Ilse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Judaskus.

By admin  | 

 July 19th, 2015 | 


Judaskus van Rudie van Rensburg is die perfekte spanningsverhaal. Daar is interessante, uiteenlopende storielyne wat uiteindelik netjies saamloop en die leser kan – soos met sy twee vorige misdaadromans –  uitsien na deeglike navorsing wat soomloos met die storielyn integreer.

Sedert Slagyster, sy sterk debuut in 2013, het Van Rensburg hom in my lys van top vyf nuwe Afrikaanse skrywers ingeskryf weens ʼn hele paar redes: geloofbare karakters (selfs die moordenaars), ʼn speurder wat (goddank!) nie met allerhande demone worstel wat die leser later heel bedroef stem/irriteer nie, en vernuftige, seepgladde skryfwerk, iets waarmee sy loopbaan in joernalistiek en korporatiewe kommunikasie beslis baie te doen het. Niks in Judaskus gebeur toevallig nie – selfs die mees onbenullige intrige dra by tot die groter verhaal, en met die lees daarvan is dit asof mens ʼn legkaart uitpak en rondskuif. Van Rensburg mors ook nie met woorde nie – elke woord word deeglik ingespan, op sigself ʼn rare gawe.

Misdaadfiksie is een van die snelgroeiendste genres in Afrikaans (en waarskynlik ook in wêreldliteratuur) en Van Rensburg se werk is ʼn besliste moet-lees as dit jou soort leesstof is. Elkeen van sy drie boeke tot dusver speel af teen agtergronde waarvan ek voor die lees van sy boeke maar min geweet het. Slagyster handel oor wapensmokkelary en speel gedeeltelik af op die olievelde van die Niger-delta.  Dit ondersoek die wêreld van die Nigeriese sluikhandel, wapensmokkelary en  korrupsie binne die SAPD wat sorg dat dinge seepglad verloop vir die skelms. Maar natuurlik net totdat speurder Kassie Kasselman van Kaapstad die spoor vat… Met dié debuut was dit al duidelik dat Kasselman (en Van Rensburg) nog diep spore in Afrikaanse lesersharte gaan trap.

Kopskoot (2014) speel af teen die agtergrond van kunsvervalsing, nog ʼn veld wat Van Rensburg – wat self skilder – deeglik nagevors het. In Judaskus leer ken ons ʼn misdaadkartel, Die Orde van Iskariot. Die Orde het oorspronklik as ʼn soort van helpmekaar-organisasie ontstaan onder ʼn paar Ossewabrandwaglede, maar gierigheid het veroorsaak dat dinge gruwelik verkeerd loop. Menselewens het min waarde vir die hoof van die orde, en Kasselman is die een wat al die uiteenlopende, oënskynlik niksseggende kolletjies moet verbind om al die raaisels op te los.

Kasselman het my van die eerste boek af laat glimlag. In Afrikaanse literatuur was daar nog altyd ʼn oormaat beswaarde, komplekse karakters, en wroegende speurders was daar ook volop. Kasselman is nie een nie. Hy is eksentriek, ja, en boonop ʼn buitestander, maar hy is ook ʼn harde werker wat leef vir sy werk. Hy is ook ʼn bietjie van ʼn nerd, en sy uitgebreide posseëlversameling en boeremusiek is sy groot liefdes. Hy drink nie, en rook ook nie meer so straf soos aan die begin van die reeks nie. Trouens, hy het so groot geskrik vir sy cholesteroltelling dat hy selfs probeer afskaal op sy gunstelingdrankie, Creme Soda. As jy hom in die straat raakloop, sou jy dalk dink die vaal man met die rooi windjekker is ʼn goedige omie, maar pasop: onder die vaal uiterlike skuil ʼn vlymskerp brein en ʼn instink waarmee hy selfs die slimste misdadiger kan uitoorlê. Maar Van Rensburg is slim genoeg om te keer dat Kassie net nóg ʼn cliché word. In Judaskus raak Kassie, ʼn geswore alleenloper, teen al sy instinkte in verlief, iets wat veroorsaak dat hy tydelik sy oog van die misdaadbal afhaal… Met byna rampspoedige gevolge.

As ʼn mens Van Rensburg eers ontdek het, kan jy byna nie wag vir sy volgende boek nie. Die goeie nuus is dat die vierde roman reeds klaar is. Die slegte nuus is egter dat hierdie skrywer se werk nog nie in Engels vertaal is nie, iets wat die uitgewers beslis moet oorweeg. Die res van die wêreld behoort ook te weet van Kassie Kasselman en die unieke misdaadraaisels wat hy en sy span moet oplos. ʼn Mens wens noodwendig dat die regte SAPD oor meer speurders van Kassie Kasselman se kaliber beskik.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top