“’n Anargis in ’n outehuis. Loslit-humor op sy heel beste – Rudie van Rensburg bewys met hierdie skreeusnaakse roman dat die lewe lekker kan skeefloop vir hulle wat oumensies vlak kyk,” skryf Kerneels Breytenbach op die voorblad van Van Rensburg se nuwe roman, Hans steek die Rubicon oor.
Van Rensburg van Welgemoed, Bellville, wat hom die afgelope klompie jare as misdaadfiksieskrywer gevestig het, sê die roman, wat van 10 November by boekwinkels beskikbaar sal wees, is “’n asemskepboek tussen die misdaadfiksie deur”.
Sy jongste spanningsroman, Kamikaze, het vroeër vanjaar verskyn en ’n nuwe een word in April volgende jaar, ook deur Queillerie, uitgegee.
Maar hoekom nou ’n komiese roman?
“In my wildste drome sou ek nie kon dink ek gaan my hand aan dié genre waag nie, maar my kortverhaal oor Hans in die US se 2017-Woordfeesbundel, het by my bly spook. Dit het ‘gesmeek’ om ’n boek te word,” sê hy.
Oor Hans se verhaal wil hy nie veel verklap nie, maar volstaan by die boek se agterbladteks, wat as volg lees: “Op 90 is Hans nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder . . . Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.”
Hy sê dit was groot pret om iets komies te skrywe. “Maar terselfdertyd was dit vir my belangrik om te toon dat jy senior burgers se ervaring en wysheid nooit mag onderskat nie. Hulle mag oud wees, maar is beslis nog nie koud nie.”
Hans steek die Rubicon oor word op 23 November by die Dros-restaurant by Willowbridge saam met Deon Meyer, Martelize Brink en Erns Grundling se nuwe boeke bekendgestel. Die kaartjies kos R120 en sluit wyn, peuselhappies en ’n geskenkpak in. Kaartjies is aanlyn te koop by https://tickets.tixsa.co.za/event/gesprekmet4skrywers. TygerBurger is die mediaborg en die geleentheid word in samewerking met NB-uitgewers en Bargain Books aangebied.