Toneelstuk prikkel lagspiere – Volksblad -29.12.2008

By admin  | 

 May 1st, 2014 | 


DIE BEGRAFNIS
Phil Janse
DIE begrafnis is alles behalwe die sedige affêre wat die titel oproep. Inteendeel, dit fokus op die sottigheid wat so dikwels ongenooid kop uitsteek in tragiese omstandighede.
’n Hedendaagse plattelandse familie word in uiterste omstandighede gedompel wanneer hul patriarg, Vierman, die emmer skop. Dis egter net die begin van hul ellende – hy’s te vet om uit die huis te kry! Die oorledene se claim to fame was immers dat sy lyf in ’n dieetpil-advertensie verskyn het, kamstig as ’n before-model van Careltjie Nel (“daai maer gat”). 
Die plaaslike begrafnis-ondernemer, Balsening Tendon, moet met ’n plan vorendag kom om die lyk te verwyder, maar alles (van hyskrane tot strategiese demolisie van die huis) word onprakties bewys. Vierman se weduwee, Ant Vossie, probeer moedig bly deur die groeiende chaos, bygestaan deur haar buurvrou, Konyntjie, en die huiswerker, Vytjie. 
Dis laasgenoemde se taak om die lyk in ys te bedek totdat ’n werkbare plan gevind word. Dié voorsorg spaar hulle egter nie van alle stank nie: Vierman het elke aand voor slaaptyd ’n skottel sousbone verorber. Drie dae ná sy dood het sy gastronomiese funksies nog nie bedaar nie en Vytjie moet later ’n gasmasker leen om aan te hou ys pak.
Intussen arriveer Ant Vossie se seun, Smous, met sy nuwe verloofde van “Trônsvôôl”, Patsy. Hy het al ’n verskyning gemaak op Police File en sy werk as eksotiese danser in Teasers, sonder “ ’n skaam haar op haar . . . uh, kop.” 
Smous is van nature jaloers en boonop het Balsening ’n ogie op Patsy, wat gemoedere omklits. Daarbenewens hou Patsy van enigiets op drie bene en die begrafnisondernemer se groot woorde “drôôi haar on”.
Dis duidelik dat die familie nie behoort aan ’n “gekunstelde” sosiale klas nie. Vierman skryf byvoorbeeld in sy testament dat Skarumba op die begrafnis gespeel moet word. “Hy’t . . . altyd gesê daar is diepere betekenisse agter daai woorde.”
Die begrafnis is ’n onbeskaamde klug – ’n populêre genre met ’n lang tradisie. Die karakters en situasies is oordrewe en die taalgebruik anekdoties – vol “growwer” humor en seksuele innuendo’s. 
Die komedie berus op persoonlike smaak en alhoewel baie daarvan nie aanklank vind by hierdie resensent nie, is hy oortuig dat die meerderheid lesers hartlik sal skater (hy moes in der waarheid self dan en wan proes van die lag). Die taalgebruik is prysenswaardig nooit kru nie, net besonder beeldryk: “Hy het sy laaste asem bo uitgeblaas, maar dit knor nog steeds na onder.”
Die debuutproduksie is onder leiding van Nico Luwes deur die Kovsie-dramadepartement op die planke gebring, as finalis vir die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT). Dit het op die Absa- KKNK 2008 geopen en toekennings ontvang vir algehele wenner, beste regie en beste teks. Wie die eer van beste teks toekom, is egter ’n raaisel, aangesien die teks onder ’n skuilnaam, Phil Janse, gepubliseer is.
Genugtig! Uitgewers verdien ’n pluimpie vir die spoed waarmee die teks gepubliseer is. Die feit dat hulle bereid is om toneelstukke uit te gee laat mens amper die enkele tik- of redigeerfoute ignoreer. 
Dis wel besonder vreemd dat die toneelaanwysings tydens spraakbeurte nie in skuinsdruk geplaas is nie – soos elders in die toneelstuk. Ironies, aangesien dit juis hier die nodigste is om te onderskei tussen spraak en handeling ter wille van leesbaarheid.
Die begrafnis is ’n wonderlik voorbeeld van ’n lekker-lees drama wat die breë publiek sal geniet. 
Aan mense op soek na presente in die feestyd: Moenie afgeskrik word omdat dit ’n dramateks is nie, koop dit gerus vir enigiemand wat lief is om te lag vir grofgeskut, of self vir dié wat ’n inleiding soek tot toeganklike toneelstukke. 


Resensent: – Adriaan Meyer, regisseur, vertaler, samesteller, skrywer (van toneelstukke, kortverhale, sepies) en vryskutresensent

 

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top