“Van Rensburg kén sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem.”
Medusa
Rudie van Rensburg, skrywer van ses misdaadromans met eenwoord-titels (Kamikaze, Ys) en een komiese roman (Hans steek die Rubicon oor), steek ’n donker grens oor met sy agste roman, Medusa.
Die gegewe in die boek is ontstemmend, skrikwekkend, grieselig. Van Rensburg erken dat die temas van mensehandel en pedofilie hom uit sy gemaksone gehaal het – wat as vermaning (én lokaas) dien.
Geharde verbruikers van die genre verwag die ergste, maar sagmoediges kan dink dat hulle met Medusa in ’n uitgesoekte hoekie van die hel verdwaal het. Aldus die skrywer: “Die vrees was altyd daar dat ek die grense van fatsoenlikheid gaan oorskry, wat meegebring het dat ek sekere dele verskeie kere herskryf het.”
In ’n tyd van hiper-hype, slim bemarking en Trumpiaanse oordrywing, is daar haas geen onderwerp of taboe wat nie uitgeskryf of deurgetrap is nie. Vir die oorversadigde leser van misdaadlektuur is dit weliswaar ’n kwessie van graad: hoe erg is erg?
Dié keer sny die uitgeslape kat. Kassie Kasselman en sy kollega Rooi Els die spoor van ongenaakbare boosdoeners wat jong kinders en hul ma’s laat verdwyn. Aanvanklik is daar meer doodloopstrate en gekruisde lyne as leidrade, totdat die naakte, opgekerfde lyke van drie blonde vroue opgediep word.
Kassie se beklemming oor die saak is aansteeklik. Dis veral die lot van die verdwene kinders wat hom slapelose nagte besorg en dryf tot ongesonde gewoontes (drank is gelukkig nie een daarvan nie). Struikelblokke ontspoor hom byna, maar ’n gedugte bloedhond byt vas.
Van Rensburg ken sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem. Met diaboliese presisie knoop hy verskeie karakterperspektiewe en storielyne saam. Op dié kronkelpad is daar genoeg haarnaalddraaie om jou ’n naar kol op die maag te gee. Eers reg teen die einde word een randfiguur se gekonkel uiters bevredigend by die groter legkaart ingepas.
Navorsing word kundig verweef met die karakters se handelinge: hoe pedofiele hul jong slagoffers mak maak (groom), hoe Facebook ingespan word om slagoffers van enige ouderdom te lok, die siklus van ’n reeksmoordenaar se perversiteit, al die slaggate wat ’n taakmag moet navigeer.
Die titel wek verwagting. Kassie verwys na die Griekse oorspronge van die onheilsnaam; die drie lelike susters met slymerige skubbe, lang geel tande en sissende slange op die kop. “Die afstootlikste van drie was Medusa. Enigiemand wat haar aankyk, het dadelik in klip verander.”
In die openingshoofstukke ontvou ’n beknopte geskiedenis van “Lelike Lila Liebenberg”, soos sy deur haar skoolmaats gespot is, ’n ontluikende psigopaat wat koelbloedig afreken met iedereen wat in haar pad staan en munt slaan uit die lyding en afwykings van haar medemens.
Lila het “die perfekte moord” gepleeg vir ’n ruim erfporsie en dobbel haar dae om, tot sy die ingewing kry om nog groter te waag. Mettertyd bedryf sy ’n klub vir molesteerders.
Dis net jammer dat die haatlike manipuleerder word nie verder ontwikkel nie. Die kollig verskuif al te gou na ’n ewe geslepe skadufiguur, ’n pedofiel in ’n magsposisie, terwyl Medusa enduit agter die skerms verdwyn.
Dis ’n leemte omdat die ander vroue taamlik ondergeskikte kameerolle vertolk; hulle verskyn sporadies en kortliks.
Kassie se simpatieke bevelvoerder, brig. Fortuin, wat die ondersoek help en soms hinder; en Oumie, ’n bejaarde vrou wat oortuig raak sy het haar lank verlore kleinkind teruggekry, word funksioneel maar eensydig ingespan.
Ander vlietende vrouefigure en die bloedjong meisies wat aan die voorkeurprofiel van die ontvoerders voldoen, is generiese slagoffers wat nie lank genoeg vertoef om simpatie te wek nie. Weliswaar is daar tans nie ’n vrou in Kassie se lewe nie, behalwe sy ma; hy is ’n geswore alleenloper wat afleidings in sy seëlversameling vind.
Die verhouding tussen die twee jong ontvoerders, Zach en Festus, broers in misdaad, is gebou op vrees en waansin. Festus, nog pure melkbaard, is reeds ’n volrype seksuele sadis wat sy ouboet afdreig om vroue vir hom op die internet te soek. (Dis reg, nog ’n psigopaat!)
Een van die karakters wat wel simpatie lok, is Johnny, ’n taai straatkind wat al geruime tyd in die greep van Medusa en haar handlanger planne beraam om te ontsnap. Intussen is hy die ander jong slagoffers se vertrooster, wat geen illusies het wat op hulle wag nie. Tipies die kind wat sy onskuld te vroeg verloor het.
Johnny se avontuur word in sappige straatdialek oorgedra. Hy kan die polisie reguit na die helhool lei, as hy net nie weer in sy ou gewoontes verval nie.
Medusa is ’n newelboek wat nagmerries opjaag. Wanneer die spanning ondraaglik wil raak, herstel die ontknoping die ewewig en laat die leser met ’n ligstraal van hoop; dat euwels soos dié hokgeslaan kan word.
Solank Kassie se fut net nie uit is nie . . .
- Schalk Schoombie is ’n joernalis en skrywer van Alberton.