Die spanningsverhaalskrywer Rudie van Rensburgse se eerste komiese roman behoort vanjaar tot in vele Kerskouse te huppel, skryf Annelize van der Ryst.
Reeds ná die eerste paragraaf van Hans steek die Rubicon oor weet die leser: Hier kom ’n ding: moeilikheid, ja, maar van die verkneukellékker soort! Die hoofkarakter in die spanningsverhaalskrywer Rudie van Rensburg se eerste komiese roman is 90 jaar oud en vat nie nonsens van kabouters – laat staan nog sy kinders of die stereotipiese bejaardesorgsentrum – nie.
Tog voel dit vir Hans soos die oordeelsdag met sy tas gepak om teen wil en dank van sy geliefde huis “oorgeplaas” te word na Huis Madeliefie. In sy tas is sy tandeborsel en skeergoed in ’n Checkerssak en sy bloeddrukpille in ’n houertjie gemerk “Viagra” wat hy op ’n oggendstappie opgetel het. Hans hoop die ontdekking van die houertjie sal gou-gou tot sy skorsing lei …
Heel voorspelbaar vind die “oorplasing” plaas op aandrang van sy moppe besorgde kinders wat oorsee bly, maar niemand hou rekening met Hans se individuele manier van dink en doen nie. Kinders kla soms hul ouers verstaan hulle nie regtig nie, maar dié verhaal wys ons die omgekeerde is ook waar. Redelik gesonde bejaarde ouers het soms geen sê nie of word nie geraadpleeg oor hul behoeftes nie, maar deur die verloop van hierdie roman buig Hans soos ’n wafferse Julius Ceaser Huis Madeliefie se reëls ver agteroor, en hy en die ander inwoners steek die Rubicon van konvensionele bejaardesorg nie net oor nie, maar gooi dit totaal en al oorboord.
Rudie van Rensburg is ’n woordraakvatter wat met woorde toor sonder om ooit oordadig te raak. Hy noem ’n ding by die naam sonder om aanstoot te gee, en ek het telkens geskaterlag vir sy fyn waarnemingsvermoë en die beskrywings van die matrone en die versorgers, die ander inwoners en veral Hans se kinders. Dit is ’n groot versoeking om nie méér staaltjies en situasies uit dié hupse boek met sy huppelende pas aan te haal nie.
Die tema van die boek word nie net deur die komiese aanslag van die skrywer gesteun nie. “Oudword op eie voorwaardes” beteken ook ’n bewusmaking van die bemagtiging waarop ouer mense geregtig is in die samelewing – hulle mag nooit onderskat of afgeskryf word nie.
Hans se storie is ook ontroerend ironies wanneer sy raasbekdogter Carla, selfaangestelde woordvoerder van sy kinders, tot die slotsom kom dat hul pa weens sy en sy maters se gedrag maar eerder in ’n meenthuis gaan woon. Hans kan dan met oorgawe vir haar sê: “Dis in elk geval nou te laat, Carla. Ek het die Rubicon oorgesteek.”
Die lesers lag en juig saam met dié bevrydende antwoord en namens al die mense van Huis Madeliefie wat saamgestaan het en hul stem teruggekry het ná die sielsverwoesting wat die ou matrone en haar generaals gesaai het.
Van Rensburg se roman hoort vanjaar in vele Kerskouse: die van mense in aftreeoorde en sorgsentrums, natuurlik, maar ook in boeties en sussies s’n wat na elders op die planeet uitgewyk het en van daar af nie die versoeking kan weerstaan om hul bejaarde ouers sonder enige raadpleging te regeer nie.
Vir my was Hans steek die Rubicon oor die plesierigste leeservaring van die jaar en ook perfek om omskep te word in ’n rolprent – solank ek net nie die matrone hoef te speel nie!
- Annelize van der Ryst is ’n leesverslaafde van Johannesburg wat die rol van Matrone vertolk in 7de Laan.