Elke leidraad lewer hier ’n koue lyk op

By admin  | 

 May 29th, 2015 | 


Kaptein Kassie Kasselman is aan die swymel oor ’n aantreklike nuwe buurvrou, terwyl sy volle aandag eintlik toegespits moet wees op ’n reeks moorde wat vinnig opmekaar volg.

Dít nadat iemand se beendere op ’n stortingsterrein aangetref is, wat Kassie noodsaak om nuut te dink oor moordsake van jare gelede. Is dit alles dalk nié doodgewone bende-oorlog, soos Kassie se kollegas glo nie? En wie kan die verraaier in hul midde wees – die een met die vlymskerp broodmes?

Dit is maar ’n paar van die kinkels in Rudie van Rensburg van Welgemoed se nuwe spanningsroman, Judaskus, wat pas by Queillerie-uitgewers verskyn het.

Van Rensburg, wie se debuutroman, Slagyster (2013), op die kortlyste was van die Jan Rabie-Rapport-boekprys en die ATKV-woordveertjies vir spanningslektuur, en sy tweede roman, Kopskoot (2014), vier drukke beleef het, wil nie veel verklap oor Judaskus nie. “Kassie het dié keer baie moeilikheid, want elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op. En met dié aantreklike vrou op sy drumpel dink hy nie altyd helder nie. As Kassie die slag die spinnerakke van sy stofsuier afklap om sy woonstel inderhaas skoon te suig voordat sy kom kuier, moet jy weet hy het die skoot hoog deur,” sê Van Rensburg.

Om meer van dié veteraanspeurder se spanningsvolle wedervaringe in dié nuwe verhaal te hoor, word TygerBurger se lesers uitgenooi na die bekendstelling van Judaskus op Dinsdag 26 Mei om 18:00 by die Dros-restaurant in Willowbridge-Noord, Bellville, waar Kerneels Breytenbach met die skrywer sal gesels.

2 Responses

  1. Peet says:

    Ek het pas Judaskus klaar gelees. Uitstekend! Die verhaal voldoen aan al die veriestes van ‘n goeie spanningsroman. Die krisisfase en klimaks is vol verrassings. Ek het my telkens in die bladsye van die boek verloor. Welgedaan Rudie! Ek kannie wag om jou ander boeke onder oë te kry nie.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top