Nuwe Van Rensburg sal grootste skurke beïndruk – Jaco Fouche – Rapport – 22 April 2018

By admin  | 

 June 15th, 2018 | 


Ys- Queillerie

 

Met die aktuele gegewe, vinnige tempo en skurke met implemente en ondernemingsgees in sy sesde misdaadroman, wys Rudie van Rensburg hy hoef vir geen ander krimi-skrywer terug te staan nie, skryf Jaco Fouche.

 

Dié boek het een van die kortste en treffendste titels wat ek nog gesien het. Dit dui op die Noordpoolsirkel as moontlike bron van olie en aardgas vir ’n energiehonger wêreld. Verskeie internasionale rolspelers stel belang.

Net op avontuurwaarde is die Noordpool ’n groot spil vir intrige. Dit hou ook ’n ekologiese tema in, aangesien dit volgens ’n karakter in die boek “die aarde se yskas” is. Die verwarming wat daar plaasvind, beïnvloed die res van die planeet. Daar word byvoorbeeld bespiegel die Kaapstadse woonbuurte Tamboerskloof en Oranjezight kan weens die verhoogde seevlak oor 80 jaar reg teen die kus lê.

Die ysige titel verwys ook na die ongenaakbaarheid van heelparty van die karakters. Die boek is nie die soort omgewing waar jy kan verwag om vriende te maak nie. Pleks daarvan het jy genote, associates, die soort mense wat jy dalk sal raakdrink, as jy so ingestel is, wat jou dalk saaklik kan help om ’n misdaad op te los of jou kan dwing om daardie misdaad te help pleeg.

Dis nie mense wat jy huis toe gaan nooi nie. In een geval is so ’n genoot van so ’n kaliber dat hy sy geliefde aan ’n stoel vasmaak en slaan. Nie heeltemal genadeloos nie – hy het later bietjie berou omdat dit so hard was.

Van Rensburg draai nie doekies om in die gewelddadige tonele nie. Hy staan nie terug vir wat ’n mens seker “elemente” kan noem nie; die bevolkers van die onderwêreld, lede van klasse ver verwyder van jou eie.

Wanneer die leser die oud-Pollsmoor-gevangene Kriel ontmoet, voel jy dadelik simpatiek teenoor hom in die geselskap van sy teenppol en nemesis, die mislike paroolbeampte Ludick. En dan het hy, die veroordeelde moordenaar wie se misdaad hom dalk verskoon kan word, boonop ’n droom om ’n tweedehandse boekwinkel te begin. Watter leser sal nie dadelik versot wees op so ’n man nie? ’n Man met ’n verlede, maar ook hoop op ’n toekoms. En dan glo hy boonop “’n mens is die spieël van die boeke wat jy lees”. Miskien is daar tog ’n genoot wat jy, die speurverhaalleser, sal bevriend.

Dan is daar natuurlik Van Rensburg se polisiemanne, Kassie Kasselman en Rooi Els. Hulle word geniehalter deur regulasies, base en roetine. Hul baas, Shaheena, is ’n aangrypende figuur en nog iemand wat baie simpatie afdwing.

Verder gooi die storie in die Amerikaanse staatsdepartemente. Die FBI staan ook hier pa vir burokratiese tekortkominge, maar versinnebeeld terselfdertyd wetstoepassende doeltreffenheid, soos in vele rolprente, televisiereekse en ander storieboeke. Nog ’n Amerikaanse instelling wat ’n rol in die boek speel, of ten minste ’n beduidende skadu werp, is pres. Donald Trump.

Die skurke het implemente en ondernemingsgees. Wanneer die skrywer die booswigte se perde op galop laat gaan, is dit die slae van kreatiwiteit en vryheid wat opklink. Jy weet, of hoop, egter ook dat hulle weer gestal sal word, sê lewenslank, of selfs ’n genadeskoot kan verwag. Jy vereis niks minder nie, veral in die here Hasie en Elton se geval nie.

Die tempo is vinnig, soos dit hoort in misdaadfiksie. Van Rensburg staan nie terug vir ander krimi-skrywers nie, hoewel hy my ook aan Jan Scholtz en sy TV-reekse laat dink. Soos Scholtz skakel Van Rensburg in by die Suid-Afrika van sy tyd en maak hy sy verhaal aktueel, hoewel hy verder gaan en meer internasionaal dink.

Miskien is die inligting in die internetera nou meer geredelik beskikbaar.

Miskien is Suid-Afrika nie so geïsoleer nie, en streef almal wat ambisieus is – van Afrikaanse skrywers tot die meer obskure burgers van die land – daarna om hul talente oorsee aan te wend.

Anders (of daarby) is dit Van Rensburg se joernalistieke ervaring wat hom tot voordeel strek. Die erkenningsblaaie dui in elk geval op navorsing en nie blote leeswerk nie.

Ek onthou ook die spanningsvolle episodes van Scholtz se televisiereekse wanneer die storie goed op dreef is en die polisie net so vuur en vlam is soos die skurke om hul doelwit te bereik. Dis die soort atmosfeer waarin elke gebaar later van dringendheid en betekenis spreek.

Soos in vele ander Suid-Afrikaanse boeke figureer Kaapstad weer hier. Die stad het die eienskap dat dit nooit soos ’n deurtrapte verhoog lyk nie en eerder soos ’n klankverhoog in ’n Hollywood-ateljee funksioneer. Afhangende van wat die storie verlang, kan dit opgebou, ingekleur en aangepas word om die agtergrond vir enige denkbare situasie te vorm. Dit bly egter ook lekker om die strate en bakens van die Moederstad te herken.

Hier en daar het ek gewens ’n toneel was langer sodat ’n mens by ’n karakter kon vertoef eerder as om so gou weer die aflosstok te moet oorgee.

Om te vergoed is daar ’n paar interessante persoonlike geskiedenisse wat die boek verryk en begrip vir motiewe verskaf. Dis asof jy die karakters se geite sal verduur, selfs wanneer dit gevaarlik blyk te wees, ter wille van die opwindende kennismaking.

Dit is presies wat Ys vir nuwe Rudie van Rensburg-lesers sal wees: ’n opwindende kennismaking. Maar gesoute aanhangers sal eweneens in die wolke wees – nie net oor die toevoeging tot Van Rensburg se eie werk nie, maar ook vir ’n goeie bydrae tot ’n genre wat buite sy eie grense help bou aan die geloofwaardigheid en heil van Afrikaanse literatuur. Dis genoeg om die mees ambisieuse skrurk te beïndruk.

 

Jaco Fouche is ’n skrywer van Hermanus.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top