Groen noir in skakerings van euwel bemeester – Jonathan Amid – Media 24-dagkoerante – 23 April 2018

By admin  | 

 June 15th, 2018 | 


Ys – Queillerie

 

Elke Kassie Kasselman-boek ontwikkel ’n duidelike skrywerstalent en kondig luidkeels aan: Hier lewe ’n liefde vir Afrikaans en vir misdaadfiksie as ’n genre, skryf Jonathan Amid.

 

Rudie van Rensburg het duidelik geen erg aan voorskriftelike reëls nie. Reeds met sy debuut, Slagyster, het hy gewaag deur sy (nou) geliefde speurder, kapt. Kassie Kasselman, die systrate van die narratief te laat bewandel.

Van Slagyster tot Kamikaze het Kasselman as lesersgunsteling nooit die soort hardgebakte, gefolterde sentrale hoofkarakter geword wat ons in die moderne speurverhaal vind nie. Hierdie besluit – om minder op die speurder self en veel meer op die misdadiger(s) te fokus – het Van Rensburg die nodige ruimte gegun om ’n nuwe, grensverskuiwende soort misdaadroman die lig te laat sien: dinamiese, eksperimentele dossiere in reeksformaat, iewers tussen speurverhaal, avontuur en noir. Snydende sosiopolitieke kommentaar, vervlegte verhaallyne, afwisseling in perspektief en vertelling, eksplisiete fokus op misdadigers se motiverings en aksies, en volgehoue spel met taal is kenmerkend.

Hoewel voorsiening gemaak word vir romanse, Kassie se verskeie hebbelikhede, ’n teater van die absurde en humor wat brand soos droeë ys, neem die reeks toenemend ’n veel donkerder, grieselige ondertoon aan soos skakerings van boosheid chirurgies gedissekteer word. Ys, die skrywer se sesde misdaadroman, vervolmaak hierdie broeiende aanslag tot in die fynste detail. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer is ek oortuig Van Rensburg se misdaadromans – tegelyk komies as tragies – is die plaaslike Afrikaanse ekwivalent van die FX-misdaadreeks Fargo.

Van Rensburg moet dalk ook geplaas word langs internasionale bondgenote wat neig na die eksperimentele roman noir – soos Roberto Bolano met The Savage Detectives en 2666 en David Peace se Red Riding Quartet. Ys is hoogs relevant wat tematiek betref, maar vorm ook deel van die jongste gety van populêre misdaadromans wat “eko-noir” heet. Hier word misdaad metafisies beliggaam; om verdagtes, skuldiges en onskuldiges van mekaar te skei raak moeiliker as om ’n blokkiesraaisel in die donker te voltooi.

Enige maaifoedie-resensent wat durf spoilers weggee, sal hulself ’n ysingwekkende toesnouery op die hals haal, Daar is boosdoeners, geregsdienaars en gewone burgers wat paaie kruis op ongewone dog geloofwaardige wyses.

Die kil en berekende teen die passievolle en die banale. Ons beweeg blitsvinnig heen en weer tussen Amerika en die skone Kaap. Kort hoofstukke verwissel van ruimte en perspektief, van toonaard en stemming. Om telkemale binne ’n enkele paragraaf lokbokkoms te kan strooi, die leser se bloeddruk op te jaag en jou te laat skaterlag, sit nie in elke skrywer se broek nie.

Waar toeval te prominent was in die opbou en ontknopings van Kopskoot, byvoorbeeld, is dit duidelik nie meer deel van die mondering wat skaaf makeer nie. Ek het in my Kamikaze-resensie kritiek uitgespreek oor die lot van vroue in Van Rensburg se ouvre. Ys lewer ’n klinkklare respons op hierdie problematiek. Myns insiens staan geweld teen vroue hier sentraal; ’n belangrike hoofkarakter word op ontstellende wyse geskakeer as ’n sterk vrou wat steeds onder geweldige mishandeling gebuk gaan. So word twee ander belangrike vrouekarakters ook die slagoffers van fisieke geweld en manipulasie.

Die grootste skok-oomblik van Ys wentel juis rondom iemand se ware kleure, een wat deurgaans die grense van ons simpatie toets. Met groot risiko kom uiteraard groter beloning.

Van Rensburg, soos met die aanwend van derdepersoonvertelling in Kopskoot en die gebruik van e-posse van Iskariot in Judaskus, vind in Ys ’n sleutel om die leser in te trek by ’n groter gesprek rondom klimaatsverandering, die wêreldwye Groenbeweging, partypolitiek en diplomatieke sameswerings/nasionale veiligheid.

Verraad, gekonkel, hebsug, moord, polities of persoonlik, of albei vervleg – Van Rensburg doen deurgaans moeite om die leser aan die raai te hou oor die ware kleure van sy sleutelspelers. Onvergeetlike karakters – Carl Bester, Victor, Iskariot, Jackal Williams, Die Pion, die lys gaan net aan en aan – verskyn klokslag van Slagyster tot Kamikaze. Lesers sal beslis uiteenlopende menings hê oor die karakters in Ys. Karakters soos MacArthur, Frankie Kriel, Shaheena en Elton Fortuin, Viking en Tinkie Haasbroek laat nie sommer maklik van hul vergeet nie.

Twee van Ys se hoofbooswigte, Hasie en Pastoor, is van eenderse stoffasie gemaak as een van Chris Karsten se fiktiewe families. El sal nie verder uit te wei as om te sê dat “Die Drang” ’n paar lesers na hul moeders sal laat verlang nie.

Elke boek in hierdie reeks ontwikkel ’n duidelike skrywersidentiteit in die teks en kondig luidkeels aan: Hier lewe ’n liefde vir taal, vir Afrikaans, ywer en vir die misdaadverhaal as medium. Ys vermag dit om die komplekse eenvoudig te laat lyk; om sowel te instruct as te delight, om sir Philip Sidney se “defense of poetry” te verwring.

Wat Van Rensburg dalk tans beter as enige ander populêre skrywer plaaslik regkry, is om vir die lesers ver meer te gee as dit wat hulle verwag. Vermaaklikheid, spanning, intrige en keurige taalgebruik is daar. Maar om male sonder tal ’n magdom nuwe feite en interessanthede te leer sonder dat dit ooit soos leer voel, dit wil gedoen word.

Min sal stry dat hierdie skrywer homself met elke pas verskene roman oortref. Die spreekwoordelike see-uitsig word net mooier. Dis niks anders as ’n skreiende skande dat Van Rensburg nog nie internasionaal uitgegee en sy romans nie eens plaaslik in Engels vertaal is nie. Dit terwyl debuutkrimi-skrywers reeds vertaal word.

 

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top