Die Kaapse skrywer Rudie van Rensburg praat oor sy vierde misdaadroman wat pas die lig gesien het in ’n taal wat hy meen gevaar loop om weg te kwyn.
foto: Jaco Marais
Hy is ’n lang, waardige man met ’n grys baard en ’n ryk, diep stem. Maar as kind wou Rudie van Rensburg nie uitstaan of raakgesien word nie.
“My pa [MC van Rensburg] is op 50 oorlede toe ek 19 was. Hy was ’n politikus en ek as seun het so ’n bietjie van ’n kompleks gehad daaroor – die minister-se-seun-etiket. Die gevolg was dat ek eintlik op skool uiters swak gevaar het. Ek wou deel van die gepeupel wees, ek wou nie uitstaan as die minister se seun nie, wat eintlik nou as ’n mens daarop terugkyk half tragies was,” sê hy laggend. “Ek het byvoorbeeld geweier dat my pa my met daai lang, slap motors by die koshuis aflaai. Ek het nie kans gesien daarvoor nie. Almal het natuurlik nou geweet wie ek was en my bynaam was Premier. Dit het my verskríklik gepla; ek wou net een van die ouens wees. Ek wou nie uitgestaan het of ánders behandel word nie.
“Ek het my bes gedoen om nie goed te doen op skool nie en ek het maar matriek ook deurgeskraap, jy weet, en eers toe ek op universiteit kom, het ek besef: oukei, nou . . . my pa was toe oorlede en dit was so half . . . nou hoef ek nie meer daai etiket te dra nie en ek moet nou léér as ek iewers in die lewe wil kom.”
Rudie se ouers het by hom ’n liefde vir boeke aangekweek.
“My pa was ontséttend lief vir boeke en hy het vir my uit Langenhoven gelees en my ma was net so ’n groot leser. Nou nog, op 92, lees sy ’n paar boeke per maand deur. En sy is net so verslaaf soos ek aan haar papierkoerant.
“Omdat my pa baie besig was, het ons maar min tye saam gehad. Van my beste tye was om hier in Langstraat rond te snuffel in boekwinkels en op die parade toe daar nou nog baie boeke daar was. Dit was ’n wonderlike tyd vir my gewees en hy het my liefde vir boeke wakker gemaak. Ek het altyd my eie boeke ook gesoek terwyl hy nou sy meer ernstige boeke soek. Dit sal ek nooit vergeet nie.”
Sy gunstelingskrywer is Etienne Leroux. Hy vertel van ’n ontmoeting met hom.
“Ek was ’n seuntjie in standerd sewe en ek het by ’n vriend gaan oorslaap vir die naweek. En dié mense, De Beer was hulle van, was goeie vriende met Stephen [sy regte naam] Leroux.
“Die middagete by hulle in Bloemfontein kan ek so goed onthou. En die índruk wat die ou toe op my gemaak het toe hy inkom . . . Hy het hééltemal anders gelyk. In die sestigs het mense daar nie so gelyk nie: lekker lang hare en ’n baard en daai donker brille, en hy pak sy drie pakkies verskillende sigarette daar neer op die eetkamertafel. En hierdie ou het my absoluut gefassineer; ek kon nie genoeg vir hom kyk nie.
“Ek het toe van sy boeke probeer lees, maar dit was natuurlik heeltemal bo my vuurmaakplek. Op universiteit het ek dit begin geniet en waardeer. Ek lees elke dekade al sy boeke weer deur. Sy humor is vir my nog altyd die beste van alles. My vrou kla altyd as ek ’n Etienne Leroux-boek lees, lag ek haar wakker in die bed. Dis nou al ou wat my rêrig hardop laat lag.”
Hy meen Afrikaans kom stadig maar seker “onder groot druk”.
“Jy wil niemand uitsluit of te na kom nie, maar my behoefte is net dat Afrikaans bly voortbestaan as taal, want sodra taal sy hoër funksies verloor, is hy by die intensiewe eenheid ingeboek.
“So ek is ’n sterk voorstander daarvan dat ons Afrikaans darem hier en daar nog op universiteite moet behou.”
Waarom is misdaadfiksie so gewild?
“Al die elemente van ’n lekker spannende fliek is byvoorbeeld in ’n misdaadfiksieboek. Daar’s goed soos spánning en daar’s onheil en daar’s aksie . . . en daar’s kinkels. En ek dink natuurlik veral in die Suid-Afrikaanse konteks is dit belangrik om ook te sê die leser wil darem altyd ook sien dat die bose oorwin word; al is dit nou net in die konteks van ’n boek, dink ek is dit ook bevredigend vir ’n leser.”
Ons praat oor sy speurder-karakter kapt. Kassie Kasselman.
“Ek het doelbewus so ’n speurder probeer skep en ek het baie pret in die proses gehad om sy karakter te ontwikkel. Ek wou juis nie die tradisionele speurheld navolg nie; daar was net al te veel van hulle.
“Ek het probeer om Kassie heeltemal die antiheld te maak. Hy’s nie aantreklik vir vroue nie; hy trek slordig aan . . . Hy’s half ’n verpotte karaktertjie. Dit was seker ’n berekende kans van my kant af aanvanklik om so ’n speurheld te hê, maar die reaksie was só goed dat ek toe nou besluit het om vol te hou.”
Die vertrekpunt vir Pirana, sy nuwe roman, was ’n beriggie in Die Burger oor die jongste stand van renosterstroping in die Krugerwildtuin.
“Die hele kwessie van renosterstroping is baie interessant en ek het gedink die wildtuin gaan ’n lekker omgewing wees om een van die verhaallyne in te laat afspeel. Dan doen ’n ou nou baie navorsing. Ek het onder meer Julian Rademeyer se Killing for Profit gelees wat ’n uitstékende boek is en dit het my finaal geïnspireer om nog meer navorsing te doen.
“Ek was baie gelukkig om op ’n klomp ander goed af te kom wat ’n ou nie normaalweg op afkom nie, maar ook báie teleurgesteld in Sanparke. Ek het vir hulle ’n hele lýs van vrae gestuur om te beantwoord, wat vir my nódig was in my navorsing, want daar was baie vraagtekens.”
Hy het nooit enige antwoord gekry nie.
“Dit het my laat dink óf die vrae is te ongemaklik om te beantwoord óf hulle neem renosterstroping nou maar rêrig nie ernstig op nie en het die vrae van my net afgelag. Ondanks die enórme hoeveelhede geld wat die mense al deur die jare gekry het, sien ’n mens geen noemenswaardige verbétering in die situasie in die Krugerwildtuin nie . . . ”
Ons gesels oor die bose karakter Montgomery Smith in Pirana, en oor psigopate.
“Kyk, as ’n ou misdaadfiksie skryf, moet jy na sulke ouens kyk en soveel as moontlik van hulle uitvind. In my volgende boek, waarvan ek die manuskrip reeds ingelewer het, werk ek met ’n ou wat van onheil aanmekaargesit is. Hy is nou die ergste karakter wat ek nóg geskep het. Hy oorskry alle perke wat ek tot dusver met psigopatiese karakters probeer uitbeeld het.”
Die titel Pirana verwys onder meer na die piranas wat op ’n besonder grieselrige wyse in die verhaal aanwesig is.
“Ek het die laaste deel van ’n program oor piranas gesien en besluit dis ’n lekker naam vir ’n boek, want dit sinspeel ook op die mens se gulsigheid en se . . . al die elemente wat ’n misdadiger moontlik het, sal ’n ou by ’n pirana ook aantref.
“Toe ek begin skryf, het ek gedink ek wil nie net sinspeel op hierdie vreesaanjaende teenwoordigheid nie, ek wil werklike piranas in ’n dam hê.”
Hy besluit nie vooraf hoe sy storie gaan eindig nie.
“Dít vind ek baie vervullend; dat ek ander paaie kan vat. Die gangster van Mitchells Plain, Jackal Williams, sou aanvanklik ’n baie mindere rol gespeel het in die boek. In my kop was hy een van die ouens wat nie die boek sou oorleef het nie. Toe groei dié ou so op my en ek raak so half verknog aan hom dat ek toe besluit: nee, jis, ’n ou kan nie hierdie ou wil doodmaak nie.” Hy lag. “En sy karakter het ontwikkel in die proses. Ek het nie aanvanklik gedink hy gaan so ’n groot rol speel nie.”
Hy vorm dus ’n verhouding met sy karakters, voel empatie vir hulle.
“Vir die wréédste misdadiger begin jy ’n empatie ontwikkel, want jy probeer ook vir die leser sy agtergrond gee en waarvandaan hy kom en hoekom het hy afgedwaal van die smal weg. In Judaskus het ek ’n karakter geskep wat ook daai . . . jy weet, uiteindelik het hy meer simpatie by lesers ontlok as dat daar lesers was wat nie van hom gehou het nie. Partymaal betrap dit jou onverhoeds, want jy laat jouself oorreed dat hierdie ou nie so sleg is nie.”
Kassie is nie deurentyd die sentrale karakter in sy romans nie.
“Die feit dat ek nie heeltyd dinge uit sy perspektief skryf nie, veroorsaak amper dat sy ‘rakleeftyd’ langer is; dat hy langer ’n interessante karakter kan bly. Indien ek ál vier boeke net heeltyd uit sy perspektief geskryf het, was ek moontlik al uitgeskryf aan Kassie. Hy leef ’n bietjie langer omdat ek wegbeweeg van hom en ook ander karakters belig.”
Kassie is ’n seëlversamelaar en ’n boeremusiekliefhebber.
“Ja, sy buitemuurse bedrywighede bestaan uit die Wes-Kaapse filatelievereniging en die Boeremusiekgilde van Kaapstad. Dit is die enigste dinge wat eintlik vir hom belangrik is buite sy werk. ’n Ou assosieer dit nie met ’n formidabele speurder nie. Ek probeer hom in daai mould hou.”
Benewens skrywer is Rudie ’n skilder, maar hy spits hom die afgelope jare heeltyds op skryf toe.
“Die skryfding is vir my só bevredigend dat ek nie rêrig terughunker nie. Ek is een van daai ouens wat op een ding wil fokus.
“In dié stadium geniet ek die skryfproses só dat ek nie ’n behoefte het aan skilder nie.”
Dit is vir Rudie, wat sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad begin het, moeilik om gewoond te raak aan die openbare aandag wat hy as hoogs gewilde misdaadskrywer geniet.
“Ek hou nie van die idee van ’n heldeverering nie. Dit voel vir my heeltemal . . . Man, ek is net ’n gewone ou wat stories skryf; ek is nie een of ander wese soos Etienne Leroux nie.”