Sy vyfde misdaadfiksieroman, Kamikaze, is pas op die rakke, maar Rudie van Rensburg is reeds besig met sy sewende Kassie Kasselman-roman. Willemien Brümmer het oor middagete met hom gepraat oor vervalste medisyne, die verrotting in die polisie en sy beginjare by Volksblad.
Hy staan by ’n boekwinkel met die boek Phake oor die die dodelike wêreld van vals medisyne in sy hande toe Rudie van Rensburg se oog toevallig op ’n paragraaf val.
Vir dié midaadfiksieskrywer is dit soos ’n rob in die visier van ’n grootwithaai. Die uiteinde is sy vyfde misdaadroman, Kamikaze, wat pas die rakke getref het.
Waar ons in die Arugula Bistro in Welgemoed sit, waar Rudie se seun Neil as ’n sjef werk, lê die roman, vars van die drukkers, tussen ons op die tafel. Geklee in ’n navy hemp en grys jeans is hy ’n uiters galante en beskaafde man.
Nie jou tipiese skop-skiet-en-double clutch machoskrywer nie.
Hy bestel die ontbeende lamsrib sonder om eens na die spyskaart te kyk. Net soos sy beroemde antiheld, die topspeurder kaptein Kassie Kasselman, drink hy geen alkohol nie.
Op 65 is hy egter ’n baie vietser figuur as Kassie met sy kenmerkende rooi windjekker en sy trademark nerfaf skoene en wit sokkies wat onder sy hoogwaterbroek uitsteek.
Hy vee oor sy netjies gesnyde wit baard. “Omdat die boek (Phake) verskriklik dik was en R500 gekos het, het ek nie geweet of ek gaan belangstel nie, maar toevallig val my oog toe op ’n paragrafie van die skrywer, ’n dokter (Roger Bate), dat daar nog nie ’n misdaadfiksiekskrywer is wat hierdie onderwerp as tema gebruik nie, en onmiddellik besluit ek toe ek gaan hierdie boek koop.”
Uit die boek blyk dit toe 700 000 mense gaan jaarliks direk en indirek dood weens vals medisyne in hoofsaaklik Derdewêreldse lande. “Die groot probleem in Afrika is, mense koop nie by geregistreerde apteke nie. Dit word op straathoeke verkoop en op busse en in treine. Dis waar die smouse rondloop en hulle smous met ’n klomp vals goed. Die grootste meerderheid van die medisyne het geen medisinale waarde nie en dit het sekere bakterieë en allerhande slegte goed in omdat dit op ’n vuil manier aanmekaar gesit word.”
Hy lig ’n wenkbrou. “So dis vir my amper snaaks dat niemand nog hierdie ding belig het nie. Voordat ek daai boek in die hande gehad het, het ek ook nie daarvan geweet nie.”
Betrokke literatuur
Vervalste medikasie is egter net een tema in hierdie roman met sy baie systrome wat uiteindelik meesterlik saamgesnoer word. Nog ’n tema is die verrotting in die topstrukture van die polisie en die Staatsveiligheidsagentskap.
Rudie neem ’n sluk van sy lemoensap waar ons by ’n wye venster sit met sy uitsig oor die Laerskool Welgemoed se sportterrein en ’n winkelsentrum. Om ons is die restaurant stampvol met onder meer ’n knieserige baba en ’n ou oom wat in ’n rolstoel aan tafel sit.
“Die een ding wat my pla van spanningslektuur in Suid-Afrika is, ek glo veral misdaadfiksie is amper iets soos betrokke literatuur, met ander woorde dit moet die werklikheid weerspieël van dit wat in die land aangaan. As jy deur die meeste speurverhale en dinge lees, dan lyk dit asof die Suid-Afrikaanse polisie ongelooflik is. Dit het my gepla en dis hoekom Kassie in hierdie boek ’n loopbaankrisis beleef.”
DAAR IS NIE GENOEGSAME BEWYSE IN DIE POLISIEDOSSIERE NIE.
Hy skep asem. “Die groot probleem is dat die meeste polisiemanne op grondvlak nie behoorlik opgelei is om werklik sy burgers te beskerm nie. Die skreiendste ding daarvan is dat twee jaar terug, toe ek begin het met navorsing oor die polisie, het ek op ’n ding afgekom, en dis dat 500 bendeverwante moorde in daai jaar in die Kaapse Skiereiland plaasgevind het. Net 8% daarvan het in die hof geëindig. En die groot rede daarvoor, wat regters, landdroste en staatsaanklaers sê, is dat daar nie genoegsame bewyse in die polisiedossiere is nie.
“Hulle kan nie die saak hof toe vat nie, want die dossiere is onvolledig ingevul. Vandat die spesialiseenhede in die polisie ontbind is, bestaan daar nie meer daai kundigheid om ’n basiese ding soos ’n dossier saam te stel nie, wat skrikwekkend is.”
En nee, dis nie ’n “wit-swart-ding” nie, beklemtoon dié seun van die eertydse minister MC van Rensburg. “Dis ’n vrot polisieding. Dit gaan nie oor daar’s nou swartes in die topstruktuur en daarom gaan dit sleg nie. Die topstruktuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is onbevoeg om hul job te doen. En ek meen, ons almal weet van ons laaste vier polisiehoofde wat korrup was en onbevoeg was om hul werk te doen. Ek het nou onlangs gelees daar’s siviele eise van R14,6 miljard teen die polisie. As hulle moet betaal, sal hulle meer as 3 000 polisiebeamptes moet afdank om by hul begroting te bly in ’n land wat juis onderbeman is deur die polisie. So ons het ’n enorme krisis daar, en nou spog ons nog met ’n breedsprakerige minister (Fikile Mbalula) wat left, rightand centre wil skiet, jy weet.”
Huurmoordenaar én reeksmoordenaar
Te midde van sy loopbaankrisis kom Kassie teen die mees grieselrige booswig tot nóg toe te staan. Hy’s ’n huurmoordenaar bekend as die Pion met ’n moordloopbaan wat terugstrek na die apartheidsera. Wat hom uniek maak, is dat hy ’n huurmoordenaar sowel as ’n reeksmoordenaar is.
Rudie is in sy noppies. “Kerneels Breytenbach, wat altyd my boeke keur, het eenmaal vir my geskryf sodra ’n antagonis amper meer dimensies bykry as die speurder, dan weet jy jy het iets goeds beet. Ek het toe baie hard daaraan gewerk om die Pion ’n unieke karakter te maak, maar ek wou hom ook ’n geloofwaardige karakter maak.”
Hy stoot sy swartraambril agtertoe oor sy neus. “En kyk, ’n huurmoordenaar verskil nie veel van ’n reeksmoordenaar nie, behalwe dat hy dit nou bloot net vir geld doen, waar ’n reeksmoordenaar meer op sy drange en innerlike struwelinge fokus. Ek was baie tevrede uiteindelik met die Pion, want ek het hard gewerk aan hom.”
Sy geurige skaaprib word voor hom neergesit, spesiaal bestel op aanbeveling van sy seun.
In ’n sekere sin is Kassie se loopbaankrisis en karakters soos die Pion nou al vir Rudie ou nuus. Hy het reeds ’n volgende misdaadroman voltooi, met Kassie in sy nuwe loopbaan, en soggens smee hy al aan sy sewende Kassie-boek. Saans doen hy soos altyd navorsing vir ’n nuwe roman.
EK WAG NIE VIR INSPIRASIE NIE, DIT WERK NIE VIR MY NIE.
Boonop het hy nóg ’n roman geskryf wat vir ’n slag niks met misdaad te make het nie. Dis in Oktober op die rakke.
“Dis ’n ander genre, kom ons noem dit onverdunde slapstick. Ek wil nie nou te veel daaroor sê nie. Die uitgewer moet seker die voortou daarmee neem. Al wat ek wil sê, is daar is nog ’n boek en ek het hom in ’n rekordtyd geskryf: twee en ’n half maande.”
Soos sy goeie vriend Deon Meyer, saam met wie hy destyds by Die Volksblad, die Universiteit van die Vrystaat en Sanlam se reklame-afdeling gewerk het, handhaaf hy ’n streng skryfroetine.
“Dis ’n nalatenskap van my koerantdae af. Die Volksblad was ’n middagkoerant en ons het in die oggende sewe-uur begin werk en smiddae drie-uur klaargemaak. Dis nog steeds my werkure basies. So ek probeer om te gaan sit voor my rekenaar en te skrywe. Ek wag nie vir inspirasie nie, dit werk nie vir my nie. Dis nooit vir my moeilik om te begin skrywe nie. Die ander boek wat ek tussendeur geskryf het vir Oktober het ek in die aande sit en skrywe, want ek het nie in die oggende tyd daarvoor gehad nie.”
Rudie, wat sedert sy eerste roman, Slagyster, in 2012 deur die uitgewers aanvaar is, elke jaar ’n misdaadroman skryf, is benewens skrywer ook nog ’n bekende skilder. Hy’t al in die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland uitgestal.
“Ek het geweldig aktief geskilder tot my eerste manuskrip aanvaar is en toe het ek ondervind ek kan nie albei op so ’n vlak doen nie. Ek kan nie elke jaar ’n boek probeer skryf én skilderye maak wat ek aan die mark gaan verkoop nie. ’n Mens moet half committed wees tot een ding.”
’n Arm koerantman
Vir Rudie was sy grootste leerskool as skrywer sy sewe jaar by Die Volksblad, waar hy sy loopbaan in 1977 begin het. “ ’n Joernalis word geleer hoe om te skryf, veral ’n dagkoerantjoernalis. In my dae by Die Volksblad was die ouens ook nie eens ordentlik met jou nie. As jy swak geskryf het, het hulle dit in geen onduidelike taal vir jou gesê. Jy’t baie vinnig geleer rég skryf.”
Hy vee sy mond af met ’n gestyfde wit servet. “Ons nuusredakteur het partymaal jou storie opgeskeur, want jy’t nog op papier gewerk. Ons het nog op die loodproses ook gewerk. Jy neem ’n foto en dit gaan blokmaker toe. Zola Budd se pa was nog destyds die blokmaker.”
Sy oë vonkel agter die brilglase. “Ons is so ’n dosyn stuks ouens van Die Volksblad wat in die Kaap bly en ons kom nog gereeld, kwartaalliks, bymekaar. En ’n klein groepie van ons wat in die omgewing bly, kom nog gereeld sommer hierso by Arugula bymekaar gou vir ontbyt. Ons het so ’n band opgebou wat ek regtig nie met my ander kollegas opgebou het by ander werke nie.”
DIE WOORD AFTREDE WAS VIR MY ’N DOODSTRAF.
Al het hy ná Die Volksblad talle ander loopbane gevolg, sal hy baie gou vir jou sê: “As ek my lewe kon oorhê, dan sou ek eerder ’n arm koerantman gebly het.”
Sy huidige loopbaan as misdaadfiksieskrywer sou hy egter vir niks anders verruil nie. Hy het begin skryf nadat hy by Sanlam ’n pakket aanvaar het. Binne ses maande het sy lewe so vol geraak dat hy nie eens teruggedink het nie. “Die woord aftrede was vir my ’n doodstraf en ek het nou ’n tweede loopbaan wat ek baie meer geniet as enige van my vorige loopbane.”
Die lang man met die diep stem knik kattevrede. “Ek wil skryf vir so lank my verstand nog hou. Ek hoop net ek het my ma se gene geërf, want op 93 lees sy nog al my boeke en sy lees nog ander boeke ook. Sy’s nog skerp, so ek hoop ek kan darem nog ’n rukkie helderheid van verstand hê.”