Vloek: Nes van misdadigheid oor grense oopgekrap – Die Burger/Volksblad/Beeld – 2 September 2019

By admin  | 

 September 12th, 2019 | 


Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie, is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt vir Rudie van Rensburg, skryf Francois Bekker.

Afrika is nie ’n plek vir sissies nie. Dat ongekende minerale rykdom en hongersnood in een sin genoem word, bevestig dié kontinent se paradoks.

Met Vloek werp Rudie van Rensburg ’n priemende blik op Afrika se oënskynlike onvermoë om die regte keuses te maak.

Twee storielyne vorm die onderbou van ’n verhaal oor gulsigheid, verraad en kranksinnige radikalisme wat kontak met die werklikheid verloor het. In Vloek word ’n nes van misdadigheid ontbloot wat oor landsgrense heen strek.

Die voortvlugtige oud-speurder Carl Bester se dienste is weer in aanvraag. So verleë is Wim O’Reilly, ook ’n voormalige speurder, oor Bester se speurvernuf dat die organisasie waarvoor hy nou werk nie alleen vir Bester in sy wegkruipplek in die Fillipyne uitsnuffel nie, maar hom selfs met ’n vrywaringsaanbod teruglok.

Die Mercurius-tak in Kaapstad waarvan Wim O’Reilly aan die hoof staan, is deur die organisasie se hoofkantoor in New York gevra om dringend die omstandighede rondom drie moorde in die Moederstad te ondersoek.

Die feit dat Mercurius belang stel in die moorde dui daarop dat georganiseerde misdaad op ’n internasionale vlak ter sprake is. Mercurius is ’n frontorganisasie wat geheel en al klandestien werk. Selfs nie eers die Suid-Afrikaanse ondersoekagentskappe, wat die SAPD insluit, weet waarmee hulle besig is nie.

Wanneer Bester hom by die firma aansluit, is hy skepties oor dié spannetjie se ondersoekvermoë. ’n Groentjie op die span is die politieke wetenskaplike doktor Sarah Greyling. Sy is teen Bester se reputasie as rokjagter gewaarsku. Met haar aantreklike voorkoms wonder of hy sy hormone in toom kan hou.

Die storie van Mutsinzi, ’n slagoffer van kinderarbeid, is ’n tipiese verhaal van ’n desperate poging om van ’n armoedige bestaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo te ontsnap. Intelligensie en vasberadenheid tel egter in sy guns. ’n Storie wat ’n blywende indruk op hom gemaak het, is die verhaal oor Wittand die olifantbul en die hiëna wat sy moeder aan hom vertel het. Want in Afrika is dit die sterkere wat oorleef. As sy pad kruis met dié van Richter en ’n man na wie almal as “die baas” verwys, verander sy omstandighede drasties.

Richter-hulle is die verpersoonliking van boosheid. Imani word ingesuig by die Afrika-manier van doen met sy Machiavelliaanse ondertone waar algehele mag die enigste opsie word om bo uit te kom.

Asof die ondersoek van die moorde in Kaapstad en hoe dit moontlik verband kan hou met georganiseerde misdaad elders op die kontinent nie genoeg is nie, gewaar iemand uit Bester se verlede hom eendag per toeval. Gudio Müeller, ’n regse ekstremis, is nie alleen die kluts wyt nie, hy het lank tronkstraf uitgedien dansy Bester. Die tyd om wraak te neem het aangebreek. Dié verwikkelinge kan die ondersoek waarmee Mercurius besig is in die wiele ry.

Wat komposisie en die stillistiese aspekte betref, is dit ’n werk van voortreflike gehalte. Die hoofstukindeling wat volgens dag en datum geskied, is ’n slim keuse. Met die heen en weer spring tussen die hede en die verlede word die aanloop oor baie jare tot die huidige situasie duidelik uiteengesit.

In 2002 is Imani, nie meer as 15 jaar oud nie, ’n slagoffer van ’n korrupte regering en gewetenlose sakemanne wat Afrika se ellende uitbuit. Sy dagloon om onder haglike omstandighede in ’n myn te werk is ’n skamele een dollar per dag. Die leser volg sy loopbaan en opgang geleidelik. Imani se lewensverhaal word afgewissel met die Mercurius-ondersoek na die moorde in die Kaap met internasionale tentakels. Bester-hulle moet vinnig speel om die baasbreine aan die kaak te stel. Met ’n bloedspoor en lyke wat ophoop, word die spanningslyn snaarstyf gespan.

As protagonis is Carl Bester iemand van wie die leser maklik hou. Hy probeer sy bes, maak foute en hoop ook op ’n bietjie geluk. Sy oordeel het hom destyds lelik in die steek gelaat toe hy in diens van die SAPD was. ’n Misstap waarvoor hy ’n hoë prys moes betaal. Nou moet hy die beste maak van die tweede kans wat die lewe hom bied. Ondervinding en pure speurinstink kom hom egter goed te staan. En wie weet, dalk is ware liefde hom hierdie keer beskore.

Die storie oor Guido Müeller is allermins ’n lig-in-die-broek-neweverhaal en bied ’n hoogs insiggewende blik op die mitologiese aspekte wat die wêreld van die verregse onderlê. Die makabere gegewens van ’n verdraaide kultuur laat ’n mens ril.

Die kwessie van showing en telling blyk ’n uitdaging vir die skrywer by tye te gewees het. Tog slaag hy daarin om die regte balans te handhaaf.

Rudie van Rensburg se bydrae tot die genre van krimi-literatuur is indrukwekkend. Sy vermoë om aksietonele oortuigend onder woorde te bring, getuig van virtuose vakmanskap. Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt.

Vloek is ’n spanningsverhaal van ambisieuse omvang wat getuig van deeglike navorsing. Een vraag bly oor – hoe vertaal ’n mens “page-turner” in Afrikaans? Gliplees? Want die leser glip moeiteloos deur hierdie vaartbelynde teks met ’n onstuitbare moementum.

  • Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.
Be Sociable, Share!

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top