Lesers sal gelawe moet word – Jonathan Amid – Rapport – 10 Maart 2019

By admin  | 

 March 11th, 2019 | 


“Met Medusa dien Rudie van Rensburg die gif stadig toe – en daar is geen teken van ’n teenmiddel nie.”

 

’n Nuwe Kassie Kasselman-dossier is iets waarna spanningsvrate jaarliks uitsien – en die goeie nuus is dat daar in 2019 sommer twéé verskyn,

Rudie van Rensburg benader sy ambag met ’n duidelike wedstrydplan waar aanskoulikheid nooit bo die basiese pligte gestel word nie. Die klem is allereers op deurdagte struktuur, karakters wat lewensgetrou dog kleurvol geskets word, en ’n behendige ontplooing van leidrade, inligting en insigte, vernaam deur middel van vlymskerp dialoog en flinke vertelling.

Verder het Van Rensburg duidelik geen erg aan gemaksones nie, en is hy altyd bereid om in die donkerste put van ellende rond te dolwe. Soos in verlede jaar se kragtoer Ys is Medusa se intrige geskoei op aktuele kwessies wat geeneen onaangeraak sal laat nie: kindermishandeling, pedofilie, mensehandel en aanlyn gevare.

Ná ’n ysingwekkende proloog, wat uitloop op ’n toneel wat ’n mens laat smag na ’n koue stort, word deel een ingewy aan die traumatiese kinderdae van die vrou wat die Medusa van die titel sal word. ’n Pretbederwer wil ek nie wees nie, maar in sowat 30 bladsye slaag die skrywer daarin om ’n antagonis se beweegredes en transformasie met oortuiging en deernis te vertolk.

Die antagonis se boosheid word onbeskaamd gekarteer, maar die ietwat ongewone besluit om die leser eers bloot te stel aan die karakter se lyding en stelselmatige metamorfose (as’t ware die slang wat vervel om ’n meer gesaghebbende vorm aan te neem) anker die verhaal in ’n tragiese mineurtoon.

Medusa is deurgaans die ringkop wat die toutjies agter ’n enorme mensehandelsindikaat trek en dit moontlik maak vir individue op die hoogste vlak van die sakewêreld om kinders se lewens te verwoes. Die mitiese Medusa, een van drie susters, het in die Griekse vertelling sleg deurgeloop onder ’n onaansienlike huid en ’n kop vol malende slange, en enigeen wat dit durf waag het om in haar rigting te kyk, sou dadelik versteen. Lees self hoe die chronologiese uitspeel in Suid-Afrika voor en ná die koms van demokrasie.

Lelike Lila Liebenberg se hand in die gruwels wat hier opgeteken word, is nooit te betwyfel nie, maar dit is dalk eerder een van haar voetsoldate, die walglike gespuis Festus, wat die grootste weersin by lesers wek. As brutale verkragter en sadis is hy goeie kompetisie vir Hasie Haasbroek, die wreedaardige orgaanslagter van die Tuine wat met menseharte gesmous het.

Eweneens is dit belangrik om melding te maak van die roman se insluiting van ander, oënskynlik minder groteske deelnemers in hierdie orgie van uitbuiting. Van Rensburg lei ’n mens aan die hand eerder as aan die neus tot in die psigiese binnekamers van die “gewone”, welgestelde misdadiger.

Lesers sal verskeie van die tonele uiters ontstellend vind, maar geen vinger kan na die skrywer gewys word wat betref onfatsoenlike impulse of die uitbuiting van slagoffers se pyn nie. Die vraagstukke van emosionele en fisieke geweld word uiters oordeelkundig benader.

Lesers sal ook broodkrummels raaklees wat verwys na vorige werke in die skrywer se oevre asook ander titels waarin kwessies van geweld teen vroue en kinders, veiligheid en die wêreldwye web ondersoek word, soos Naomi Meyer se Web (2017), Moestas (2015) deur Deborah Steinmaier, Deon Meyer se Infanta (2014), Peet Venter se Bloed-reeks en al vier Martin Steyn se romans. Moestas, wat dalk te aweregs en uitdagend was vir die gemiddelde leser, is ’n direkte voorganger van Medusa wat betref die kombinasie van kindermishandeling, die oopskryf van die Donker Web en aanbieding van ’n ongewone speurfiguur.

Johnny January, Boon Boonzaaier en Lelike Lila Liebenberg is voorbeelde van Van Rensburg se slag met loslitlekker naamgewing, maar al drie is steeds eg menslike karakters met duidelike ingekleurde feilbaarhede wat ’n sleutelrol speel in die geheel.

January, ’n man wat diep in jou hart kruip, se stryd in dié roman as ’n soort morele kompas of gewete word ook jóú stryd as leser en toeskouer van onreg en onreëlmatighede.

January se teenvoeter word raakgelees in die gewaad van Boon Boonzaaier, een van Van Rensburg se mees geslaagde karakters tot op datum.

Die Boonzaaier-draad word meesterlik gemanipuleer en beheer tot op die laaste bladsy.

Medusa bied ook die baboesjka-agtige raaisel rondom die verdwyding van ene Simon Eckhardt aan, ’n raaisel wat daarin slaag om die roman se spanningsvlakke hemelhoog te hou.

Gepraat van spanning: Weens die kompleksiteit van die saak en die media wat hulle planne kan beduiwel word kapt. Kassie Kasselman en sy vennoot Rooi Els van die Spesiale Spookeenheid in hierdie aflewering genoop om die grootste hoeveelheid speurwerk tot nog toe te doen.

Verder heers daar spanning en botsing tussen die verskeie vertakkings van die eenheid, tussen verskillende maniere van dink en doen, tussen diegene wat die wette gehoorsaam en oortree. Kassie twyel naderhand oor sy roeping wat van hom verwag om die boosheid self vierkant in die oë te kyk.

Op teksvlak is daar natuurlik die immer plesierige speurtog van die leser self soos daar ’n ondersoek begin word na die maniere waarop die skrywer elemente van die polisieroman (police procedural) vermeng met dié van noir en die hardboiled om ’n unieke soort spanning in die senings van die teks self in te bou.

Van Rensburg skep spanning deur voortdurend te speel met leserverwagtinge, met die vervaging van die skeidslyne tussen goed en kwaad en skyn en illusie, en met die belang van duidelik afgebakende lyne wat die teks as genrefiksie onderskei van letterkunde. Hy maak ’n bespotting van hierdie grense en daag lesers uit met ragfyn taalgebruik en strukturele vernuf.

Hoewel die skrywer wegskram van sedelessies en preke in sy fiksie, is daar immer ’n goue draad van “verkenning” wat die leser beter daaraan toe laat rakende ’n spesifieke vraagstuk.

Te midde van die ondersoek na die foutlyne tussen dit wat verskans en dit wat onthul word in ’n snelveranderde wêreld, stuur Medusa inderwaarheid ’n noodkreet na lesers uit: om te probeer verstaan wat dit beteken om te lewe in ’n grootliks digitale samelewing waar byna elke beweging, besluit en gedagte iewers aangeteken en moontlik teen jou gebruik kan word.

Medusa lewer ook ’n pleidooi dat ons bewus moet wees van moderne vorms van slawerny oral om ons: die 30 miljoen mense wêreldwyd wat vasgevang is in die kettings van mensehandel, en ons eie, meer subtiele, selfopgelegde oorgawe aan die tirannie van die skerm.

Eerder as om spreekwoordelik te versteen en in ons dop te kruip uit vrees, daag Medusa ons uit om meer ingeligte, opbouende omgang met ons eie skadukant en dié van ander te hê.

Interessant genoeg word Medusa uitgegee deur dieselfde uitgewer wat ’n ander noemenswaardige krimi met ’n slangtitel – Deon Meyer se Kobra – gepubliseer het. Waar Kobra ’n spesifieke wending in die slot gebruik om die lesers met n tevrede huppel in die stap te laat, is daar hoegenaamd geen teken van Van Rensburg om sy leser gerus te stel nie. Inteendeel.

Met stadige gif – en geen teken van ’n teenmiddel nie – is Medusa gerat om selfs die mees geharde krimislawe tot oorgawe te dwing.

 

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

 

 

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top