In Medusa boor Rudie van Rensburg ’n donkerder nuwe aar oop vir speurder Kassie Kasselman, sê Queillerie-uitgewers oor Van Rensburg se sewende spanningsroman wat pas verskyn het.
Daar is mensehandel en psigopatie om mee handgemeen te raak – en kinderlewens op die spel.
Van Rensburg, wat in Welgemoed woon, sê dat hierdie tema hom uit sy gemaksone gehaal het. “Die vrees was altyd daar dat ek die grense van fatsoenlikheid kon oorskry, wat meegebring het dat ek sekere dele verskeie kere herskryf het. In ’n stadium het ek dit selfs oorweeg om ’n ander roete met die boek in te slaan, omdat die onderwerp my begin onderkry het. Maar gesprekke met sekere kenners op hierdie gebied was ’n keerpunt, en het die enorme omvang van dié probleem in Suid-Afrika my aangespoor om deur te druk.”
In Medusa is dit duidelik dat Kassie en sy kollega Rooi Els nog nooit so ’n saak hanteer het nie. Kassie ervaar sterk emosies. Dit besoedel sy denke en krioel in sy binneste soos ’n bondel giftige slange. Die saak seil onder hom en Rooi uit. Hulle kan die glibberige spoor net-net in die verte sien kronkel. En die slagoffers gil desperaat om hulp …
In sy resensie van Medusa onder die opskrif “Nagmerries uit die newels hier opgejaag” in Die Burger, Beeld en Volksblad skryf Schalk Scoombie: “Van Rensburg kén sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem.”
- Die bekenstelling van Medusa in die noordelike voorstede vind op Dinsdag 12 Maart om 18:00 vir 18:30 by Exclusive Books in die Tygervallei-sentrum plaas. Ilza Roggeband gesels met die skrywer. Toegang is gratis. RSVP by 011 798 0180 of stuur ’n e-pos na events@exclusivebooks.co.za.