Rudie van Rensburg volg die knap Kopskoot op met Judaskus, ’n spanningsverhaal wat lesers helder oordag en deurnag in ’n klemgreep knoop.
Sy innemende protagonis, die effens verslonsde kaptein Kassie Kasselman (wat nogal aan TV se Columbo herinner), probeer sin maak van ’n reeks moorde wat daarop dui dat ’n Boeremafia bekend as Die Orde meer as ’n halfeeu lank landwyd by fynbeplande misdade en diamantsmokkelary betrokke kan wees.
As ekstra dimensie is die geheime organisasie gewortel in Afrikanergeskiedenis, ’n newelagtige kultus met “priesters” en “veldkornette” wat destyds deur verregse helde van die Ossewabrandwag gestig is.
Kassie snuffel leidrade uit en maak intuïtiewe verbindings tussen skynbaar onverwante sake wat mindere speurders ontgaan. Met sy vasberade vennoot, Rooi, en ’n span forensiese spesialiste ontsyfer hy ’n handvol misdade tegelyk.
En ’n skerpsinnige speurder benodig ’n aartsantagonis om hom tot die uiterste te toets. Dié is Iskariot, intellektuele leier van Die Orde, wat in sy instruksies aan onderdane aanhaal uit die werke van denkers soos Adam Small, Langenhoven, François-René de Chateaubriand en selfs die Spaanse skaakmeester Ruy López de Segura: “God duld selfs die swakste speler. Maar nie vir lank nie.”
Al raak sy identiteit redelik gou bekend, behels ’n groot deel van die leesplesier juis om die gewetenlose superskurk se strategie te ontrafel.
Uit die staanspoor word die spanningslyne styf getrek; in elke hoofstuk word verskeie verhaallyne geweef en karakterperspektiewe van die misdadigers (TJ en die hakkelende Snake) en die speurders in snelle sarsies afgewissel.
Die roman wil nie ’n whodunit wees nie – daarvoor word die motiewe van die meesterbrein te gou blootgelê. Die tergende vraag vir die leser is eerder: Hoe gaan al die booswigte vasgetrek word? Wie gaan wie uitoorlê?
Dis pure kat-en-muis. Misdade ontvou in tandem met die speurpogings om leidrade te ontsyfer en die boosdoeners vas te trap.
Die soen van verraad duik oral op – in Iskariot se giftige afskeidsgroet aan medewerkers en vyande, in Anna Uys (’n tipiese femme fatale) se sagte soene wat mans laat smelt, in diepgewortelde haat vir volksverraaiers wat oor generasies strek.
Die taal is manlik: hardebaard, gestroop, sonder nonsens. In die sappige spreekwyse van sy karakters, van bergies wat deur rommel grawe tot allerlei randfigure, het Van Rensburg ’n vaartbelynde draaiboek geskryf wat smeek om verfilm te word.
■ Schalk Schoombie is ’n dramaturg, joernalis en skrywer van Boomkastele.