FEESMAAL VIR MISDAADVRATE – TygerBurger – 26.05.2014

By admin  | 

 May 25th, 2014 | 


Rudie van Rensburg se jongste misdaadroman, Kopskoot, word volgende week bekend gestel

Kort op die hakke van sy suksesvolle debuutroman Slagyster, het Rudie van Rensburg se tweede misdaadroman, Kopskoot, pas die winkelrakke getref.

Rudie, wat in Welgemoed bly, het enige potensiële kritikus se mond gesnoer met sy eerste boek deur tussen ysterskrywers as een van drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-boekprys aangewys te word. Dié prys word toegeken aan die beste debuut- of vroeë werk van Afrikaanse fiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het.

Dr. Elzette Steenkamp het verlede jaar byvoorbeeld in ’n Slagyster-resensie in Rapport geskryf: “Ek was lanklaas so beïndruk met ’n boek, laat staan nog ’n debuutroman.”

En ook Kopskoot se lof word reeds besing: “Kopskoot is ’n feesmaal vir misdaadvrate,” sê Deborah Steinmair in haar onlangse resensie oor dié boek in Rapport.

Waar Slagyster se storie hoofsaaklik oor wapensmokkelary en die destydse krisis rondom oliediefstal in onder meer Nigerië gehandel het , gaan Kopskoot steeds oor die donker misdaadwêreld, maar is die storielyn heeltemal anders. Wat egter dieselfde is, is dat kaptein Kassie Kasselman wéér die man is wat alles moet ontrafel en die skelms aan die pen moet laat ry. Hierdie keer begin iemand in Kaapstad 56-jarige mans afmaai. Dit wil baie na ’n reeksmoordenaar lyk –  almal dieselfde modus operandi, almal dieselfde ouderdom –  maar Kasselman is net nie oortuig nie.

En soos ons die beteuterde Kasselman in Slagyster leer ken het, weet ons dis net ’n dekmantel. Hy mag onbehendig wees, maar hy’s moontlik ook die mees onderskatte speurder in die diens.

Daarom gee Rudie vir Kasselman sommer heelwat meer probleme om op te los. Tussendeur ’n skouspelagtige skilderyvervalsing, ’n sakeman met ’n voorliefde vir prostitute, en ’n afpersery, word Kassie boonop gedwing om ’n nuwe gesondheidsdieet te oorleef wat sy frustrasievlakke nuwe hoogtes laat bereik.

Maar dié antiheld-speurder se probleme eindig nie hier nie. In Kopskoot loop sy speurtogte aanvanklik op niks uit nie en sy nemesis word ingeroep om die saak te help oplos: Majoor Wim Jonker, ’n verwaande pronker uit Gauteng. Jonker se ondersoekmetodes bots lynreg met Kassie se intuïtiewe benadering tot speurwerk en dié konflik lei tot vuurwerke.

“Ek het heerlik geskryf aan Kopskoot,” vertel Rudie. “Dit was grotendeels te danke aan die feit dat sommige van die verhaallyne in omgewings afspeel wat bekend is aan my, soos byvoorbeeld die groot finansiële maatskappy, die kunsomgewing en die koerantwêreld.” Rudie is ’n stoere joernalis, toegewyde skilder en het lank in Sanlam se bemarkingsafdeling gewerk.

Bekendstelling

Die bekendstelling van Kopskoot is op 5 Junie by die Dros in Willowbridge, Bellville. Elmari Rautenbach gesels met Rudie by dié geleentheid.

Lesers wat belangstel om die bekendstelling by te woon, kan op Rudie se webtuiste (www.rudievanrensburg.co.za) die uitnodigingbesonderhede kry, asook op sy Facebookblad, Rudie van Rensburg Boeke.

– TygerBurger

 

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top