Jonathan Amid reviews a new Afrikaans crime novel by Rudie van Rensburg.
Kopskoot, the second in the Inspector Kassie Kasselman crime thrillers is a confident, carefully plotted and entertaining effort that offers both a compelling antihero protagonist as detective figure and a sharply constructed narrative that keeps the tension levels high throughout. Rudie van Rensburg is a worthy successor to the likes of Deon Meyer, and readers will find to much to savour and enjoy in his intelligent and thoughtful approach to the genre.
Deon Meyer het die pad oopgeskryf vir ‘n groot verskeidenheid skrywers wat werk onder die vaandel van die misdaad- of spanningslektuur: Karin Brynard, Chris Karsten, Chanette Paul, Piet Steyn, Peet Venter, en vele meer. Ek het doelbewus een naam van hierdie lys weerhou: Rudie van Rensburg. Kyk, dis nie aldag die maklikste ding om tred te hou met nuwe skrywers wat in die genre te werk gaan nie, maar Van Rensburg het met sy uitstekende debuut, Slagyster, ‘n yslike impak op beide resensente en lesers gemaak.
Wat my deurgaans met die roman opgeval het, was die wenkombinasie van verwikkeldheid en kompleksiteit, so soepel met groot leesbaarheid vervleg: die geslaagde poging om ‘n aantal verskillende stemme, storielyne en vertellers in ‘n hegte leeservaring te smee, sonder om die lekker-lees ervaring prys te gee. So ook was Slagyster kenmerkend vir die bekendstelling van ‘n nuwe (dog ouderwetse) anti-held, die intuitiewe Inspekteur Kassie Kasselman, wat met sy gesondheidsprobleme, verslawing aan Lucky Strikes, voorliefde vir Crème Soda en filatelie sommer diep in die hart ingekruip het.
Van Rensburg het ook met opset sy speurder eers na ‘n hele ruk op die toneel in die roman laat verskyn om dinge so bietjie anders te doen. Met die vermaaklike Kopskoot sal lesers wat verwag dat Kassie in naby aan elke toneel of wending moet verskyn, eerder van hierdie wens moet afsien. Dit is weereens ‘n spanningsroman wat kan hardloop met die groot honde, maar die keer een wat wegbeweeg van die groot aantal sosio-politieke kwessies soos gewapende konflik en die geveg om olie-hulpbronne in Nigerie te vinde in Slagyster. Hier het ons hoofsaaklik te make met ‘n klaarblyklike reeksmoordenaar wat wit mans van ses-en-vyftigjarige ouderdom met mening afmaai. Of het ons? Kassie is glad nie so seker nie.
Soos die gepaste titel sinspeel is Kopskoot op die sentrale raaisel van hierdie moorde toegespits. Soos elke liefhebber van die genre alte goed weet is konflik die drywer van die aksie en spanning, en moet Kassie die keer saamwerk met die moeilike kalant Majoor Wim Venter, ‘n man met min ooghare vir Slaapstad en sy inwoners. Venter is van Gauteng, en hy glo dat sy op die man af manier van doen die knoop sal deurhaak. Of Kassie nou daarvan hou of nie.
Met Kassie se ma wat alewig steeds oor sy gewig bekommer, en die speurder wat net so effens in sy eie metodiek begin twyfel nadat sy bevelvoerders hom in die bek ruk, slaag Van Rensburg weer ‘n keer daarin om die leser se simpatie ten volle by die beleerde kassie te vestig. Daar is wel tye wat jy voel Kassie dalk net ‘n rapsie te lank van die toneel of “offstage” is, maar dis omdat ‘n mens so baie van die eiesinnige Kassie hou.
Van Rensburg probeer nooit om van sy anti-held ‘n Bennie Griessel of Lemmer of ‘n Beeslaar te maak nie. Dis dalk net hoekom die karakter van Kassie goed werk: hy staan sy man op sy eie manier, en herinner eerder aan oorsese slonskous-speurders, maar darem ook nie te veel nie. Daar is ook nog baie ruimte wat in Kopskoot gelaat word vir verdere intrige en karakter-ontwikkeling in die toekoms.
Kopskoot werk ook verskeie verdere narratiewe by sodat die roman die leser se aandag op verskeie ander elemente vestig: ‘n baie interessante kunsvervalsings-invalshoek, wat ‘n vervalste Irma Stern-werk teen R37 miljoen sien verkoop; die afpersing van die sakereus Duvenhage, wat ‘n voorliefde het vir peperduur prostitute; die lot van die speurder-dobbelaar Pelser; en die hardebaard joernalis Vorster, wat sy eie stel problem het om uit te stryk. Daarbenewens is daar die allerbelangrikste storie en geskiedenis van die geheimsinnige Roderick, wat moontlik vir Kassie die sleutel tot die raaiselagtige gegewens van die moordsake kan inhou.
Terwyl Kopskoot (met goeie rede) Roderick se bydra tot die narratief stadig maar trefseker tot die lig bring vir die leser, word die insae in die lot van die bogenoemde manlike karakters met mekaar afgewissel sodat daar baie effektief spanning en verwagtinge by die leser gekweek word. Van Rensburg smokkel hier tog te lekker met die leser se kop.
Dit is ook vir my belangrik om te vermeld dat die roman geensins wegskram van uiters intense oomblikke van geweld nie: die beskrywings van die moorde wat koelbloedig gepleeg word – dikwels dan ook uit die perspektief van die moordenaar – is brutale bliksemstrale wat verhoed dat die leser ooit in ‘n gemaksone verval.
Dit dui dan op een van die kenmerkende eienskappe van Kopskoot: daar word deurgaans nommerpas ‘n balans gehandhaaf tussen flink vertelling en meer moeisame, intense oomblikke; tussen fyn beskrywings van die Kaapstad wat lesers mee bekend is en die binne-werelde en gevoelens van oortuigende karakters wat die lesers stukkie vir stukkie leer ken. Ouderwetse humor en hardekoejawel-uitsprake deur manlike karakters wissel mekaar netjies af. Daar is genoeg diepte en dimensies aan die vroulike karakters in die roman dat daar nie te hard aan die stereotipe-deur geklop hoef te word nie.
Daar is keurige skryfwerk hier te bespeur. Die skrywer berus op jare se ondervinding in die korporatiewe wereld en die beeldende kunste om geloofwaardigheid enduit te bemeester. So ook is Van Rensburg nie iemand wat ooit van mooiskrywery beskuldig sal word nie. Hy ken sy medium, weet waarvan sy gehoor sal hou. Kopskoot tref eindelik die teiken kolskoot.