Speurverhale meer as net sosiale kommentaar – Die Burger – 7.01.2014

By admin  | 

 May 1st, 2014 | 


Deur Willem de Vries

KAAPSTAD. – Die Skotse ­skrywer Ian ­Rankin sê hy lees graag ­speur­spanningsfiksie om ’n gevoel te kry van hoe ­sake in ’n land daaruit sien.

Dit laat ’n mens wonder oor die mate waarin dit vir ­Afrikaanse speurspannings­­ver­hale geld, en meer nog: ­Herken lesers Suid-Afrika in die sosiale kommentaar in ­misdaad­romans? Is dit ­betrokke ­lite­ratuur?

“Ek dink ’n mens moet ­versigtig wees wat jy eintlik hier met ‘betrokke’ bedoel,” sê Willie Burger, hoof van die ­departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

“Eintlik is populêre fiksie by uitstek nog altyd ‘betrokke’ by die eietydse sosiale probleme. Dit word juis daarin geplaas.”

Die speurspanningsverhale in Afrikaans wat die laaste klompie jare verskyn het, is ­beslis as ’n soort betrokke ­litera­tuur te begryp, meen ­Kerneels Breytenbach, ’n skrywer en ouduitgewer. Hy wys daarop dat onder andere Deon Meyer se verhale ook in die ­sosiaal-politieke problematiek van ons land ingegrawe is.

Burger sê sosiale kommentaar as sulks is nog nie ­betrokke skryfwerk nie.

“Sosiale kommentaar is ­natuurlik nog nie ‘betrokke’ in die eksistensiële sin wat die woord spesifiek in die 1950’s ­gekry het nie,” sê hy. (Sartre se pleidooi in sy essay “Wat is ­literatuur?” vir betrokkenheid deur die skrywer het in 1947 verskyn.)

“Daardie betrokkenheid ­behels meer as bloot sosiale kommentaar – dit is die soort werk wat ’n appèl op die leser maak om ‘betrokke’ te raak, om besluite te neem en jou eie lewe in ’n rigting te stuur.

“Ek dink wel dat baie van die huidige speurrillers sosiale kommentaar gee, selfs vrae vra oor moraliteit in die same­lewing: Dink maar aan Infanta van Deon Meyer wat op ’n ­interessante manier eintlik ­ondersoek waar die reg van die individu lê om misdaad te straf  – spesifiek in omstandighede waarin dit voorkom asof die regstelsel nie daarin slaag om boewe aan die pen te laat ry nie.

“Maar ’n mens moet ook ­onthou dat alle ontspannings­literatuur eintlik altyd ‘betrokke’ is in die sin dat sekere ­samelewingswaardes meestal daardeur bevestig word: Die liefdesroman bevestig dat die ware liefde alles oorwin, die speurverhaal dat boosheid ­uiteindelik hokgeslaan word, en so meer. So in die sin dat spesifieke samelewingswaardes tegelyk deur populêre fiksie ondersteun word en dit ook uitdruk, maak dit betrokke.”

Vir Breytenbach is die opmerklik hoe “naatloos sosiale kommentaar en sosiale bewussyn ingeïntegreer word by ­verhale wat eintlik effens wars van die gebruiklike patrone van misdaad- en spannings­verhale staan”.

“Drie daarvan moet genoem word: Die twee lewens van ­Dieter Ondracek [André ­Krüger], Moord in die beloofde land [Francois Bloemhof] en Die slagyster [Rudie van Rensburg].”

Wat populêre fiksie ­dikwels doen, is om ver­anderings wat in die gemeenskap plaasvind te ondersteun, volgens Burger.

“Jy lees dalk ’n lekker liefdesroman en jy ken die formule en hou daarvan en voel dus ­gemaklik daarmee, maar nou is die hoofkarakters van verskillende rasse of dalk van dieselfde geslag en sodoende word die leser, binne die bekende raamwerk van die soort fiksie waarvan hy/sy hou en waarin die leser veilig voel, gewoond aan veranderings in die same­lewing. In hierdie sin was populêre fiksie – en die speurverhaal ook – nog altyd ‘betrokke’.”

As voorbeeld noem hy Chris Karsten se ’n Man van min ­belang, “wat ’n soort misdaadrillerformule volg, maar ook die veranderings in die land, spesifiek rondom waarheid en versoening ten opsigte van ­vergrype van die verlede aan bod stel op ’n manier wat die ­leser betrokke maak”.

Wat in die speurspanninsgenre gebeur, is ’n soort ver­halelaboratorium waar beskouings oor hoog en laag in die letterkunde omskep word.

Die groot gaping tussen so­genaamd hoog en laag is in ’n sekere mate te wyte aan die hoogbloei van die Modernisme, verduidelik Burger. “Die eksperimentering en die ondermyning van so baie van die konvensies van die 19de-eeuse realistiese romans het bygedra tot die vervreemding van talle ‘gewone’ lesers wat hierdie boeke ‘moeilik’ vind.

Boonop is die nie-eksperimentele en populêre fiksie dan deur sommiges as ‘minderwaardig’ beskou, of ten minste nie as ‘bestuderenswaardig’ aan universiteite nie.

Al die kultuurprodukte, of dit nou as letterkunde of as literatuur bekend staan, kan ­bestudeer word. Die om­standighede waarin dit ontstaan en die funksies wat dit vervul, asook die vorm en temas daarvan, bevestig hy. “In hierdie omstandighede het die gemaklike grense tussen hoog en laag toenemend verdwyn.”

Vir iemand soos Rankin bied ’n Suid-Afrikaanse skrywer soos Meyer ’n interessante blik op dinamieke en kwessies in Suid-Afrika. Vir ’n Suid-Afrikaanse leser kom ’n kritiese ­ingesteldheid oor jou plek in die land met die lees van só ’n boek by.

Wat Rankin en ’n Suid-Afrikaanse leser in, arguments­onthalwe, ’n Meyer-roman as feit of as fiksie belewe, is stof vir ’n ander speurtog.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top