorsien nie dat ek weer my hand aan kinderboeke sal waag nie. My verhaalfonteintjie het opgedroog by die Doempies.”

Rudie vertel aan Jonathan Amid op LitNet dat hy maar eintlik nog altyd ’n “closet-skrywer” was. En selfs toe hy die bydraes vir ander publikasies geskryf het, het hy geweet dat hy nog eendag ’n boek gaan skryf. Omdat hy self baie daarvan hou om misdaadfiksie te lees, was dit amper half logies dat hy sy hand aan daardie genre sou waag.

Hy verduidelik verder aan Amid: “Ek ken ook my beperkings en sou beslis nie probeer het om ’n hoge letterkundige werk te pleeg nie, ondanks die feit dat ek ook nie genoeg kan kry van Etienne Leroux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se boeke nie. Ek bewonder hulle, maar sal hulle beslis nie probeer nadoen nie.”

Rudie het reeds as student in die 1970′s begin om misdaadfiksie te lees. Alistair Maclean was een van die skrywers wie se boeke hy verslind het. Daarna was Frederick Forsyth, Ed McBain, David Morrell, Dick Francis en later Wilbur Smith logiese leeskeuses, maar, sê hy aan Amid, hy dink nie dat enigeen van hierdie skrywers werklik ’n invloed op sy latere skryfwerk gehad het nie: “Die genre as sodanig was my dryfveer.”

En toe tref Slagyster die Afrikaanse misdaadfiksietoneel met Kassie Kasselman as die inspekteur. Die ontvangs van hierdie nuwe skrywer se debuut was baie positief, wat vir Rudie ’n riem onder die hart was. Hy verduidelik aan Amid: “As jy die soveelste keer jou eie skryfsels tydens die manuskripfase lees, begin jy naderhand erg twyfel of die ding goed genoeg is. En as jy die finale proewe afteken, is jy doodseker dit gaan die flop van die jaar wees! Die positiewe terugvoer was dus vir my wonderlik. Ek dink nie lesers besef hoeveel dit vir ’n skrywer beteken om te hoor hulle het sy boek geniet nie. Dit helder jou dag absoluut op. Ek waardeer werklik elke kompliment van elke mens. Al die komplimente was beslis ewe lekker.”

Oor sy skepping Kassie Kasselman wat die hoofkarakter is, vertel Rudie aan Amid dat hy nie, soos in so baie ander speurverhale, ’n machoheld as speurder wou hê nie: “Dit is maar hoe dienerd-agtige Kassie Kasselman gebore is. Ek het groot pret gehad om lyf aan sy karakter te gee. En hy is ’n tipe antiheld wat onderskat word. Juis daarom bied hy vir my ander moontlikhede as wat ’n skrywer met ’n konvensionele held sou hê.”

Vir Slagyster moes Rudie intensiewe navorsing doen, aangesien die verhaal in Afrika (en nie net in Suid-Afrika nie) afspeel. Rudie vertel aan Elmari Rautenbach in Die Burger van 21 Maart 2014 dat hy nooit self die olievelde in Nigerië, waar geweld hoogty vier, besoek het nie, dus moes hy baie navorsing doen. Uiteindelik het net ongeveer 5% van die navorsing in die boek neerslag gevind, “maar die breër agtergrond het my gehelp om geloofwaardig oor die omstandighede te skryf. In die gyselaarsdrama het ek myself net in die skoene van die gyselaar geplaas en hom laat reageer soos ek sou gedoen het. Navorsing help my om ander moontlikhede raak te sien en verskaf soms onverwags ’n saadjie vir ’n nuwe wending in my verhaal.”

Riette Rust skryf in haar resensie (Beeld, 2 September 2013) dat Kassie, die speurder met die rooi windjekker, klere wat ongestryk lyk en hare wat met Brylcreem gekam is, in Slagyster agter die kap van die byl van drie gebeure moet kom: Ryan Deetlefs, ’n ingenieur vir ’n oliemaatskappy, word in die Nigerdelta gevange gehou; Carl Bester, ’n polisiemol, moet van Afrika se mees gewetenlose skurke gaan aandurf as hy sy werk wil behou; en die  vennote van die vervoermaatskappy Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad, wat reeds skatryk is, verryk hulle verder deur wapentransaksies, waarby hoë amptenare van die SAPD en die Nigeriese sluikhandel betrokke is.

Rust sluit haar bespreking as volg af: “Die roman lewer sosiale kommentaar op die soeke na welvaart en die effek daarvan op verhoudings. Die einde verras, maar is ’n naskrif oor wat van die karakters  word, nodig? ’n Opvolgroman sou dié antwoorde kon gee. Van inspekteur Kassie Kasselman wil ek beslis weer hoor!”

Op LitNet skryf Deborah Steinmair dat die “misdaadriller” teen ’n “stywe pas galop”. Tonele wissel mekaar gereeld af, die karakters se persoonlikhede is uiteenlopend, daar is oorgenoeg passie en baie binnegoed en bloed wat spat. “In pas met die eise van die genre spring die taalgebruik nie na vore nie: dis dienlik, oortuigend, onopvallend soos ’n voetganger sonder reflektors. Na my smaak is daar soms net ’n bietjie te veel verduideliking (…). Maar die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wiewassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate. En hopelik steek die vasbyter-filatelis Kassie Kasselman in nog heelparty opvolgboeke kop uit.”

Slagyster was op die kortlys van drie vir 2013/2014 se Jan Rabie-Rapport-prys vir fiksie, asook een van die drie finaliste vir die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur.

In 2014 verskyn Rudie se volgende misdaadriller, Kolskoot, en verdryf hy die “tweede-boek-spook” totaal, want weer eens is dit ’n “fassinerende, naatlose riller wat geruisloos verskeie stemme, karakters en wêrelde bymekaarbring”, soos Jonathan Amid in ’n onderhoud met Rudie op LitNet dit noem.

Vir Rudie was een van die dinge wat hom met die skryf van Kolskoot groot genot verskaf het, om Kassie weer as sy hoofkarakter te hê. Kassie se base in die SAPD onderskat hierdie keer sy speurvermoëns. Rudie verduidelik aan Amid dat dit vir hom soms voel of “Kassie homself skryf” en dat ook hy dalk vir Kassie onderskat.

Van die verskille by die skryf van Kolskoot teenoor Slagyster wasdat dit nie vir hom nodig was om soveel navorsing te doen vir die tweede boek nie, omdat hy die wêrelde waaroor hy in Kopskootskryf, baie goed ken. “Ek het persoonlike ervaring as vertrekpunt geneem om oor die kunste, die maatskappy-omgewing, joernalistiek en die grens te skryf. Ek het ook navorsing gebruik wat ek deur die jare oor verskeie onderwerpe versamel het vir artikels in publikasies. Ek het besluit om hierdie bekende omgewings en gegewens in ’n sinvolle verhaal te vervleg. My inligting oor onder meer reeksmoordenaars het ek by ’n gewese polisieman gekry wat destyds by die Moord en Roof-eenheid in Johannesburg gewerk het. Die skryfproses was, wat dit betref, dus makliker, hoewel die storielyne net soveel dinkwerk as Slagyster geverg het.”

In Kopskoot is Kassie ook nie so apologeties soos in Slagyster nie. Volgens Rudie het hy vir seker ’n sterker wil van sy eie. “In Kopskoot bevraagteken hy soms ook sy eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk en sy eie oordeel. Hy is ook nie daaraan gewoond dat sy saak oorgegee word aan iemand anders nie – veral omdat hy nie daarmee kan vorder nie. Boonop is sy gesondheidskwellinge ’n groot struikelblok in dié stresvolle tye. Om die Kassie-karakter interessant te hou, sal hy vorentoe met nog vreemde situasies gekonfronteer word, wat weer ander karaktertrekke sal openbaar.”

Kassie se ondersoeke in Kopskoot is heelwat anders as in Slagyster. Hierdie keer loop daar oënskynlik ’n reeksmoordenaar los in Kaapstad wat middeljarige mans voor die voet vermoor en sy “werkswyse” is met elke moord dieselfde. Maar Kassie is nie oortuig dat dit wel die werk van ’n reeksmoordenaar is nie. Dan is daar ook nog ’n vervalsing van ’n skildery, ’n sakeman wat ’n voorliefde het vir prostitute en ’n afpersery.

Toe Kassie se aanvanklike ondersoek nie veel oplewer nie, word majoor Wim Jonker uit Johannesburg “ingevoer” om die sake op te los. Dit geval Kassie glad nie en hy en Jonker se ondersoekmetodes is ook totaal verskillend. Dit alles, tesame met sy nuwe gesondheidsdieet, lei tot konflik tussen die twee speurders.

In Rapport van 11 Mei 2014 skryf Deborah Steinmair: “Daar is heelwat bloed en sweterige seks. Daar is ook ’n ander, veel ouer verhaal wat tussen die bladsye ontvou: Die voorval in die verlede waaroor ’n groepie mans ’n bloedeed van swye gesweer het. (…) ’n Fassinerende newetema is dié van kunsvervalsing. (…)

“Die skrywer vervleg met gemak perspektiewe. Die leser bevind haar soms in die kop van die moordenaar en sien deur sy kil oë hoe die loodpunt die vel tussen die slagoffer se wenkbroue breek en die skedelbeen met ’n dowwe kraakgeluid deurklief, hoe die bloedsproei ’n rooi spikkelpatroon teen die wit muur maak. (…)

“Dit is asof hierdie naelbyt-misdaadriller homself lees, sommer in die loop van ’n enkele nag. Die taalgebruik is soepel en ekonomies, sonder ’n sweem van mooiskrywery, en die pas is flink.  Die dialoog oortuig klinkklaar. Van Rensburg het ’n gemaklike greep op humor en ironie. Die leser vlieg veilig, in bekwame hande. (…)

“Netjies, naatloos en onvermydelik ontmoet die storielyne uiteindelik. Daar is ’n verlossende skeppie metafisika: Intuïsie en toeval speel ’n beduidende rol, soos in die regte lewe. Oor die beste ontdekkings struikel ’n mens terloops. Kopskoot is ’n koningsmaal vir misdaadvrate.”

Naomi Meyer van LitNet het met Rudie gesels oor sy derde Kassie Kasselman-boek, Judaskus. Hy vertel aan haar dat hy gewoonlik sy inspirasie kry deur redelik wyd te lees oor ’n verskeidenheid onderwerpe en omgewings. Een van sy gewoontes is om sy daaglikse koerant deur te lees en dan die interessantste berigte en artikels uit te knip en te liasseer. Wat eintlik die impetus agter die skryf van Judaskus was, was die groot groei in georganiseerde misdaad in Suid-Afrika, en wat hom veral opgeval het, is die aktiwiteite van die groot sindikate.

Kassie slaan in Judaskus ’n heel ander pad in as in die eerste twee verhale – hierdie keer raak Kassie, wat glad nie gesien kan word as die tradisionele romantiese held nie, smoorverlief op sy aantreklike nuwe buurvrou. “Dit was ’n splinternuwe kinkel wat ek nie voorsien het toe ek aan die manuskrip begin skryf het nie!” vertel Rudie aan Meyer. “Maar stories het soms mos die gewoonte om soos ’n wilde perd hul eie rigting in te slaan. En dan moet die skrywer maar vasklou en saamgalop.”

In Judaskus probeer Kassie agter ’n reeks moorde kom wat daarop dui dat die Orde, wat ’n tipe Boeremafia is, al vir langer as vyftig jaar oor die hele land heen ’n hand het aan etlike baie goedbeplande misdade, asook aan dwelmsmokkelary.

Daar is ook die baas en intellektuele leier van hierdie Orde wat as Iskariot bekend staan. In sy instruksies aan sy onderdane haal hierdie leier aan uit die werke van intellektuele en denkers soos Adam Small, Langenhoven en François-René de Chateaubriand, asook uit Ruy Lopéz de Segura, ’n Spanjaard wat ’n skaakmeester is: “God duld selfs die swakste speler. Maar nie vir lank nie.”

Die leser is al van redelik vroeg in die boek bewus van die identiteit van hierdie aartsskelm, skryf Schalk Schoombee (Die Burger, 30 Mei 2015), maar “’n groot deel van die leesplesier (behels) juis om die gewetenlose superskurk se strategie te ontrafel.

“Uit die staanspoor word die spanningslyne styf getrek; in elke hoofstuk word verskeie verhaallyne geweef en karakterperspektiewe van die misdadigers (TJ en die hakkelende Snake) en die speurders in snelle sarsies afgewissel. Die roman wil nie ’n whodunit wees nie – daarvoor word die motiewe van die meesterbrein te gou blootgelê. Die tergende vraag vir die leser is eerder: Hoe gaan al die booswigte vasgetrek word? Wie gaan wie uitoorlê? (…)

“Die soen van verraad duik oral op – in Isakriot se giftige afskeidsgroet aan medewerkers en vyande, in Anna se sagte soene wat mans laat smelt, in diepgewortelde haat vir volksverraaiers wat oor generasies strek.

“Die taal is manlik: hardebaard, gestroop, sonder nonsens. In die sappige spreekwyse van sy karakters, van bergies wat deur rommel grawe tot allerlei randfigure, het Van Rensburg ’n vaartbelynde draaiboek geskryf wat smeek om verfilm te word.”

In Rapport (31 Mei 2015) beskryf Deborah Steinmair Judaskus as “Grinterig, gelaai en snaarstyf gespan – ’n meesterlik geweefde leeservaring”, terwyl Jaco Fouché (LitNet) praat van Judaskusas ’n boek wat “rondloop”, met die leser wat “herwaarts en derwaarts vervoer” word.

“Nie net tussen plekke soos Bloemfontein, diverse buurte in die Kaapse Skiereiland, Sasolburg en Hermanus nie, maar ook tussen die hedendaagse tydgreep en verskeie invloede uit die verlede wat opklink. Ou moorde kom weer ter sprake, en veel ouer ideologieë wanneer die Ossewa-Brandwag bygehaal word. Voeg daarby ’n verskeidenheid karakters van wie ’n hele paar skurke is wat skurk genoeg is om ’n mens onrustig oor jou medemens te maak, en dis ’n boek wat genot aan liefhebbers van die genre sal verskaf.”

Oor die redelik baie karakters in veral Judaskus verduidelik Rudie aan Naomi Meyer op LitNet dat sy werk in daardie opsig anders as tradisionele speurromans is. Daar is die hoofspeurder gewoonlik dwarsdeur die storie die sentrale karakter, terwyl hy wat Rudie is, van baie karakters in sy romans hou. “Dis vir my byvoorbeeld belangrik om ook in die koppe van die misdadigers te kom en hulle stories te vertel. Dit pla my nie om in (digbevolkte) boeke wat ek lees, terug te blaai om myself weer te vergewis van wie ’n spesifieke karakter nou eintlik is nie. Nie alle lesers voel egter dieselfde daaroor nie. Om ’n goeie balans te handhaaf het ek uiteindelik ’n hele paar randkarakters in die oorspronklike manuskrip (van Judaskus) gesny, wat toe nogal dinkwerk vereis het om die verhaalvloei nie te versteur nie.”

Rudie se roman Pirana is pas (Mei 2016) bekendgestel en weer moet Kassie bontstaan om ‘n saak op te los. Die uitgewers skryf as volg oor Pirana: “Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met die twee ander sake – ’n ontvoering en ’n moord – op sy lessenaar? Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselrige visdam en die glans-en-skanswêreld van die diplomasie moet Kassie sy pad voel-voel vind – of Rooi Els se vrou is visvoer.”

Almal stem saam dat Rudie se boeke lekker lees. Op ’n vraag van Naomi Meyer sê hy dat hy nog nooit bedoel het om letterkundige werk te lewer nie, maar net om gewone stories te skryf. “En ek skryf bloot soos ek in my vroeë loopbaan as joernalis leer skryf het, waar die leser darem nie woordeboeke nodig het om te ontsyfer wat ek neerpen nie. Sedert my koerantdae in die laat sewentigs en vroeë tagtigs het ek eintlik nooit ophou skryf nie.”

Jonathan Amid wou van Rudie weet hoe hy op sy “pakkende eenwoord-titels” besluit. Vir Rudie was Slagyster ’n maklike titel om te kies. Kopskoot as titel was ietwat moeiliker. “Die verhaal het eers twee ander titels gehad, maar dit was te na aan titels van bestaande boeke uit die verlede. Ek het letterlik deur ’n Woordelys en spelreëls geworstel om Kopskoot raak te skiet. En metJudaskus was die titel ook al klaar daar voordat die boek heeltemal persklaar was.”

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top