Nuwe speurder in familiekring – Die Burger – 02.09.2013

By admin  | 

 May 1st, 2014 | 


Kom dit by spanningsverhale, is Deon Meyer se speurder-inspekteur Bennie Griessel en Karin Brynard se Albert Beeslaar soos goeie vriende vir wie jy graag in jou huis verwelkom. Ontmoet nou in Rudie van Rensburg se debuutroman, Slagyster, insp. Kassie Kasselman, hul eweknie.

Kasselman (45) is eweneens ’n onwaarskynlike held: Hy dra meestal ’n rooi windjekker, sy klere lyk ongestryk, hy kam sy hare met Brylcreem en hy is sosiaal onbeholpe. Tog het dié inspekteur al baie belangrike moordsake opgelos. Daarby is hy ’n gerespekteerde filatelis en luister hy graag na Boeremusiek.

Van Rensburg is ’n oud-joernalis, skilder en dramaturg. Sy komedie, Die begrafnis (onder die skuilnaam Phil Janse), is met die Sanlamprys bekroon.

Slagyster speel ten dele teen die Afrika-landskap af. Van Rensburg se navorsing oor dié milieu, asook oor oliesake, wapens en wapentransaksies is uitstekend.

Kassie Kasselman moet probeer sin maak van drie hoofgebeure: In die woude van die Niger-delta word Ryan Deetlefs, ingenieur vir die Star Petro Development Company of USA-Africa, deur ’n rebellegroep aangehou.

As polisiemol het Carl Bester ’n dwelmnes blootgelê. Sy bevelvoerder weet hy het nie die Lotto gewen om só sy olyfplaas te kon bekostig nie. Daarom kan Bester nie die versoek weier om Afrika se mees gewetenlose skurke te gaan trotseer nie. ’n Aantreklike ondersoekende joernalis met ’n “oorweldigende seksdrang” kruis ook sy pad . . .

Die verhaal is ook besonder kompleks. Maar terwyl jy nog wonder hoe die talle verhaallyne bymekaar gaan kom, gebeur dit naatloos.

Die reeds skatryk vennote van Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad vul hul inkomste met wapentransaksies aan, moontlik gemaak deur SAPD-hoëlui en die Nigeriese sluikhandel. ’n Epos en ’n moord sit ’n ongemaklike kinkel in dié kabel.

Daar is baie karakters in Slagyster. Dit neem ’n rukkie om uit te pluis wie wie is. Die verhaal is ook besonder kompleks. Maar terwyl jy nog wonder hoe die talle verhaallyne bymekaar gaan kom, gebeur dit naatloos. En dít vir ’n debuutskrywer!

Die verhaal speel in ’n chauvinistiese omgewing af, ja, maar ’n vroulike karakter wat die manne met nét haar brein beïndruk, sou ’n welkome afwisseling gewees het. Die erotiese tonele kort ’n bietjie skaafwerk. Die woord “liefdesdaad” is byvoorbeeld onvanpas wanneer Adaka, ’n ryk wapensmokkelaar, seks met ’n prostituut het.

Die taalgebruik is goed, jammer daarom vir clichés soos “sensuele” mond, “vlesige” lippe, “smeulende” oë, “parmantige” borste, ’n glimlag wat om ’n mond “speel”.

Deurlopende humor, soos Van Dyk se vrou wat weens te veel plastiese chirurgie “soos ’n gedroggie uit ’n rillerprent” lyk, sorg vir ’n lekkerleeservaring.

Die roman lewer sosiale kommentaar op die soeke na welvaart en die effek daarvan op verhoudings. Die einde verras, maar is ’n naskrif oor wat van die karakters word nodig? ’n Opvolgroman sou dié antwoorde kon gee.

Van insp. Kassie Kasselman wil ek beslis weer hoor! – Riette Rust is die skrywer van Die AA tot OE van seks.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top