Al slaan Afrikaanse speurverhale deesdae soos paddastoele op, is een debuut deurgaans aangeprys as “ ’n verrassing”, “verwikkeld” en “indrukwekkend”. Boonop is die oud-joernalis Rudie van Rensburg se Slagyster ’n deksels lekker leeservaring. Elmari Rautenbach vra hom uit.
ER: Ongetwyfeld die hoogtepunt van jou debuut-speurroman Slagyster is jou speurder. Deborah Steinmair beskryf hom in haar LitNet-resensie as: “Hy is geen Bond nie – sy drankie is groen Crème Soda; hy is middeljarig en maksimaal uncool.” Self skryf jy: “ ’n Skelrooi windjekker met ’n oliekol op die linkerbors hang sakkerig aan sy maer gestalte, die gestreepte blou dassie is kort geknoop, ’n stuk harige maag loer by die gekreukelde hemp uit waar een knoop ontbreek en wit sokkies steek uit onder ’n te kort swart langbroek.” Waar, o waar kom Inspekteur Kassie Kasselman vandaan?
RvR: Ek wou wegbeweeg van die tradisionele macho-speurder. Kassie is die onwaarskynlike held: sosiaal onbeholpe, ietwat van ’n introvert, slordig, oorbehep met sy posseëlversameling en versot op boeremusiek. Sy groot voordeel is dat mense hom hopeloos onderskat, wat weer aan my ander moontlikhede bied as wat ’n skrywer sou hê met ’n konvensionele held.
ER: En het jy dit so bedoel dat Kassie dikwels die draer van humor is? In een toneel daag Kassie by die ondervraging van twee hovaardige Kaapse sakemanne op sonder ’n pen. Ná die tyd voel die man in sy baadjie se binnesak. “Kan jy glo die klein doos het my goue Parker gevat?!”
RvR: Ek probeer nie doelbewus humoristies skryf nie, maar Kassie se unieke persoonlikheid en gepaardgaande verstrooidheid help om dit soms natuurlik te laat gebeur!
ER: In die sogenaamde Goue Era, aan die einde van die 1920’s, het die Oxford-misdaadskrywer Monsignor Ronald Knox sy nou bekende vereistes vir die misdaadroman neergepen. Hierin sê hy onder meer die boef moet vroeg in die storie genoem word, maar daar mag nie gesê word wat in sy kop aangaan nie. Deon Meyer sê altyd daar moet ’n moord binne die eerste paar blaaie wees. Jy het sommer met die intrapslag ’n paar boewe en ’n paar dooies en daarvandaan gaan dit net rowwer. Het jy ooit bewustelik volgens die klassieke formaat van ’n speurroman geskryf?
RvR: Nee, ek wou een skryf wat verskil van enigiets wat ek nog in daardie genre gelees het. Die resepmatigheid van veral sommige Amerikaanse speurverhale het my juis dié besluit laat neem. Daarom dat ek Kassie ook relatief laat in die boek aan die leser voorstel.
ER: Knox se finale vereiste is geen tweelinge of dubbelgangers nie, en geen Chinees . . . Jy het geen Chinese in jou boek nie, maar daar is ’n verwysing na die Taliban, heelparty Nigeriërs, gyselaars, ’n oud-recce, smokkelaars, ’n polisiemol, ’n blonde joernalis en dan onse Kassie. Hoe het jy tred gehou met al die verskillende karakters en hul stories?
RvR: Die verskillende karakters het maar ontstaan soos wat ek met die verhaal gevorder het. Baie van hulle was nie in my oorspronklike storieplan nie. Ek het wel soms ’n paar aantekeninge in ’n notaboek gemaak om kop te hou.
ER: Dink jy jou agtergrond as joernalis – aanvanklik by Volksblad en later as redakteur van die destydse tydskrif Die Ekonoom – het jou ’n goed ontwikkelde nuusneus gegee?
RvR: Beslis. My tyd as veral dagbladjoernalis was die wonderlikste in my lewe. Daar is my nuussin gevorm en ontwikkel, wat uiteindelik ook ’n groot bate was by die skryf van in die besonder dié roman.
ER: Jou kort hoofstukke, vinnige pas en die manier waarop ’n netwerk bykarakters in elke “nuwe” storielyn teen ’n ander agtergrond uitgebou word – net om uiteindelik ineen te strengel is in die pas met die internetgenerasie se behoefte aan korter en meer visuele skryfwerk. Jy skilder nie ver
niet die afgelope 23 jaar nie!
RvR: Ek is versot op boeke met verskillende verhaallyne wat aanvanklik nie inmekaar “pas” nie en dit is seker die grootste rede waarom ek so ’n struktuur aangedurf het. My skilderwerk het ’n invloed op my skryfwerk. Ek dink altyd in terme van prentjies. My uitdaging is om dit dan in woorde om te skakel.
ER: Jou storie raak aan heelparty warm kwessies in vandag se nuus: olie in Nigerië, wapensmokkelary in Somalië, witboordjiemisdaad in Kaapstad, maar die situasies word só sappig en só spannend beskryf dit klink of jy self al aangehou is in ‘n bar riethok! Waar en hoe het jy oral navorsing gedoen?
RvR: Omdat ek nooit self in die geweldgeteisterde olievelde van Nigerië was nie, waar een van die storielyne afspeel, moes ek uiteraard baie navorsing doen. Uiteindelik het ek net 5% van die navorsing in die boek gebruik, maar die breër agtergrond het my gehelp om geloofwaardig oor die omstandighede te skryf. In die gyselaarsdrama het ek myself net in die skoene van die gyselaar geplaas en hom laat reageer soos ek sou gedoen het. Navorsing help my om ander moontlikhede raak te sien en verskaf soms onverwags ’n saadjie vir ’n nuwe wending in my verhaal.
ER: Jou tweede boek, Kopskoot, verskyn in Mei, ook met Kassie Kasselman. Beplan, of toevallig?
RvR: Ek het nie regtig aan ’n reeks beplan nie, maar het dit só geniet om Kassie te skep dat ek hom nou nie weer wil los nie.