Baasspeurder Kasselman weer op sy stukke – Deborah Steinmair – Rapport – 4 Junie 2017

By admin  | 

 June 8th, 2017 | 


Krimi-lesers is gek na Nordiese noir, maar Mzansi-misdadigheid hoef nie ’n tree terug te staan nie. In Afrikaans het misdaadlesers ‘n smorgasbord of dan ’n braaibuffet van wêreldklas-aanbiedings om uit te kies.

Een van die voorste spanningwewers ter plaatse is Rudie van Rensburg. ’n Nuwe Van Rensburg-riller is net die doepa vir ’n lang wintersnag. Wees gereed om gewetenloos tot rooidag uit die slaap gehou te word deur eksentrieke, konkelende, skurkagtige karakters, asook Israeliete sonder bedrog en haarfyn storielyne.

 Die verleidelikheid is in die detail: ’n Jasser Arafat-serpie, gevlerkte springbokboud, ingelegde frikkadelle, Johnnie Walker, ’n seëlversameling, ’n vastrappolka van Taffy Kikillus, Lucky Strikes.

Benewens naelbyt-spanning is daar droë humor en menslikheid. Dis ’n resep wat Van Rensburg vervolmaak het in hierdie vyfde Kassie Kasselman-roman.

In en om Kaapstad raak die wêreld te warm vir ’n hele paar skurke. Claus Prins alias Herklaas Prinsloo is een van dié wat begin sweet soos ’n vark. Dan is hy boonop ’n stres-eter en ernstig oorgewig, hy dra serpe omdat sy vriendin daarvan hou, skink negeuur in die oggend al whiskey en steek een sigaret met die ander een aan.

Hy is die eienaar van Prins Pharmaceuticals, ’n maatskappy wie se aansienlike winste nie uit wettige medisyneverkope kom nie. Sy vriendin Macy bied ook rede tot kommer. Sy is wulps en verleidelik en sy vennote, Ivan die Rus en Brian Beukes, loer na haar – en meer. Macy kan nie eens water kook nie en hang verkieslik heeldag in die winkelsentrums uit met sy kredietkaarte. Maar dis die minste van sy bekommernisse: ’n Ondersoekende joernalis steek sy neus in Prins Pharmaceuticals se sake. Fred Smuts moet stilgemaak word.

Op aanbeveling van een van Macy se pelle uit haar paaldansloopbaan kontak Claus die opdraggewer van Die Pion, ’n gesiene huurmoordenaar.

Smuts is ’n vryskutverslaggewer op ’n sending: om korrupsie te ontbloot. ’n Man met ’n missie. Hy het sy eie geld en reis deur Afrika op die spoor van die vervaardigers en verspreiders van vervalste medikasie en pille verby hul vervaldatum wat miljoene mense se lewe eis. Prins Pharmaceuticals en hul grysmedisyne is in sy visier. Maar dan word hy in sy suster se huis oorval deur ’n skralerige man met dooie oë.

Moos Uys is ’n junior veldagentjie by die SSA, ’n staatsveiligheidsagentskap. Hy word verteer deur die brandende ambisie om baasspioen te word. Hy het ’n ensiklopediese kennis van meesterspioene in die geskiedenis; sy rolmodelle. Hy is fors en bebrild en sit dae lank roerloos in sy Golf met biltongbroodjies en fleskoffie om Suleiman Khan se huis dop te hou. Imran Hafeez, ’n Pakistani wat in Sirië woon en noue bande met die Islamitiese Broederskap het, het daar besoek afgelê toe hy in Suid-Afrika was – en Moos moet uitvind waarom.

Moos is gefokus en geduldig en vat met groot geesdrif die spoor, op sy eentjie. Ongelukkig waardeer die owerhede nie individualiteit, inisiatief, voortvarendheid en ambisie nie; dit kan net met die soustrein inmeng.

Van Rensburg se minlike anti-held, baasspeurder Kassie Kasselman word nog steeds oral onderskat en op die oog af te lig bevind – niemand sien hom aankom nie. Hy dra steeds ’n rooi windjekker, hoogwaterbroek en wit sokkies en lek sy hare met haarroom plat.

Hy rook Luckys (hy stel sy wekker by die werk om rooktyd aan te dui sodat hy nie meer as 15 per dag rook nie) en drink Cream Soda. Sy passies is filatelie, Boeremusiek en die SAPD. Maar oor laasgenoemde is hy nie meer so seker nie, veral ná ’n oproep van ’n oudkollega wat hom ’n aanloklike pos aanbied.

Hierdie oproep en die ooglopende onbevoegdheid en gekonkel in die polisiediens spook by hom. Sy lessenaar is min of meer tot teen die plafon vol dossiere. Hy en sy vennoot, Rooi Els, word onder meer getaak met die ondersoek na Fred Smuts se dood. Soos gewoonlik skop hulle in die proses verskeie perdebyneste oop.

Van Rensburg het weer ’n kopskoot afgevuur. Reeds op die voorblad pryk pille, ’n paaldanser, ’n galgtou en ’n putboel-terriër. Die inhoud stel nie teleur nie. Die karakters is volrond, menslik, skurkagtig of opreg, maar met swakhede en obsessies wat die leser vasvang. Die booswig, Die Pion, is optimaal grieselrig en veral vreesaanjaend omdat hy met sy eie demone stoei. Hy is meer as ? huurmoordenaar; hy het sy eie grillerige rituele.

Langs die pad rol ’n hele paar koppe, soms tot hierdie leser se ontsteltenis, want dis nie net boewe wat indirekte skade word nie. Die pas is blitsig en die einde besonder bevredigend. Van Rensburg kom sy kontrak met mening na en weef misdaad uit die boonste rak.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top