Arktiese sirkel vonk vir spanningsroman – 23 Mei 2018 – Netwerk24

By admin  | 

 June 10th, 2018 | 


Die bekende misdaadfiksieskrywer Rudie van Rensburg het verlede week sy sesde spanningsroman, Ys, bekendgestel.
Aanhangers van sy boeke het die konferensiesaal by Tygervalleisentrum vol gesit om ’n voorsmakie te kry van wat op hulle wag in dié boek.
Die joernalis Maryke Roberts het met Van Rensburg gesels oor verskeie aspekte van sy skryfwerk, navorsing en die karakters in die boek.
Soos in die meeste van sy boeke, was ’n werklike omgewings- of wêreldkwessie die vonk vir die skryf van Ys – dié keer die kontroversiële brandpunt oor olieboordery in die Arktiese sirkel.
“Die Noordpool is nie net die wêreld se grootste yskas nie, maar huisves ook 13% van die wêreld se olie- en 30% van die wêreld se natuurlike gasreserwes. Die verwagte toestroming na dié gebied in die toekoms, kan die destydse goudstormloop na ’n vulletjie laat lyk,” sê Van Rensburg oor die kwessie, wat grotendeels as die agtergrond vir sy verhaal dien.
Sy geliefde hoofkarakter, Kassie Kasselman, is terug, maar is nou in die Spesiale Spookeenheid, ’n elite-polisie-eenheid, om die moord op ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel te ondersoek.
’n Gekonkel in Washington, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet en duisterhede in die bevelvoerder se persoonlike lewe, dra als by tot die spanning in die verhaal.
En dan is daar ook die bloeddorstige man met die kettingsaag …
Hoewel Van Rensburg noukeurige navorsing doen, meen hy dat navorsing nooit die storie moet oorheers nie. Hy streef na ’n “balans tussen fiksie en werklikheid”.
En as dit by die grieselrige moordtonele kom, meen Van Rensburg dat die “ergste misdaad wat jy jouself kan indink, reeds in die werklike lewe gepleeg is”.
Ys is landwyd by boekwinkels beskikbaar.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top