Tien vrae: Rudie van Rensburg oor Pirana – Litnet – Naomi Meyer, skrywersonderhoude. (2016-05-27)

By admin  | 

 June 2nd, 2016 | 


Skrywers oor hul nuwe boeke: Rudie van Rensburg gesels oor Pirana

Hallo Rudie, Kassie Kasselman is terug. Was hy ooit weg? Het jy reg van die begin af geweet Kassie Kasselman gaan terugkeer om verskillende misdaadkwessies op te los? Anders gestel: Skryf jy ’n soort reeks waarvan die boeke nie op mekaar volg nie?

Ek wou van meet af ’n speurder skep wat in al my boeke gaan voorkom. Elke boek is egter ’n afsonderlike verhaal wat nie op ‘n ander een volg nie. Die boeke kan dus in enige volgorde gelees word. En omdat ek hoofsaaklik misdaadfiksie en nie tradisionele speurverhale skryf nie, is Kassie nie deurlopend die sentrale karakter in my boeke soos wat mens gewoonlik in speurverhale aantref nie. Ek hou daarvan om die misdadigers ’n meer aktiewe rol in die narratief te laat speel, wat ek glo ook die “rakleeftyd” van Kassie as ’n interessante karakter langer sal uitrek.

Vir enigiemand wat nog nie vir Kassie ontmoet het nie, wie is hy?

Kassie is ’n fanatiese filatelis wat floreer op boeremusiek, Creme Soda en Lucky Strikes, maar ’n alleenloper-introvert wat nie op sy onaansienlike en verslonste voorkoms takseer moet word nie. Hy’t die vermoë om misdaad op plekke uit te snuffel waar ander speurders nie eers vir ’n klankie sou gaan soek nie.

Wat was Pirana se inspirasie, of die verskillende snellers vir die storie?

Ek vind my inspirasie soms uit die kleinste van  koerantberiggies. In Pirana se geval het ek ’n vullertjie in Die Burger raakgesien oor die jongste stand van renosterstroping in die Krugerwildtuin. Ek het gedink dit sal as lekker agtergrond kan dien vir een van my verhaallyne – en só het die boek ontstaan. Die ander verhaallyne het so met die skryfproses lyf gekry.

Ek wou jou vra oor ’n pirana en het toe besef ek weet net ’n pirana het tande en is ’n verraderlike soort vis, want hy kan ander visse én mense beseer. Wat het jou van hierdie vis interesseer toe jy die titel bedink het? Of wat het jy daarvan uitgevind terwyl jy die boek geskryf het?

Terwyl ek nog aan my vorige boek geskryf het, het ek heel toevallig die laaste gedeelte van ’n TV-program oor piranas gesien en dadelik gedink Pirana kan ’n lekker titel vir ’n toekomstige boek wees. Ek het besluit die verhaal moet nie nét sinspeel op die vreesaanjaende eienskappe van piranas nie, maar hulle moet ook hier in ’n Suid-Afrikaanse plaasdam teenwoordig wees. Omdat ek alles geloofwaardig wou hou, was my grootste uitdaging om te bepaal of die visse wel in so ’n dam sou kon oorleef. Ná ’n lang soektog op die internet het ek afgekom op ’n kêrel wat gelyk het of hy ’n kundige op dié gebied is. Ek het met hom kontak gemaak en hy het my navrae ook verwys na ander lede van die “Amerikaanse Piranaklub” (nie ’n amptelike naam nie, maar die naam wat ’n Noord-Amerikaanse groepie wat piranas in groot vistenks aanhou, hulself toegeëien het). Dié mense was baie behulpsaam en het my in die fynste besonderhede verduidelik hoe die visse hier sou kon aanpas.

Jy betrek wyd-uiteenlopende temas in jou boeke: politiek in Afrika, kuns, dwelms. Skryf jy ’n boek omdat jy ’n emosionele reaksie op ’n sosiale kwessie ervaar, of omdat ’n onderwerp jou interesseer, of ontspring jou temas op ’n ander plek?

Ek probeer nie om doelbewus oor byvoorbeeld sosiale kwessies te skryf nie, omdat ek glo dis die verkeerde benadering om ’n sosiale kwessie die rede vir ’n fiksieboek te maak. Vir my is ’n goeie storie altyd die belangrikste – die sosiale kwessie of watter onderwerp my ook al mag interesseer, moet bloot as geskikte agtergrond kan dien. Die enigste toets bly of dié omgewing my gaan toelaat om ’n lekker storie daaroor te weef.

Ek sien jy lees Die Son vir dialoog. Maar hoe skryf jy as wit man oor ’n bruin karakter? Kán jy, kan enigeen van ons van ons verskillende kultuurgroepe in hierdie land, oor mekaar skryf?

Ek kan aan baie geslaagde karakters dink wat geskep is deur skrywers wat nie aan dieselfde kultuurgroep as daardie karakters behoort nie, maar ek glo ook dít was die resultaat van deeglike navorsing. Kaapse Afrikaans het my van kindsbeen af gefassineer. As tjokkertjie het ek saam met my pa by die Parade (in die dae toe daar nog van ou boeke, vrugte en groente tot ou gereedskap op sekere dae verkoop is) my altyd verkneukel aan die stalletjiehouers se wonderlike en vindingryke reklameboodskappe. Deur die loop van die jare het die kostelike Kaapse Afrikaanse gesegdes wat ek op straat gehoor het, ’n blywende indruk gemaak en het ek heelparty in my boek ingespan. Ek het ook deur bykans vyftig Son-koerante gewerk, waar ek veral gekonsentreer het op lesers se SMS’e, briewe en ander boodskappe om hedendaagse taalgebruik te dokumenteer. Ek het ook wyd gelees oor die bendes in die Kaapse Vlakte om die psige van dié mense te probeer verstaan. Ek glo dit het my gehelp om redelik geloofwaardig te kon skryf oor my gangster-karakter en sy trawante in die boek.

Hoe het jou werk in die versekeringsbedryf destyds jou voorberei om verbeeldingryke romans te skryf? (Of maak ek aannames?)

Skeppende skryfwerk en versekeringsmaatskappye is seker nogal onversoenbaar! Ek was gelukkig om by ’n baie skeppende afdeling, die destydse reklame-afdeling, in te val, waar ons soos ’n interne reklame-agentskap gefunksioneer het. Ek glo dat daardie omgewing ook aan sommige van my oudkollegas daar – soos Deon Meyer, Zirk van den Berg, Francois Bloemhof en die kinderboekillustreerder Piet Grobler – se skeppende vermoëns help skaaf het.

As jy ooit iets anders as ’n spanningsroman sou skryf, in watter genre sou jy dit verkies?

Ek beskou myself nie as ’n hogere letterkundige nie – so ek sal nie daardie roete probeer inslaan nie. Synde ’n oudjoernalis wat hou van navorsing, sou niefiksie moontlik my tweede keuse wees. Ek dink dit moet baie bevredigend wees om biografieë oor interessante mense te skryf.

Hoekom klink jou boeke of jy eintlik jou hele lewe lank al skryf? Dalk is my vraag eerder: Doen jy lank navorsing voordat jy begin, of herskryf jy baie? Of kom jou gestroopte en gemaklike styl sommer maar net vanself?

Ek het as joernalis by Volksblad in Bloemfontein in die laat sewentigs leer skryf. My mentors daar het die belangrikste skryfboustene vir my gelê. In my tyd in die korporatiewe omgewing het ek maar altyd skryffiks probeer bly deur rubrieke vir verskeie plaaslike koerante en maatskappypublikasies en ’n redelik suksesvolle toneelstuk te skryf. Om romans te skryf vereis weer ander reëls wat jy nie noodwendig alles as joernalis geleer het nie. Maar met ’n uitstekende uitgewer en redigeerder leer jy vinnig.

Watter boek of skrywer lees jy op die oomblik? Of watter fliek, teaterstuk of kunsuitstalling het jy onlangs gesien wat jou inspireer (het)?

Ek is besig om ’n fassinerende niefiksieboek, Future Crime deur Marc Goodman, te lees, wat handel  oor hoe die kuberonderwêreld die grootste misdaadbedreiging vir die mensdom in die toekoms gaan inhou en dit in sekere opsigte al klaar doen. Of hierdie onderwerp as inspirasie vir ’n toekomstige boek gaan dien, is nie heeltemal uitgesluit nie.

2 Responses

  1. Peet says:

    Hallo Rudie,

    Ek het gou deur hierdie onderhoud van Naomi gelees. Ek kannie wag om jou nuwe boek Pirana onder oë te kry nie. Ek het al drie jou vorige boeke gelees, en dit baie geniet. Ek vra altyd nadat ek klaar gelees het, hoe lank nog voordat ons weer een van jou werke op die winkelrakke gaan aantref. Maar ek verstaan dat gehalte skrywers soos jy en Deon Meyer altyd deeglike navorsing doen en dat dit baie tyd inbeslag neem. Nouja, hier is Pirana! Ek hoop regtig dat ons nog baie van jou boeke in die toekoms gaan lees.

    Groete

  2. admin says:

    Hallo Peet

    Baie dankie vir die kompliment! Ek waardeer jou boodskap opreg!
    Rudie van Rensburg

Leave a Reply to Peet


Sosiale Netwerke


css.php Top