Slagyster-resensie (LitNet) – 28.10.2013

By admin  | 

 May 1st, 2014 | 


Slagyster deur Rudie van Rensburg

Dis moeilik om die daaglikse nuus te troef as dit kom by onvoorspelbare, lukrake geweld en vermetele onderduimsheid. In die oerwoud is alles chaos en gaan dit om die oorlewing van die gewetenlose. En spanningsverhale skiet soos paddastoele op, want lesers smag toenemend na ’n stywe storielyn wat jou voete onder jou uitslaan en jou meusleur tot jy uitasem en lyfseer in die vlakwater lê en hyg. Maar, anders as in die werklikheid, moet al die raaisels uitgepluis en al die rafels netjies afgeknip word en die boewe verpletterend op hul herrie kry.

Daar is ’n nuwe stem in Afrikaanse misdaadfiksie: Rudie van Rensburg. Hy skryf met die gesag en woordekonomie van ’n oudjoernalis. Hy het as verslaggewer by Die Volksblad begin en was redakteur van Die Ekonoom voordat hy hom in reklame begewe het. Hy is ook ‘n skilder en sy storie is visueel: die geweld, hebsug en passie grafies, met sterk-getekende karakters. Sy intrige is diggeweef, hy is vertroud met polisieprosedure, die politiek en die ekonomie. Slagyster is ’n hutspot van korrupsie, gierigheid en geweld op ons eie vasteland. Wat het internasionale oliemaatskappye, die Nigeriese regering en sy entrepreneurs en rebelle, Afrikaanse sakelui en die Suid-Afrikaanse polisiediens gemeen? Geldjagsheid natuurlik. Ryan Deetlefs het arm grootgeword en wil nog ’n paar jaar as ingenieur in Nigerië werk om ’n blink en materiële toekoms vir sy vrou en tweelingdogters te verseker. Nou word hy as gyselaar aangehou deur ’n moorddadige, hooggerookte rebellegroep in die Niger-delta. Drie Afrikaanse sakemanne van Kaapstad gebruik hul vervoermaatskappy as ’n front om wapens na Afrika en ander vastelande te smokkel. Hulle voorsien selfs die Taliban van doodmaakgoed. Maar een van die drie se gewete begin pla. Hul tussenganger is Henry Odaka, wat soos Idi Amin lyk, in ’n kasteel woon, pers japonne dra en hom vergryp aan brandewyn, melk en ’n eindelose prosessie soepel vroue. “Ware mans kry nie vigs nie. Kondome is vir die banges,” reken hy. Die dodelik aantreklike alleenloper Carl Bester het die gevaarlike lewe van dwelmmol vir die polisie vaarwel geroep om op ’n Karooplaas af te tree, maar ’n impulsiewe vergryp in sy verlede haal hom in en hy word gedwing om nog een maal ondergronds te gaan om die wapensluikhandelaars aan die pen te laat ry. En trap dan net in nog ’n dodelike slagyster. In skrille kontras met die skurkagtige inpalmers staan inspekteur Kassie Kasselman: ’n arm polisieman wat die laaste muwwe broodkorsie in sy woonstel met margarien en Bovril afwurg. Hy het lankal die laaste blikkie meatballs verorber. Hy is geen Bond nie: sy drankie is groen Creme Soda, hy is middeljarig en maksimaal uncool in sy verslete rooi windjekker, met hoogwaterbroeke wat vier-en-twintig jaar oud is; vetterige hare, tingerige lyf met boepmagie; sy passie is vir seëlversameling en boeremusiek. Maar Kasselman is onkreukbaar beginselvas en as hy eers sy tande in iets slaan, laat hy nie los nie. Wees baie bang, boosdoeners. Daar is darem ’n sterk vrou ook: Amelia Smit, ‘n ondersoekende vryskutjoernalis wat selfs vir Time skryf. Sy is toevallig ook enkellopend, lank, slank, bruingebrand en beeldskoon. Sy beland ook in die kleurvolle chaos van Lagos vir ’n storie, waar haar paaie met die komkommerkoel Carl Bester kruis, wat tot verskietende vuurwerke lei. Hierdie misdaadriller galop teen ’n stywe pas. Daar is heelwat toneelwisselings, uiteenlopende karakters, polsende hartstog en volop bloed en binnegoed wat spat. In pas met die eise van die genre spring die taalgebruik nie na vore nie: dis dienlik, oortuigend, onopvallend soos ’n voetganger sonder reflektors. Na my smaak is daar soms net ’n bietjie te veel verduideliking, amper soos ’n liefdesverhaal waarin alles mooi netjies uitgelê en wegverduidelik word, byvoorbeeld op bl 292: “Hy het die afgelope dekade genoeg geld weggesit om ’n plaas te kan bekostig. As hy sy huis hier vir ’n redelike prys kan verkoop, sal hy vir minstens nog drie jaar ’n inkomste hê as die plaas nie onmiddellik geld genereer nie. Buitendien is Lea deesdae ’n gesogte kunstenaar en kan sy hoër pryse vir haar skilderye vra. Die Kaapse kunsmark was nog altyd lewendig.”

Maar die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wiewassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate. En hopelik steek die vasbyter-filatelis Kassie Kasselman in nog heelparty opvolgboeke kop uit.

 

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top