Merk deur Rudie van Rensburg: ’n resensie – Riette Rust – Litnet – 8 Oktober 2020

By admin  | 

 November 11th, 2020 | 


Merk
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802140 

Rudie van Rensburg se Merk volg op die hakke van Medusa en Vloek. Lesers en resensente is ewe opgewonde oor dié nuwe misdaadroman.

Kaptein Kassie Kasselman is terug! Niks aan sy antiheldstatus het verander nie. Die kaptein versamel steeds posseëls, luister na boeremusiek en dra sy rooi windjekker, dié keer met ’n skynbaar onuitwisbare sjokoladekol op.

Ná sy hartoperasie moet Kassie sy Lucky Strikes vaarwel toeroep. Dié gemis vul hy met (te veel) sjokolade, daarom is hy nog meer geset as voorheen.

Dis die kaptein se eerste dag terug by die werk. Sy lewe het weer betekenis, voel hy. Hy en adjudantoffisier Rooi Els moet ’n reeksverkragter in die Kaap se noordelike voorstede probeer vastrek. Vier jong vroue is reeds slagoffers. Dié verkragter is een met ’n verskil: Hy brandmerk vroue deur die syfers 399 op hul onderlywe aan te bring.

Die Spookeenheid se taak is oorweldigend. Uitdagings eskaleer. Wanneer vroue afgeloer en een vermoor word, lyk dit of die magsverkragter in ’n woedeverkragter verander het. Is dit sielkundig moontlik, of is die verkragter en die moordenaar dalk twee skurke? Die briewe wat vroue in hul posbus kry, lyk eweneens of dit van meer as een skrywer kom, die styl verskil dan so.

Die werk van die twee speurders word bemoeilik deur die kriminele profileerder, kaptein Lulu Wiersinga. Kassie reken profileerders steun te swaar op stereotipering en teorie. Daarby is Lulu se parfuum oorweldigend en weersinwekkend. Brigadier Fortuin is ook in die pad. Sy draai die skroewe al hoe stywer. Kasselman en Rooi beter die geweldenaar vang. En gou.

Die eerste sin van die proloog laat jou asem ophou, maar jy word terselfdertyd by die roman ingetrek. Só klink dit: “Die vrou se gedempte gehuil herinner hom aan die gekerm van ’n babahondjie. Een wat alleen in ’n kamer toegesluit is.” Sjoe!

Merk is ’n riller. Dikwels grieselrig en makaber. As subtema word geweld teen vroue ondersoek, ’n relevante en omstrede kwessie. Na raming word ’n Suid-Afrikaanse vrou elke 17 sekondes verkrag. (Nie alle verkragtings word eens aangemeld nie.) Die onderliggende boodskap is: Verkragting, verminking en afloerdery moet end kry. Dié tema is besonder gepas in hierdie tyd van (wêreldwye) Me Too-veldtogte.

Die klem val deurgaans op polisieprosedure, goed nagevors. Die onderbou van die roman steun sterk op die sielkunde agter verkragting. Dit sluit nekrofilie (die verkragting van lyke) in. Die menslike psige kan waaragtig stikdonker wees.

Die intrige is goed uitgewerk en die verrassingselement slaan jou teen die kop; nie ’n maklike uitdaging vir ’n skrywer wat jaarliks iets nuuts vir sy lesers wil skep nie.

Van Rensburg se karakterisering is sekerlik Merk se grootste pluspunt. Die slegte ouens is sleg verby, tog het die leser empatie met hulle en lees jy nuuskierig voort aan die Jekyll en Hyde van hul persoonlikhede.

So jammer dat die uitroep “Bliksis!” aan die hoofkarakter van die gewilde televisiereeks Die byl, soos deur Waldimar Schultz vertolk, herinner.

Van al die karakters is Rooi Els die vervelige een. Hy is daar om die kaptein te ondersteun – ’n mens leer hom nie werklik ken nie.

Ander karakters sluit in Hernus van der Merwe, die afleweringsman, wat voorheen in ’n lykshuis gewerk het. Hy hou nie van water en seep nie en “haat” selfgeldende vroue. Hernus het egter “die sperm van ’n wildehond”.

Priscilla Bekker is ’n joernalis by die poniekoerant Die Stem. Daar word sy gedwing om haar morele kompas weg te gooi. Sy is daarvan oortuig dat een van haar berigte tot ’n moord gelei het. Haar man, Gerbrand, gee bedags onderwys en is saans ’n ywerige buurtwaglid. Hy laat egter nie Priscilla se hormone tintel nie. Boonop irriteer sy materialisme en ingesteldheid op status haar. Hy kom later tot insig. Of dalk juis nie.

Wat ’n afstootlike vent! dink Priscilla van ou Snuif (Hamersma), die koerantredakteur. Hy trek hopies snuif “luid in albei neusgate op”, nies en vee sy neus met sy baadjiemou af. Snuif sê ook: “Ons (die koerant) doen net geringe verstellings aan sekere aspekte van die waarheid.”

Chrisjan Miles is ’n ouditeur en ’n nagtelike drawwer, maar dis nie al wat dié oujongkêrel in die donker doen nie. Daarby laat ’n rooikop van Welgemoed sy wellusvlak styg.

Die vraag bly staan: Wie is die verkragter?

Die dialoog in Merk vloei natuurlik en is lewensgetrou. Elke karakter praat dus soos hy of sy gebek is. Net jammer dat soveel stemme “skor” word. Hierdie byvoeglike naamwoord hoort eerder in ’n romanse tuis. So ook “rou snikke” wat uit kele “ontsnap” en karakters wat “hortend” asemhaal.

Kassie en Rooi het ’n voltydse taak om die verkragter/moordenaar vas te trek. Die kaptein is een van enkeles in die Spookeenheid wat wonder of die span nie dalk met twéé skurke te make het nie.

’n Afloerdery en ontvoering bemoeilik sake, nes die joernalis wat opdrag kry om al die duisterhede te belig. Die karakters (en lesers) wonder waarvoor die 399 in die brandmerk staan, maar die antwoord kom nie dadelik nie.

Die spanningslyn trek al stywer. Nes jy dink jy kan eenvoudig nie meer stres hanteer nie, ontlok die titels van Kassie se gunstelingboeremusiektreffers ’n glimlag, of vermaak Lulu jou. Sy is komies-irriterend en ook ’n taal-Nazi.

Wees gewaarsku: Merk is hardebaardleesstof. Skokkender kry jy nie sommer nie. As dit egter jou ding is, haal ’n pak sjokolade uit, maak jou in die bed tuis en trek die roman nader. Merk is hoogs toeganklike leesstof. Dis trouens een van die boeiendste ervarings wat jy in ’n lang tyd sal hê.

Probeer net ’n bietjie harder as Kassie om die klewerige sjokoladekol (of -merk!) op jou lakens te probeer uitkry.

Be Sociable, Share!

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top