Marita Meyer
“IN die apartheidsjare het versetkuns ’n belangrike rol gespeel om die onregte teen die mensdom in die kollig te plaas. Die tyd is nou ryp dat visuele kunstenaars saamstaan en hulle weer verset – dié keer teen misdaad.”
Só sê mnr. Rudie van Rensburg, ’n Wes-Kaapse kunstenaar wat ’n reuse-skildery – wat misdaad in die land uitbeeld – as “geskenk” aan mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, gaan gee.
Volgens Van Rensburg is dié skildery sy “beskeie bydrae tot die kreet teen veral geweldsmisdaad”.
Van Rensburg sê hy wil hê die skildery moet Nqakula gereeld daaraan herinner dat Suid-Afrika onder ’n vlaag van misdaad en geweld deurloop. Dit sal moeilik vir Nqakula wees om die skildery, getiteld Cry of the Rainbow Nation te ignoreer – dit is ’n allemintige 1,7 meter hoog en 3,3 meter wyd.
“Ondanks die onlangse teenmisdaadplanne wat die regering aangekondig het, is dit duidelik dat die dringendheid nog ontbreek om die vlaag van misdaad hok te slaan. Die onaanvaarbare vlak van geweldsmisdaad in die land regverdig onmiddellike en drastiese optrede van die regering. Dit is onaanvaarbaar om in vrees en bewing in jou eie land te leef,” het hy gesê.
Volgens Van Rensburg het hy reeds die ministerskantoor ingelig van die “geskenkie” wat op pad is. Hy wag nog om te hoor wanneer dit ’n geskikte tyd sal wees om die skildery persoonlik aan Nqakula te oorhandig.
Voordat die skildery aan Nqakula oorhandig word, sal dit egter eers ’n maand of twee lank in Kaapse kunsgalerye hang sodat die publiek die geleentheid kry om ’n persoonlike boodskap aan Nqakula te skryf in ’n boek wat saam met die skildery aan hom oorhandig sal word.
Op die skildery, wat tot 9 Maart by art.b, die galery van die Kunsvereniging van Bellville, in die biblioteeksentrum gesien kan word, verskyn die name van 30 Suid-Afrikaners wat die afgelope jaar vermoor is. Die skildery sal ook later by ander galerye gesien kan word.