Intrige word hiér knap verweef – Rapport – 11.05.14

By admin  | 

 May 11th, 2014 | 


Deborah Steinmair

Kopskoot deur Rudie van ­Rensburg. Uitgewer: Queillerie. Prys: R199. 

Misdaad is lonend as jy dit reg doen, maar daar is maar ‘n handjievol Afrikaanse misdaadskrywers wat lag oor hul bankstate – die skeppers van die Bennie Griessels en die Beeslaers. 

Nou is daar ‘n nuwe kind in die buurt wat wiewassit-vrate snags uit die slaap hou: kaptein Kassie Kasselman, ‘n onbeholpe antiheld met ‘n eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk. Hy is tingerig en dra konstant ‘n rooi windjekker, goedkoop hoogwater-broeke en wit kouse soos ‘n fieta. Hy rook te veel Lucky Strikes, maar hy drink net Creme Soda en sy passie is seëlversameling. 

Hy het lesers laat regop sit in Rudie van Rensburg se eerste roman, Slagyster. 

Van Rensburg is ’n joernalis, skilder en bekroonde dramaturg. In sy tweede spanningsroman het die Kaapse polisie te doen met wat na ‘n reeksmoordenaar lyk, maar kaptein Kassie het ‘n ander teorie: Hy vermoed ‘n verband tussen die slagoffers en ruik wraak oor ‘n voorval in die verre verlede. 

Sy speurtogte loop egter op niks uit nie en sy nemesis word ingeroep om die saak te help oplos: Majoor Wim Jonker, ‘n verwaande pronker uit Gauteng, met trillende snor en melodieuse stem. Jonker glo in Slaapstad is almal maar ‘n bietjie agter die klip en gevrek. Hy sal hulle kom wys waar Dawid die wortel gegrawe het. Soos in Meyer en Brynard se misdaadfiksie, speel Kaapstad ‘n polsende rol, van spoggerige voorstede tot taai agterstrate. 

Kasselman is ‘n beleërde man. Hy is skraal, maar sy dokter is nogtans ontevrede met sy bloeddruk, cholesterol en dies meer. Hy is op ‘n streng dieet van rou wortels en sousbone, die enigste items op die dokter se lys wat hy kan bekostig. Hy het die filters van sy sigarette ophou afbreek en probeer ook om minder te rook, te midde van vele frustrasies en doodloopstrate in sy beroepslewe.

Soos dit V misdaadriller betaam, wemel die boek van oortuigend getekende, testosteroongedrewe stereotipes, elk met sy swak, soos Spike Vorster, die suiplap-joernalis op pad na nêrens; die dobbelverslaafde private speurder Petrus Pelser; die hoerverslaafde sakereus Mike Duvenage. Daar is die gebruiklike magspeletjies in die polisiediens, met bevelvoerders wat V briljante, onkonvensionele speurder aan bande lê met ’n lastige klem op papierwerk. 

Daar is heelwat bloed en sweterige seks. Daar is ook ‘n ander, veel ouer verhaal wat tussen die bladsye ontvou: Die voorval in die verlede waaroor ‘n groepie mans ‘n bloedeed van swye gesweer het. Die onnoembare, sielsvernietigende wreedheid waaraan seuns tydens diensplig blootgestel is en die wyse waarop dit dekades later steeds lewens verwring, is ‘n onderwerp waaroor daar nog lank geskryf gaan word.

‘n Fassinerende newetema is dié van kunsvervalsing. ‘n Vars geverfde Irma Stern, nogal in akriel, haal op ‘n veiling ‘n rekordprys van R37 miljoen. Kassie Kasselman reken hy sou nie so iets aangekoop het nie, al was die prys net R100.

Die skrywer vervleg met gemak perspektiewe. Die leser bevind haar soms in die kop van die moordenaar en sien deur sy kil oë hoe die loodpunt die vel tussen die slagoffer se wenkbroue breek en die skedelbeen met ‘n dowwe kraakgeluid deurklief, hoe die bloedsproei ‘n rooi spikkelpatroon teen die wit muur maak. 

Dan weer in die lyf van (‘n volgende) slagoffer, met ‘n dowwe knal wat in jou ore weerklink, ‘n steekpyn wat in jou bors brand, warm vloeistof wat in jou keel opstoot terwyl jy vorentoe tuimel en die grond met ‘n slag tref. Onmiddelliker en meer grafies kan jy kwalik kry. 

Dit is asof hierdie naelbyt-misdaadriller homself lees, sommer in die loop van ? enkele nag. Die taalgebruik is soepel en ekonomies, sonder ‘n sweem van kosbare mooiskrywery, en die pas is flink. Die dialoog oortuig klinkklaar. Van Rensburg het ‘n gemaklike greep op humor en ironie. 

Die leser vlieg veilig, in bekwame hande. Die ontknoping verras en bevredig: Die verwaandes kry op hul baadjie en kaptein Kassie verorber vir ‘n slag weer ‘n paar hamburgers en pizzas in stede van die windmakerige sousbone waaraan hy langtand gesluk het. 

Eie aan die genre van James Bond, is hierdie ‘n “mansboek”. Onvermydelik makeer die vrouekarakters substansie en word hulle in geykte terme beskryf, soos die manne daarvan hou: “Haar borste is ferm, die tepels erek en rosig. Die haardriehoekie tussen haar bene skitter soos goud.” Maar aanhangers van onverdunde misdaadfiksie verwag immers niks minder nie.

Netjies, naatloos en onvermydelik ontmoet die storielyne uiteindelik. Daar is ‘n verlossende skeppie metafisika: Intuïsie en toeval speel ‘n beduidende rol, soos in die regte lewe. Oor die beste ontdekkings struikel ‘n mens terloops. Kopskoot is ‘n koningsmaal vir misdaadvrate.

Deborah Steinmair is ’n vryskutskrywer.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top