2018-03-19
Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg is die komiese én lewensgetroue roman oor die bejaarde Hans van Kraaienburg. Hy is 90 jaar oud. Dit begin by wewenaar Hans se afskeid van sy huis. Sy kinders is oor verskillende vastelande en eilande versprei. Die driftige Carla se mense is in Vancouver, Ben en syne in Christchurch. Willem in Melbourne en Mara met geopereerde heup in Tokio. Hans is nogal wel ter tale. Hy vernoem mense en dinge ook dikwels na historiese gebeure. Carla en Ben wat ’n paar maal Hans se ontsnappingspogings uit die ouetehuis stopsit, noem hy die Goebbels-tweeling. Die veiligheidsmuur om die tehuis is die Berlynse Muur. Die Rubicon-gedagte van die boektitel sluit ook aan by sy geskiedeniskennis, hoewel ek wonder of so ’n onhumoristiese titel genoeg lesers sal aanlok.
Hans noem sy kinders die Verenigde Nasies, want ’n ruk gelede het hulle samesprekinge gevoer en saam besluit dat hulle ou vader “na ’n plek van veiligheid” moet verhuis. Talle plekke is besoek en toe besluit hulle op Huis Madeliefie.
Die laaste aand in sy huis beskou hy hom in die spieël. Wat hy sien word beskryf as “verdor, verlep en verskrompel, met ’n stroewe gelaat; hangborste, uitgesakte maag; plankdun beentjies. Die praalhuis van sy eertydse sportmanjare is nou ’n murasie (bl 5).”
Maar hy beskou hom nie as ouetehuismateriaal nie. Madeliefie is nie ’n aftreeoord waar jy in jou eie huis kan bly nie; dis ’n tehuis vir bejaardes. En onder Matrone Van Dussen is daar reëls en regulasies wat darem glo nie by ’n deursnee ouetehuis sal voorkom nie. Sy was voorheen kolonel by Korrektiewe Dienste. Hans het nog nooit sulke klein kloutjies aan ’n volwassene gesien nie. Grou ogies. Ene krimpvarkie. Hier in die ouetehuis weergalm die sirene vir etenstyd en stiltetyd. Ligte uit om nege. Net enkellopendes mag hier bly; geen getroudes, want getroudes se saamslapery sal smerige gedagtes by enkellopendes laat ontstaan. Professor is reeds so vatterig. Matrone word militaristies bygestaan deur Esmeraldus Hanekom; Hans doop hom Boerbok.
Sommer gou kom Hans in opstand. Hier wil hy weg. Hy verdwyn eenvoudig net op vakansie na Namibië. Hier kry hy by ’n Amerikanertjie ekstra-sterk daggakoekies.
Daarmee is ons by een van die voortreflikhede van die boek. ’n Deeglike intrige word geskep. Daar is nie losstaande humorsituasies nie; hulle skakel aaneen. Hans en drie ander inwoners span saam om dinge in Madeliefie te verander en in die proses ontstaan een avontuur uit ’n vorige en gaan oor in ’n ander.
Sy saamstaanvriende is: Vasie Knoetze; hy kyk skeel; soos Hans se ma altyd gesê het, een oog in die pot en die ander een in die skoorsteen. Vasie skryf sy naam met ’n “V”. Het in sy kleintyd ses van sy ma se Oosterse vase gebreek.
Tweede lid: Baby van Wyk wat so hie-hie-hie kan lag en wat effens hakkel. Sy is ’n groot vrou. Die aand toe sy met Hans en Vasie daggakoekies geniet het, het dit hulle ’n halfuur geneem om haar in paaiemente op die bed te kry. Die skrywer sê sy het trippelkenne. Naar van hom.
En dan is daar Liesbet. ’n Rietskraal vrou wat bietjie soos ’n Kersboom kyk. Pers tint in die hare, bloedrooi lippe en witgepoeierde gesig. Behalwe haar duime het elke vinger ’n knoetsige ring. En sy praat nog Transvaals. “Dorsy! Finish en klor!”
Saam met enkele ander stig hulle ’n organisasie om die winde van veranderinge deur Huis Madeliefie te stuur: Progressiewe Organisasie vir die Emansipasie van Patriotte.
Afgekort lui dit: P O E P. Ja, jy het reg gelees. P O E P.
Jy kan dié dinge in Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor lees. Uitgegee deur Queillerie, ’n druknaam by NB-Uitgewers, Kaapstad. Ou Vasie Knoetze sou vir Rudie lof toegeswaai het: “Jou ou biesiepol!”
- Uitgesaai op 21 Februarie 2018 in Boekkeuse op Fine Music Radio