Onberekenbare skade word aan stembande aangerig; huilerigheid onder groot mans breek uit; vloekwoorde vlieg rond; harte galop; humeure vlam op; beledigings weerklink; emosies kook oor; sielsverdriet vier hoogty; spanning bereik breekpunt; nikotien- en alkoholverbruik skiet die hoogte in; goeie maniere kies koers; sielkundige letsels word opgedoen; ophitsing vind plaas; gramstorigheid kom voor; hartverskeurende smart word ervaar . . .
Skeidsregters word gediskrediteer, met snedige opmerkings gekastreer en selfs met onnoembare woorde verinneweer.
Geringe foute van eens gunsteling-spelers word vergelyk met tsoenamis, kernkrag-ontploffings en rioolstortings.
Ek weet van ’n oom met ’n swak hart wat sy laaste asem saam met die eindfluitjie uitgeblaas het.
En almal het seker gehoor van die ou wat soveel vodka gedurende ’n spannende wedstryd gedrink het dat hy dae daarna nog met ’n Russiese aksent gepraat het.
Dan was daar die vrou wat so hard geskree het ná ’n Bok-drie dat ADT met gasmaskers en masjiengewere haar huis binne ge-leopard crawl het.
Dis ’n moeilike tyd wat voorlê – dié Wêreldbekerstorie. Beslis nie vir sissies nie.
RvR – 14 Sept. 2015