Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg – Maryke Roberts -Litnet – 5 Oktober 2020

By admin  | 

 November 11th, 2020 | 


Titel: Hans gee Herklaas horings
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2020
ISBN: 9780795802324

Rudie van Rensburg het al agt gewilde spanningsverhale geskryf: SlagysterKopskootJudaskusPiranaKamikaze (die 2018-wenner van die ATKV Woordveertjie vir spanningsfiksie), YsMedusa en Vloek, en die komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

In sy nuutste komiese roman, Hans gee vir Herklaas horings, is Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, terug. Sy vriend, Vasie, nooi hom vir ’n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Die uitnodiging kom op die regte tyd, want dinge by Huis Madeliefie dreig om handuit te ruk en ’n wegbreek is dalk net wat Hans nodig het.

Daar gekom, vind hulle Herklaas is in ’n benarde situasie: Die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel in ’n luukse hotel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers tot aksie oorgaan, besluit Hans dat Herklaas ’n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Rudie skryf op sy webwerf oor die vorige Hans-avontuur: “Op 90 is Hans nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder …

“Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.”

En dis juis waar ek my resensie oor die tweede Hans-avontuur wil aanhaak. Daardie “oudword op eie terme”. Mag ek ook kan oudword soos Hans van Kraaienburg – sonder die safaripak en Crocs natuurlik – maar met dieselfde onblusbare lus vir die lewe; vir lekker uiteet, ’n whisky drink en nie gaan lê nie, selfs nie eers as almal om jou kla en kerm nie. My terme.

Ek het die voorreg gehad om twee maal die gespreksleier te wees by Rudie se misdaadromanbekendstellings. Ek kan dus nie sy boeke lees sonder om sy rustigheid te herroep, maar ook daardie vonkel in sy oog as hy iets komies gaan kwytraak nie. In my geestesoog is Hans van Kraaienburg dalk ’n baie ouer Rudie, en dit maak die boeke vir my nog lekkerder om te lees.

As ek reg onthou, was Hans se eerste avonture aanvanklik ’n kortverhaal. Die vollengteroman was ’n topverkoper en ek vermoed die nuwe een gaan in sy voetspore volg. Met alles en almal wat so neerslagtig is oor inperking en die politiek, is dié humor beslis wat die dokter voorgeskryf het.

Ek het ’n paar ouer vriende in tehuise vir bejaardes of bloot veiligheidskomplekse met beheerrade. Hul klagtes van mede-inwoners is baie gereeld net so belaglik of bisar soos dié waarmee Hans te make het in Huis Madeliefie. En hoe skreeusnaaks is sommige hiervan nie. En Hans se uitdrukkings en beskrywings laat jou ook gereeld trane afvee, soos die plakkaat in die mansbadkamers: “Staan nader as jy korrel. Onthou, jy het ’n kortsnoet-pistooltjie in jou hande, nie ’n langloopgeweer nie.”

Of Vaaltuin Marais se baberbek en sy sketterstem; Voëltjie Trollip met sy jakkalsdraffie en enkele haar op sy kop wat “heen en weer wieg soos ’n lugdraad”; of Klaas Beandie se broekspype wat weer minstens ’n voet bo sy skoene sit – lyk of hy altyd te diep in sy broek spring.

Dan is daar ander kwinkslae, soos die beskrywing van die tattoo parlour: “Sy arms lyk vir Hans soos ’n kaart in ’n skoolatlas.” Of die kleinkind wat voortydig swanger geword het met “die bal geskop het voor die fluitjie geblaas het” en “hy en dié kêrel breek nie brandhout van dieselfde tak nie”. Sommige is so oorspronklik, jy lees twee maal om te verseker jou oë bedrieg jou nie.

Hans se stres oor die tehuis laat jou ook lag, al is dit net oor die manier waarop hy dinge verwoord.

Die skurk, Grond, en sy vrou, Bernadette, is weer eens bewys daarvan dat geld nie klas koop nie. Hul goue sweetpakke, pruike en liefde vir oordadigheid maak hulle eintlik meer lagwekkend as skrikwekkend.

En beskrywings soos “die onooglike moeisie op haar wang wat deur de jare al hoe meer soos ’n vrugtetor begin lyk” en “haar swaar grimering wat soos Spaanse pleisterwerk ouderdomskrake moet verdoesel” skep baie duidelik die prentjie van dié twee.

Vir die kritiese leser is daar natuurlik hopeloos te veel dinge wat te goed is om waar te wees of toevallighede wat die storie beter laat vlot, maar vir hulle wil ek byna woorde in Hans se mond lê en sê: “Sluk ’n chill pill.”

Skink ’n glas wyn, krul op in jou gunstelingstoel en laat die trane lekker loop vir Hans-hulle se eskapades. Ek hoop daar is nog vele Hans-boeke vorentoe.

Be Sociable, Share!

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top