In Ys, die sesde spanningsroman van Rudie van Rensburg wat pas verskyn het, is daar ’n donker, grieselige ondertoon wat soos skakerings van boosheid chirurgies gedissekteer word, skryf Jonathan Amid in ’n onlangse resensie in Media24 se dagkoerante.
Amid skryf Van Rensburg se boeke is grensverskuiwende misdaadromans: “dinamies, eksperimentele dossiere in reeksformaat, iewers tussen speurverhaal, avontuur en noir, met snydende sosiopolitieke kommentaar, vervlegte verhaallyne, afwisseling in vertelling en perspektief, eksplisiete fokus op misdadigers se motiverings en volgehoue spel met taal.”
Hy kom tot die gevolgtrekking dat Ys hierdie “broeiende aanslag tot in die fynste detail vervolmaak”.
Van Rensburg, ’n skrywer van Welgemoed, sê in Ys bevind Kassie Kasselman en sy kollega, Rooi Els, hulle in ’n nuwe elite-eenheid van die SAPD.
As oud-stasiespeurders word hulle vaardighede ernstig bevraagteken deur hul nuwe bevelvoerder. Maar wanneer ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit ’n gulde geleentheid om hul staal te wys. Hulle vermoed net nie watter deurmekaarspul op hulle wag nie: ’n gekonkel in Washington, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet in Kaapstad, en benoop gevaarlike duisterhede in hul bevelvoerder se persoonlike lewe. En dan is daar die man met “Die Drang” … met sy ywerige kettingsaag.
“Daar wag ysingwekkende oomblikke op Kassie,” skerts Van Rensburg.
Ys volg op Van Rensburg se ander boeke: Slagyster (2013), Kopskoot (2014), Judaskus (2015), Pirana (2016) en Kamikaze (2017). Daar het ook verlede jaar die komiese roman Hans steek die Rubicon oor uit sy pen verskyn – sy boeke word uitgegee deur Quellerie-uitgewers en is beskikbaar by alle boekhandelaars en ook in e-boekformaat.