bio

Rudie van Rensburg is in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.

Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

Buiten sy spanningsromans en humoristiese Hans-reeks, skryf hy ook ‘n drama, Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse), wat in 2008 by al die groot kunstefeeste opgevoer word. Die Begrafnis verskyn in boekvorm by Genugtig. In 2021 word Die Begrafnis vir die radio verwerk en op RSG uitgesaai. In 2009 verskyn ‘n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.

In 2019 verskyn Klem (die Nederlandse vertaling van Slagyster) in Nederland by Uitgeverij Volt in Amsterdam. In 2020 en 2024 verkyn die Engelse vertalings van onderskeidelik Piranha en Medusa.

PRYSE/KORTLYSTE

2008: Die Begrafnis (drama) word by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg);

2013: Slagyster was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het.

2013: Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.

2017: Pirana is op die kortlys vir die kykNET-Rapport-boekprys (film).

2018: Kamikazi word in 2018 bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur.

2018: Kamikazi haal ook die kortlys vir die kykNET-Rapport-boekprys (film).

2018: Hans steek die Rubicon oor, word benoem vir een van Huisgenoot/Tempo se leesboeke van die jaar.

2019: Ys haal die SA Book Awards-kortlys vir een van die topverkopers in die volwasse fiksie-kategorie.

2019: Drie boeke – Medusa, Vloek en Hans steek die Rubicon oor – is onder die tien topverkopers (Afrikaanse fiksie) van Nielsens vir die jaar 2019.

2020: Medusa haal die langlys in The Humanities and Science (HSS) se fiksie-afdeling.

2020: Van Rensburg is weer die enigste skrywer wat drie boeke – Merk, Hans gee Herklaas horings en Hans steek die Rubicon oor – onder die tien topverkopers (Afrikaanse fiksie) van Nielsens vir die jaar 2020 gehad het.

2021: Hans gee Herklaas horings haal die SA Book Awards-kortlys vir een van die
topverkopers in die volwasse fiksie-kategorie.

2021: Hartedief en Hans bars die bioborrel is onder die twintig topverkopers (Afrikaanse fiksie) van Nielsens vir die jaar 2021.

2022: Voor die verskyning van Monster in 2022 behaal hy die mylpaal van 104 000 verkoopte boeke.

2022: Hartedief word in 2022 bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur.

2022: Hartedief en Hans bars die bioborrel haal albei die SA Book Awards-kortlys (van vyf boeke) vir topverkopers (van 2021) in die volwasse fiksie-kategorie (Afrikaans en Engels).

2023: Doolhof haal die SA Book Awards-kortlys vir een van die topverkopers in die volwasse fiksie-kategorie.

2023: Die film Hans steek die Rubicon oor (gebaseer op Van Rensburg se gelyknamige boek) word as die beste speelfilm by die Silwerskermfees aangewys.

2024: Dwelm is een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-
Woordveertjies.

Hy skilder ook die afgelope 30 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.

Sosiale Netwerke


css.php Top