Die finaliste vir die Media24-boekpryse, onder meer die Jan Rabie-Rapport-boekprys, is pas bekend gemaak.
Die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse fiksie is Koljander van Carié Maas (Human & Rousseau), Slagyster van Rudie van Rensburg (Queillerie) en Valsrivier van Dominique Botha (Umuzi, Ran-dom House Struik).
Die prys word aan die beste debuut- of vroeë werk van ’n Afrikaanse fiksieskrywer toegeken wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het.
Die res van die pryse word toegeken slegs aan boeke wat deur Media24uitgewers gepubliseer is. Die drie titels op die kortlys van die W.A. Hofmeyr-prys wat vir Afrikaanse fiksie toegeken word, is Donkerland van Kerneels Breytenbach en Deon Opperman (Tafelberg), Klimtol van Etienne van Heerden (Tafelberg) en Wolf, wolf van Eben Venter (Tafelberg).
Sister-Sister deur Rachel Zadok, Shadows deur Novuyo Tshuma (albei Kwela) en Water Music deur Margie Orford (Jonathan Ball) is die drie finaliste vir die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie.
Die drie aanspraakmakers op die Elisabeth Eybers-prys wat aan Afrikaanse en Engelse digkuns toegeken word, is Chokers en Survivors van Nathan Trantraal (Kwela), Hierdie mens van Wilma Stockenström en Kaar van Marlene van Niekerk (albei Human & Rousseau).
Op die kortlys vir die Recht Malan-prys vir Afrikaanse en Engelse niefiksie is Into the River of Life: A Biography of Ian Player deur Graham Linscott (Jonathan Ball), Irina Filatova and Apollon Davidson se The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era (Jonathan Ball) en The War at Home/Die oorlog kom huis toe, waarvan Albert Grundlingh en Bill Nasson die redakteurs was. Laasgenoemde is uitgegee deur Tafelberg. Die pryswenners word op 6 Junie aangekondig.