Rudie van Rensburg se Judaskus is ‘n boek wat rondloop. Die leser word herwaarts en derwaarts vervoer. Nie net tussen plekke soos Bloemfontein, diverse buurte in die Kaapse Skiereiland, Sasolburg en Hermanus nie, maar ook tussen die hedendaagse tydgreep en verskeie invloede uit die verlede wat daarin opklink. Ou moorde kom weer ter sprake, en veel ouer ideologieë wanneer die Ossewa-Brandwag bygehaal word. Voeg daarby ‘n verskeidenheid karakters van wie ‘n hele paar skurke is wat skurk genoeg is om ‘n mens onrustig oor jou medemens te maak, en dis ‘n boek wat genot aan liefhebbers van die genre sal verskaf.
Daar is ‘n goeie balans tussen die hardwerkende en min of meer deugdelike geregsdienaars en daardie onrusbarende skurke sodat ‘n mens nie verswelg voel deur vlae skunnigheid nie. Om die waarheid te sê, Kaptein Kassie Kasselman het vir my ‘n aangename verrassing ingehou toe hy as ‘n nogal beskeie man wat drie weke se verlof aan sy seëlversameling bestee het, te voorskyn tree. Ek verkies ‘n meer ingetoë hoofkarakter bo die brekers. Dis my eerste Van Rensburg en sy speurder lyk na ‘n welkome toevoeging tot wat nou reeds ‘n reeks speurders in Afrikaanse misdaadfiksie is.
Judaskus is in ‘n sin ‘n boeke-boek. Dit word onderstreep wanneer Kasselman Hemingway’s Bookshop in Hermanus besoek. Kasselman se medeseëlversamelaar, prof Kotze, het die plek só beskryf: “Dis die hawe van ‘n onweerstaanbare versameling boeke.” Wanneer Kasselman “behaaglik aan die weergalose reuk van ou boeke” snuif, is die leser dit met hom eens dat ‘n mens “volgende maand maar moet sny op kruideniersware en sigarette” ter wille van ‘n paar kosbare stukke leesmateriaal. Dit is in hierdie sensitiwiteit vir geestesprodukte (ook die hoofkarakter se belangstelling in seëls) en vir ‘n meer gesofistikeerde lewensingesteldheid dat die verhaal vir my ‘n hoogtepunt bereik. Die waardige mevrou Knobel verpersoonlik eintlik daardie ingesteldheid en sy is ook die band met die Ossewa-Brandwag waaraan haar vermoorde man behoort het. Dis ‘n deel van die geskiedenis wat vandag nog vir baie Afrikaanssprekendes iets byna gloeiend in beduidenis daaraan het.
Die skurke is losbandig, vloekerig, ontevrede, geldgierig, gevaarlik, en daarby uitgelewer aan hulle omstandighede en eie onbesonnenheid. Hulle kom noodwendig uit ‘n laer vlak van die samelewing. TJ byvoorbeeld “het by die weeshuis weggeloop. Hy’t Jo’burg toe gehike, in parke geslaap en los joppies gedoen om aan die lewe te bly.” Daarna het hy by die weermag aangesluit en spiere begin bou. Hierop het sy toetrede tot die misdaadwêreld gevolg. Victor weer het, by sy bedenklike seksuele voorkeure, sy selmaat vermoor. Daisy het ‘n gevoel vir ‘n man, blykbaar ‘n menigte mans. Natuurlik hou ‘n mens nie van hulle nie, en natuurlik móét jy as leser van ‘n misdaadverhaal nie. Ek wil my herinner dat een of ander Amerikaanse misdaadskrywer iewers gesê het dat misdaad sonder uitsondering ‘n halfbekookte affêre met halfbekookte uitvoerders is en dit is hier beslis van toepassing. Skepsels soos Victor en Snake laat ‘n mens se nekhare regopstaan, so gemaklik is hulle in hulle eie gemeenheid. En tog staan daardie gemeenheid eintlik net in diens van ‘n groter, meer orkestrerende gemeenheid.
Die boek is baie visueel sonder om in beskrywing vas te val. Dis duidelik dat Van Rensburg die plekke ken waaroor hy skryf en dat hy weet van dinge soos filatelie en polisieoptrede. Die aksietonele is goed en oortuig ‘n mens dat die geweldenaars mense is om mee rekening te hou. Die onderliggende komplot is ook intrigerend en ontvou op sy tyd terwyl die pas in sy geheel danksy die baie gebeure en gereelde toneelwisseling terselfdertyd goed volgehou word. Dis ‘n werk waarin geesdriftiges hulle sal verlustig.