Carl Bester, die gevalle oud-speurder, wat lesers in Rudie van Rensburg van Welgemoed se debuutroman Slagyster ontmoet het, maak ná ’n dekade weer sy verskyning in Van Rensburg se nuutste spanningsroman, Vloek.
Slagyster eindig waar Bester op vlug slaan ná hy geld gesteel het waarop in ’n dwelmsaak beslag gelê is.
Francois Bekker skryf in sy resensie in Media24 se dagkoerante van dié agste spanningsroman van Van Rensburg: “Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie, is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt vir Rudie van Rensburg.”
In Vloek is Carl terug, sê Van Rensburg. Ná ’n dekade word hy skielik gevrywaar van vervolging. Hy kan terugkom na Suid-Afrika – sy bannelingstatus uitgewis, maar teen ’n prys.
“Ons vergeet van jou sondes in ruil vir ’n teenprestasie,” sê sy nuwe werkgewer. Hy moet ’n saak van internasionale belang help ontrafel – een wat met lyke besaai lê.
Carl was ’n dekade laas polisieman. Nou sal hy sy skadukant finaal moet afskud en weer soos ’n volbloedspeurder redeneer om die saak op te los.
Sal dié berugte rokjagter ook die versoeking weerstaan om betrokke te raak by ’n beeldskone kollega?
En gaan sy pad kruis met dié van Kassie Kasselman, die speurder wat sy diefstal destyds aan die Skerpioene blootgelê het?
Dan is daar die neo-Nazi uit Carl se verre verlede. Gevul met die “heilige krag van die Führer” is hy vasbeslote om wraak te neem op die man wat hom agter tralies laat beland het.
Van Rensburg sê dit is moontlik die mees ambisieuse projek wat hy nog aangepak het, want dit het geweldig baie navorsing geverg om ’n geloofwaardige omgewing en agtergrond vir die verhaal te skep.